|
||||
Ek noem die “Histories Afrikaanse Universiteite” nou maar deesdae die tweetalige universiteite in die land (sommige van hulle is al onderweg drietalig toe). Skandalig, aan die een kant, dat dié universiteite die druk om te Ingels net vát, sonder om vir Baas Staat eers te gaan sê: “Maar gee sjeld. Ons wíl, en kán. Sommige van ons, in ieder geval. Maardêmmitdisduur. Gee sjeld! Dan multitaal ons ordentlik, sonder om van ons dosente dubbele doseerladings sommerso te eis.” Die Engelse, dus eentalige, universiteite, doen min tot geen in dié rigting. Dan wonder ons hoekom Wits en UCT se dosente die meeste / beste publiseer... Verder ook, noudat die universiteit in SA wat die meeste akademies publiseer die meeste geld per artikel vanuit staatsweë ontvang (die sg. “subsidie” per artikel), word dié universiteite nóg meer bevoordeel bo die tweetaliges. Hoe minder vertaling en hoe minder admin, hoe meer tyd. Hoe meer tyd, hoe meer skryf. Hoe meer skryf, hoe meer geld. Die enkeltaliges lewe dus nie net makliker nie, maar word ook nou ryker daaruit. Hoekom kan daar nie eentalig-Engelse, eentalig-Afrikaanse, meertalig voormalig-Afrikaanse én meertalig voormalig-Engelse universiteite wees nie? Hoekom vát die “Histories Afrikaanse Universiteite” die druk tot meertaligheid net, terwyl die Engelstalige universiteite maar ongeveer ‘nee’ sê? Dalk maar weer soos toe alles moes OBE - toe seg die Ingelse plus-minus “no fanks”, en die Afferkaanses sug “Ja Baas”, en administreer hulleself boeglam om betyds te OBE (nogmaals ten koste van navorsingsuitset)...? - Of so iets, ja – Red. |