blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Aanloop tot die gemeenskapsopstande: Woordeliks 2006-02-16

…Die ANC se terugkeer uit ballingskap en aanknoop van politieke onderhandelinge met die apartheidsregime het die opening aangedui van ´n nuwe terrein in sy stryd om nasionale bevryding. Vanaf hierdie punt het die ANC gekies om die massastryde van werkers en die armes slegs aan te wend as ´n hefboom vir sy posisie aan die onderhandelingstafel…

…Soos John Saul aangetoon het, het Suid-Afrika ´n “dubbele oorgang” in die vroeë 1990’s beleef. Enersyds ´n oorgang vanaf rasgedrewe, outoritêre regering na ´n meer demokratiese (institusionele) regeringstelsel; andersyds ´n herintegrasie in die globale, kapitalistiese ekonomie langs neoliberale lyne…

…Die ANC-leierskap en talle akademici en navorsers het beweer dat die wending na ´n onderhandelde skikking en die gepaardgaande omhelsing van die neoliberale paradigma bloot ´n teken van pragmatiese realisme was, gegewe die wanbalanse van wêreld ekonomiese magsverhoudinge en moeilike objektiewe toestande op die grond. So ´n verduideliking… skep die vals indruk dat die handelinge en strategieë van die ANC niks met ideologiese en politieke keuses te make had nie…

…Met die aanvaarding van GEAR het die rol van plaaslike regering geskuif vanaf ´n herverspreidende een na ´n ‘bemoontlikende’ of ‘fasiliterende’ rol. So het die sentrale maatskaplike verantwoordelikheid van die regering een geword van die vestiging van die middele om regstelling te verhoog, eerder as om toegang regstreeks te lewer. Onder hierdie model word werklike toegang nou bepaal deur markkragte, met die staat wat die fasiliteerder van hierdie logika word…

…Die logiese resultaat van hierdie ontwikkelings was ´n groot styging in die koste van basiese dienste en ´n gepaardgaande toename in die gebruik van kosteherwinningsmeganismes soos die afsny van water en elektrisiteit wat arm gemeenskappe noodwendig die hardste getref het. As ´n voorbeeld: tussen 1999 en 2000 het 75 000 waterafsnydings voorgekom in die Groter Kaapstad-area. In Soweto is nagenoeg 20 000 huise se elektrisiteit gedurende 1999 elke maand afgesny met Brian Johnson, die bestuurder van die ESKOM-semi-staatsinstelling, wat openlik spog dat “die oogmerk is om minstens 75% van Soweto se inwoners af te sny”. Teen 2000 tot 2001 het miljoene meer Suid-Afrikaners dienste-afsnydings en uitsettings beleef. Swak sanitasie, afsnydings en beperkte watervoorsiening het gelei tot meer as 118 000 aangemelde gevalle van cholera (en 265 sterftes), en drie miljoen mense het diarree ontwikkel as gevolg van die ANC se neoliberale orgie…

…Die opkoms van hierdie [maatskaplike] bewegings gebaseer in spesifieke gemeenskappe en met spesifieke, hoofsaaklike defensiewe eise, was nie bloot die natuurlike gevolg van armoede of marginaliteit nie, maar ´n regstreekse reaksie op staatsbeleid. Die staat se onvermoë of onwilligheid om verskaffer van openbare dienste en waarborg van die voorwaardes van kollektiewe verbruik te wees, was [die] vonk…

….Ironies was dit onder die begeleiding van die jarelange kommunis en nuwe Minister van Behuising, Joe Slovo, wat die staat ´n institusionele vennootskap gesluit het met privaat banke (SERVCON) ten einde postapartheid huislewering te bespoedig. Vir die banke was dit Godgegewe omdat hulle nou onder die dekmantel van politieke en morele legitimiteit voorsien deur die nuwe ANC-staat ´n proses kon begin van die herwinning van gestaakte verbandbetalings wat noodwendig gedwonge verskuiwings as middel tot die herwinning van opgehoopte ‘behuisingskuld’ sou insluit. Hierdie postapartheid legitimering van geprivatiseerde kosteherwinning is verder versterk deur die staat se aanvaarding van sy eie kosteherwinnings- en neoliberale handelsbeleide, onder die hofie van die GEAR-program….

…In die loop van die volgende twee jaar het die Mandela Park Anti-Eviction Committee (Khayalitsha) verwikkel geraak in wat slegs raak beskryf kan word as ´n ‘lae-intensiteit oorlog’ met verskillende arms van die staat en privaat banke… Dit is gepas om hier op te merk dat die hoofkatalisator vir die verhewigde konflik die volkome onwilligheid van die staat en die banke was om te luister na die stemme van diegene in die Mandelapark-gemeenskap wat ´n kollektiewe, onafhanklike respons deur die MPAEC op hul verslegtende sosio-ekonomiese lewensomstandighede gesmee het…

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=484
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -