blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


In gesprek met Xolela Mangcu 2006-03-15

* Navorser verbonde aan Wits se Public Intellectuals Program

 

In November 2005 bedank een van Suid-Afrika se voorste openbare intellektuele, Xolela Mangcu, by die RGN na beweerde druk uit regeringskringe op hom om sy openbare kritiek op die regering te versag. Die Vrye Afrikaan het met hom gesels oor die stand van openbare kritiese denke in SA vandag. 

 

DVA: Hoe gesond is openbare kritiese denke na u mening in Suid-Afrika vandag?

 

XM: Die stand van openbare kritiese denke in Suid-Afrika is baie beter as wat dit vroeër was en baie swakker as wat dit behoort te wees. Dit is baie beter in die sin dat ons nie onder ’n politieke regime en regstelsel leef waarin mense ingeperk, in die tronk gestop of doodgemaak kan word weens hulle idees nie.

                Die twintigste eeu, wat Isaiah Berlin die bloedige eeu en Eric Hobsbawm die kort eeu genoem het, het ons baie dinge gegee, insluitende die lisensie wat regerings op ons idees en ons siele gehad het. Robert Sobukwe het die stryd van die mense van Afrika beskryf as die reg om ons siele ons eie te noem. En die mense van Afrika het in sekere mate die formele stryd gewen om ons siele ons eie te noem. Die informele druk om te konformeer verhoed ons egter steeds om ons ideaal van vrye uitdrukking van ons idees en terugwinning van ons siele te bereik.

                Mense praat nog in gedempte toon omdat hulle die een of ander vorm van viktimisasie vrees. Hulle kry dalk nie die gesogte werk by of kontrak van staatsdepartemente nie omdat hulle hulle teen “die hoofman” – dit wil sê die president van die land – uitgespreek het. Hulle vrees dat hulle deur voormalige comrades en vriende verstoot sal word as hulle ’n stem van protes laat hoor. Dit is ’n ongelukkige nalatenskap van die regime van president Thabo Mbeki.

                Soos Karl Polanyi egter in The Great Transformation opgemerk het, tree samelewings op volgens wat hy ’n dubbelbeweging noem. Enige poging om ’n bepaalde manier van dinge doen op te dring, lei altyd tot defensiewe teenbewegings. En so het ons politieke kultuur iets positiefs voortgebring uit iets negatiefs. Die Jacob Zuma-sage is maar net nòg ’n protesbeweging teen Mbeki se leierskapstyl. Hoewel dit miskien polities die einde van Zuma is, sal die ANC nooit weer dieselfde wees nie. Geen politieke party kan ’n gesentraliseerde benadering volhou nie. Daar gaan ook afwykende stemme in plaaslike gemeenskappe op, byvoorbeeld oor dienste, en nou is daar ook ANC-mense wat om ’n verskeidenheid redes as onafhanklikes wil voortgaan.

                Die media het natuurlik grootliks daartoe bygedra om die politieke ruimtes oop te stel. Dit is egter interessant om daarop te let dat die land se voorste politieke kommentators en rubriekskrywers nou swart mense is: Barney Mthombothi, Mondli Makhanya, Ferial Haffajee, John Matshikiza, Justice Malala, Aubrey Matshiqi, Sandile Dikeni, Sandile Memela en andere.

                Die kort antwoord is dat openbare kritiese denke gesond is, maar staande moet probeer bly teen ’n sterk stroom van kruiperige onderdanigheid. Ons moet veg om dit staande te hou – teen groot persoonlike koste. Ek het onlangs uit die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing bedank omdat die Hoof Uitvoerende Beampte, Olive Shisana, druk op my uitgeoefen het. Shisana, ’n voormalige burokraat en ANC-aktivis, het beweer dat kabinetsministers, asook die President se vrou, ongelukkig was met wat ek in die openbaar skryf. Sy het allerhande pogings aangewend om my te laat ophou om onder die naam van die RGN te skryf. En so word ’n navorsingsinstansie wat teenoor die Parlement verantwoordingspligtig is, ’n intellektuele dienskneg van die regering gemaak.

