blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


The End: Die Amerikaanse Politiek as Hollywood-rolprent 2004-12-02
Emmanuel Crest

Deur Emmanuel Crest, ‘n Franse politieke filosoof wat die laaste paar jaar op die Amerikaanse Weskus deurgebring het

Om na te dink oor die afloop van die laaste Amerikaanse presidentsverkiesing in terme van ‘n vergelyking met Hollywood hou die gevaar in dat ons ons doelwit sal mis. Want om hierdie verkiesing te lees met dit wat ons weet van die strategieë van die groot groepe van die “vermaaklikheidsbedryf” sê meer van die beskermheerskap van Guy Debord of die mediologiese pogings van Régis Debray as van die metaforiese gebruik van die joernalis.

Laat ons dus in die eerste plek hoe dinge voorkom daar laat. Natuurlik is daar ‘n komedie van mag en natuurlik bedien dit sig van nuwe tegnologieë en van die beeld. Per slot van rekening is daar niks nuuts op die oewer van die Illisos nie. As goeie Sofis het Hippias sy arms bedek met duur edelgesteentes en armbande vertoon in die hoop dat hy die seuns van goeie families na sy onderrig sou aantrek, ‘n propedeutiek onontbeerlik vir toegang tot mag in Athene en, vandag, waar ‘n Bush of ‘n Kerry vir soortgelyke redes hul hare terugkam, vlieëniersbaadjies aantrek of in sportdrag poseer. Die wyse waarop die beelde versprei word, verander ten diepste niks aan die onderwerp nie. Hippias sou die televisie gebruik het as hy dit geken het – om die stad met groot vertoon te deurkruis of te spook op die platforms van die televisie, kom neer op ‘n graadverskil en nie op ‘n soortverskil nie. Die eintlike vraag is egter subtieler: gaan dit werklik oor dieselfde ding? Is hier werklik ‘n strategie van verleiding aan die werk? ‘n Politieke eros?

Die eerste besinning hou ooglopend verband met die “Ken-effek”. As Barbie – die propagandapop wat die enorme en te volkse Sowjet-matroesjka verslaan het in die harte van al die meisies van die wêreld – se metgesel van was, is Ken in feite net wat u wil hê hy moet wees. Moeiteloos kry u Ken as veteraan, Ken as fietsryer, Ken in ‘n kortbroek of as gesinsman, Ken in horisonblou met koue oë en trotse blik, of Ken met sy honde in pantoffels by die vuur. Ken is naak, en dis vir u om hom aan te trek! Hy is gereed vir alle kombinasies: ou leeu van die Ooskus-establishment in Calvin Klein-pak of in Ralph Lauren-polo op ‘n Kennediaanse boot, nes u van hom hou.

Die eerste verskil met die Antiekes is belangrik: Hippias het slegs sy juwele ter vertoon van sy sosiale sukses gehad, terwyl die Amerikaanse kandidaat egter vertoon wat u wil – u soos die meningspeilings u beskryf. Die uitrustings is gereed en die Ken wat u benodig, is noodwendig in die winkel. Gestewelde cowboy of gholfspeler, dis alles beskikbaar. Ons kan ons ook die meer veelkleurige gayvriendelike voorstel, of die suiwer fundamentalis in sobere swart, die vriend van die swart gemeenskap met ‘n Afropruik, of die wit professioneel met die Ariese, blonde pruik, baie Abercombie and Fitch. Kortom, die vergelykende ontleding oorskry die gebruik van die metafoor: as daar wel Hollywood is, is dit in soverre bemarking vandag instaan vir kreatiwiteit. Wat “hulle”, die toeskouer-kiesers, wil hê, moet ons kan gee om die gehoor – oftewel mag – te wen.

Daarbenewens wonder niemand oor die epiese rolprente wat vanaf Troy tot Alexander die skerms gelyktydig inval nie; implisiet het ons reeds toegegee dat die ateljees na die sukses van Gladiator die “antieke” vervaardig want “dit” werk… Nodeloos om te sê dat ‘n mens versigtig in meningspeilings moet wees; ons het die ergste ontkom - die twee kandidate in Griekse rompies tussen “neefs” om te praat soos Pitt-Achilles wat Patrokles aanbied…

Die Ken-effek vooronderstel dus ‘n ontleding van die gedrag van kieser-verbruikers en ‘n herstel van die beeld van die produk-kandidaat te koop. Dit is ‘n ontleding wat verbandhou met die meningspeiling en wat bemarkingsbesteding vergelykbaar met dié van die lansering van ‘n block buster is, en wat ‘n mens natuurlik hoop om honderdvoudig terug te kry. Dit is ook iets wat goed verstaan moet word: In Hollywood “bestee” ‘n mens nie – slegs die “losers” doen dit – ‘n mens belê. Dit is ‘n belangrike verskil: in plaas daarvan om jou te bekommer oor die koste van verkiesingsveldtogte sal jy beter vaar deur jou te bekommer oor die wyse waarop partye ooglopend skat hulle vergoed moet word vir hierdie aansienlike bedrae geld… Die pryse van die veldtogte is ‘n integrale deel van die vergrype van die ingewydes en ander ongelukkige oorloë en bedrieëry à la Enron. Opbrengste sal behaal moet word, en gou ook! Bring fondse in, behaal ‘n goeie opbrengs op jou belegging. Daar is niks vreemds daaraan nie dat die gierigheid van sekere beleggers sonder enige voorsorg uitgeleef word en dat die obseniteit van hul vraatsug hulle soms helderoordag verdoem: die vergelyking met Hollywood maak sin as ons dit tot sy uiterste voer – as ‘n ateljee honderde miljoene dollar in die vrystelling van ‘n rolprent belê het, gaan hy homself nie in die verleentheid stel deur vrae te vra oor die saambundeling van verspreiding in sy hande of oor die toekoms van Afrika se rolprentwese nie. As jy groot waag, moet jy jou deel terugkry. Die besteding op verkiesingsveldtogte in die lig van die onderliggende opbrengste behoort genoeg te wees om ons van die stembusse te laat vlug.

