|
||||
In al die kommentaar wat oor Barclays se oorname van ABSA gelewer is, is min aandag gegee aan die verhouding tussen Afrikaners en Afrika wat hier in die spel is. Volgens Business Day van 11 Mei 2005 beplan Barclays en Absa om die grootste bank in die Afrikamark te word. Anders as die ander drie groot banke in Suid-Afrika het ABSA minstens via een van sy oorspronklike vier onderdele, Volkskas, `n unieke geskiedenis as `n bank met sterk wortels in `n gemeenskap. Soos alom bekend is, is Volkskas aanvanklik in die 1930’s gestig om Afrikaners te help om na die Depressiejare weer ekonomies op die been te kom. Hierna is toentertyd as volkskapitalisme verwys. Volkskas was destyds saam met Sanlam en ander Afrikanerondernemings die ekonomiese arm van die Afrikanernasionalistiese beweging wat sy grootste oomblikke met die Nasionale Party se verkiesingsoorwinning op 26 Mei 1948 en Suid-Afrika se republiekwording op 31 Mei 1961 beleef het. Reeds teen die middel van die 1960’s was dit duidelik dat Afrikanernasionalisme op die terreine van die ekonomie, die politiek en die taal al sy belangrikste oogmerke verwesenlik het. Die tragedie van Afrikanernasionalisme is dat dit nie daarna `n nuwe politiek kon beoefen en die demokrasie in Suid-Afrika verdiep nie. Hiervoor moes Suid-Afrikaners tot 1994 wag, toe Afrikaners in die onderhandelinge met die Afro-nasionaliste van die ANC gelei is deur mense wat lankal bloot nog in naam nasionaliste was, en by wie dié ideologie eintlik nog net as instrument van bevoorregting betekenis gedra het. Vanaf die laat 1980’s het al die groot Afrikanerbesighede op al hoe groter skaal buite eie gemeenskap handel gedryf. Vandag vorm wins uit Afrikanersake maar `n klein deeltjie van die totale wins van ondernemings soos Sanlam, Remgro, Naspers en, les bes, Absa. Een van die dinge wat Absa onderskei, is dat dit die tweede grootste besteder aan maatskaplike belegging in Suid-Afrika is. In die Afrikaanse wêreld ondersteun Absa Die Vrye Afrikaan, Litnet en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, maar buite die Afrikaanse wêreld is daar `n baie lang lys verdienstelike sake wat ook deur Absa ondersteun word. Ofskoon Absa homself in die harde korporatiewe wêreld moet handhaaf, onderstreep hierdie maatskaplike betrokkenheid dat die bank en die Afrikaners wat hom tot nou toe beheer het, nie vergeet het waar hulle vandaan kom nie. Die Vrye Afrikaan wens Absa en Barclays geluk met hul transaksie, en hoop van harte dat hulle ambisie om Afrika se grootste bank te word nie net in die teken van die goeie buurskap tussen Afrikaner en Afrikaan sal staan nie, maar dat dit deur dieselfde maatskaplike bewussyn as Absa se Suid-Afrikaanse bedrywighede gekenmerk sal word. |