blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Gedig: Rekonstruksie 2007-12-11
Charl-Pierre Naudé

Van ’n moord, in dié geval.

Twee moorde.

Blykbaar was hulle immigrante.

Is almal van ons nie maar immigrante nie?

Tussen twee lande.

Sonder papiere, wagtend op die nuwe.

Slagoffers, sonder identiteit.

Dood gevind, in ’n straat sonder naam.

In ’n buurt, pas uitgelê, maar nog nie gedoop nie.

In ’n stad wat nog gaan oopvou, as ons die boek kan vind.

’n Idilliese omgewing nogal, geprojekteer teen die mure ...

Vlae wind, vlae wind. Die golwende grondwet.

In ’n niemandsland gebeur, tussen provinsies –

weens die oorsonering. Die nuwe verdeling.

Die uur van sterfte: óók onbekend.

Die lyke had horlosies, maar in die verkeerde tydsone.

 

Ooggetuies? Geen.

Nie volgens kwota nie.

 

Die premier se medelye:

innig, maar weens ons sonderlinge situasie,

bestaan geen leidrade

(sien hier bo).

 

Waar, en met wie?

Ons doen ons bes

met ’n nuwe stelsel, wat nog nie klaar ontwerp is nie.

 

Twee moorde? Ja, wel.

Ons is in die proses,

 

in die proses,

soos ek sê.

Verstaan tog.

Dit sal wel nog registreer.

 

En tot alles klaar is,

het dit nog nie gebeur nie.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=948
Artikel nagegaan:
    -