|
||||
Patrick Bond en Ashwin Desai
* Albei verbonde aan die Centre for Civil Society aan die Universiteit van Kwazulu-Natal, asook gemeenskapsaktiviste. Hierdie artikel is ’n uittreksel uit ’n langer artikel oor ongelyke en gekombineerde ontwikkeling in Suid-Afrika wat middel 2006 gaan verskyn in Bill Dunn (red.), Permanent Revolution: Results and Prospects 100 Years On, Londen: Pluto Press.
In Suid-Afrika sien ons vandag die onderlinge verband tussen talle prosesse van volgehoue ongelykheid in die konteks van blywende oorakkumulasie van kapitaal (en werklose werkers) en toenemende finansiële onbestendigheid, met vernietigende gevolge vir mense met ’n lae inkomste, veral vroue.
Die blywendheid van die ekonomiese krisis word geïllustreer deur drie skerp dalings van die geldeenheid (wat gewissel het van 30% tot 50%) wat Suid-Afrika gedurende ’n paar weke in Februarie-Maart 1996, Junie-Julie 1998 en Desember 2001 beleef het. Elkeen het tot massiewe verhogings in die rentekoers gelei, wat groei belemmer en spekulante beloon het. Intussen het die aandrywers van kapitaalakkumulasie nie soseer op ware “produktiewe” aktiwiteit berus nie, maar toenemend eerder gesetel in finansiële/spekulatiewe funksies wat potensieel nie volhoubaar is nie en selfs parasities kan wees. Die bydrae van vervaardiging tot die BBP het van 21,2% in 1994 gedaal tot 18,8% in 2002. Volgens die Internasionale Monetêre Fonds (1) het eiendomspekulasie daartoe gelei dat huispryse in die tydperk 1997 tot 2004 met 200% gestyg het, wat baie hoër is as in ander belangrike ekonomieë (Ierland was volgende met 170%, terwyl die VSA 60% gehad het). Die oorakkumulasie van kapitaal blyk ook uit die gebrek aan nuwe binnelandse vaste investering gedurende die afgelope dekade. Die daaropvolgende kapitaalstaking het berus op sistemiese oorproduksie vir die beperkte plaaslike mark, nie werkermilitantheid nie. Arbeidsproduktiwiteit het ná 1994 voortdurend toegeneem, en produktiwiteitsverhogings het dié van lone ná 1998 ver oortref. Die reële eenheidskoste van postapartheidsarbeid het teen ongeveer 2% per jaar gedaal (met uitsondering van 1998) (2). Die aantal dae wat weens stakings verlore gegaan het, het gedaal, deels vanweë die demobilisering van vakbonde deur die ANC en algemene teenstand teen nasionale wegblyaksies vir politieke doeleindes (vgl. die arbeidsbeweging se sagaardige nasionale antiprivatiseringstakings) (3). Die gevolge van die kontinuïteit – nie verandering nie – van die stelsel is sigbaar in hernude korporatiewe winsgewendheid wat met geslaagde krisisverplasing geassosieer word. (Die grondslag van die krisis – oorakkumulasie – is nie opgelos nie, maar korporasies het verskillende krisisverplasingstegnieke gebruik om die koste na elders te verplaas.) Suid-Afrika se winsdeel voor belasting het in die laat 1990’s herstel tot vlakke van die era van die 1960’s, wat met die bloeityd van apartheid geassosieer word. Intussen het die meeste van die grootste maatskappye in die laat 1990’s toestemming gekry om van die JSE Sekuriteitebeurs te denoteer of hulle primêre aandelemarkinwonerskap in Londen en New York te hernoteer. Ironies genoeg het Pretoria, ten einde besighede aan te moedig om te investeer, primêre maatskappybelasting dramaties gesny (van 48% in 1994 tot 30% in 1999, hoewel dividendbelasting ingestel is); die “aanbodkant”-poging het opvallend nie geslaag nie. Pretoria het ook aan individuele Suid-Afrikaners, hoofsaaklik uit die hoërinkomstegroep, belastingtoegewings ter waarde van R75 miljard toegestaan in die eerste tien jaar ná bevryding (wat ’n nuwe kapitaalwinsbelasting talle male neutraliseer). Die regressiewe, kontroversiële belasting op toegevoegde waarde (BTW), wat in 1991 die katalisator vir ’n enorme staking was, is ook in die era ná apartheid behou, en inkomste het van ’n waarde gelykstaande met 5,8% van die BBP in 2001/02 toegeneem tot ’n waarde