blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Ekonomierubriek: Die begeerte om `n plaas in (Suid-)Afrika te hê en die werklikhede van grondhervorming 2005-07-01
James N. Blignaut



Ekonomierubriek: Die begeerte om `n plaas in (Suid-)Afrika te hê en die werklikhede van grondhervorming

Deur James N. Blignaut ([email protected]), deeltydse professor in ekonomie, Universiteit van Pretoria en direkteur van Jabenzi, Beatus en GreenGrowth Strategies, drie maatskappye gerig daarop om landelike ontwikkeling in Suider-Afrika `n werklikheid te maak


Dit is sononder aan die voet van die Ngong-heuwels en Meryl Streep uiter die woorde “I had a farm in Africa…” Hierdie beroemde woorde in die rolprent Out of Africa is genoeg om rillings teen die ruggraat van die mees geharde man af te stuur. Eenvoudig gestel: Hierdie woorde raak aan `n senuwee, en `n baie rou een, in die meeste Afrikane van alle agtergronde en tale, of dit nou Xhosa, Swahili, Zoeloe, Sotho, Afrikaans of enige ander inheemse taalgroep is. Grond vir `n Afrikaan is nie bloot `n ekonomiese kommoditeit of, erger nog, `n blote produksiefaktor nie. Om grond op so `n wyse te sien, sal uiters verskralend wees en/of impliseer dat Afrikane bloot wesens is wat die optimalisering van ekonomiese welvaart nastreef. So `n siening sal opsigtelik `n verarming van die gees beteken. Nee, grond verskaf `n sin van wees aan `n Afrikaan, `n sin van behoort en `n sin van emosionele en fisiologiese sekuriteit. Aangesien grond nie in monetêre terme bloot werd is wat daarop groei of wei nie, beklemtoon dit die byna onmoontlike taak wat die regering tans met betrekking tot grondhervorming in Suid-Afrika in die gesig staar.


Die berugte Wet op Inheemse Grond van 1913, die Inheemse Trust- en Grondwet van 1936 en die Groepsgebiedewet van 1950 het swart Suid-Afrikaners die geleentheid ontneem om plaaseenhede te besit en te bedryf in die blanke gebiede van Suid-Afrika wat, soos ons almal weet, by verre die grootste gedeelte van die land en die meer produktiewe boerderygrond uitgemaak het. Dit is die erfenis van hierdie wette wat die grondhervormingsproses streef om ongedaan te maak. Om dit reg te kry, het die Departement van Grondsake `n ambisieuse driefasetbenadering aangepak:

- restitusie (om grond terug te gee of vergoeding te betaal aan diegene wat tydens apartheid onteien is);

- herverspreiding (om die swart eienaarskap van grond te vergroot); en

- eiendomsreghervorming (om die sekuriteit van eiendomsreg van bewoners van landelike en buitestedelike grond te verbeter).


Gegewe dat hierdie proses uiters sensitief en ingewikkeld is, is `n mens geneig om te vind dat die hervormingsdebat gepolariseer geraak het tussen diegene wat dink dat die regering die saak op onverantwoordelike wyse hanteer met die implikasie van omgekeerde rassisme, en diegene wat dink dat die afleweringsproses te stadig is. In die populêre media word hierdie groeiende spanning ook gebruik om verkope aan te help, omdat spanning, konflik en mislukking nuus verkoop. So `n benadering dra egter nie noodwendig by tot `n werkbare en blywende onderhandelde en aanvaarbare oplossing nie.


`n Vars briesie


`n Vars briesie in die grondhervormingsdebat is egter die 14de Navorsingsverslag van die Centre for Development and Enterprise (CDE) wat uitsluitlik op die grondhervormingskwessie in Suid-Afrika fokus. Die verslag, beskikbaar by http://www.cde.org.za/pdf/Land_Reform.pdf is vars bloot omdat dit `n lang ent vorder met die depolitisering van die grondhervormingskwessie en dit op `n kliniese, akademiese en feitegebaseerde wyse behandel. Die skrywers en bydraers van die verslag verdien `n klop op die skouer vir `n taak wel gedaan!!


