|
||||
James Blignaut Deur James N. Blignaut, deeltydse professor in Ekonomie, Universiteit van Pretoria, en direkteur van Jabenzi, Beatus en GreenGrowth Strategies, drie maatskappye wat ten doel het om landelike ontwikkeling in Suider-Afrika ’n realiteit te maak mailto:[email protected] Die inwerkingtreding van die Kioto-Protokol in Februarie 2005 het opnuut die verhouding tussen ekonomiese groei, ontwikkeling en die natuurlike omgewing benadruk. Dié hernude nadruk is egter ’n sikliese (of “mode-”) verskynsel. Van tyd tot tyd is daar die een of ander omgewingsramp en/of ’n internasionale konferensie oor die verband tussen ekonomie en omgewing, en dan is dit “in die mode” om die uitwerking van mensgegenereerde lug- en waterbesoedeling, hulpbronuitputting en omgewingsdegradasie te bespreek. Dit wil dus voorkom of die ekonomie-omgewing-skakels uit en uit ’n reaktiewe respons is. Dit kan die gevolg wees daarvan dat die omgewing steeds nie as ’n ekonomiese aangeleentheid in die hoofstroom beskou word nie. Die geldende paradigma is steeds dié van die mens se vermoë om die natuur te oorheers en te onderwerp ter wille van sy eie gulsige aspirasies, eerder as om te probeer om in harmonie met die natuur en ander mense te leef. Wat sake verdere kompliseer, is die feit dat die beperkings en verskillende ekologiese drempels van ons natuurlike omgewing grotendeels onbekend is. Die besonderhede van al die ekonomie-omgewing-skakels is oor die algemeen ook onbekend. Ons weet dat uitheemse bome die beskikbaarheid van water en grondgehalte verlaag, terwyl inheemse bome tot die watervoorraad en -gehalte, grondstabilisering en koolstofsekwestrering bydra (en so die uitwerking van wêreldklimaatsverandering verminder), maar die presiese besonderhede van hierdie verhoudings en die skakel met die mens en die ekonomie is nie so duidelik nie. Vanweë hierdie onsekerheid het baie mense hulle uitgespreek ten gunste van aanpasbare beleidmaking wat steun op die voorsorgbeginsel, wat ’n proaktiewe maatreël is. Dié beginsel berus op die siening dat voorsorg nasorg voorkom en dat ’n beleid eerder te versigtig moet wees – populêr gestel liewer bang Jan as dooie Jan – wat die bestuur van omgewingsvraagstukke betref. Binne ’n Suid-Afrikaanse beleidskonteks moet hierdie benadering nog ’n werklikheid word. Dit is skynbaar die huidige oortuiging dat die komende geslagte van ons land die middele en die wil sal hê om omgewingsvraagstukke aan te pak. Die paradigma wat onderliggend aan hierdie siening is, is nie net dwaas nie, maar fundamenteel verkeerd. Die aanvaar dat die mens en die natuur heeltemal verskillende entiteite is en dat die een geïsoleerd en onafhanklik van die ander kan ontwikkel. Dit is interessant om daarop te let dat hoewel die paradigma verkeerd is, dit goed ondersteun word deur standaard neoklassieke ekonomie wat die omgewing netjies volgens die ceteris paribus-beginsel hanteer; dit impliseer ’n konstante, nieveranderlike omgewing wat oneindige insette vir produksie en verbruik bied. Die term “die omgewing” word hier in die breedste sin van die woord gebruik en behels sowel bronne (water, grond, minerale, ens.), dienste (stikstof-, hidrologiese, biologiese en klimaatsregulering, habitatverskaffing, estetiese waardes, ens.) as sinke (die assimileringsvermoë van die biosfeer om afval te absorbeer). “Die omgewing” is dus inderdaad die veelvlakkige, pluralistiese dimensie waarbinne mense leef en wat noodsaaklik is vir nie net naasbestaan nie, maar ook oorlewing. Indien ’n mens egter “die omgewing” slegs gedeeltelik beskou, is dit welbekend dat Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne, veral dié van die mynbou en die landbou, ’n beduidende rol gespeel het