|
||||
Chantal Mouffe Watter wêreldorde: Kosmopolis of Multipolariteit? Deur Chantal Mouffe, skrywer van On the Political (Londen: Routledge, 2005) en leidende internasionale teoretikus van die radikale demokrasie, professor in politieke studies aan die Universiteit van Westminster
* Hierdie artikel het oorspronklik in Duits verskyn in die Februarie 2005-uitgawe van die Duitse Zeitschrift für Philosophie. Die Vrye Afrikaan bedank prof. Mouffe vir haar goedgunstige toestemming om hierdie artikel in Afrikaans te publiseer. In die artikel toon sy aan waarom die droom van `n meer kosmopolitiese wêreldorde, soos die liberale tradisie waaruit dit kom, uiteindelik op die rotse van historiese werklikheid moet strand, vernaamlik omdat dit aan `n wesenlik politieke basis mank gaan.
`n Verskeidenheid politieke teoretici probeer tans om die kosmopolitiese ideaal wat Kant en `n paar ander in die 19de eeu geformuleer het, te herformuleer met die oog daarop om dit by die huidige stadium van globalisering aan te pas. Na hulle mening verg dit dat die Verenigde Nasies hervorm en die mag van internasionale regsprekende instellings vergroot word ten einde die oppergesag van die reg oor geweld en die uitoefening van mag te vestig. Daniele Archibugi stel dit só: “The populations of the majority of nation-states have now constituted themselves as citizens of democratic communities. Ballot papers and judicial systems have replaced the cannon fire of the battlefield: antagonistic systems have turned into competitive ones. Why should global society not undergo a similar metamorphosis?”(1) In hierdie artikel wil ek enkele van daardie idees ondersoek en hulle grondliggende leerstellings betwis. Ek beoog om die tekortkominge van die kosmopolitiese perspektief uit te lig en om argumente ten gunste van `n alternatief – die totstandbrenging van `n multipolêre wêreldorde – aan te voer.
Die nuwe kosmopolitisme is hoofsaaklik `n Anglo-Amerikaanse beweging, hoewel dit ook aanhangers in Duitsland en Italië het. Ofskoon daar sekere gemeenskaplike idees is oor die behoefte om die beperkinge van nasionale soewereiniteit te bowe te kom en oor die moontlikheid van `n nuwe vorm van politiek “verby magspolitiek” wat deur liberale beginsels en agting vir menseregte beheers word, is daar ook beduidende verskille binne hierdie beweging, verskille wat, volgens Nadia Urbinati (2), teruggevoer kan word na die wyse waarop hulle die verhouding tussen die burgerlike samelewing en die politiek sien. Sy onderskei byvoorbeeld tussen dié wat, soos Richard Falk, aan die burgerlike samelewing die posisie van die belangrikste lokus van demokrasie toeken, en dié wat, soos David Held en Daniele Archibugi, die klem plaas op die politieke sfeer en die uitoefening van burgerskap, wat na hulle mening verby die nasiestaat moet strek ten einde kosmopolities te word.
Urbinati merk op dat die burgerlikesamelewing-benadering “shares a liberal anti-coercive view of politics and interprets democracy more as a civic culture of association, participation and mobilization than as a political process of decision-making” (3). Ofskoon die politieke benadering die belangrikheid van die burgerlike samelewing erken, beklemtoon dit daarenteen die belangrikheid daarvan om verhoudinge met die politieke sfeer aan te knoop; “it acknowledges social movements and non-governmental organizations as fundamental components of global democracy but it also believes that in the absence of institutionalized procedures of decision and control, social movements and NGOs can be both exclusionary and hierarchical” (4). Om dié rede hou hulle vol dat `n selfregerende burgerlike samelewing nie genoeg is nie en dat `n regs- en institusionele raamwerk nodig is om gelykheid te verseker en te voorkom dat maatskaplike belange `n dominansie ten koste van geregtigheid vestig.
Demokratiese Transnasionalisme
Kom ons kyk eers na die burgerlikesamelewing-benadering. In sy mees onlangse werk, wat saam met Andrew Strauss geskryf is, stel Richard Falk `n visie van “demokratiese transnasionalisme” waarvan die oogmerk is om menseveiligheid in die internasionale sfeer te bewerkstellig. Dié benadering “calls for the resolution of political conflict through an open transnational citizen/societal (rather than state or market) centred political process legitimized by fairness, adherence to human rights, the rule of law, and representative community participation” (5). Die kern van hierdie demokratiese transnasionalisme sal deur `n Wêreldparlementêre Vergadering (WPV – Global Parliamentary Assembly, GPA) gevorm word om `n wêreldomvattende institusionele stem vir die mense van die wêreld te bied (6). Die missie van so `n vergadering – waarvan die bevoegdhede altyd ooreenkomstig die Universele Deklarasie van Menseregte uitgeoefen moet word – sal wees om by te dra tot die demokratisering van wêreldbeleid, nie net ten opsigte van die opstel daarvan nie, maar ook die toepassing daarvan. Dit sal die internasionale raamwerk uitmaak wat nodig is om die huidige internasionalisering van burgerpolitiek te akkommodeer, en vir die internasionale stelsel die grondslag lê vir `n demokratiese vorm van verantwoordingspligtigheid. Die skrywers meen ook dat so `n WPV `n rol kan speel om voldoening aan menseregtenorme aan te moedig. Trouens, in ag genome die gebrek aan betroubare meganismes om talle van die regsvoorskrifte toe te pas wat deur die internasionale stelsel aanvaar word, kan die WPV morele druk op state uitoefen deur hulle mislukkings wat menseregte betref, bloot te lê.