By die Ken-effek, waar die rol van die kandidaat verskraal word tot die dra van die uitrusting wat van die kiesers potensiële uitrusters maak (ek is die beste in staat om die uitrustings wat u wil hê aan te trek), kom dan ook die block buster-effek waar die reusagtigheid van die bemarkingsbesteding die gierigheid van die oorwinnaarskamp kondisioneer (die nodige opbrengs op ‘n belegging). Dit is alles kommerwekkende onderwerpe wat ons lei na ‘n “kinematografiese” ontleding. Maar waarskynlik word dit nog erger: die oplossing van die inhoud in die wyse waarop gehandel word.

Die “vrye Quebec” van Generaal de Gaulle was, in die lig van die draaiboek beskou, ‘n bykans ondraaglike vryheid, net soos Mandela wat Pienaar se trui aantrek. Niks daarvan verskyn in die Amerikaanse draaiboek nie – alles is geolie, voorsien, verwag, met geen ruimte vir verrassing nie. Soos die ou reël van drie eenhede wat die romantiese Hugo met Hernani aan stukke laat spat, gehoorsaam die rolprent van die verkiesing sekere implisiete reëls van fatsoenlikheid. Daar moet goed en sleg wees, vreeslike gevare en natuurlik die vasberadenheid om dit triomfantelik te oorwin. Geen troebel karakters waarvan die so vervelige Franse rolprente die geheim ken nie – dié se vertroulikheid verwoord hulle gepynigde, verwarde inslag voldoende. Die terroris is sleg, ons boe hom in die bioskoop, en basta. Slegs die Franse, daardie amateurs van teksrolprente, wonder oor die effektiewe skuldigheid van die booswig. Die booswig is nog meer van ‘n booswig in die mate waartoe ons hom aan die einde van die rolprent doodmaak. Ons smyt hom in ‘n onpersoonlike sel en praat nie weer daaroor nie. The End. Die verdeling van die wêreld is duidelik, die bedreiging tasbaar, die oorwinning seker en die verkiesing dus niks meer as ‘n rolverdeling nie. Hierin lê die slegste onthulling van die vergelyking met Hollywood: dit gaan nie daaroor om, soos mense elders dink, die beste draaiboekskrywer te kies nie, maar bloot daaroor om die akteur te kies wat die reedsgeskrewe rol die beste sal kan speel. Kerry het verloor omdat hy nie, soos ons in bourgeoisteater sê, ‘n ervare speler was nie. Ons vra nie vir die jong debutant om die sluipmoordenaar te speel nie, of die bediende om die vrou van die huis te wees nie – niemand sal dit glo nie en hulle sal dalk nog eindig deur hulle vryhede met die draaiboek te veroorloof. Kerry as verouderende Kennediaanse aristokraat sou minder oortuigend as oorlogsleier wees… Hy’t nie die rol gekry nie.

Hierdie derde aspek van die vergelykende ontleding herinner my aan die staaltjie waar die room van Hollywood byeen was, met ‘n groep van mooi, jong sterre, droomseuns en –dogters wat jy slegs op plakkate of in lokprente teëkom, asook, in die verste hoek van die spoggerige hotel se balsaal, ‘n tafel met groot kêrels in donker pakke, oud en sal ons sê lelik, baie lelik en somber. Dit was ‘n vreemde aand en die droomkinders het die swart tafel bewend genader… Die grootste sterre het kinderlik, selfs onderdanig, in hul begroeting van dié peetvaders voorgekom…

Ek vra toe, “Wie’s hulle?”

Die kelner wat my by ‘n tafel ‘n hele ent van hulle s’n bedien het, fluister aan my, “Hulle is Hollywood, die vervaardigers, die ware gesig van ons bioskoop.”

Hulle besluit op die draaiboek wat die moeite werd is en wat, as hulle wil, ‘n rolprent sal word en wat miskien, weer eens as hulle dit wil, wêreldwyd versprei sal word. Die akteurs is skaars meer as ekstras, eksentrieke karakters waarvan die beroemdheid oor die algemeen net so vervlietend as die jonkheid van hul gelaatstrekke is. Nou verkry die vergelyking tussen Hollywood en die verkiesing dus ondertone van ‘n requiem vir die demokrasie. Ons gee ons oor aan ‘n rolverdeling wat ooreenstem met die aanwysings van ‘n reedsgeskrewe draaiboek wat deur andere bepaal is, en wat die enigstes is met genoeg geld om die rolprent te maak. Die illusie dat ons deelneem aan die kies van die akteur verhoed dat ons besef dat die verhaal reeds in breë trekke bepaal is en sy grense reeds neergelê.

Dus word ons lus vir ‘n dokumentêr… Maar Bowling for Columbine sukkel om die toneel te skrap van die somber borge wat onbekend is aan die breë publiek en wat sowel oor die libido as die vermaak van die ganse planeet besluit. Hulle besluit oor watter beeld die adolossente van die planeet gaan masturbeer en wie, in die politiek, beskik werklik oor “die bek vir die werk”.

‘n Stukkie raad om mee af te sluit: moet dus nie die saal verlaat voor u die hele lys van krediete aan die einde van die rolprent volledig en in besonderhede gelees het nie – dit gaan oor u vryheid.

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=87
Artikel nagegaan:
    -