blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die Afrikaanse Taalberaad: Quo Vadis? 2005-02-11
Die Afrikaanse Taalberaad: Quo Vadis?

    Op die voorblad van Die Burger (9/2/2005) verskyn ‘n surreële kiekie: die Wes-Kaapse LUR van Onderwys, mnr. Cameron Dugmore, besig om blymoedig uit volle bors te sing saam met ANC-ondersteuners op die trappe van die Kaapstadse Hooggeregshof waar ‘n aansoek van die beheerliggaam van die Laerskool Mikro op Dinsdag 8 Februarie 2005 aangehoor is. Die kiekie is tekenend van twee kommerwekkende neigings wat die afgelope jare in Suid-Afrika gevestig is, naamlik die vervaging van die grens tussen politieke party en staat, en die druk wat die regering se beleid van transformasie en demografiese verteenwoordigendheid op inheemse tale – in hierdie geval Afrikaans – plaas.

Mnr. Dugmore se optrede laat geen twyfel nie dat hy eerder ‘n lojale partylakei is as wat hy oor gesonde onderwysbeginsels, soos moedertaalonderrig, of die belange van gemeenskappe besorg is. Dit is egter slegs nog ‘n goeie voorbeeld van die groter probleem, naamlik die druk waaronder die regering se beleid van transformasie en demografiese verteenwoordigendheid inheemse tale plaas.

Laasgenoemde is dan ook ‘n kwessie wat onder meer die afgelope Saterdag te Mediapark, Johannesburg ter sprake gekom het in ‘n opvolggesprek van verlede Augustus se Nasionale Afrikaanse Taalberaad wat in Stellenbosch gehou is. By die afsluiting van Augustus se beraad is die reëlingskomitee versoek om in samewerking met vrywilligers tydelik as voortsettingskomitee voort te gaan en stappe ten gunste van Afrikaans voor te stel.

Die uiteinde hiervan was ‘n konseptaalplan opgestel deur drr. Neville Alexander, Vic Webb en Karel Prinsloo wat die afgelope Saterdag by die opvolggesprek ter tafel gelê is. Die opstellers van die konseptaalplan het die hoop uitgespreek dat dit sou kon dien as basis vir ‘n nuwe Afrikaanse beweging wat onder meer by ‘n volgende nasionale beraad sou kon lei tot die stigting van ‘n Nasionale Forum vir Afrikaans wat nie net namens Afrikaans in die openbaar kan optree nie, maar ook hopelik mettertyd kan dien as inspirasie vir soortgelyke fora in ander inheemse tale, en selfs die stigting van ‘n Nasionale Suid-Afrikaanse Taalforum wat as’t ware die vaandeldraer van ‘n veeltalige, demokratiese, burgerlike beweging kan wees.

Tydens die bespreking van hierdie idees het dit gou duidelik geword dat daar heelwat voorbehoude oor en hindernisse in die weg van hierdie konsep bestaan. Wat hindernisse betref, is die belangrikste waarskynlik ‘n gebrek aan konsensus tussen wit en bruin deelnemers oor die breër politieke vertrekpunte waarvanuit gehandel moet word. Reeds hiermee is ‘n hoender-en-eier-probleem opnuut na vore gebring: ten einde versoening tussen wit en bruin te bring, is die geskikte instellings en praktyke nodig, maar sonder die nodige versoening is dit baie moeilik om sodanige instellings en praktyke te vestig. Die opstellers van die konseptaalplan was duidelik deeglik bewus van hierdie spanning, en die indruk bestaan dat hulle juis die hoop koester dat hulle plan as meganisme ter neutralisering van hierdie spanning kan werk.

Ongelukkig het die skerpheid van debatte tussen wit en bruin almal teenwoordig herinner aan ‘n basiese feit van die politiek: spanning word nie by wyse van planne of administrasie weggewerk nie. Die enigste manier om dit te oorkom, is by wyse van omsigtig gekose gesamentlike aksies wat hopelik tot nuwe praktyke en instellings sal lei.

Onder die voorbehoude wat teenoor die konseptaalplan geopper is, was sake soos die uitvoerbaarheid van so ‘n omvattende plan; hoe dit gefinansier sal word; of die veranderlike werklikheid hom hoegenaamd in enige lineêre model laat inbind; en die feit dat geen taalbeweging ter wêreld op ‘n taalplan gevolg het nie – dit gebeur eerder andersom.

Minstens kon die beraadgangers ooreenkom om die bestaande voortsettingskomitee se mandaat te hernu, met die reg op koöptering van nog lede. Dit lê op die weg van hierdie komitee om ‘n sekretariaat op te rig en ‘n volgende nasionale beraad te belê.

Opvallend van die dag is dat die energie na die einde baie laag geraak het, dat daar nie werklik groot geesdrif vir die taalplan of die idee van ‘n taalplan as sodanig uit die gehoor openbaar is nie, en dat geen lid van die gehoor hulself vir die komitee aangebied het nie, hoewel enkele persone wel deur ander mense voorgestel is.

Dat hierdie proses belangrik vir Afrikaans en die breër demokratiese kragte in Suid-Afrika is, is seker, al gaan dit nou net oor ‘n sober blik op wat tans werklik moontlik (en nie moontlik nie) is tussen wit en bruin in Afrikaans. Terselfdertyd behoort die voortsettingskomitee deeglik rekening te hou met die onderliggende spanning, die beperkte moontlikhede van ‘n werklik nasionale Afrikaanse forum in hierdie stadium, en die verlammende invloed wat die administrering van die taalkrisis in teenstelling met ‘n aktivistiese, politieke hantering daarvan sonder twyfel sal hê.

As die rolspelers in hierdie proses hulle visier daarop sal stel om bloot op een of twee klein aksies ooreen te kom wat die potensiaal het om die historiese verdelingslyne in Afrikaans te oorkom en werklik aantoonbare openbare sukses te behaal, het dit miskien ‘n kans om ‘n eerste tree nader aan die ideale wat die proses dryf, te gee.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=126
Artikel nagegaan:
    -