Ná 11 September het Falk en Strauss hulle voorstel herhaal en volgehou dat die totstandbrenging van `n WPV `n alternatief verteenwoordig vir die statisreaksie (statist reaction) wat om nasionale veiligheid wentel. Na hulle mening verteenwoordig die toename in terrorisme die donker kant van die transnasionalisering van die politiek. Die griewe, lidmaatskap en teikens van terrorisme is almal transnasionaal, en staatsentriese strukture is nie voldoende om die vorme van frustrasie wat die toenemende aantrekkingskrag van terrorisme voed, die hoof te bied nie. Die oplossing is geleë in die oprigting van `n raamwerk wat die groeiende internasionalisering van die politiek demokraties kan huisves sodat “individuals and groups could channel their frustrations into efforts to attempt to participate in and influence parliamentary decision-making as they have become accustomed to doing in the more democratic societies of the world” (7).
Ofskoon dit inderdaad so is dat terrorisme nie net gesien moet word as die uiting van `n paar bose en patologiese individue nie, maar in `n breër geopolitieke konteks geplaas moet word, vind ek die benadering van demokratiese transnasionalisme heeltemal ontoereikend. Die belangrikste tekortkoming daarvan lê in die tipiese liberale opvatting dat die grootste probleem voortspruit uit die rol wat die staat speel, en dat die oplossing in die burgerlike samelewing gevind kan word. Hulle verklaar: “We believe that the underlying preconditions for a GPA are being created by the way that civic politics is increasingly challenging the autonomy of the state-centric international system. In one of the most significant, if still under-recognized, developments of the last several years, both civic voluntary organizations and business and financial elites are engaged in creating parallel structures that complement and erode the traditionally exclusive role of states as the only legitimate actors in the global political system. Individuals and groups, and their numerous transnational associations, rising up from and challenging the confines of territorial states, are promoting ‘globalization-from-below’, and have begun to coalesce into what is now recognized as being a rudimentary ‘global civil society’. Business and financial elites, on their side, acting largely to facilitate economic globalization, have launched a variety of mechanisms to promote their own prefered [sic] global policy initiatives, a process that can be described as ‘globalization-from-above’” (8). Volgens dié skrywers begin burgergroepe en sake- en finansiële elites erken dat hulle `n gemeenskaplike belang daarby het om `n uitdaging te rig aan state, wat moet ophou om as hulle verteenwoordigers in die internasionale arena op te tree. Hulle is daarvan oortuig dat die leiersfigure in die wêreld-sakelewe, soos dié wat by Davos byeenkom, `n verligte siening van hulle langtermynbelange het en baie simpatiek is teenoor die idee van die demokratisering van die internasionale stelsel. Die georganiseerde netwerke van die wêreldwye burgerlike samelewing en sakewêreld behoort dus daartoe in staat te wees om hulle demokratiseringsprojekte op hulle onwillige regerings af te druk. Die oogmerk is die eenmaking van globalisering-van-onder en globalisering-van-bo ten einde `n wêreldomvattende institusionele demokratiese struktuur te vestig wat die mense van die wêreld in staat stel om óm die state te loop en `n betekenisvolle sê in wêreldbestuur te verkry en daardeur `n vreedsame wêreldorde te skep.
Daar is by Ulrich Beck `n soortgelyke optimisme oor die moontlike bondgenootskap tussen die magte van die burgerlike samelewing en transnasionale korporasies te bespeur. In `n artikel waarin hy van `n kosmopolitiese standpunt uitgaan, maak hy die volgende voorspellings oor die toekoms: “In the short term, protectionist forces may triumph, a heterogeneous mix of nationalists, anticapitalists, environmentalists, defenders of national democracy as well as xenophobic groupings and religious fundamentalists. In the long term, however, an even more paradoxical coalition between the supposed ‘losers’ from globalizations (trade unions, environmentalists, democrats) and the ‘winners’ (big business, financial markets, world trade organizations, the World Bank) may indeed lead to a renewal of the political – provided that both sides recognize that their specific interests are best served by cosmopolitan rules” (9). Terwyl hy die ontstaan van “kosmopolitiese korporasies” en “kosmopolitiese kapitalisme” besing, kritiseer hy die nasionale beheptheid met die politiek en verklaar dat staatsentriese konsepte van mag en politiek “zombiekategorieë” is. Die missie van `n kosmopolitiese sosiale wetenskap is om hierdie oudmodiese model aan die kaak te stel en die idee van “gedeterritorialiseerde” en “gedenasionaliseerde” state te bevorder. Die toekoms is die “kosmopolitiese state” wat rus op die beginsel van nasionale onverskilligheid. So `n staat wat met “kosmopolitiese soewereiniteit” beklee is, sal ware diversiteit waarborg en fundamentele menseregte vestig. Beck noem Europa as `n voorbeeld van so `n kosmopolitiese staat, en voeg by dat daar geen rede is waarom dit nie na die res van die wêreld uitgebrei kan word nie. Trouens, dit is juis die ontwikkeling van kapitalisme wat na `n wêreldomvattende kosmopolitiese transformasie voortbeur. Ofskoon hy dit vraenderwys doen, gee hy tog die volgende te kenne: “Could capitalism become a factor in the cosmopolitan revival of democracy?”(10)