in die ontwikkeling van Suid-Afrika in die verlede. Die instellings in dié sektore het nie net belasting betaal en bygedra tot sosio-ekonomiese ontwikkeling deur hulle investering in skole en klinieke nie, maar ook grootskaalse werkgeleenthede en geleenthede vir nywerheidsdiversifisering verskaf. In die jongste tyd het die bydrae van hierdie sektore tot die ekonomie, gemeet volgens hulle bydrae tot die BBP, egter afgeneem tot minder as 10 persent oor die geheel, hoofsaaklik vanweë die groei van die ander vervaardigings- en diensverwante sektore. Beduidende verliese aan werksgeleenthede, wat om verskeie redes plaasgevind het, het die afgelope dekade ook in hierdie sektore voorgekom. Baie ontleders het dus inderdaad rede om te meen dat die tyd verby is dat die natuurlikehulpbron-sektor die dryfkrag van groei is: ons is nou in die inligtingsera en dít dryf die nywerheid aan. Maar waar gaan ons daaglikse brood, water en suurstof vandaan kom? Nuwe ontwikkelinge op die terrein van ekonomiese ontwikkeling, die handel en die omgewing kan straks hierdie persepsie verander. Indien so ’n ommekeer in persepsie egter gaan plaasvind, moet ’n mens besef dat veranderinge in die omgewingskwaliteit en -kwantiteit sowel ekonomiese bedreigings as ekonomiese geleenthede inhou. Omgewingsverandering is dus eweseer ’n ekonomiese aangeleentheid as ’n omgewingsvraagstuk. Hierdie punt word duidelik geïllustreer in die April 2004-uitgawe van UNCTAD Trade and the Environment Review. In hierdie dokument van 170 bladsye verklaar Lakshmi Puri, direkteur van UNCTAD (Verenigde Nasies se Konferensie oor Handel en Ontwikkeling) se afdeling Internasionale Handel in Goedere en Dienste, en Kommoditeite, soos volg: Handel en die omgewing is ‘n komplekse en kruissnydende aangeleentheid wat steeds betreklik nuut is. In onlangse jare het die internasionale handel- en omgewingsdebat verskuif vanaf klem op ‘n situasie van inherente konflik tussen hierdie twee areas na groter politieke bereidwilligheid om sinergieë te identifiseer en aan te gryp, en om handel ‘n motor van volhoubare ontwikkeling te maak. Dit word weerspieël in die Doha Ministersverklaring (DMV) van die Wêreldhandelsorganisasie en die Wêreldberaad oor Volhoubare Ontwikkeling (WVO). Deur hierdie stelling snoer UNCTAD kragte saam wat voorheen met mekaar in stryd was. Terselfdertyd stel Puri egter sowel die handels- as die omgewingsektor voor die uitdaging om kreatief te dink oor oplossings vir die probleem van hoe hierdie samesmelting van handel en omgewing kan werk. Nêrens elders as in Suid-Afrika is daar ’n dringender behoefte om vernuwend en kreatief aan geïntegreerde oplossings te dink nie. Suid-Afrika het byvoorbeeld ’n steenkoolgebaseerde, hoogs energie-intensiewe ekonomie met ’n gevolglik hoë vrystellingsintensiteit van kweekhuisgasse (wat bydra tot wêreldklimaatsverandering). Dit impliseer dat nywerheidsuitbreiding wat nie die land se koolstofspoor in ag neem nie, teenproduktief kan wees. Terselfdertyd het ’n groot aantal huishoudings in Suid-Afrika nie toegang tot netwerkkrag nie en ly hulle geweldig as gevolg van binnenshuise lugbesoedeling veroorsaak deur die hout-, steenkool- en paraffienvure! Hulle aspireer om by die energie-dol ekonomie aan te sluit. Hoewel die vraag na meer energie onmiskenbaar is, is dit terselfdertyd noodsaaklik dat die land minder koolstof voortbring. Die beskikbaarheid van water wek eweneens sorg. Hoewel die gedeelte van die water wat deur die landbou gebruik word, gelykstaan met dié van die res van die wêreld (ongeveer 60 persent van al die water wat gebruik word), is dit sorgwekkend dat Suid-Afrika, vergeleke met die res van die wêreld, beperkte en afnemende hoeveelhede vars water en