|
||||
`n Nuwe seisoen van dialoog tussen Afrikaners, die ANC en die regering is klaarblyklik die afgelope weke ingelei. Eers was daar op 30 Maart `n gesprek tussen onder meer verteenwoordigers van die FAK en die Minister van Onderwys rondom knelpunte met betrekking tot taal en die onderwys; toe was daar op 9 April `n openbare debat oor transformasie tussen onder meer verteenwoordigers van die FAK en die ANC-Jeugliga, vergesel van Gauteng se LUR vir Plaaslike Regering; en op 11 April het die Afrikanerbond ’n gesprek gevoer met `n afvaardiging van die ANC, waarvan onder andere mnr. Smuts Ngonyama, kommunikasiehoof van die ANC, deel was. Hoe moet `n mens hierdie nuwe vlaag van gesprekke verstaan, en waarheen kan dit moontlik lei? In die eerste plek is dit so dat die ANC reeds in die aanloop tot verlede jaar se verkiesing baie moeite gedoen het om na wat hulle “minderhede” noem te vry. In die tweede plek spel `n onlangse dokument van die ANC – Strategic and Tactical Approaches to the Opposition – die noodsaak uit om opposisie te neutraliseer deur ander politieke partye en groeperinge uit die burgerlike samelewing nader aan die ANC te trek, met ander woorde te koöpteer. Soos ons al voorheen in die blaaie van Die Vrye Afrikaan aangevoer het, is die sentrale probleem van die Suid-Afrikaanse politiek hoe om wedersydse erkenning tussen die verskillende gemeenskappe in die land te bewerkstellig. Hierdie erkenning het ook `n ekonomiese dimensie, want vir sover en solank as wat die wedersydse erkenning tussen gemeenskappe uitbly, bly ekonomiese vryheid vir almal ook uit. Anders gestel: die probleem van wedersydse erkenning tussen gemeenskappe het sowel `n politieke as `n ekonomiese kant, identiteit én klas. Die ANC en die regering – wat in `n sekere sin twee gesigte van dieselfde masjien is – is deeglik bewus van hierdie spanningsveld. Solank as wat die Afro-nasionaliste in die ANC en die regering daarin kan slaag om die front van swart rassesolidariteit voor te hou, kan hulle hulself ook posisioneer as vertolkers van die belange van die armes, waarvan die meeste swart is. Dit is inderdaad wat die ANC en die regering probeer doen, maar daar is minstens twee faktore wat hierdie brose magsbalans bedreig, die een voortspruitend uit identiteit, en die ander voortspruitend uit klas. Wat klas betref, het die ANC die afgelope twee jaar onder geweldige druk vanuit die geledere van alternatiewe vertolkers van die belange van die armes – die SAKP, Cosatu en onafhanklike swart intellektuele – gekom, en wel omdat die neo-liberale hoop op die mark as bevryder van die armes klaaglik beskaam het. Soos Margaret Legum onlangs uitgewys het in `n lesing wat eersdaags in Die Vrye Afrikaan verskyn, het die ANC aan bewind gekom toe die neo-liberale resep (ook bekend as die Washington-konsensus) internasionaal as die alfa en die omega voorgehou is. Indertyd het die globale magsbalans - onder meer ook weens die betreklike suksesse van die alterglobaliseringsbeweging – waartoe Die Vrye Afrikaan ook verbind is – sodanig verskuif, dat die ANC die beweging na die kant van die ontwikkelingstaat gemaak het, waarby semi-staatsondernemings `n grondliggende rol in ontwikkeling speel. Liewer laat as nooit nie (hoewel dit gewis aangevul moet word deur gemeenskapsgerigte oplossings vir die tweede ekonomie), maar die feit bly dat `n miljoen verlore poste en vergrype rondom Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) die ANC se aansien as vertolker van die belange van die armes reeds `n ernstige knou gegee het. Wat identiteit betref, is die Afrikaners ongetwyfeld die groep wat die beste toegerus is om `n gedugte magsblok te vorm. As dit dan nou boonop in alliansie met ander gemeenskappe, of selfs op klasselyne langs (soos tussen Solidariteit en Cosatu) gebeur, het die ANC en die regering rede om kennis te neem. Gelukkig is die dae