Kosmopolitieke Demokrasie
Besorgdheid oor demokrasie wat nie net in die burgerlike samelewing beoefen word nie, maar ook in die politieke arena, staan in die sentrum van die politieke weergawe van kosmopolitisme. Om hierdie spesifieke hoedanigheid uit te lig, het Daniele Archibugi onlangs voorgestel dat die benadering waaraan hy werk sedert die verskyning in 1995 van die boek waarvan hy en David Held die redakteurs was, Cosmopolitan Democracy: An Agenda for a New World Order, eerder `n “kosmopolitieke” (cosmopolitical) as `n “kosmopolitiese” (cosmopolitan) benadering genoem word. Hy omskryf hulle projek soos volg: “Cosmopolitical democracy is based on the assumption that important objectives – control of the use of force, respect for human rights, self-determination – will be obtained only through the extension and development of democracy. It differs from the general approach to cosmopolitanism in that it does not merely call for global responsibility but actually attempts to apply the principles of democracy internationally. For such problems as the protection of the environment, the regulation of migration and the use of natural resources to be subjected to necessary democratic control, democracy must transcend the borders of single states and assert itself on a global level” (11).
Archibugi voer aan dat, noudat die demokratiese regeringsvorm wêreldwyd as die enigste legitieme regeringsvorm erken word, daar geen rede is waarom die beginsels en reëls van demokrasie by die grense van `n politieke gemeenskap moet stop nie. Syns insiens vra hierdie siening om die skepping van nuwe wêreldinstellings, en dit sou `n fout wees om te meen dat `n stel demokratiese state outomaties `n demokratiese wêreld beteken. Daar kan nie verwag word dat wêrelddemokrasie regstreeks sal voortspruit uit demokrasie binne state nie. Dit vereis die totstandbrenging van spesiale prosedures en instellings wat nog `n vlak van politieke verteenwoordiging sal voeg by die een wat reeds bestaan. Bowendien is dit ook nie so dat die demokratiese model wat op staatsvlak ontstaan het, eenvoudig na wêreldvlak oorgebring kan word nie, en baie aspekte van die model sal geherformuleer moet word voordat dit wêreldwyd toegepas sal kan word. Dit sal voorts ook nie net kan behels dat die grootte van die regering uitgebrei kan word om `n wêreld-superstaat tot stand te bring nie – `n nuwe soort organisasie is nodig. Archibugi staan ook nie die einde van nasiestate voor nie, aangesien hierdie wêreldvlak van verteenwoordiging kan saambestaan met die reeds bestaande state, wat sommige van hulle politieke en administratiewe funksies sal behou. Hy beklemtoon dat “unlike the many world-federalist projects to which it is indebted, cosmopolitan democracy aims to boost the management of human affairs at a planetary level not so much by replacing existing states as by granting more powers to existing institutions and creating new ones.” (12) Hy gee te kenne dat die skuif van nasionale na wêrelddemokrasie iets vereis wat vergelykbaar is met die konseptuele revolusie wat in die 18de eeu die skuif van regstreekse na verteenwoordigende demokrasie moontlik gemaak het. Die tyd het aangebreek om nuwe vorme van demokrasie te konsipieer wat voortspruit uit die universele regte van wêreldburgers.
Wat in `n kosmopolitieke projek op die spel is, is die totstandbrenging van internasionale instellings wat individue toelaat om `n invloed op wêreldaangeleenthede uit te oefen, onafhanklik van die situasie in hulle eie lande. Die eise van alle individue, ongeag hulle nasionale herkoms, klas, geslag, en so meer, moet op wêreldvlak `n regstreekse vorm van verteenwoordiging verkry. Hoe kan dit gedoen word? David Held, wat onderskei tussen korttermyn- en langtermyndoelwitte, gee wel inligting hieroor. In die eerste plek is die volgende maatreëls nodig (13): Die Veiligheidsraad van die VN moet hervorm word sodat dit meer verteenwoordigend is, en `n tweede kamer van die VN moet saam met streekparlemente ingestel word. Daarbenewens moet die invloed van internasionale geregshowe uitgebrei word sodat hulle `n groep kernregte – burger-, politieke, ekonomiese en maatskaplike regte – kan afdwing, en `n nuwe Internasionale Menseregtehof moet in die lewe geroep word. Laastens sal `n doeltreffende en verantwoordingspligtige militêre mag op die been gebring moet word om in te gryp teen state wat herhaaldelik daardie regte skend.
