blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


FAK Onderwysverklaring (2005-02-10) 2005-02-11
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurorganisasies (FAK) neem met ontsteltenis kennis van die klaarblyklik georkestreerde druk wat op Afrikaanse skole landswyd geplaas word.

Die FAK is onder die indruk dat die amptenary van die regering met klaarblyklike goedkeuring toesien hoe die gesag van die Afrikaanse skole ondermyn en aan sentrale kragte onderwerp word. Die wyse waarop die staat tans Laerskool Mikro in die Wes-Kaap wil dwing om 21 kinders uit meesal Afrikaanse huise in Engels te onderrig, is die jongste voorbeeld hiervan.

Die FAK doen hiermee ‘n beroep op die regering om die grondwetlike bepalings in hierdie verband te respekteer en die nodige prosesse in werking te stel sodat die kwessie van moedertaalonderrig bestendig en genormaliseer kan word.

Die grondwetlike bepalings in hierdie verband is baie duidelik. Die Grondwet bied aan die onderskeie taalgemeenskappe die reg op onderwys in hul eie moedertaal. Afrikaanse skole is in hierdie verband ‘n skitterende voorbeeld aan die ander taalgemeenskappe in Suid-Afrika. Meer as enige ander inheemse taal beskik dit oor die vermoë om juis op ‘n effektiewe wyse uitdrukking aan die grondwetlike belofte rondom moedertaalonderrig te gee.

Deur die Afrikaanse skole en hul gesag rondom die kwessie van taalbeleid onder druk te plaas, word die indruk gewek dat die regering nie ‘n egte verbintenis tot moedertaalonderrig en die grondwetlike bepalings in hierdie verband het nie. Daar is eenstemmigheid in onderwyskringe dat indien die Afrikaanse skole nie oor die vermoë beskik om die beginsel van moedertaalonderrig toe te pas nie, die ander tale dit ook nie sal kan doen nie. Om dus die Afrikaanse skole onder druk te plaas, is om te verseker dat ‘n kettingreaksie sal volg en dat eenvoudig niks van die ander tale se poging tot moedertaalonderrig tot sy reg sal kom nie. Druk op Afrikaans is ‘n voorspraak vir eentaligheid en nie veeltaligheid nie.

Die FAK meen dat die kwessie van moedertaalonderrig aan die wese van die Suid-Afrikaanse demokrasie raak. Optrede van die regering en ander kragte wat buite-om die duidelike bepalings van die grondwet tree, bring die wese van ons demokrasie in gedrang. Indien die gesag van die Afrikaanse skole rondom moedertaalonderrig ondermyn word, word getorring aan een van die wesenlike uitgangspunte van die demokrasie, naamlik die fundamentele erkenning van die veelheid van taalgemeenskappe.

Daarom doen die FAK ‘n ernstige beroep op die regering om onmiddellike prosesse in werking te stel wat ‘n einde sal maak aan die teenswoordige ongrondwetlike stemming teen en druk op Afrikaanse skole. Suid-Afrika het 'n ongelukkige geskiedenis van sentrale regerings wat inheemse tale misken, en wat in 'n uiterste geval soos Soweto 1976 tot ernstige geweld en bloedvergieting gelei het. Ons hoop dat die regering daadwerklik met hierdie erfenis sal breek en nie die sentimente rondom taal sal onderskat nie. Suid-Afrika kan nie bekostig dat ons tale weer eens 'n hindernis eerder as 'n sleutel tot ware demokrasie word nie.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=127
Artikel nagegaan:
    -