verby dat Afrikaners as `n eenduidige blok gehanteer kan word, maar die feit bly dat daar `n beduidende groep Afrikaners is – die nuwe Afrikaners - vir wie hulle identiteit as Afrikaners, Suid-Afrikaners en Afrikane op `n kontinuum lê. Dit is mense met `n diep lojaliteit aan die land en die vasteland, en wat nie sonder meer as politieke heethoofde of “rassiste” afgemaak kan word nie. Dit is teen hierdie agtergrond wat die ANC en die regering se onlangse gesprekke met Afrikaners vanuit veral die burgerlike samelewing verstaan moet word. Dat dit uit die burgerlike samelewing gebeur, is natuurlik belangrik, aangesien geeneen van die politieke partye om verskillende redes effektief optree as vertolkers van wat onder die nuwe Afrikaners leef nie. Dat Solidariteit en die nuwe FAK die afgelope jaar of wat reeds soveel prominensie verkry het, is ook sprekend van nie net hoeveel nuwe Afrikaners daar is nie, maar ook van hoe sterk die hoop is wat die nuwe Afrikaners op die burgerlike samelewing vestig nà dekades se misleiding en teleurstelling in die partypolitiek. Gesprek as sodanig is `n goeie ding, maar dit is nog nie genoeg nie. Dit is ook goed dat die ANC en die regering nou weer na jare in die openbaar met Afrikaners uit die burgerlike samelewing begin gesels, maar niemand moet daardeur geflous word nie. Baie Afrikaners het nog `n histories blinde kol oor gesag, en kan daarom maklik glo dat `n kopknikkie uit hoër kringe nou die geskiedenis in `n nuwe rigting stuur. Maar so eenvoudig is dit natuurlik nie. Die feit van die saak is dat die suksesse van hierdie gesprekke nog geensins beoordeel kan word nie, en wel omdat mooiklinkende retoriek teenoor Afrikaners die afgelope jare vanuit die ANC en die regering net mooi niks gedoen het aan kwessies waaroor Afrikaners soms ongelukkig is nie. Wat tans veral in die brandpunt staan, is die kwessie van moedertaalonderrig. Dié kwessie het `n besonder ironiese ondertoon in soverre die leidende intellektuele onder die nuwe Afrikaners – anders as wat mnr. Marthinus van Schalkwyk die afgelope Saterdag by die ontbinding van die NNP te kenne wou gee – die regering tot verantwoording roep oor nie net die druk op moedertaalonderrig in Afrikaans nie, maar ook en veral oor die volskaalse verwaarlosing hiervan in die ander inheemse tale deur die einste regering! Dat dit juis Afrikaners is wat nou ook vir die ander inheemse tale intree, plaas die regering in `n baie moeilike posisie: enersyds is hy in `n enorme verleentheid dat dit juis Afrikaners is wat hom herinner aan hoe hy sy eie ondersteunersbasis op taalgebied verwaarloos; andersyds mag hy groot probleme by `n ander seksie van sy ondersteuners optel indien hy hieroor in die openbaar aan Afrikaners toegee. Die lakmoestoets van of die nuwe reeks gesprekke suksesvol is of nie, sal wees of dit in konkrete handelinge vertaal kan word. Iets soos byvoorbeeld die FAK-onderwysplan – waarvan gesprekke met die regering soms deel mag vorm - geskied ook op die basis van deurlopende oorlegpleging met die rolspelers betrokke by die onderwysplan, en is nie sommer net bilaterale gesprekke wat sonder oorlegpleging vooraf gevoer en daarna in die openbaar aangekondig kan word nie. Die nuwe Afrikaners is intens begaan oor die verwaarlosing van ons inheemse tale, oor die armoede waaronder die helfte of meer van ons landgenote (van alle kleure) gebuk gaan, en oor die gebrek aan gemeenskapsdeelname in die besluitnemingsprosesse oor die samelewing. Die ANC en die regering se geloofwaardigheid by sowel die nuwe Afrikaners as die klassestryders gaan uiteindelik afhang van die sukses wat hy saam met hulle behaal in die opruiming van hierdie probleme. Wat intussen ook waar is, is dat die nuwe Afrikaners en die klassestryders al hoe meer gemene grond het – en dit kan die mees gedugte politieke alliansie wees wat Suid-Afrika nóg gesien het. |