Op lang termyn voorsien Held `n meer radikale swaai na demokratiese wêreldbestuur deur die instelling van `n gesaghebbende vergadering van alle demokratiese state en agentskappe wat die gesag het om besluite te neem oor alle belangrike universele vraagstukke met betrekking tot die omgewing, gesondheid, voeding, ekonomie, oorlog, ens. Syns insiens moet daar `n permanente verskuiwing wees van `n toenemende deel van die militêre dwangvermoë van die nasiestaat na wêreldinstellings ten einde uit te styg bo die oorlogstelsel as `n konflikoplossingsmiddel. Nog `n belangrike aspek van sy kosmopolitiese raamwerk is die verskansing van demokratiese regte en verpligtinge in die nasionale en internasionale reg. Die oogmerk hier is “to create the basis of a common structure of political action as constituting the elements of a democratic public law” (14). Ten einde in die konteks van globalisering doeltreffend te wees, moet sodanige demokratiese reg egter geïnternasionaliseer word; dit moet tot kosmopolitiese demokratiese reg getransformeer word. Held voer aan dat dit die doelwit van alle demokrate behoort te wees om `n kosmopolitiese gemeenskap tot stand te bring, dit wil sê `n gemeenskap van alle demokratiese gemeenskappe. In sy bespreking van die gevolge van so `n transnasionale gemeenskap vir die nasiestaat sê hy dat dit sal “wegkwyn”, nie in die sin dat dit oortollig sal word nie, maar in die sin dat “states can no longer be, and can no longer be regarded as, the sole centres of legitimate power within their own borders, as is already the case in diverse settings. States need to be articulated with, and relocated within, an overarching democratic law. Within this framework, the laws and rules of the nation state would be but one focus for legal development, political reflection and mobilization. For this framework would respecify and reconstitute the meaning and limits of sovereign authority. Particular power centers [sic] and authority systems would enjoy legitimacy only to the extent that they upheld and enacted democratic law.”(15)
Die tekortkominge van die kosmopolitieke benadering
Dit is nie my bedoeling om die edele bedoelings van die uiteenlopende groep voorstanders van demokratiese kosmopolitisme te ontken nie. Ongelukkig is goeie bedoelings nie genoeg om die positiewe uitwerking van idees te waarborg nie, en in hierdie bepaalde geval is daar talle redes om maar baie skepties te wees oor die demokratiserende invloed van die kosmopolitieke benadering. Trouens, soos David Chandler aanvoer (16), ontstaan daar ernstige probleme uit die poging om die konsep van regte verder as die grense van die nasiestaat uit te brei as daar nie `n meganisme is waardeur daardie nuwe regte aan hulle subjekte toerekenbaar gehou kan word nie. Kosmopolitiese regte is volgens hom fiktief, want hulle val buite die beheer van hulle onderwerp, aangesien die wêreldburger slegs deur die wêreldwye burgerlike samelewing verteenwoordig kan word, wat buite die verteenwoordigingsraamwerk van die liberale demokrasie optree. Die regte is noodwendig afhanklik van die aktiewe steun van die agentskap van burgerlikesamelewing-instellings. Die gevaar van daardie subjeklose regte is dat dit gebruik kan word om bestaande demokratiese regte van selfregering te ondergrawe, soos wanneer burgerlikesamelewing-instellings nasionale soewereiniteit aanveg in die naam van “wêreldbelang”. Chandler beskou die kosmopolitiese konstruksie van die wêreldburger tereg as `n poging om moraliteit bo politiek te bevoorreg. Hy sê: “In this respect, cosmopolitan theorists reflect broader political trends towards the privileging of advocacy rights over the representational democracy of the ballot box. Political activity is increasingly undertaken outside the traditional political parties and is becoming a sphere dominated by advocacy groups and single issues campaigns who do not seek to garner votes but to lobby or gain publicity for their claims.” (17) Hy kom tot die gevolgtrekking dat die nuwe regte van kosmopolitiese burgers `n hersenskim is, want dit is morele aansprake en nie demokratiese regte wat uitgeoefen kan word nie.