                Hierdie opeising van ons openbare instellings en die meelopery van sogenaamde navorsers en intellektuele, is een van die gevaarlikste ontwikkelinge van ons tyd. Dit sweem na die beskrywings wat ’n mens in Milan Kundera se boeke kry van wat in Oos-Europa gebeur het, of na die metafoor van die groentewinkel in Vaclav Havel se essay The Power of the Powerless: “The manager of a fruit and vegetable store places in his window, among the onions and the carrots, the slogan ‘Workers of the World Unite’. Why does he do it? What is he trying to communicate to the world? Is he genuinely enthusiastic about the idea of unity among workers of the world? Is his enthusiasm so great that he feels an irrepressible impulse to acquaint the public with his ideals? No, he does it because these things must be done if one is to get along.” Volgens Havel is die vaardigheid van die samelewing gesetel in sy vermoë om die ritueel van baniere uithang uit te voer en “because of the dictatorship of the ritual, power becomes anonymous. Individuals are almost dissolved in the ritual.” In dieselfde essay stel Havel ’n alternatiewe scenario waarin die groentehandelaar een oggend nie die banier ten toon stel nie, en dan duur dit ook nie lank nie of die tyd van afrekening breek aan. Hy word van sy pos as bestuurder van die winkel onthef en na die pakhuis oorgeplaas. Sy besoldiging word verlaag. Sy hoop op ’n vakansie in Bulgarye vervaag. Sy kinders se pad na hoër onderwys word bedreig. Sy toesighouer dreig hom en sy medewerkers wonder oor hom. Dit is die dilemma waarvoor die openbare intellektueel in Suid-Afrika te staan kom.

 

 

DVA: In ’n onlangse radio-onderhoud met Tim Modise het u Cornel West aangehaal oor “die vreugdes van ’n bourgeois-bestaan” om die oënskynlike gebrek aan openbare kritiese stemme uit die swart middelklas te verduidelik, asof kritiek deur hierdie klas in stryd sal wees met die gemak wat hulle geniet. ’n Mens het die indruk gekry dat daar onder hierdie opmerking ’n sekere wanhoop lê dat Suid-Afrika se voorheen onderdruktes so gou vergeet het waar hulle vandaan kom, dat hulle uiteindelik sag geword het van mag, soos ’n mens so dikwels elders in die wêreld gesien het. Het u gedink dit sou anders wees in Suid-Afrika, en indien wel, hoekom?

 

XM: Die idee van die swart middelklas was vir my nog altyd ’n raaisel. Ek het nog nooit juis veel gedink van die Marxistiese idee dat die middelklas ’n efemere bestaan het en dat dit sal plek maak vir die radikaler werksklasse nie. Marx en Engels het gesê die geskiedenis van die mens is die geskiedenis van klassestryd. Ek dink nie so nie. Ek dink die geskiedenis van die wêreld is die geskiedenis van die middelklas. Miskien het Aristoteles, een van die eerste voorstanders van ’n middelklassamelewing, ’n beter begrip hiervan gehad as Marx. Die middelklas geval miskien nie die meer onverfynde Marxiste nie, want dit is grotendeels die draer van kultuur, veral hogere kultuur. Meer gesofistikeerde Marxiste, soos Raymond Williams, het op briljante wyse gepraat oor die rol van kultuur in die vorming van die moderne samelewing. Die liberale filosoof Matthew Arnold het die volgende gesê: “The great men of culture are those who have had a passion for diffusing, for making prevail, for carrying from one end of society to the other, the best knowledge, the best ideas of their time, who have laboured to divest knowledge of all that was harsh, uncouth, difficult, abstract, professional, exclusive; to humanize it, to make it efficient outside the clique of the cultivated and learned, yet still remaining the best knowledge and thought of the time, and a true source, therefore, of sweetness and light.” Dié “men of culture” was natuurlik die intellektuele, sommige konserwatiewe apologete van die status quo, ander weer revolusionêre. Volgens Edward Said was daar geen belangrike revolusie in die moderne geskiedenis sonder intellektuele nie. Intellektuele was die vaders en moeders van bewegings, en natuurlik seuns en dogters, selfs nefies en niggies. Mahmood Mamdani het weer gesê elke renaissance is bowenal ’n herontwaking van denke. Wat dus van ons middelklas en ons middelklas-intellektuele? Die antwoord is maar baie soos die eerste een: Ons intellektuele is doodsbang hulle sal hul gemaklike bestaan, of wat Cornel die vreugdes van bourgeois-bestaan noem, kwytraak en gevolglik het hulle eerder hulle toevlug geneem tot die gemak van die openbare of die private sektor.