van 7% van die BBP in 2005. Aangesien die totale belastinginkomste met slegs 1% van die BBP gestyg het in die vroeë jare van die eerste dekade van die nuwe eeu (van 23,7% tot 24,7%), is die hele relatiewe toename in maatskaplike besteding befonds deur BTW, ’n belasting wat die armes baie meer nadelig raak as die rykes. Herhaalde populêre eise dat ’n veelvlakstelsel ingestel word om die onbillikheid in daardie belasting reg te stel, of dat ’n nulkoers op noodsaaklike kommoditeite ingestel word, is geïgnoreer. ’n Ander belangrike kwessie wat maar te dikwels oor die hoof gesien word, is die aard van kapitaalbesteding deur die staat. Dit is moeilik om bygewerkte syfers te bekom, maar die tendense van 1994/95 tot 2002/03 is ontstellend. As die staat se “bruto vaste investering” in 2002 gedisaggregeer word, is slegs 33,4% op maatskaplike infrastruktuur bestee (skole, hospitale en administratiewe dienste), teenoor 38,7% in 1995, terwyl besteding aan ander ekonomiese infrastruktuur (paaie, brûe, damme, elektrisiteit en water) van 45,8% tot 44,1% gedaal het. Daarenteen het dié vir ander “ekonomiese dienste” – besteding deur sakeondernemings nie by bogenoemde kategorieë ingesluit nie – gestyg van 15,5% tot 22,5% van die totaal. Vergrote ongelykheid blyk ook uit inkomste-ongelykheids- en armoededata, want selfs Statistiek SA, ’n staatsagentskap, moes bely dat wat onder die wêreld se swakste Gini-koëffisiënte getel het, ná 1994 inderdaad verswak het. Oor rasseskeidings heen het die armste helfte van alle Suid-Afrikaners in 2000 slegs 9,7% van die nasionale inkomste verdien, teenoor 11,4% in 1995. Die rykste 20% het 65% van alle inkomste verdien.(4) Hierdie soort statistieke word óf ontken deur staatsamptenare, wat verrekening teen die maatskaplike loon aanvoer, óf verduidelik aan die hand van “twee ekonomieë”. Selfs pres. Thabo Mbeki – eenmaal ’n uitblinkerstudent aan die Lenin-Instituut in Moskou – verdeel die Suid-Afrikaanse ekonomie in ’n eerstewêreld- en ’n derdewêreldkomponent. Eersgenoemde “is die moderne nywerheids-, mynbou-, landbou-, finansiële en dienstesektor van die ekonomie wat daagliks meer by die wêreldekonomie geïntegreer word. Baie van die grootste intervensies deur ons regering oor die jare het gepoog om aandag te gee aan hierdie ‘eerstewêreldekonomie’ ten einde te verseker dat dit teen die regte tempo in die regte rigting ontwikkel. Dit is duidelik dat hierdie sektor van ons ekonomie goed gereageer het, en steeds goed reageer, op al hierdie intervensies. Dit is baie belangrik, want dit is die sektor van ons ekonomie wat die rykdom bring wat ons nodig het om die uitdagings waarvoor die land staan, die hoof te bied. Die suksesse wat ons met betrekking tot die ‘eerstewêreldekonomie’ behaal het, bied ook aan ons die moontlikheid om aandag te gee aan die probleme van die ‘derdewêreldekonomie’, wat langs die moderne ‘eerstewêreldekonomie’ bestaan. Van kardinale en strategiese belang is die feit dat dié probleme struktureel nie verbind is aan ons land se ‘eerstewêreldekonomie’ nie. Gevolglik het die intervensies wat ons ten opsigte van laasgenoemde ekonomie maak, nie noodwendig ’n voordelige uitwerking op hierdie terreine, die ‘derdewêreldekonomie’, nie.”(5) [ons beklemtoning]
Hierdie benadering het teen 2005 die heersende diskoers in regeringskringe geword. Soms word die idee aangebied as ’n radikale afwyking van klassieke neoliberale of deursyfer-ekonomie in die sin dat dit voorsiening maak vir substansiële staatsintervensie. Die idee is dat die eerste ekonomie hom daarop moet kan toespits om die wêreldwye patroon van integrasie met die wêreldekonomie te volg en toenemend kapitaalintensief, met hoogtegnologie en hoë vaardigheidsvlakke, kan word, terwyl staatsintervensie regstreeks op die tweede ekonomie gemik word (6). Hierdie intervensies sal hulpbronne verskaf en ontsluit vir diegene wat in die tweede ekonomie vassit