Daar is egter `n ernstiger probleem, naamlik dat die kosmopolitiese benadering in ruil vir daardie fiktiewe nuwe regte op die ou end die ou regte van soewereiniteit prysgee. Trouens, deur die reg te regverdig wat internasionale instellings sou hê om soewereiniteit te ondermyn ten einde die kosmopolitiese reg te handhaaf, ontneem dié benadering die burgers van talle lande hulle demokratiese regte van selfregering. Chandler wys daarop dat “cosmopolitan regulation is in fact based on the concept of sovereign inequality, that not all states should be equally involved in the establishment and adjudication of international law. Ironically, the new cosmopolitan forms of justice and rights protection involve law-making and law-enforcement, legitimised from an increasingly partial, and explicitly Western perspective.” (18) Hou ook in gedagte hoe Held sy kosmopolitiese gemeenskap voorgestel het as `n gemeenskap van “alle demokratiese state”. Wie besluit watter state is demokraties, en volgens watter maatstawwe? Ongetwyfeld sal dit die Westerse siening van demokrasie wees wat gebruik word. En inderdaad sien Held geen probleme in hierdie opsig nie. Trouens, in sy ondersoek na hoe demokratiese reg toegepas moet word, sê hy: “In the first instance, cosmopolitan democratic law could be promulgated and defended by those democratic states and civil societies that are able to muster the necessary political judgement and to learn how political practices and institutions must change and adapt in the new regional and global circumstances.” (19) Dit is dus moeilik om te sien hoe die kosmopolitiese raamwerk die moontlikheid van selfregering vir wêreldburgers bevorder het. Vir baie van hulle sal dit seker net beteken dat hulle meer regstreeks onder Westerse beheer gebring word. `n Mens kan maar net met Chandler saamstem as hy verklaar: “Rather than furthering democracy, the premature declaration of a framework of universal cosmopolitan rights can, in fact, result in rights that people did have being further restricted.” (20)
Nog `n probleem ontstaan as `n mens die sentrale konsep van hedendaagse kosmopolitisme, naamlik die begrip “wêreldbestuur” of “staatsbestuur” (governance), ondersoek. In `n bespreking van die verskil tussen “regering” (government) en “(wêreld-/staats-)bestuur” (governance) merk Nadia Urbinati soos volg op: “Governance entails an explicit reference to ‘mechanisms’ or ‘organized’ and ‘coordinated activities’ appropriate to the solution of some specific problems. Unlike government, governance refers to ‘policies’ rather *the ‘politics’ because it is not a binding decision-making structure. Its recipients are not ‘the people’ as a collective political subject, but ‘the population’ that can be affected by global issues such as the environment, migration or the use of natural resources.” (21) Om van wêreldbestuur te praat sê dus baie oor die tipe rolspeler wat in die kosmopoliete se model aktief is. Dit is gewis nie die demokratiese burger wat sy of haar demokratiese regte op selfregering uitoefen deur deel te neem aan `n ware proses van besluit tussen verskillende alternatiewe projekte nie. Die sentrale vraagstuk in wêreldbestuur is die onderhandeling tussen `n verskeidenheid assosiasies en belangegroepe met bepaalde kundigheid wat oor bepaalde kwessies tussenbeide tree en probeer om hulle voorstelle op `n nie-adversatiewe wyse te bevorder. Vir seker word party van daardie assosiasies gemotiveer deur etiese oorwegings en nie bloot deur belange nie, maar hulle benadering is nie `n regte politieke benadering nie. Hulle oogmerk is om `n kompromis te bereik, nie om die heersende hegemonie aan te veg nie. So `n perspektief rym ongetwyfeld met die liberale beskouing van die politiek en dit pas volmaak in by die konsensuswoordeskat van die derde weg. Maar kan `n mens in sulke omstandighede nog van demokrasie praat?
Op dié vraag antwoord Robert Dahl duidelik ontkennend. Hy kritiseer die verheerliking van internasionale organisasies wat `n mens aantref by voorstanders van kosmopolitisme, wat dié organisasies beskou as nog `n tree in die demokratiese idee se lang tog van die polis na die kosmos. Vir hom is dit `n beskouing van die demokrasie wat die feit buite rekening laat dat alle besluite, selfs dié wat deur demokratiese regerings geneem word, vir party mense nadelig is – wat vir die een wins is, is immers vir die ander verlies. “If the trade-offs in advantages and disadvantages were identical for everyone, judgments involved in making collective decisions would be roughly equivalent to those involved in making individual decisions: but the trade-offs are not the same for everyone.”(22) Koste en voordele word dus nie gelyk versprei nie, en die kernvraag is altyd wie moet besluit en volgens wie se maatstawwe – vandaar dat dit so belangrik is dat die besluite betwis moet kan word. As dit reeds op die nasionale vlak moeilik is, word dit haas onmoontlik as `n mens dink aan `n hipotetiese internasionale demos waarin daar groot verskille bestaan wat betref die grootte van die bevolkings en die mag van die verskillende state.
Dahl voer aan dat as `n mens aanvaar dat demokrasie `n stelsel van populêre beheer oor regeringsbeleid en besluite is, jy tot die gevolgtrekking moet kom dat internasionale besluitneming nie demokraties kan wees nie. Dit beteken nie dat internasionale organisasies ongewens verklaar en hulle nut ontken moet word nie. Syns insiens is daar “no reason to clothe international organizations in the mantle of democracy simply in order to provide them with greater legitimacy.” (23) Hy stel voor dat hulle eerder behandel moet word as “burokratiese bedingingstelsels” wat miskien nodig is, maar waarvan die koste vir die demokrasie erken en in ag geneem moet word wanneer besluite geneem word oor die afstaan van belangrike nasionale bevoegdhede aan hulle.
Mary Kaldor is ook skepties oor die idee dat demokrasie op wêreldvlak hersaamgestel kan word, maar sy stel `n vindingryke oplossing voor, naamlik dat die wêreldwye burgerlike samelewing voorgestel word as `n funksionele ekwivalent van demokrasie. Sy meen dat as ons eers erken dat die sentrale saak in parlementêre demokrasie nog altyd beraadslaging was, en nie verteenwoordiging nie, die probleme verbonde aan die totstandbrenging van `n verteenwoordigende wêrelddemokrasie geïgnoreer kan word. Deelname aan `n wêreldwye burgerlike samelewing kan verteenwoordiging vervang deur `n ruimte te verskaf vir beraadslaging oor `n reeks kwessies wat mense op verskillende terreine van hulle lewens raak. Die belangrikste probleem met so `n idee is dat blote beraadslaging sonder die moment van besluite en die meganismes om die besluite af te dwing, bitter min beteken. Ter wille van die aanpassing daarvan by die era van globalisering ontneem haar voorstel in die finale instansie die idee van demokrasie sy kernbetekenis.