 

 

DVA: ’n Mens kan aanvoer dat, vergeleke met die 1980’s, baie minder universiteitsakademici, veral in die geesteswetenskappe, deesdae in die openbaar kritiese stemme laat opgaan. Hoe sal u dit verduidelik? Word ons universiteite al hoe meer onderdanig?

 

XM: Selfs universiteite het nie die kultuur van konformisme vrygespring nie. Die korporatisering van universiteite beteken dat daar druk op departemente is om nuttige of praktiese navorsing op te lewer, of implementering wat op navorsing berus. Dit lei tot ’n onverfynde empirisme wat erger is as dié van die 1950’s. Enige sprake van waardes word beskou as koek hiernamaals of wensdenkery. Die geesteswetenskappe, waar kritiese denke gekweek word, kom onder skoot ter wille van sake of ingenieurswese. Dit gaan alles onder die dekmantel van vaardigheidsontwikkeling.

                Die groot Amerikaanse akademikus Harry Boyte noem dit egter politiek sonder ’n naam. Dit is die politiek van tegnokratiese konformisme in diens van ’n eensydige beskouing van die wêreld. Ons intellektuele kultuur is dus in die kloue van hierdie onverfynde tegnokrasie, wat goed pas by Cornel West se “vreugdes van ’n bourgeois-bestaan”. Hy onderskei tussen die obsessie met sukses – wat inderdaad is wat die tegnokratiese wêreld aan ons studente verkoop – en die strewe na uitnemendheid, grootsheid – wat aan ons die wêreld van Nelson Mandela, Steve Biko, Robert Sobukwe, Martin Luther King, Malcolm X, Rosa Parks en ander gegee het: “I don’t know about you in South Africa but in the United States we have got a middle class, especially a black middle class, that has become so intoxicated with the felicities of bourgeois existence. The black middle class in the United States has become drunk with the wine of the world, of materialism, narcissism, and hedonism. And then we wonder why the younger generation does not have access to the traditions of the struggle? They don’t see enough of it in the older generation. There is no such thing as young people’s behavior that is not in part an imitation of what they are exposed to. You preach to young folks to be successful rather than to be great then they will think it’s all about success. Do you really believe that Sojourner Truth, Harriet Tubman, Marcus Garvey, A Phillip Randolph, Malcolm X died so that you can just be successful? Do you think they died so that you can be just peacocks walking around producing foliage and saying ‘look at me, look at me, look at me, look at me.’  Somebody needs to tell them peacocks to stop because they can’t fly. Mandela comes out of a tradition where black folks are flying in the air like a Toni Morrison novel, rising in the wind like a blues melody, like an eagle. But in America they shoot eagles to feed pigeons, which is another way of saying all of that materialism – the clothes, the cars, the houses, the mansions, the status are nothing but the paraphernalia of suffering – an attempt to distance yourself from the suffering because you have had so much of it.”

                Ek kom uit die Swartbewustheidsbeweging, wat geïnspireer is deur die gedagtes en werk van wyle Steve Biko. Jare lank het ek my daaraan gewy om Biko te gedenk en seker te maak dat hierdie land nie sy bydrae vergeet nie, en veral om seker te maak dat swart mense nie sy leringe van trots en selfliefde en selfbeskikking vergeet nie. In dié sin is ek ’n swart nasionalis. Ek het egter ook moeg geword vir die swart nasionalistiese politiek, veral die essensialisme en die politiek van solidariteit wat daarmee gepaardgaan.

                Toe ons president die verband tussen MIV en vigs bevraagteken het, het hy hom op ras beroep: “And thus does it happen that others who consider themselves to be our leaders take to the streets carrying their placards, to demand that because we are germ carriers, and human beings of a lower order that cannot subject its passions to reason, we must perforce adopt strange opinions, to save a depraved and diseased people from perishing from self-inflicted disease.” Die voormalige leier van die ANC-Jeugliga en nou lid van die Kabinet, Malusi Gigaba, het ’n oproep om rassesolidariteit gedoen in sy verdediging van die Zimbabwiese diktator: “In our country those who (are) opposed to Robert Mugabe are the same people and forces who were opposed to the struggle for the liberation of Zimbabwe.” Dieselfde geld ons Minister van Buitelandse Sake, Nkosazana Dlamini, wat in ’n onderhoud gesê het dat die ekonomiese krisis wat Zimbabwe affekteer, nie die gevolg van roekelose politieke leierskap is nie, maar van ’n opregte begeerte om die armes te help, en bygevoeg het dat ons Zimbabwe nooit sal veroordeel nie.

