blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Wat is in `n naam? Nelson Mandela, Pretoria en versoening 2005-05-12
    Twee oënskynlik onverwante sake was die afgelope weke in die nuus: die misbruik van oud-president Nelson Mandela se naam, en die poging om Pretoria se naam na Tshwane te verander.

    In die geval van Mandela se naam gaan dit om drie mense wat na bewering deur swendelkuns miljoene rande gemaak het. Mandela se eertydse regsverteenwoordiger en vertroueling, Ismail Ayob, sy vrou Zamila Ayob en die voormalige veiligheidspolisieman en deesdae bemarker, Ross Calder. Die gesaghebbende en braaf ondersoekende onafhanklike tydskrif, Noseweek, het in hul uitgawes van April en Mei 2005 die bedrogspul in besonderhede blootgelê. Volgens Noseweek se Mei-uitgawe wil dit voorkom of mnr. Ayob deelgeneem het aan die swendelary omdat hy hom enkele jare gelede in ernstige finansiële moeilikheid bevind het. Hierteenoor bestaan die indruk dat mnr. Calder hoofsaaklik deur gierigheid aangedryf is, veral te oordeel aan `n voorbladberig in die Sunday Times van 8 Mei 2005, waarvolgens Calder meer as vyf luukse voertuie en `n huis ter waarde van miljoene rande in Constantia, Kaapstad, besit.

    Of die drie partye skuldig is, sal uiteraard deur die hof beslis moet word, maar die kern van die saak waarom dit hier gaan, is die goeie naam van oudpresident Mandela. Die Ayobs en Calder word daarvan verdink dat hulle Mandela se handtekening op kunswerke en in “getekende” kopieë van Mandela se outobiografie vervals het. Volgens Beeld van 11 Mei 2005 verklaar Mandela in die hofstukke: “Die onwettige aksies van Ayob en Calder berokken skade aan dié erfenis wat ek graag wil skep. Ek ly skade en sal aanhou om onmeetbare skade aan my naam en reputasie te ly.”

    Mandela se naam het geword wat dit is weens die stryd om geregtigheid en demokrasie waarmee dit verbind is, en die besondere rol wat Mandela `n leeftyd lank in hierdie stryd gespeel het. Anders as in die geval van `n handelsmerk wat met groot geld opgebou is, is Mandela se naam oor `n lewe lank gebou deur `n politieke praktyk waarin hy klassieke deugde soos durf, eerbaarheid en vergewensgesindheid uitgeleef het – maar wat ook nie sonder kommersiële waarde is nie. (Die kommersialisering van die rewolusionêr Che Guevara se naam is `n onheilspellende voorteken van wat met Mandela se naam kan gebeur.) Juis omdat Mandela met sy sterk wortels in sy landelike gemeenskap van kindsbeen af hierdie deugde ontvang het, kon hy `n deugsame, dapper politiek beoefen. Dit is hierdie nalatenskap waaruit allerlei moralistiese en magsondernemers al geruime tyd munt slaan, en hierby kom nou boonop swendelondernemers.

    In die geval van Pretoria se naam gaan dit om `n ondemokratiese, onverdraagsame magskliek in die Tshwane Metropolitaanse Raad (TMR), wat op kortsigtige wyse kom torring het aan die konsensus wat die afgelope jare met betrekking tot dié naamkwessie gegeld het, naamlik dat daar van die Groter Tshwane Metropolitaanse Gebied met Pretoria as deel daarvan gepraat word. So is verskillende gemeenskappe vir wie die onderskeie name belangrik is, erken in die versoenende gees wat deur Mandela nà 1994 gedemonstreer is.

    Nà `n onbekookte poging verlede jaar om summier weg te doen met die naam Pretoria het die burgemeester van die TMR, vader Smangaliso Mkhatshwa, `n groep akademici versoek om hom oor die kwessie te adviseer. Die verslag van hul werksaamhede is in Desember 2005 aan Mkhatshwa oorhandig, maar hy het nie sy belofte nagekom om dit openbaar te maak nie. Daar is inteendeel voortgegaan met die proses om eensydig met die naam Pretoria weg te doen.

