blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die huidige Suid-Afrikaanse ekonomie: President Mbeki se ‘staatsaflewering’ bly problematies 2005-03-03
Johan van Zyl en Norman Reynolds

Deur Johan van Zyl, gemeenskapsekonoom en ontwikkelingskonsultant; en Norman Reynolds, gemeenskapsekonoom en Direkteur van Earth Africa


Sedert die tweede verkiesing het President Mbeki dikwels gehamer op die tema van 'probleme met staatslewering', die sogenaamde delivery problem. Wat is hier in die spel ?

Die skrywers ontmoet heel dikwels plaaslike raadslede. 'n Eerste vraag is gewoonlik of hulle verwag om herkies te word. Die antwoord is gewoonlik "Nee" ! Waarop die meeste verduidelik dat hulle net nie in swart stedelike woonbuurte of in landelike gebiede tussen die mense rondbeweeg nie, aangesien hulle aangevat sal word oor swak 'lewering'. En hieroor kan hulle niks sê wat enigsins hulle status as raadslede regverdig nie !

Daar skort duidelik iets ernstigs met 'staatslewering'.

Suid-Afrika het plaaslike regerings tans opgesaal met die verantwoordelikheid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling en die lewering van maatskaplike dienste. Die Grondwet laat plaaslike regerings pertinent toe om te innoveer, om veral plaaslike oplossings te vind. Tewens, dit moedig sulke regerings sterk aan om hierdie weg in te slaan, aangesien hulle ook kan aandring op ondersteuning vir nuwe benaderings plus befondsing van provinsiale en nasionale regerings.

Die praktiese rekord toon egter min of geen innovering nie. Inteendeel, daar is eerder nog sterker sentralisasie van regeringsbesluite.  

Daar was verwagtings dat vanjaar se State of the Nation-voordrag 'n sterk verandering sou aankondig - dat 'gemeenskappe' ware vennote kan word van sowel plaaslike as nasionale regering. In plaas daarvan het Pres. Mbeki groot klem gelê op bestuursprobleme. Hy het verwys na 'optrede' teen 'lui staatsamptenare', die groot behoefte aan bekwame projekbestuur, asook groter intervensie van die sentrale regering in plaaslike aangeleenthede. Al hierdie dinge is nodig sodat die regering sy doelstellings kan bereik. Daarby het hy plaaslike gemeenskappe wat teen die gebrekkige dienslewering protesteer, gewaarsku dat 'die volle krag van die wet' teen hulle gebruik sal word.

Die prentjie wat hieruit soos ook uit ons eie praktiese ervaring voortspruit, is bra problematies -  'staatslewering' immobiliseer gewone burgers. Boonop sal diegene wat protesteer terwyl hulle wag vir staatsoptrede nou gestraf word.

Die President het erken dat ten spyte van bepaalde ongebruikte fondse die regering 'n tekort aan finansies ervaar. Gesondheid en onderwys is byvoorbeeld ernstig onderbefonds. Dit is onder meer die gevolg van jare se fokus op oorhoofse 'begrotingsdissipline'. In hierdie proses het maatskaplike ontwikkelingsdoelwitte dikwels (gerieflik) in die slag gebly - soos inderdaad in baie ander lande in die wereld.

Die doeltreffendheid van besteding veral vanuit 'n ontwikkelingshoek (byvoorbeeld die bekamping van groot- skaalse werkloosheid) het sekerlik nou topprioriteit bereik.

Die regering verwys wel af en toe na die devolusie of desentralisering van besluitneming na plaaslike gemeenskappe, maar daarvan het egter nog min gekom. Daar is inderdaad verskeie kragtige redes om sterk te beweeg in die rigting van gemeenskappe - as doeltreffende vennote van regerings - om plaaslike ekonomiese ontwikkeling en die lewering van dienste te bevorder. 'n Aansienlike transformasie van huidige praktyke sal egter nodig wees. Enkele belangrike voorbeelde is:

1.    Plaaslike ekonomiese ontwikkeling is uiteraard 'n ingewikkelde bedrywigheid. Wie moet hieroor besluite neem, en hoe? Tans is die meeste plaaslike gemeenskappe intern veelal ongeorganiseerd en die inwoners bra magteloos. 'n Groot behoefte by hulle is om die basiese motief en die redes te vind om te organiseer en te registreer as wettige liggame, om sodoende doeltreffender te kan optree as vennote van plaaslike regerings en die sakesektor. 'n Aansienlike nuwe uitdaging!
    Een praktiese gevallestudie is die plaaslike landelike gemeenskap van Huntington in die Limpopo-provinsie. Hulle is tans geregistreer as 'n Demokratiese Eiendomsmaatskappy. Hierdeur het alle plaaslike volwassenes mekaar oor en weer gelyke eienaarskap en besluitnemingsbevoegdheid gegee in 'n liggaam wat die bestuur van hul eie plaaslike ekonomiese en ander hulpbronne deurlopend behartig.
    Hierdie sterk demokratiese model is 'n aansienlike stap vorentoe wat onder meer skerp benodig word deur die meer as duisend tans grotendeels mislukte sogenaamde 'Community Property Associations'. Daarby is dit seker die grootste hervorming denkbaar vir vroue in Afrika.
 