Dit is so dat Kaldor `n baie aktivistiese beskouing van die burgerlike samelewing huldig, en sy beklemtoon die behoefte aan die herverspreiding van mag. In verskeie opsigte is haar sieninge meer radikaal as baie ander kosmopolitiese perspektiewe. Sy deel egter hulle konsensusbenadering. Volgens haar is die burgerlike samelewing die lokus van `n soort bestuur (governance) wat berus op instemming, `n instemming wat voortgebring word deur politiek wat as “maatskaplike bedinging” voorgestel word. Sy glo in die moontlikheid van “a genuinely free conversation, a rational critical dialogue” en is oortuig daarvan dat “through access, openness and debate, policy makers are more likely to act as an Hegelian universal class, in the interests of the human community.”(24)
Die superioriteit van liberale demokrasie
Dit behoort nou reeds duidelik te wees dat die kosmopolitiese projek berus op die aanname dat die Westerse lewenswyse die beste is en dat morele vooruitgang vereis dat die Westerse vertolking van demokratiese waardes en die Westerse weergawe van menseregte wêreldwyd geïmplementeer word. Een van die mees gesofistikeerde voorstanders van die morele superioriteit en universele geldigheid van liberale grondwetlike demokrasie is Jürgen Habermas, wie se idees talle kosmopoliete beïnvloed het, en dit sal die moeite loon om te kyk hoe hy by hierdie superioriteit uitkom.
Habermas het probeer om `n ou twispunt op te los oor die aard van die Westerse regstaat, wat gedefinieer word deur die verwoording van die oppergesag van die reg en die beskerming van menseregte, terwyl demokrasie verstaan word as volksoewereiniteit. Liberale en demokrate (of republikeine) het nog altyd verskil oor die vraag of menseregte of volksoewereiniteit voorrang moet geniet. Vir die liberale, in navolging van Locke, is dit duidelik dat private outonomie, gewaarborg deur menseregte en die oppergesag van die reg, primêr was. Daarenteen meen demokrate (en republikeine), in navolging van Rousseau, dat voorrang verleen moet word aan politieke outonomie, wat moontlik gemaak word deur demokratiese selfwetgewing. Terwyl `n wettige regering vir liberale een is wat individuele vryheid en menseregte beskerm, is die bron van legitimiteit vir demokrate volksoewereiniteit. Habermas wou “demonstrate that there is a conceptual or internal relation and not simply a historically contingent association between the rule of law and democracy”. (25) Hy maak daarop aanspraak dat hy die geskil tot `n einde gebring het danksy sy diskoersteoretiese benadering deurdat hy die gelyktydige ontstaan van private en publieke outonomie aangetoon het. Hy som dit soos volg op, sonder om op die besonderhede van `n ingewikkelde redenasie in te gaan: “the desired internal relations between ‘human rights’ and ‘popular sovereignty’ consists [sic] in the fact that the requirement of legally institutionalizing self-legislation can be fulfilled only with the help of a code that simultaneously implies the guarantee of actionable individual liberties. By the same token, the equal distribution of these liberties (and their ‘fair value’) can in turn be satisfied only by a democratic procedure that grounds the supposition that the outcome of political opinion-and-will-formation are [sic] reasonable. This shows how private and public autonomy reciprocally presuppose one another in such a way that neither one may claim primacy over the other.”(26)
Habermas se oogmerk met die poging om die twee komponente te versoen, is om die bevoorregte rasionele aard van liberale demokrasie en gevolglik die universele geldigheid daarvan te staaf. As liberale grondwetlike demokrasie immers klaarblyklik so `n merkwaardige rasionele prestasie is – die versoening van die oppergesag van die reg en menseregte met demokratiese deelname – op watter gronde kan `n mens dan rasioneel teen die implementering daarvan beswaar aanteken? Alle teenstand moet outomaties gesien word as `n teken van irrasionaliteit en morele agterlikheid, en dus as illegitiem. Die implikasie is dus dat alle samelewings liberale demokratiese instellings behoort te aanvaar, wat die enigste legitieme manier is om menslike naasbestaan te organiseer. Dit word deur Habermas bevestig wanneer hy weer aandag gee aan die kwessie van gelyktydige ontstaan, maar dié keer vanuit die oogpunt van die modus van politieke legitimiteit, met die klem op die regstelsel; hy vra dan: “What basic rights must free and equal citizens mutually accord one another if they want to regulate their common life legitimately by means of positive law?”(27) Sy antwoord is natuurlik dat legitimiteit slegs verkry kan word deur menseregte, wat die kommunikatiewe voorwaardes vir redelike wilsvorming institusionaliseer.
