blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Le Monde diplomatique: Protesmusiek gister en vandag 2006-06-12
Jacques Denis

* Joernalis. Uit die Frans vertaal deur Christel Cattin, [email protected]

 

“Diskriminasie tussen Wit en Swart, ek hoef net te skree en julle sal my verstaan. En al hierdie kak wat aan my opgedis word in die koerante en op die televisie. En al hierdie massiewe onsin wat lyk of dit elke dag meer word. Deesdae sê ’n ware idioot dat hy julle wil kom opsluit omdat hy nie van julle velkleur hou nie. Dit maak nie saak of dit swart of wit is nie, want hy wil hê die bloed moet vloei.”

      Nee, hierdie rowwe teks is nie deur ’n rap-musikant van Clichy-sous-Bois in 2006 geskryf nie. “More Trouble Everyday” is die werk van Frank Zappa in 1966, na die onluste in die ghetto van Watts, in Los Angeles. Een jaar later, in New York, sou hy vir Bob Dylan laat sing vir teruggekeerde soldate uit Viëtnam. Hulle sou begin skree “Vreet die appel en fok die weermag (1)!” ’n Refrein wat die toekomstige veterane van Irak weldra kan begin sing. Net soos wat “Talking Vietnam”, wat Phil Ochs in 1964 geskryf het, nie heeltemal sonder weerklank is van dit wat deesdae al langs die oliepypleidings aan die gebeur is nie. “Sodat hierdie rooi ape niks oor het waaragter hulle kan wegkruip nie / al die mense in vlugtelingkampe gebondel / onder slot, dis hoe ons hulle bevry het!”

Generasies kom en gaan, dieselfde oorsake lei tot dieselfde gevolge. Dit word gestaaf deur die mobilisasie wat teen die Bush-administrasie se “kruistogte” georganiseer is. “To Washington”, van John Mellencamp, “We Want Peace”, van Lenny Kravitz, “In A World Gone Mad”, van die Beastie Boys, “Pledge Of Resistance”, van Saul Williams, “Patterns Of War”, van Dr Israël, elke dag word die lys al hoe langer van kunstenaars wat teen die “Wargasm” stry, ’n sagte neologisme wat deur die Amerikaanse ondergrondse beweging saamgeflans is.

“Die klimaat is ongesond. Dit herinner aan Duitsland in die 1930’s … Ek was nog nooit ’n aktivis nie, maar hierdie keer het ek ’n behoefte om betrokke te raak.” So het Rickie Lee Jones op die Patriot Act gereageer. Soos wat die woorde van weerstand vermenigvuldig, net soos die kanale wat dit uitsaai, tree die sensuur strenger op teen “voorskrywende” media. “Almal van ons ken die beeld van die Viëtnamese dogtertjie tydens die napalm-stortvloed. Het ons ’n soortgelyke beeld van die bombarderings in Afghanistan? Die gemiddelde Amerikaner het nie meer toegang tot hierdie inligting wat slegs op sekere netwerke uitgesaai word nie”, merk Tom Morello op. Hierdie kitaarspeler  het Axis Of Justice gestig, ’n politieke organisasie wat hom daarop toespits om die ander faset van hierdie gebeure weer te gee. Deur middel van ’n interne nota sou MTV blykbaar steurende musiekvideo’s verwyder het, soos “Boom!” van System Of A Down, wat deur Michael Moore geregisseer is, of “Bombs Over Bagdad”, van Outkast. Die mees emblematiese daarvan was sonder twyfel die oproep tot die boikot, of eerder die auto de fe, wat gevolg het op ’n enkele sin van die Dixie Chicks in 2003: “I’m sorry for President.” Nadat die country-musiekgroep van Texas tot in daardie stadium hoog op die ranglyste was, het hulle ’n drastiese agteruitgang beleef. 

Mike Ladd, ’n Amerikaanse rapmusikant wat in Frankryk woon, het die afgelope dekade nege albums gepubliseer. In besonder in 2004, saam met die Indiër Vijay Iyer, “In what language?”, ’n bepeinsing oor milieus, spesifiek dié van lughawens, waar geen regte geld nie, na afloop van die teenspoed van die Iranese rolprentmaker, Jafar Panahi, wat in ’n aanhoudingsentrum geplaas is voordat hy uit New York weggewys is. Ladd plaas die vergelyking met die 1960’s in perspektief: “Daar was ’n ware massabeweging, ’n objektiewe samevloei tussen verskillende bewegings: burgerregte, Viëtnam, dekolonisasie … Middelklas en armes, swartmense en blankes, studente en fabriekswerkers het saam betoog! Deesdae is daar meer ellende en meer verwarring, maar minder plekke om onsself te organiseer en om die stryd te voer.”