    Hierdie poging het egter vandeesweek twee terugslae beleef. Eerstens het dit bekend geword dat die gesagsowerheid vir reklamestandaarde (ASA) verlede week bevind het dat advertensies waarin die TMR na Tshwane as hoofstad verwys, misleidend is en onmiddellik gestaak moet word. Tweedens het Die Pretoria Burgerlikse Aksie (PBA), waarby onder meer Solidariteit en die FAK betrokke is, gereageer deur hulle op die Wet op Munisipale Geldbestuur te beroep en in `n brief aan die TMR amptelik versoek dat Mkhatshwa, die TMR se munisipale bestuurder, mnr. Blake Mosley-Lefatola en ander politici en amptenare “wat verantwoordelik is vir die voer van `n misleidende advertensieveldtog om Tshwane as Afrika se voorste hoofstad te bemark, persoonlik instaan vir die geld (R24 miljoen) wat op dié veldtog vermors is” (Beeld, 10 Mei 2005).

    Op die koop toe het die TMR ook uit `n ander oord onverwagse kritiek gekry, naamlik van die Ndebele-konings, Makhosoke II en Mayisha III. Volgens dieselfde uitgawe van Beeld het hoofman Tshwane slegs `n deel van die Ndebele-volk verteenwoordig. In gesprekke met die PBA het hulle te kenne gegee dat hulle, as die naam dan moet verander, eerder die naam Musi (eertydse koning van die hele Ndebelevolk) of KwaMyamana verkies, en sou hulle steeds Pretoria bo Tshwane verkies. Die konings se beswaar sal waarskynlik volgende week met die TMR bespreek word, en daar is aanduidings dat die PBA en die Ndebele-konings gaan saamspan om die huidige poging tot naamsverandering teen te staan.

    Pretoria is een van die min plekke in Suid-Afrika wat nie rondom landbou, `n kerk of handel gestig is nie, maar wel as `n politieke daad, naamlik `n republikeinse stad. Later sou die stad sentraal wees in die anti-koloniale en anti-imperiale vryheidstryd van Afrikaners. Ofskoon dit na 1948 weens verskerpte verstaatliking toenemend met `n ondemokratiese politiek verbind is, was dit steeds `n stad met ander trotse gemeenskapstradisies, waaruit beduidende intellektuele, literêre en kunswerke gekom het. Sedert 1994 het van die belangrikste werk wat in Afrikaans op hierdie gebiede gedoen word, ook uit Pretoria gekom. Daarbenewens is `n sterk swart middelklas veral rondom die staatsdiens in Pretoria gevestig, het die diplomatieke korps vertienvoudig sedert 1994 met groot verteenwoordiging uit Afrika, en is van Suid-Afrika se belangrikste swart intellektuele vandag in die stad werksaam. President Thabo Mbeki het die Universiteit van Pretoria onlangs as `n model van `n Afrika-universiteit uitgesonder.

    Dit is dus `n stad wat opnuut in die hart van die politieke, intellektuele, literêre en kunslewe van Suid-Afrika staan. Deur hulle anti-koloniale, anti-imperiale en republikeinse tradisies vandag te herontdek, kan Afrikaners hulleself saam met Afrikane heruitvind in Pretoria. `n Klein voorbeeld hiervan is inderdaad die samewerking tussen die PBA en die Ndebele-konings.

    Sowel die naam Mandela as die naam Pretoria het oor `n baie lang tyd iets besonders geword weens `n trotse politieke geskiedenis. Nà 1948 is die naam Pretoria deur magsondernemers besoedel, net soos wat die naam Mandela nou deur verskillende soorte ondernemers besoedel word. Dat dit langer sal neem om Pretoria se naam in ere te herstel, is so, maar die proses is op dreef. Dat Mandela se naam skade berokken is, is ook so, maar dit kan deur sowel die reg as gewone Suid-Afrikaners beskerm word.

    Mag die Afrikaners en Afrikane vir wie hierdie twee name kosbaar is die nodige durf, eerbaarheid en vergewensgesindheid aan die dag lê om hierdie twee name van opportunistiese ondernemers te red en in ere te herstel.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=213
Artikel nagegaan:
    -