en hulle miskien selfs uiteindelik in die geleentheid stel om na die eerste ekonomie oor te gaan, hetsy as werkers of as ondernemers. Hierdie tese van twee ekonomieë as oplossing word deur ’n paar navorsers betwis. Vir Andries du Toit is die vraagstuk nie soseer dat daar nie genoeg skakelingsaksies is nie, maar eerder wat die aard van daardie skakeling is en die mate waarin dit dien om arm mense te bemagtig of om bloot geld uit hulle te pers (7). Du Toit voer aan dat werkers op die plase van die Ceres-vallei “nie mense is wat in die tweede ekonomie vasgevang en van die eerste ekonomie afgesny is nie. Inteendeel; plaaswerkers in Ceres is deeglik by die eerste ekonomie ingesluit en glad nie daarvan uitgesluit nie. Hulle armoede word voortgebring en geskep deur die normale werking van die mark in daardie ekonomie. Dit behoort ons weer ’n keer te laat dink oor die simplistiese idee dat groei al is wat Suid-Afrika nodig het om ’n einde aan armoede te maak. Wat belangrik is, is die soort groei en die soorte magsverhoudinge wat die vorm van die voorwaardes van ekonomiese uitruiling (terms of economic exchange) bepaal.”(8) Gill Hart voeg ’n ander perspektief tot die debat toe deur te redeneer dat hierdie verskuiwing by Mbeki beskou moet word “as deel van ’n poging om die druk te beperk wat uitgeoefen word deur die opkoms van opposisiebewegings wat beswaar maak teen die ontoereikende dienslewering, die slakkepas van grondherverdeling, versuim om antiretrovirale middels te verskaf en die gebrek aan veilige werk, en wat van binne die Alliansie uitgeoefen word. Die toepaslike vraag is dus nie of die eerste en tweede ekonomie ’n akkurate uitbeelding van die werklikheid is nie, maar eerder hoe dit gekonstrueer en aangewend word om politieke – of, miskien beter gestel, depolitiserende – werk te verrig. Belangrik in hierdie diskoers is die manier waarop dit ’n segment van die samelewing definieer wat vir die “moderne” ekonomie oortollig is en vaderlike leiding nodig het. Dié deel van die samelewing verdien ’n klein bietjie maatskaplike sekerheid, maar op streng gedissiplineerde en streng gestelde voorwaardes.”(9) Die tese van die eerste/tweede ekonomie in sy huidige gedaante is ’n terugkeer na die liberale moderniseringsteorieë van die 1960’s. Hoewel inkomste- en hulpbronoordragte aan die sogenaamde tweede ekonomie ’n belangrike debatspunt is wat nou mode is, bly werkskepping in die “eerste ekonomie” steeds die kern van enige bespreking oor armoedeverligting en steeds aan die voorpunt van die meeste planne om dit in Suid-Afrika te doen. Dalende doeaneregte op ingevoerde nywerheidsmasjinerie het beteken dat die geringe mate van outomatisering wat plaasgevind het, honderde werksgeleenthede verlore laat gaan het, terwyl tienduisende meer in kwesbare nywerhede uitgeskakel is weens die invoer van verbruikersgoedere uit Oos-Asië. Die trekarbeiderstelsel het nie saam met apartheid tot ’n einde gekom nie, en baie van dieselfde prosesse waardeur stedelike kapitaal gesubsidieer word in die reproduksie van arbeidskrag, duur dus voort, met slegs ’n effens uitgebreide maatskaplike loon (’n pensioen- en kindertoelaestelsel wat nou tot in landelike gebiede strek) wat ’n nog groter maatskaplike subsidie aan werkgewers bied. Deur hulle te beroep op die moontlikhede van ’n “leer” tussen die beweerde eerste en tweede ekonomie kon Mbeki en sy kollegas buitensporige aansprake maak, byvoorbeeld dat 2,1 miljoen netto nuwe “werksgeleenthede” tussen 1994 en 2004 geskep is. Dit illustreer baie vernuftige “rekeningkunde”, soos die joernalis Terry Bell uitgewys het: “Tuisteskeppers wat help om hulself en hul gesinne te onderhou uit agterplaasgroentetuine of ´n paar hoenders aanhou, is deel van die nuwe geëmplojeerde klas. In feite word daardie groot leër van die skaars versteekte werkloses wat verwese te huur op straathoeke staan, of wat klerehangers, vuilgoedsakke of ’n handvol lekkergoed by verkeersligte of spoorwegstasies verkoop in die hoop dat hulle ’n paar rand sal maak, almal by hierdie twee miljoen werksyfer getel. Volgens die jongste statistiek het 367 000 werkers in September 2001 niks vir hul werk verdien nie, terwyl ’n verdere 718 000 tussen R1 en R200 per maand betaal is.”