In so ’n mate dat verset meer as ooit vir “goeie” doelstellings ingespan word: handeldrywe met woede, indien moontlik met die beeld van Che Guevara, en met ellende, met dubbelsinnige kortpaaie… Daar is selfs ’n tenk met ’n beeld van Bob Marley in Irak opgemerk. Die staaltjie dien as simbool en gee die tydgees weer. Liefdadige siele trek reeds donkiejare voordeel uit hierdie besigheid. Bob Geldof verskyn heel bo aan die lys, vriendelike organiseerder van al die goedbedoelde feeste. In 2005 het hy wêreldwye konserte gereël om die aandag te vestig op Afrika se skuldlas, maar het vergeet om diegene uit te nooi wat eerstens daardeur geraak word … die kunstenaars van Afrika (2)! Hierna kry ’n mens U2 wie se musiek goeie reaksie uitlok. Die toewyding – te veel? – van sommiges is ’n manier om die speelveld te beset,  om die verlangde hoeveelheid en teen ’n laer koste te verkoop. Vandag kan ’n mens selfs luitone van “protest songs” koop. Die besigheid is winsgewend, fyn beplan. Dink jou dit in: dertig sekondes van “We shall overcome”, die gesang wat deur die folk-ikoon, Pete Seeger, gekomponeer is met woorde wat deur stakers geïnspireer is, op ’n Sagem-selfoon! Genoeg om die anargistiese vakbondleier Joe Hill, wat ’n belangrike invloed op die hele Dylan-generasie gehad het, in sy graf te laat omdraai (3)…

In ’n tydperk waarin verset die voortoneel beklee, het hip-hop op die lys verskyn. Verbruikers word aangelok deur produkte wat fyn bemark word, waar verbintenis tot ’n saak ’n stylvorm geword het, meer as oortuiging in sigself. Die ware verwoedes bly steeds onbekend. “Ons is ’n klein minderheid. En onhoorbaar op die lug. Wie ken Casey se diep betrokke tekste? Die Grandes Gueules in Sète? Die Evadés in Bourges? Die Collectif 911 van Lille?”, rebelleer Hamé van die kollektief La Rumeur, van die lug verban op Skyrock, die Franse klankbord vir geformatteerde rap. Wie gaan na Rocé se musiek luister? ’n Pen wat nietemin in gal gedoop is: 

“Frankryk het geheueprobleme, sy ken vir Malcom X, /

Maar nie vir Frantz Fanon nie, nie die FLN nie, sy ken blacks maar nie swartmense nie/

Saai stories van cowboys en Indiane uit/

Maar van cowboys en Algeryne se tragedie mag ’n mens niks weet nie (4).”

Alles op die maat van musiek wat tussen die reëls laat weet dat alles nog moontlik is. Hamé bevestig: “Musiek in sigself moet ’n straatkant hê en aksiebelaaid wees. Styl is die tentoonstelling van idees. Grondslag en vorm is onlosmaaklik van mekaar, anders sou ek briewe of traktaatjies geskryf het. Dit is waarom die manier om ten diepste verpolitiseerd te wees, gesetel is in die oordraging van ’n boodskap van emansipasie, en dit deur middel van kodes wat hierdie emansipasie vergestalt … Die veradeliking van kulturele vorms is nie onvermydelik nie, selfs al is ek terdeë daarvan bewus dat ons almal ’n strepieskode in ons gat het.”

Veertig jaar nadat die VSA van Viëtnam en van burgerregte dit ingewy het, watter nut het ’n proteslied? “Deur verder te gaan as die beskrywing van ’n situasie wat ’n sekere onmag openbaar teenoor die monsteragtige wêreld, gryp die protessanger hierdie gedagtenis aan om ’n aktiewe deelnemer te word aan dit wat aan die gebeur is: hy vertel nie meer nie, hy ontbloot homself”, is die mening  van Jean Rochard, die regisseur wat die handelsnaam Nato gestig het aan die begin van die 1980’s (5).