varswaterhulpbronne per persoon het. Toegang tot drinkbare water is ’n basiese mensereg. Soos in die geval van energie is daar ’n vraag na meer en beter water, maar in hierdie geval is die bron eindig en word dit nadelig geraak deur gronddegradasie en klimaatsverandering. Die marginale waarde van water behoort dus hier baie hoër te wees as elders. Dit maak behoorlike hulpbrontoewysing noodsaaklik. Daar moet gemeld word dat die Nasionale Tesourie deeglik bewus is van hierdie feite en nou opsies begin oorweeg om omgewingsvraagstukke die hoof te bied. Dit blyk duidelik uit die 2005-begrotingsoorsig (bll. 88 en 89). Om basiese dienste te lewer terwyl die uitwerking van groter industrialisasie versag word, is ’n uitdaging wat die land die hoof moet bied. Vanweë ons besondere ekonomiese struktuur, waarin armoede en welvarendheid naas mekaar bestaan, kan konvensionele ekonomiese groei, koolstofvermindering en watergebruikstrategieë nie sonder aanpassing toegepas word nie. Doelgemaakte beleide sal ontwikkel en ingestel moet word om die land se koolstofspoor, algehele watergebruik en die verlies aan biodiversiteit te verminder, terwyl armoede terselfdertyd verlig en ekonomiese ontwikkeling gestimuleer word. Die toenemende erkenning van die waarde van investering en handel in ekosisteemgoedere en dienste is egter miskien besig om ’n oplossing te word. Sulke goedere en dienste sluit opvanggebiedbeskerming, koolstofsekwestrering, habitatverskaffing, die hersiklering van voedingstowwe, erosiebestryding en grondvorming in. ’n Groep genaamd die Three Conventions Partnership ondersteun hierdie inisiatief. Dit blyk dat die oogmerke van drie VN-konvensies (wat Suid-Afrika ook onderteken het), naamlik die Konvensie oor die Bestryding van Woestynvorming, die Konvensie oor Biologiese Diversiteit, en die Verenigde Nasies se Raamwerk vir Klimaatsverandering, tegelykertyd bereik kan word deur projekte vir die rehabilitasie van natuurlike hulpbronne. Dié projekte behels die hervestiging van inheemse plantegroei wat in gedegradeerde landskappe verlore gegaan het. So kan die ekosisteemgoedere en dienste wat hierbo genoem is, voortgebring word. Dit volg dan dat die land wat in staat is om sulke projekte te onderneem, internasionale investering in hulpbronrehabilitasie sal lok in ruil vir biodiversiteitskrediete. Die lande wat sulke investeringsgeleenthede op die mees kostedoeltreffende manier kan bied, sal waarskynlik daardeur ’n vergelykbare voordeel geniet. Dit het Suid-Afrika beslis. Suid-Afrika sal nuwe omgewingsdienste heel maklik kan lewer. Die “tuisland”-beleid van die apartheidsera het groot stukke erg gedegradeerde landelike grond agtergelaat. Dieselfde landelike gebiede word gekenmerk deur grootskaalse werkloosheid en is dus uiters geskik vir arbeidsintensiewe landelike hulpbronrehabilitasie. Werkskepping sal volhoubaar wees, want baie van hierdie landelike gebiede het pragtige natuurskoon en kan dus uiteindelik toeristebestemmings word. En hoewel talle ontwikkelende lande soortgelyke omstandighede kan bied, kan min van hulle kers vashou by Suid-Afrika se sterk menslike en fisiese infrastruktuur, wat nodig sal wees om ’n suksesvolle program van investering in nuwe omgewingsdienste deur te voer. Behoorlike en geskikte markte vir ekosisteemgoedere en dienste wat mense vergoed om hulle grond te bestuur en in stand te hou in ruil vir die verskaffing van ’n produk en/of diens, is nodig. Betaling vir die lewering van ekosisteemdienste is iets totaal anders as welsynsoordragte en allerlei ander ad hoc-aalmoese. Dit is moontlik om voorheen gemarginaliseerde gemeenskappe so by die formele ekonomie te integreer, wat weer tot hulle markdeelname en bemagtiging sal lei. |