|
||||
Deon Opperman
Uit die Engels vertaal deur Johann Rossouw
Weereens kniel ek voor dié baar-graf dié chtoniese bron, miasmamoeras wat my neertrek uit die hemel, vanaf my koel randtroon na die smeulende sentrum, die vormlose vloeiings van my wenende genesis. Dit het gelyk, selfs toe, selfs voor die koord gesny is dat my skepping ´n triomf was vir orde bo chaos, son bo maan, vorm die vormlose vormend in die polsende, troebel dam – troebel en geheimsinnig; en soos die eerste atoom geklou het aan die volgende, soos sel op sel die muur van my verstand gebou het, het ek gedog ek hoor my vader roep (’n laggende roep, met trane gesprinkel), wie se geboorte, soos myne, die uiteindelike, klimaksrewolusie was, ’n ydel, maar heerlike afjak van die groot hoer na wie se maag ons wederkeer – Jona na sy walvis, om mank en nederig gespoeg te word op ’n onbekende strand, nuutgebore, ’n effe meer, ’n effe minder elke keer. |