Menseregte is volgens Habermas Janusagtig, met `n universele morele inhoud, maar ook met die aard van wettige aansprake – vandaar dat dit nodig is dat dit in `n regsorde beliggaam word. Hy meen “human rights belong structurally to a positive and coercive legal order which founds actionable individual legal claims. To this extent, it is part of the meaning of human rights that they claim the status of basic rights which are implemented within the context of some existing legal order.”(28) Hy erken dat dit `n bepaalde spanning tussen die universele morele betekenis daarvan en die plaaslike verwesenlikingsvoorwaardes skep, aangesien dit tot dusver slegs in die nasionale regsordes van die demokratiese state `n positiewe vorm kon aanneem. Hy is egter daarvan oortuig dat die wêreldwye institusionalisering daarvan goed op dreef is en dat dit slegs `n kwessie van tyd is voordat `n stelsel van kosmopolitiese reg wêreldwyd aanvaar word.
Habermas baseer hierdie oortuiging op sy opvatting dat menseregte die antwoord is wat in die Weste gegee word op spesifieke uitdagings wat die maatskaplike moderniteit stel. Hy voer aan dat aangesien alle samelewings nou voor dieselfde uitdagings staan, hulle noodwendig Westerse standaarde van legitimiteit en regstelsels wat op menseregte berus, sal moet aanvaar, ongeag hulle kulturele agtergrond. Hy hou voet by stuk dat dit die enigste aanvaarbare grondslag van legitimering bied en dat, wat ook al die oorsprong daarvan is, “human rights confront us today with fact that leaves us no choice”. (29) Volgens hom lê die alternatiewe op sosio-ekonomiese vlak, nie op kulturele vlak nie; hy sê dus beslis: “Asiatic societies cannot participate in capitalistic modernization without taking advantage of the achievements of an individualistic legal order. One cannot desire the one and reject the other. From the perspective of Asian countries, the question is not whether human rights, as part of an individualistic legal order, are compatible with the transmission of one’s own culture. Rather, the question is whether the traditional forms of political and societal integration can be asserted against – or must instead be adapted to – the hard-to-resist imperatives of an economic modernization” (30). Daar is derhalwe geen alternatief vir verwestering nie. In sy kommentaar op hierdie gedeelte wys William Rasch met verwysing na Habermas dan ook daarop dat “despite his emphasis on procedure and the universality of his so-called ‘discourse principle’, the choice that confronts ‘Asiatic societies’ or any other people is a choice between cultural identity and economic survival, between, in other words, cultural and physical extermination” (31).
As dit inderdaad die alternatief vir nie-Westerse samelewings is, moet ons dan verbaas wees as ons sterk weerstand teëkom, selfs in die vorm van terroristebewegings? Om die vooruitsig van `n wêreldwye burgeroorlog te vermy, is dit hoog tyd om die waandenkbeeld van die beskawende missie van die Weste wat deur die kosmopolitiese projek uitgevoer word, te laat vaar en te besef dat die gedwonge universalisering van die Westerse model nie vrede en voorspoed bring nie, maar eerder die toestande skep waarin selfs nog bloediger reaksies van die kant van die kulture en lewenswyses wat deur dié proses vernietig word, kan plaasvind.
Die illusie dat daar `n vorm van konsensuele wêreldbestuur is wat berus op die universalisering van liberale demokrasie en kan uitstyg bo die politieke, bo konflik en bo negatiwiteit, maak die sentrale tekortkoming van die kosmopolitieke visie uit. Om te glo in die moontlikheid van `n kosmopolitiese demokrasie met kosmopolitiese burgers wat dieselfde regte en verpligtinge het, `n kieserskorps wat met “die mensdom” ooreenstem, is om die dimensie wat ek “die politieke” noem, en die altyd aanwesige moontlikheid van antagonisme te ontken (32). Die kosmopolitieke benadering kyk die feit mis dat magsverhoudinge wesenlik vir die maatskaplike orde is en daardie orde is juis noodwendig `n hegemoniese orde. Trouens, as hulle projek ooit verwesenlik sou word, sou dit slegs `n wêreldhegemonie beteken van `n mag wat in staat sou wees om sy wêreldbeskouing op die hele planeet af te dwing. Dit is nutteloos om jou die moontlikheid van `n wêreldstelsel “verby hegemonie” voor te stel. Dit kan slegs die heerskappy verberg van `n dominante mag wat deur sy belange met dié van die mensdom te identifiseer, enige meningsverskil sal behandel as `n onwettige aanval op sy “rasionele” leierskap.
In die finale instansie sal die kosmopolitiese projek – ofskoon dit nie die bedoeling van baie van die voorstanders daarvan is nie, en omdat dit deel het aan die ambisie van die liberale universalisme om sy instellings na die res van die wêreld uit te voer onder die voorwendsel dat dit die enigste rasioneles en legitiemes is – noodwendig die hegemonie van die Weste en die opdwinging van sy besondere waardes moet regverdig. Myns insiens is dit `n resep vir rampspoed, aangesien pogings om die wêreld te homogeniseer onvermydelik gewelddadige reaksies uitlok by die samelewings wie se waardes en kulture illegitiem gemaak word deur die gedwonge universalisering van die Westerse model. Die gebrek aan ware pluralisme en die opdwing van die Westerse model van demokrasie aan onwillige samelewings skep die toestande vir `n antagonistiese stryd tussen die Weste en die samelewings wat as “vyande van beskawing” voorgehou word omdat hulle nie die Westerse lewenswyse wil aanvaar nie.