Eerstens is sommige van die uitstaande punte gebaseer op die navorsingsgevolgtrekkings van die verslag:

- Die regering moet gelukgewens word met die stelselmatige en sensitiewe wyse waarop hulle `n kwessie gehanteer het wat so ingewikkeld is en maklik emosioneel oorbelaai kan raak;

- Daar word egter duidelik geïllustreer dat die landbousektor nie `n hoëgroeisektor is nie en dat dit min potensiaal bied vir massiewe toenames in landelike werksgeleenthede; 

- Talle wit kommersiële familiesaakboere verlaat die grond, en die grond word gekonsolideer onder groot maatskappyplase ten einde te verbeter op die ekonomieë van skaal, aangesien kleinskaalse landbou nie meer `n winsgewende entiteit is nie, veral omdat die wêreldmarkstruktuur klaarblyklik onherroeplik verander het ten gunste van die meer doeltreffende en groter boedery-eenhede;

- Die probleme van werkloosheid, verstedeliking en gevolglike armoede sal nie slegs deur `n proses van landelike grondhervorming opgelos kan word nie. Dit beklemtoon die noodsaak van stedelike grondhervorming;

- “The deracialisation of commercial agricultural land is essential, but will not benefit primarily poor black South Africans; the benefits will mainly accrue to a small number of relatively better-off black land owners and potential farmers”;

- “Land quality and location is more important than quantity. We need to understand that what you do with land is most important”;

- “In contrast to the prevailing view, the main focus of land reform should not be rural, except in identified areas of high demand for farm land. Urban and peri-urban land redistribution is the main future challenge”;

- “We should avoid former homeland settlement approaches that lead to overcrowding and other poor development outcomes”;

- Die privaat sektor, veral grootskaalse kommersiële bedrywe soos suiker en bosbou en verskeie boerderykoöperatiewe het hulle eie inisiatiewe onderneem om grond met kommersiële regte aan swart boere oor te dra. Die aanduidings is dat hierdie oordragte meer suksesvol is omdat hulle op `n kommersiële vertrekpunt gebaseer is en die breë ondersteuning van die hele bedryf geniet; en

- Grondhervorming vereis topbestuur se aandag en behoort beduidende begrotings- en kapasiteitsondersteuning in te sluit. Tans is die begrotingsondersteuning vir hierdie inisiatief te onvoldoende om te handel met die ingewikkelde en sensitiewe kwessies waarmee gehandel moet word.


Op grond van hierdie navorsingsgevolgtrekkings beklemtoon die navorsingspan die noodsaak vir `n gemeenskaplike en goedgekommunikeerde visie met betrekking tot verbeterde grondhervormingsprosesse wat stedelike grondhervorming insluit en by ekonomiese ontwikkelingsoogmerke inskakel ten einde die groeiende probleem van stedelike armes te hanteer. Die behoefte aan hierdie fokus word beklemtoon deur groeiende stedelike spanning, soos geïllustreer deur die onlangse uitbrake van geweld in Diepsloot, Modderklip en verskeie Vrystaatse en Oos-Kaapse stede en dorpe. Die verslag stel gevolglik drie sleutelprioriteitsareas voor wat vroeër eerder as later gehanteer moet word, naamlik: Om die restitusieproses spoedig te bestuur, en op so `n wyse dat dit volhoubare ontwikkeling sal begunstig. Tweedens, suksesvolle stedelike grondvrystelling en vestiging in Suid-Afrika se metropolitaanse sentra, stede en groot en klein dorpe, en, laastens, die ontrassing van grondeienaarskap in kommersiële landbou, en die ‘normalisering’ van die platteland.