                Ons president het diegene wat korrupsie aan die kaak gestel het, in die media beskryf as niks meer as rassistiese vissers van korrupte mense nie, terwyl die korrupte mense natuurlik Afrikane is.

                En tog: wie kan die werklikheid van al dié dinge ontken – dat MIV/vigs ons mense uitroei, dat Robert Mugabe ’n afgryslike nagmerrie vir sy eie mense is, dat ons leiers die hulpbronne van ons kinders besteel? Dit is dan wanneer ek my eie politiek begin bevraagteken, maar nou net meer as ’n intellektueel. Ek glo steeds dat ras saak maak in Suid-Afrika – dat baie wit mense nog nie van hulle bagasie van rassisme en wit heerskappy ontslae geraak het nie. Ons moet die rassisme-bul by die horings pak sonder om terug te val op wat Njabulo Ndebele noem ’n sielkundige afhanklikheid van rassisme, dit wil sê om rassisme te gebruik as ’n verskoning vir ons tekortkominge en party van ons manewales. Dit is ’n nuanse wat alte dikwels verlore gaan in die retoriek van swart nasionalisme – en dit word veral gerieflik om hierdie nuanse mis te kyk wanneer leiers aan mag wil vasklou of dié in die magsposisie wil uitdaag. Tony Leon en die liberale opposisie is maar net so sinies in hulle aanwending van ras – van die 1999-verkiesingslagspreuk tot hulle verwelkoming van die misnoegde Afrikanernasionaliste. ’n Kritiek op swart solidariteit moet dus altyd ook in verband gebring word met die kuddementaliteit in die wit politiek.

 

 

DVA: Suid-Afrika se hoofstroommedia is óf onder staatsbeheer, óf onder korporatiewe beheer. Wat kan gedoen word om die media ’n belangriker forum vir openbare kritiese denke te maak?

XM: Die media in Suid-Afrika het ’n interessante en ingewikkelde rol gespeel. Kom ons begin by koerante. In baie opsigte het koerante stereotipes oor swart mense as óf diewe, óf onbetroubaar aangewakker – en so die defensiewe swart nasionalisme wat ek pas beskryf het, gevoed. Dit het grotendeels niks met eienaarskap te doen gehad nie. Die Mail & Guardian het baie karaktermoord op swart intellektuele gepleeg, en een van my rubrieke het ek juis geskryf in reaksie op wat ek beskryf het as ’n vorm van media-McCarthyisme. Dit het meer dikwels gebeur in die tyd van mense soos Philip van Niekerk en Howard Barrell. Wat het van dié kêrels geword? Ek het selfs radiodebatte met hulle gehad en die integriteit van mense soos Njabulo Ndebele, Barney Pityana en wyle Sam Nolutshungu teen hulle swartsmeerdery verdedig.

                Swart eienaarskap en redakteurskap van koerante soos die Sunday Times het skynbaar ook nie veel gedoen om die stereotipiese manier waarop die koerant oor swart mense skryf, te verander nie. Die Mail & Guardian vaar nou egter heelwat beter onder Ferial Hafferjee – sy is uitstekend. Business Day, ondanks sy wit eienaarskap en redakteurskap, is verreweg die beste dagblad in die land en ’n ruimte waarin openbare beraadslaging plaasvind.

                ’n Skrikwekkende ontwikkeling is hoe die SAUK hom tot ’n regeringspreekbuis omvorm het. Ek kyk omtrent nie meer na SAUK-nuusbulletins nie, en in die laaste tyd word ek ook nie meer dikwels daarna uitgenooi nie. Nie dat ek juis omgee nie. Oor die jare het ek my sê gesê en ek het altyd nog ’n manier om die mense te bereik. Oor die algemeen dink ek egter dat die gedrukte media beter vaar as televisie. Ons radio is ook baie goed, ondanks die eienaarskap daarvan. Ek dink wat vir die radio werk, is die formaat van die geselsprogram. Geen regering kan beheer wie inbel en wat hulle sê nie. Op die oomblik is die radio een van die mees demokratiese mediaforums in ons land. Ek dink die ruimte is daar om dit belangrike vindplekke van openbare kritiese denke te maak, maar die politiek van ons tyd voorspel niks goeds vir so ’n vooruitsig nie. Die breër politieke kultuur raak die funksie van die media net so nadelig soos enigiets anders.