2.    Daar is onlangs sterk klem gelê op die groot maatskaplike toelaes (social grants) wat die regering tans toestaan. Op die oog af lyk dit indrukwekkend. Maar uit 'n ekonomiese hoek is hierdie toegifte baie ondoeltreffend. Ons kan veel beter doen!
    Wat prakties saak maak, is plaaslike bestedingspatrone. Behalwe die ongeveer 30% wat verdwyn in oorhoofse en bankkoste, vloei die meeste van hierdie 'inkomste' baie vinnig uit die (arm) plaaslike gemeenskappe na die 'moderne' ekonomiese sektor, om te betaal vir al die goedere en dienste wat gewoonlik van buite 'ingevoer' moet word. Plaaslik word maar min self geproduseer om in eie behoeftes te voorsien. 
    Die gevolg is dat maatskaplike toelaes plaaslike ontwikkeling min stimuleer. Die sogenaamde plaaslike inkomevermenigvulder is baie laag - ongeveer 1.4. Dit beteken dat enige nuwe inkomste maar skraps plaaslik sirkuleer om in die proses nuwe ekonomiese aktiwiteite te stimuleer voordat dit weer uitvloei. Hierdie syfer kan egter nogal vinnig verhoog word na iets soos 4.0 of hoër. Dit sou plaaslike effektiewe aanvraag en welvaart byna viervoudig verhoog! En dit bloot deur geld plaaslik te laat werk.
    'n Sleutelbenadering om dit te bereik, sou wees om plaaslike produksie vir plaaslike verbruik sterk te bevorder, oftewel om harder aan 'n 'werkende plaaslike ekonomie' te bou. 

3.    'n Voorbeeld hiervan sou kon wees om die huidige selektiewe Toelaag vir Kinderondersteuning op te gradeer na 'n universele 'Kinderregtetoelaag' - vir alle kinders tot die ouderdom van minstens 11 jaar. Die fondse moet dan by voorkeur gebruik word om hoofsaaklik plaaslik geproduseerde voedsel aan te koop om sodoende die plaaslike sirkulasie van koopkrag te stimuleer. Tans word voedsel 'ingevoer' van produsente in die moderne sektor en die fondse vloei dus onmiddelik weer uit. Daarbenewens moet die skema via geregistreerde gemeenskapsliggame deur alle plaaslike volwassenes geadministreer word. Hierdeur sal die groot Ubuntu-riglyn van "All Children are My Children" weer in ere herstel word.  

4.    Aan geregistreerde gemeenskappe kan 'Investeringsregte' plus finansiering toegedeel word wat dan kollektief/koöperatief plaaslik bestuur word. Dit sou vervat kon word in 'n nasionale 'Program vir Gemeenskapsinvestering'. Aldus kan die plaaslike produksiebasis opgebou word, asook die waarde van elke inwoner se eienaarsaandeel. (Vgl. Huntington hierbo). Sulke toegifte kan ongeveer R2 500 per volwassene per jaar wees, wat dan getrek word uit die Uitgebreide Openbare Werke Program en die Munisipale Beleggingsfonds. Dit sou 'n aansienlike inspuiting meebring vir die plaaslike lewering van dienste in plaas van Mbeki-stylse  'staatsaflewering'.

5.    Daarbenewens kan geregistreerde gemeenskappe en plaaslike regerings meer doeltreffende  streeksekonomieë bevorder deur te belê in 'kringe van periodieke markte' en verwante dienste op bepaalde Markdae, aangevul deur goeie intra-distriksvervoer om streke nouer met mekaar te skakel.
    Dit is interessant dat so 'n benadering reeds in 1997 (Raamwerk vir Landelike Ontwikkeling) deur die Kabinet goedgekeur is.  Niks het egter intussen gebeur nie!

Dit het hoog tyd geword dat landsburgers self toegerus word om as aktiewe akteurs op te tree vir plaaslike   dienslewering en plaaslike ekonomiese ontwikkeling. Dit sou 'n groot deel van die bevolking (werkend sowel as werkloos) aktief mobiliseer deur hulle te vergoed om plaaslik te organiseer en verskillende funksionele gemeenskapsliggame te registreer - met hulpbronne wat die staat as volwaardige maatskaplike en ontwikkelingsvennoot verskaf.

Daar is egter 'n groot probleem, naamlik die ANC-regering se sterk voorkeur vir die sentralisasie van besluitneming om politieke mag onwrikbaar heelbo te vestig. Het hulle dalk goed geleer by P.W. Botha?
 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=145
Artikel nagegaan:
    -