(10) Nog ’n sleutelterrein waaroor daar meningsverskil is – meningsverskil wat uit sowel ideologie as beeldpoetsery voortvloei – is hoe om die informele ekonomie as voorsiener van lewensonderhoud te verstaan. Moet mense wat lekkergoed agter ’n tafel verkoop of wat bestaansboerdery bedryf, beskou word as mense wat in diens geneem of selfgeëmplojeerd is? Daar is diegene wat redeneer dat ’n groot deel van wat as die informele ekonomie bestempel word, bestaan uit baie arm en wanhopige mense wat hulle wend tot wat wesenlik oorlewingstrategieë is ten einde ’n karige bestaan te maak (11). Groot dele van dié oorlewingstrategie word geassosieer met die voortdurende reproduksie van uiters goedkoop arbeidskrag. Colin Bundy stel die volgende punt: “In weerwil van die feit dat ras en klas die mees vermelde lyne van ongelykheid is, en die stedelik/landelike verdeling ’n voorste strukturerende faktor is, is daar ’n ander basiese, alomteenwoordige en diep verskanste vektor van historiese ongelykheid – en dit loop deur ras-, klas- en streeksongelykhede. Dit is gender.”(12) Liesl Orr redeneer verder: “Genderkwessies en huishoudelike dinamika is feitlik heeltemal onsigbaar binne die huidige makro-ekonomiese strategie, wat bydra tot die voortgaande marginalisering van vroue. Terwyl die Groei, Werk en Herverspreiding Beleid (GEAR) ‘genderblind’ genoem mag word, is dit gewis nie genderneutraal nie. GEAR vra byvoorbeeld vir groter arbeidsmarksoepelheid ten einde buitelandse investering te lok en mededingendheid te verbeter. Die implikasies hiervan is dat die kwesbaarste werkers (dit is vroue) steeds onbeskermd en teen gediskrimineerd sal bly, en waar werk geskep word, sal dit swak werksomstandighede perpetueer. Met groter arbeidsmarksoepelheid sal die posisie van vroue inderwaarheid versleg, aangesien dit verminderde voordele (soos kraamvoordele) impliseer, asook minder werktyd en ouerverantwoordelikhede.”(13) Trouens, een van die opvallendste weerspieëlings van terugvalling ondanks retoriese vooruitgang is dié van vroue se betaling. Vroue, wat gedurende die laat 1990’s beswaarlik hulle aandeel aan die totale werksgeleenthede kon vergroot, het ’n enorme afname in relatiewe betaling beleef, naamlik van 78% van mans se lone in 1995 tot slegs 66% in 1999 (14). Ten slotte: Ter versagtig van die aanspraak dat ongelyke en gekombineerde ontwikkeling aan die versleg is, voer staatsamptenare tipies aan dat hulle nie neoliberale beleide volg nie, soos blyk uit die lewering van “gratis basiese dienste” soos water en elektrisiteit. Maar as ongeveer 1,5 miljoen mense se watertoevoer, volgens staatsbronne (15), elke jaar afgesny word omdat hulle nie hulle rekeninge betaal nie, met ’n selfs hoër koers vir elektrisiteitsafsnydings, pas selfs die staat se verskaffing van basiese dienste in die raamwerk van ongelyke en gekombineerde ontwikkeling. In die geheel gesien strek die hegemonie van die neoliberale ekonomiese filosofie in Suid-Afrika selfs tot op die terrein van maatskaplike beleid waaroor soveel hewige stryd gevoer is. Dié proses kom al ’n lang pad; dit strek terug tot die mid-1980’s en het gepaardgegaan met die toename in binnelandse finansiële likiditeit as gevolg van die oorakkumulasieprobleem en spekulatiewe ekonomiese aktiwiteit wat tot die ongekende moderne hoogtes gestyg het. Wat kan hieraan gedoen word? Weerstand teen ongelyke en gekombineerde ontwikkeling moet steeds voortkom uit die dekommodifikasiestryd wat die ware ervarings en aspirasies van maatskaplike, ekologiese en arbeidsbewegings op voetsoolvlak weerspieël (16).