 

DVA: Tot ´n groot mate bly die sentrale politieke probleem in Suid-Afrika die onopgeloste spanninge tussen die land se verskillende gemeenskappe. Dit word vererger deur ´n ongetransformeerde koloniale staatstruktuur, wat openbare debat keer op keer versmoor. Dit lyk nie asof verteenwoordige demokrasie ´n breuk in hierdie gesentraliseerde magstruktuur slaan nie. Hoe reageer u op hierdie stelling?

XM:’n Mens moet altyd versigtig wees om nie strukture die skuld te gee vir wat mense versuim om te doen nie. ’n Oper en meer deelnemende kultuur kon aan ons ’n deelnemende verteenwoordigende demokrasie besorg het. Dan sou dit ’n ereteken en ’n status wees om parlement toe te gaan soos elders in die wêreld. Maar soos Barney Mthombothi onlangs in die Financial Mail gesê het, om parlement toe te gaan is ’n mors van tyd. Die Parlement is niks meer as ’n rubberstempel vir uitvoerende besluite nie. Ek moet teen my sin erken dat ons Parlement presies net so werk soos onder die Nasionaliste: volg jou leier en jou party.

                Hiermee word egter nie ontken dat verteenwoordigende demokrasie van die begin af ’n probleem was nie. Verteenwoordigende demokrasie het ontstaan in reaksie op bevolkingsgroei en die grootte van moderne samelewings. Robert Michels het egter opgemerk dat die verteenwoordigers, as hulle eers deur die mense verkies is, gou bo die mense verhewe word en dan volg wat Michels noem die ysere reg van die oligargie. Die groot liberale filosoof CB MacPherson het geskryf oor hoe politieke partye werktuie van die rykes en die magtiges word. Leiers het op eie gesag gehandel en dienaars van klassebelange geword. So is korrupsie gebore, namate die skeidslyn tussen openbare en private belange vervaag het. Korrupsie in die politiek is nie ’n Afrika-fenomeen nie, en dit het ook nie in Afrika ontstaan nie. Al wat ’n mens hoef te doen, is om die beskrywings van korrupsie in Amerikaanse stede aan die begin van die 20ste eeu te lees.

                In Suid-Afrika is verteenwoordigende demokrasie ook problematies in die sin dat leiers nie aan enige kiesafdeling verantwoordingspligtig is nie. Onder die stelsel van proporsionele verteenwoordiging is openbare verteenwoordigers eintlik net verantwoordingspligtig teenoor die partyleierskap, wat hulle van die partylyste kan verwyder indien hulle nie tegemoetkomend geag word nie. En soos ek vroeër reeds gesê het, is ras ’n mobiliseringsinstrument in die hande van sowel swart as wit politici.

                Ja, verteenwoordigende demokrasie leen hom inderdaad tot allerlei probleme – en ek het al uitvoerig hieroor geskryf – maar ons moet nie die fout maak om die strukture die skuld te gee en die probleem wat deur die politieke kultuur geskep word, te vergeet nie. Sal ’n ander politieke stelsel ’n ander politieke kultuur tot gevolg hê? Nie noodwendig nie. ’n Onverdraagsame stelsel van regstreekse demokrasie kan selfs erger wees as ’n onverdraagsame stelsel van verteenwoordigende demokrasie. Ons kan ons in ’n wêreld bevind waarin mense volgens Jean-Jacques Rousseau, een van die groot kampvegters vir regstreekse demokrasie, “gedwing moet word om vry te wees” omdat hulle aan ’n valse bewussyn ly. Dit wil ons nie hê nie.

                Dit lyk vir my meer aandag moet gegee word aan die politieke kultuur van ons samelewing.

 

DVA: ’n Openbare sfeer het altyd ’n taal. In Suid-Afrika is hierdie taal geneig om die een te wees wat die nouste met staatsmag geassosieer word. In die verlede was dit Afrikaans, en nou is dit Engels. Lei dit nie onvermydelik tot die probleem van ’n ware openbare sfeer waarin almal in die taal van hulle keuse kan deelneem nie?