Reeds in die 1930’s het Woody Guthrie op sy kitaar geskryf: “Hierdie masjien vermoor fasciste.” In die 1970’s het Fela Kuti, ’n ware teenkrag van die Nigeriese staat en aanhanger van die pan-Afrikaanse oplossing, verklaar: “Musiek is die wapen van die toekoms.” Van Kabilië tot in “Chirakië” twyfel niemand oor die weerstandskrag van ’n lied nie. Dit kan dien as ’n oproep tot demobilisasie soos in die geval van “Déserteur” van Boris Vian, of die teenoorgestelde, soos “Back On The Bus” deur Carver Neblett, opgehemel deur Harry Belafonte . “As jy my nie agter in die bus kry nie, as jy my nie in die katoenlande kry nie, as jy my nêrens kry nie, kom dan na die stemlokaal waar ek besig sal wees om te stem.” Vyftig jaar later het die versameling “Rock Against Bush” origens dieselfde burgerlike gewaarwording oorgeneem. Aan die hoof daarvan het Fat Mike, ’n ou bok op die punk-toneel, ’n webwerf met ’n uitgesproke onderwerp gestig: punkvoter.com(6)!

Die term “protest song” wat weer na vore getree het, roep die ideologiese dominansie van die Verenigde State op tot in sy semantiek. In die kollektiewe geheue bly hierdie fenomeen steeds geanker in die VSA van die 1960’s. En wanneer dit weer na vore kom, bly dit steeds daar gevestig. Bo en behalwe die booshede wat dit veroordeel en woorde wat dit uitspreek, kan ’n mens oor hierdie enkele feit nadink. Origens was Dylan, die laaste figuur van die beweging met “Masters Of War”, die eerste om die dramatiese gevolge van ’n eenrigting-protesaksie te bevraagteken. “Ons wou hê hy moet die gesant van ons aansprake wees, maar hy wou net ’n rockmusikant wees,” merk die skrywers van Protest Song met reg op, oor protesmusiek in die VSA van die 1960’s. As gevolg van ’n vreemde paradoks het ’n hele generasie hierdie musiek as klanksfeer van sy eie rebellie aangeneem, en deur dit te doen, gedweë bygedra tot die kulturele uitbreiding van die huidige, mees dominante ryk.”

Nietemin, in 2006, organiseer teen-netwerke hulleself op ’n planetêre vlak, kunstenaars gaan oor tot aksie, elkeen volgens sy herkoms. “Ons kan nie dieselfde boodskap hê as die wegholslawe in die bos nie!,” voorspel Klod Kiavué, inwoner van Guadeloupe wat die tradisie van die gwo ka tamboer voortsit. “Hierdie musiek het nog altyd bestaan en weerstaan. Tot en met Caesar was Afrika nooit aan die woord nie. Die gwo ka vertel ’n ander verhaal as amptelike temas.” Nie ver daarvandaan nie, in Sao Paolo, het Tom Zé ’n opera oor seksuele … en maatskaplike segregasie op die planke gebring. Hy verskyn op die verhoog in ’n blou oorpak, “want ek kom van ’n land wat deur die ontwikkelde lande van hierdie wêreld uitgebuit word”. Sedert die 1960’s neem hierdie Brasiliaan op sy vreemde manier aan die wêreldwye konsert deel. “Daar is twee maniere om ’n betrokke liedjie te skyf: die eerste is om bevraging op te wek; die tweede is om slagspreuke rond te strooi… Hierdie tipe musiek verag die mens. Die een wat antwoord, wat denke vermoor. Hierdie pasteurisasie van musiek word uiteindelik ’n kalmeermiddel wat die mensdom in ’n droomwêreld hou. Ek probeer net om die bewussyn effens wakker te maak …”

Daarvoor is woorde nie nodig nie. Die jazzmanne het dit juis gesê. In die 1950’s het die kontrabasspeler, Charles Mingus, die spyker op die kop geslaan met “Fable Of Faubus”, in werklikheid ’n aanklag teen die goewerneur van Arkansas wat die nasionale wag gestuur het teen swart hoërskoolleerlinge en teen die Ku Klux Klan. Daar was “Alabama”, die suidelike staat wat vele male genoem is en wat John Coltrane aan die groot klok sou hang. Sonder ’n woord. Hulle erfgename het dit duidelik verstaan. Die Detroit Underground Resistance kollektief maak propaganda vir die “swart saak” deur middel van elektroniese maatslae.

In Kanada het DeadBeat ’n techno-ontlading genaamd “Aboe Ghraib” geproduseer. “’n Proteslied vir die nuwe millenium. Woorde is nie nodig nie!”, volgens die rubriekskrywer Garrett Kamps (7). In Engeland staan die duo Coldcut, ook in die elektroniese styl, nie terug nie. Aan die hoof van die handelsnaam Ninjatune poog hierdie aktiviste om “nuwe strategieë aan te wend ten einde die mure wat deur die bedryf opgerig word, te omseil”. In Frankryk het die saksofoonspeler, Julien Lourau, ’n album in twee dele gepubliseer: “Fire” en “Forget”. Die titel van hierdie diptiek verwys na die gebruik van die Engelse artillerie wanneer hulle oorgaan tot geweld: “Ons skiet en daarna gaan drink ons tee.” Daar is ’n mate van ironie in die wyse waarop hierdie twee woorde met mekaar in verband gebring word. Hierdie dubbele betekenis wys terug na ons era: die propaganda om die oorlog in Irak en in Afghanistan te regverdig, en daarna word dit vergeet. Ons skakel vinnig oor na iets anders.” Al hierdie mense wys dat ’n mens ook ewe goed kan protesteer met die elektriese skokterapie van musiek.