Armoede vyand nommer een


Die verslag sluit af deur te verklaar dat armoede vyand nommer een is en dat dit sowel `n landelike as stedelike verskynsel is wat aangepak moet word, en, laastens, dat die privaat sektor `n beduidende en betekenisvolle rol kan speel in hierdie ontwikkelings- en grondhervormingsproses, wat versnel kan word mits uiteenlopende aansporings- en begrotingstoeseggings hulp in hierdie verband verleen.


As `n mens die verslag oorweeg, is dit lonend om te besef dat dit moontlik is om na die kwessie van grondhervorming te kyk en op te merk dat, hoe ernstig en ingewikkeld van aard dit ook al is, `n mens nie die eerste beginsel van ontwikkeling agterweë hoef te laat by die aanpak van hierdie kwessie nie. Trouens, `n mens moet die eerste beginsel van ekonomiese ontwikkeling met groter versigtigheid heroorweeg wanneer jy te make het met iets so ingewikkeld en sensitief soos grondhervorming. Soos soveel ander ontwikkelingskwessies gaan grondhervorming per slot van rekening oor mense en die hantering van die behoeftes van die mense waar hulle hulle bevind – wat toenemend in die stedelike areas is. Die uitdaging is gevolglik om die stede te laat werk. Die druk op die grondhervormingsproses kan aansienlik verlig word indien dít sou gebeur. Grondhervorming is en behoort nie te wees vir elkeen om `n plaas in Afrika te hê nie – ekonomiese werklikhede laat dit nie toe nie – maar dit behoort by te dra tot `n ekonomiese ontwikkelingsproses wat, soos die statistiek uitwys, `n beweging weg vanaf die landelike na die stedelike areas verteenwoordig.


Met dit gesê is daar minstens drie dinge wat die verslag nalaat om te vermeld. Wat eerstens in der waarheid vereis word, is `n grondbenuttingsplan. So `n plan is ewe nodig vir stedelike en landelike areas. Hierdie plan behoort kennis te neem van die ontwikkelingspotensiaal van die area asook die aspirasie van die land se burgers. So `n visiegebaseerde geïntegreerde en strategiese grondbenuttingsplan kan die grondhervormingsproses geweldig aanhelp. Wanneer die plan eers bekend is, kan die privaat sektor en onderskeie gemeenskappe grootliks tot die proses van grondhervorming bydra.


Die tweede ding wat die verslag nalaat om te vermeld, is die impak van ongewenste grondhervorming op die natuurlike omgewing. Die logiese gevolge van te veel mense op te klein boerdery-eenhede is degradering, erosie, produktiwiteitsverlies en `n vermindering in waterbeskikbaarheid en –gehalte. As die uitbreiding van grootskaalse kommersiële boerdery eweneens die omskakeling van onbenutte grond na, sê, suiker of plantasiebosbou impliseer, sal belangrike ekostelsels verlore raak, waaronder biodiversiteit, water en grondproduktiwiteit. Nie een van hierdie twee scenario’s sal `n billike en volhoubare uitkoms meebring nie.


Derdens skenk die verslag nie oorweging aan die feit dat mense in der waarheid tot `n gemeenskap behoort nie, en verwys dit slegs na mense as swart of wit. Dit is nie besonder sinvol wanneer ons gesonde stedelike en landelike gemeenskappe wat saambestaan, saamwerk, deelneem, en selfs integreer en mekaar akkommodeer moet bevorder nie. Die uitdaging is nie bloot om ekonomiese ontwikkeling en werkende stede te bevorder nie, maar ook om gemeenskappe saam te weef waarvan die maatskaplike weefsel nie meer aan die erfenis van apartheid herinner nie, maar gebaseer is op `n gemeenskaplike bestemming, `n bestemming wat nie slegs ekonomies omskryf is nie, maar ook maatskaplike, kultureel en fisiologies. Op hierdie manier sal ons `n plaas in Afrika hê, `n plek wat sekuriteit en `n sin van ware ubuntu verleen.




 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=269
Artikel nagegaan:
    -