As daar eers begryp word dat elke orde hegemonies gestruktureer is en dat daar nie `n “verby hegemonie” is nie, is die enigste denkbare strategie om afhanklikheid van `n enkele moondheid of mag te vermy, om hegemonie te “pluraliseer”. Deesdae hoor `n mens baie oor hoe belangrik dit is om doeltreffende multilateralisme te herstel. Multilateralisme in `n unipolêre wêreld sal egter altyd `n illusie wees. So lank as wat daar een hegemoniese moondheid of mag bestaan, sal dié altyd die een wees wat besluit of hy die menings van ander nasies in ag gaan neem of alleen gaan optree. Ware multilateralisme vereis dat daar `n veelheid van besluitnemingsentrums is. Dít kan slegs bewerkstellig word deur die totstandbrenging van `n multipolêre wêreldorde wat om `n sekere aantal groot ruimtes en ware kultuurpole gebou is. As ons pluralisme ernstig wil opneem, moet ons nie op `n kosmopolitiese regstelsel gerig wees nie, maar, soos Massimo Cacciari redeneer (33), op `n internasionale regstelsel wat berus op die idee van streekpole en kulturele identiteite wat onder mekaar gefedereer is, met erkenning van elkeen se volle outonomie. Ek is oortuig daarvan dat dít die soort wêreldorde is waarna ons moet streef – nie `n kosmopolitiese orde nie. Deur te weier om te erken dat die wêreld `n pluriversum is, kan die universalistiese projek trouens daartoe bydra om die “botsing van beskawings” wat Huntington voorspel, teweeg te bring. _________
(1) Daniele Archibugi, “Demos and Cosmopolis”, in D. Archibugi (ed.) Debating Cosmopolitics, Londen: Verso 2003, p. 266. (2) Nadia Urbinati, “Can Cosmopolitical Democracy Be Democratic?” in D. Archibugi (ed.), Debating Cosmopolitics, Londen: Verso 2003, pp. 67-85. (3) Ibid., p. 69. (4) Ibid., p. 69. (5) Richard Falk & Andrew Strauss, “The Deeper Challenges of Global Terrorism: A Democratizing Response”, in D. Archibugi (ed.) Debating Cosmopolitics, Londen: Verso 2003, p. 203. (6) Richard Falk & Andrew Strauss, “Toward Global Parliament”, in Foreign Affairs, January -February 2001. (7) Falk & Strauss, “The Deeper Challenges of Global Terrorism, A Democratizing Response”, in D. Archibugi (ed.) Debating Cosmopolitics, Londen: Verso 2003, p. 205. (8) Ibid., p 209. (9) Ulrich Beck, “Redefining Power in the Global Age: Eight Theses”, in Dissent, Fall 2001, p. 89. (10) Ibid. (11) Daniele Archibugi, “Cosmopolitical Democracy”, in D. Archibugi (ed.) Debating Cosmopolitics, Londen: Verso 2003, p. 7. (12) Daniele Archibugi, “Demos and Cosmopolis”, in D. Archibugi (ed.) Debating Cosmopolitics, Londen: Verso 2003, p. 262. (13) David Held, “Democracy and the New International Order”, in D. Archibugi & D. Held (eds.) Cosmopolitan Democracy. An Agenda for a New World Order, Londen: Polity Press 1995, p. 111. (14) David Held, “The transformation of political community: rethinking democracy in the context of globalization”, in I. Shapiro & C. Hacker-Cordón (eds.) Democracy’s Edges, Cambridge: Cambridge University Press 1999, p. 105. (15) Ibid., p.106. (16) David Chandler, “New Rights for Old? Cosmopolitan Citizenship and the Critique of State Sovereignty”, Political Studies, Vol. 51, 2003, pp. 332-349. (17) Ibid., p. 340. (18) Ibid., p. 343. (19) David Held, Democracy and the Global Order, Polity Press, 1995, p. 232. (20) Chandler, op. cit., p. 347. (21) Nadia Urbinati, op. cit., p 80. (22) Ibid., p.25. (23) Robert A. Dahl, “Can international organizations be democratic? A skeptic’s view”, in I. Shapiro & C. Hacker-Cordón (eds.) Democracy’s Edges, Cambridge: Cambridge University Press, 1999, p. 32. (24) Mary Kaldor, Global Civil Society. An Answer to War, Londen: Polity, 2003, p.108. (25) Jürgen Habermas, Between Facts and Norms, Cambridge MA: MIT Press, 1998, p. 449. (26) Ibid., p. 455. (27) Jürgen Habermas, The Postnational Constellation, Cambridge: Polity, 2001, p. 116. (28) Jürgen Habermas, The Inclusion of the Other, Cambridge MA: MIT Press, 1998, p. 116. (29) Jürgen Habermas, The Postnational Constellation, Cambridge: Polity 2001, p. 121. (30) Ibid., p.124. (31) William Rasch, “Human Rights as Geopolitics: Carl Schmitt and the legal form of American supremacy”, in Cultural Critique, No. 54, Spring 2003, p.123. (32) Ek het op hierdie siening van “die politieke” uitgewei in The Democratic Paradox, Londen: Verso, 2000. (33) Massimo Cacciari, “Digressioni su impero e tre Rome” in H. Friese et al. (eds.) Europa politica, Manifestolibri 2002, p.41.
|