Reeds meer as tien jaar vervaardig die Brit, Matthew Herbert, klankvoorwerpe wat die kiem van hierdie weerstand intrinsiek bevat. Wanneer hy aktiewe kommersialisering veroordeel, doen hy dit deur die omleiding van voorwerpe wat simbolies is van oorverbruik (fyngemaalde Coke-blikkies, krete van hoenders in lê-batterye…). “Die probleem is dat ons in ’n wêreld leef wat ons nie gekies het nie. Ek word reeds 25 jaar lank deur McDonald’s omring, en dit is nie my skuld nie! Dit is dus nodig om verantwoordelik te wees, om nie die verkeerde stryd te stry nie. Dit is waarom ek ’n manifes gepubliseer het. Om te sê dat ons nog kan doen wat ons wil met McDonald’s. Statisties gesproke is dit oneindig. Die belangrikste aspek is nie die resultaat in sigself nie, maar die skeppingsproses. Om met ’n Big Cheese te speel, lyk vir my meer toepaslik as om te sê: “dit is walglik”.” Herbert spits die muiswyser veel verder as die blote teksgebaseerde liedjie. “Ek is nie meer geïnteresseerd in die geluid van ’n boek op ’n tafel nie, ek is lus om na dié van Noam Chomsky te luister!” By wyse van “Goodbye Swingtime” se notas, verskaf hy ’n bibliografie van meer as honderd verwysings: Greg Pallast, Milan Rai, ens… Sydelingse eerbied in hierdie era van eensydige antwoorde. “Daar is ’n politieke boodskap. Eerstens: oorlog is die ergste van alles; tweedens: lees hierdie boeke waaruit ek inspirasie put; derdens: pas dit toe in jou lewe.”

In Februarie 2003 het Matthew Herbert ’n teks op die internet gepubliseer (8). Daarin lees ’n mens: “Aan die vooraand van ’n oorlog is dit ’n moeilike taak om te weet waar om musiek te plaas. Eietydse musiek, soos in verskeie Westerse kulture, bevind homself op ’n kruispad. Maak dit ’n beskrywing, ’n kritiek of ’n bydrae uit tot dringende politieke vrae? Verskaf dit ’n alternatief wat ander reëls voorskryf en neem dit sy eie waardes aan ?” Die enfant terrible van elektroniese musiek val superstrukture sonder patos aan. Dit is dus skaars verrassend dat hy vind dat “Madonna se standpuntinnames absurd is en net as posturering beskou kan word … terwyl almal weet dat sy terselfdertyd in advertensies vir Motorola en Gap verskyn!” Herber, verwoed onafhanklik, vind homself, net soos ander, eerder in die boodskap wat deur die Web se “kraaktiviste” uitgelok word. “Deur middel van lukrake en poëtiese inhoudsmateriaal, in die vorm van vonkposse en virusse, teister hulle ’n wêreld wat deur korporasies beheer word … Dít is waar huidige ondermyning plaasvind!”

Tensy dit in Uzeste se streek is, ’n dorp in die Suidweste, waarheen Bernard Lubat teruggekeer het nadat hy jare lank in die kalklig was in Parys. Dit sal binnekort dertig jaar wees sedert hy die fondasies van sy Utopia geskep het en wat steeds “onder konstruksie” is … “Of dit Katoliek of Protestant is, eredienste verveel my. Die boodskap, dus die onderwerp, word rondgeslinger. Om te protesteer, vereis om dit met sonar te doen. Op die verhoog, waar kuns nog gangbaar is.” Vir hom bly die lewende vertoning steeds die terrein van sulke insette. Ter illustrasie, die Africolor-fees wat in Desember 2005 die “Sang van die Aarde” georganiseer het, ’n samekoms van die Brasiliaan Silverio Pessoa en Danyel Waro van Réunion, twee musikante wat daagliks betrokke is in die stryd wat deur die Confédération paysanne (Konfederasie van Kleinboere) gearbitreer word (9). “Om te sing, is om te plant! Om te sing, is om te genees! Om te protesteer, is veral om die ore te pynig en om onaangenaam te wees. Vandag druk die gewig van die bedryf op ons gewete, en ook op die res. Om verkoopbaar te wees, is daar ’n estetika nodig wat gelykfasig geskakel is met handel. Met ander woorde, waarteen daar geprotesteer word!”, gaan Lubat voort. Die Gascon het ’n persoonlike oplossing. “In Uzeste stel ek myself in ’n staat van onproduksie. Om in ’n staat van afname te wees, is my manier om lewendig te wees.” Oor die afgelope twintig jaar het hy slegs drie albums onder sy eie naam opgeneem …