 

XM: Dit is waar, maar die proliferasie van tale beteken nie dat hulle almal eenders behandel word nie. ’n Mens moet dus seker maak dat die stryd om Afrikaans nie ’n stryd is wat Afrikaans bevoorreg bo byvoorbeeld Venda of Xhosa nie.

                Ek tree tans as gasheer op vir ’n reeks openbare lesings deur mense soos Ngugi wa Thiong’o oor die rol van tale in nasionale ontwikkeling. Soos u weet, is Ngugi se voortreflike bydrae – wat hom die Nobelprys vir Letterkunde sou besorg het as dit nie vir sy radikale politiek was nie – sy voorspraak vir Afrikatale. Ek dink egter nie die kwessie van taal kan geskei word van die kulturele simbole in hierdie land nie, waarvan talle steeds koloniaal van aard is. Ek verstaan steeds nie hoekom openbare argitektuur nog steeds simbolies van die apartheidsera is nie. Dieselfde geld ons toponimie. Daar is steeds paaie wat na mense soos Hendrik Verwoerd, D.F. Malan en John Vorster heet. Die president van die land kyk elke dag vas in die standbeeld van Louis Botha. En daar is nog steeds nie openbare argitektuur wat mense soos Oliver Tambo, Joe Slovo, Steve Biko, Robert Sobukwe, Lilian Ngoyi, Helen Joseph en Griffith en Victoria Mxenge vereer nie. Daar is iets hiermee verkeerd; dis anachronisties.

 

 

DVA: Afgesien van die eenvoudige clichés oor versoening, hoe belangrik is die dialoog tussen Afrikaner- en Afrikaan-intellektuele vir wie hulle identiteit saak maak?

 

XM: Ek dink nie daar is enige dialoog wat meer om die lyf het as die waan, wat vir swart nasionaliste werk, dat die Afrikaners darem beter as die Engelse is nie. As ’n swart persoon stel dit my in die verleentheid dat die ANC hoegenaamd sulke gesprekke het – swart mense wat nog steeds kyk watter wit mense die meeste van hulle hou. Dit is ook deel van ’n politieke spel om Afrikaners na die ANC om te haal, veral gesien die feit dat die Engelse, veral by monde van Tony Leon, die ANC so venynig opponeer. Ek dink egter nie intellektuele moet deel van daardie politieke spel wees nie. Ek dink ook nie dit is ’n geval van identiteit as Afrikaan of Afrikaner nie, want dit kan maklik lei tot politieke en rasse-chauvinisme. Ons moet ’n nasionale dialoog oor identiteit hê, en klaar.

 

 

DVA: ’n Mens kan aanvoer dat Afronasionalisme, soos dit steeds in die staatstruktuur geïnstitusionaliseer word, toenemend ’n onverdraagsame ideologie word, presies soos die Afrikanerideologie ’n paar dekades gelede. Hoe sal u daarop reageer? En kan ons ons historiese etnolinguistiese gemeenskappe versterk sodat hulle kan ontkom aan die herhalende siklusse van nasionalisme in Suid-Afrika?

 

XM: Ek veronderstel dit is deel van wat ek sê. Swart nasionalisme of Afronasionalisme is nie as sodanig en op sigself ’n onverdraagsame ideologie nie. Ek dink nie mense soos Steve Biko en Robert Sobukwe was onverdraagsaam nie. Dit het alles te doen met leierskap en die kultuur wat hulle in hierdie soort politiek inbring. Insgelyks dink ek dat daar in die Afrikanergeskiedenis ’n onverdraagsame nasionalisme was, net soos daar ook ’n meer verdraagsame en progressiewe nasionalisme was. Ek wil dus nie veralgemeen oor swart nasionalisme nie, behalwe om altyd op die gevare daarvan te wys. Dieselfde geld etnonasionalisme: ons moet ’n gesonde idee van ons etniese identiteite hê sonder om dit te oordryf. Anders word dit selfbeperkend, onverdraagsaam en doodgewoon vol waanbeelde – soos in ’n die-wêreld-is-teen-ons-mentaliteit. Die rol van intellektuele is altyd om te wys op die belangrikheid van identiteit, maar ook op die gevare van alle soort nasionalisme. Dit is die nuanse wat sentraal staan in my werk. 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=517
Artikel nagegaan:
    -