__________ (1) International Monetary Fund. South Africa: Selected Issues, Washington, September 2005. (2) Aangehaal in: United Nations Development Programme. South Africa: Human Development Report 2003, Aanhangsel 12. (3) Altman, M. “The State of Employment and Unemployment in South Africa”, in J. Daniel, A. Habib en R. Southall (reds.), State of the Nation: South Africa 2003-04, Pretoria: RGN, 2003, pp. 174-75. (4) Statistics South Africa. Earning and Spending in South Africa. Pretoria, 2002; Business Day, 22 November 2002. (5) Mbeki, T. “Steps to End the Two Nations Divide”, ANC Today, 3: 33, 22 Augustus 2003, http://www.anc.org.za. Lees ook die ontleding by www.idasa.org.za/gbOutputFiles. asp?WriteContent=Y&RID=1244. (6) Turok, B. “Overcoming Underdevelopment”, New Agenda, 16: 7, 2004. (7) Du Toit, A. “Why Poor People Stay Poor: The Challenge of Chronic Poverty”, New Agenda, 16: 29-30, 2004. (8) Du Toit, A. “Hungry in the Valley of Plenty”, Mail&Guardian, 15 April 2004. (9) Hart, G. “Beyond Neoliberalism? Post-Apartheid Developments in Historical and Comparative Perspective”, in V. Padayachee (red.) The Development Decade? Social and Economic Change in South Africa 1994-2004, Pretoria: HSRC Press, 2005. (10) Bell, T. “How 'Non Jobs' come to the Aid of Government Election Propaganda”. Sunday Independent, 15 Februarie 2004. (11) National Labour and Economic Development Institute. “Global Poverty Network Workforce Development Study”. Johannesburg, Maart 2004, p.61. (12) Bundy, C. “Development and Inequality in Historical Perspective”, in R. Schrire (red.), Wealth or Poverty? Critical Choices for South Africa, Oxford: Oxford University Press, 1993, pp. 32-33. (13) Orr, L. “Globalising Poverty: The Gender Dimension to Job Losses, Casualisation and Poverty”, referaat gelewer vir die COSATU Gender Conference, Johannesburg. National Labour and Economic Development Institute, 2000, pp. 11, 22. (14) Statistics South Africa. The South African Labour Market. Pretoria, 2002, p. 147. (15) Muller, M. “Turning on the Taps”, Mail&Guardian, 25 Junie 2004. (16) Een opname kan gevind word in: Bond, P. “The Decommodification Strategy in South Africa”, State of Nature, http://www.stateofnature.org/decommodification.html, Desember 2005. Die skrywers van hierdie artikel is tans betrokke by die stryd van ´n groep Durbanse plakkers om die huise te bekom wat aan hulle beloof is. Meer inligting is beskikbaar by Patrick Bond ([email protected]). Lesers kan geld vir hierdie plakkers se stryd skenk deur dit oor te betaal in die volgende rekening: Kennedy Road Development Committee, ENB-rekno 62089969293, Takkode 200913 |