Is dit nie die uiterste proteslied nie? Om jouself buite die speelveld, buite bereik te plaas. Jean Rochard kies weer ’n ander strategie, in die hoop dat die monster finaal tot ’n val sal kom. “Die ‘stelsel’ kan sekerlik enigiets inneem, maar kan nie alles verwerk nie. Soms is daar dinge wat dit laat vomeer en wat sy vernietigende malheid aan die kaak stel, en wat ons in staat stel om te sien hoe hy homself opvreet. Selfs die mees geslepe kapitalis sal altyd vir die versoeking swig om te belê in die koord wat hom uiteindelik sal ophang.”

Elkeen volg sy eie taktiek, en as ’n mens na almal luister, is daar rede om te hoop op ’n toekoms wat waarlik sal swing, met ander woorde, op ’n ander manier. Polities op ’n vals noot, esteties in akkoord. Daarvoor gaan dit weereens nodig wees om die heldersiende Frank Zappa te raadpleeg. Hierdie Amerikaner, alles behalwe middelmatig, het in 1969 gesê: “Die idee om alles omver te gooi en weer oor te begin, is dom. Die beste manier om op te tree, dit wat ek graag sou wou sien gebeur en waaraan ek my toewy, is om die stelsel teen homself te gebruik, sodat hy homself suiwer, op so ’n wyse dat dit korrek funksioneer. Ek dink die politiek is ’n geldige konsep, maar dit wat ons vandag beleef, is nie waarlik politiek nie…”

_________

(1) Staaltjie wat weergegee word op bladsy 225 van die boek Protest Song, la chanson contestataire dans l’Amérique des sixties, Parys: Textuel, 2005.

(2)  Bob Geldof is ook ’n raadgewer van die Britse Konserwatiewe party rakende wêreldwye armoede. Hy was ook mede-stigterslid van Planet 24, die produksiemaatskappy van die realiteitsprogram “Survivor”, sowel as van ’n lugredery, beide intussen verkoop.

(3) Die Sweed, Joe Hill, was een van die prooifigure van die International Workers of The World (vakunie wat op onder-proletariese werkers gesteun het), wat die “Chansons pour attiser les flammes de la colère” geïnterpreteer het, ’n versameling tekste wat direkte aksie voorgestaan het … Op aanklag van ’n dubbele moord, is hy na afloop van ’n eensydige hofsaak in 1915 skuldig bevind en tereggestel.

(4) Uittreksel uit “Problèmes de mémoire”, op “Identité en crescendo”, in Mei 2006 gepubliseer op No Format.

(5) Nato verwys nie na die naam van NAVO nie, maar na ’n lid van Geronimo se stam. ’n Versamelstuk, “le Chronatoscaph” (Nato/Nocturne), het pas verskyn ter herdenking van die vyf-en-twintigste bestaansjaar van hierdie toonaangewende handelsmerk wat betrokke was by verskeie kwessies, wat versamelstukke ten gunste van die Indiane, ’n samestelling oor Sarajevo en ook ’n dubbele album ter ere van Colonne Durutti gepubliseer het.

(6)  Die werf kondig 500 000 besoeke per maand aan, waaronder “kinders wat sal gaan stem”. Sedert die verkiesing gaan dit voort om kommentaar te lewer oor die “strydlustige” en “rassistiese” beleid van Bush, met slagspreuke soos “een stem vir een veto”. 

(7) Op 1 Junie 2005, in die besonder insiggewende “What Are Words For?”, beskikbaar op www.altweeklies.com/

(8) Beskikbaar op http://www.magicandaccident.com

(9) Ander musiekfeeste doen diens in dieselfde sin: Sons d’hiver het so “konferensietamboere” ingelei waarvan die eerste, op 12 Januarie 2006 “Kuns, musiek en toewyding” as tema gehad het; Banlieues Bleues het op 28 Maart, dieselfde aand as die groot versetoptog teen die CPE die kitaarspeler, Eugène Chadbourne, se program, getiteld “Go Out Of Irak Now” aangebied…

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=613
Artikel nagegaan:
    -