blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Plaaslike regering: Redes vir die gemeenskapsopstande 2006-02-16
Dale T. McKinley

* Politieke kommentator, gemeenskapsaktivis en onafhanklike navorser


Enkele maande gelede publiseer Dale T. McKinley, een van die regering se mees gedugte linkse kritici, in opdrag van die Johannesburgse Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening ´n omvattende verslag oor die redes vir die gemeenskapsopstande op plaaslike regeringsvlak. Dit is ´n vernietigende, chirurgiese ontleding van hoe die ANC se neoliberale beleid arm Suid-Afrikaners fynmaal, wat die Minister van Intelligensie, mnr. Ronnie Kasrils, se ondersoek deur die Nasionale Intelligensiediens na die redes vir die opstande absurd, indien nie vulgêr nie, laat aandoen, om van sy blamering van ´n “Derde Mag” maar te swyg. Op hierdie twee bladsye publiseer Die Vrye Afrikaan in aanloop tot die plaaslikeregeringsverkiesing op 1 Maart met McKinley se vriendelike vergunning die uitvoerende inleiding, aanbevelings, asook woordelikse uittreksels oor die aanloop tot die opstande uit sy verslag. Die volledige verslag verskyn in Engels by http://www.csvr.org.za/papers/papvtp10.htm

Die opkoms van maatskaplike bewegings in die eerste dekade van demokrasie ná apartheid is dramaties gevorm deur die konteks van die oorgang in Suid-Afrika.

Op politieke vlak het die verbode African National Congress (ANC) in die 1980’s aan die voorpunt van die mense se stryd teen die apartheidsregime te voorskyn getree. Die breëkerkstrategie van die ANC, wat op die leerstelling van die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) gerus het, het verseker dat die nasionale stryd teen apartheid voorrang geniet het bo die klassestryd teen kapitalisme. Ondanks die materiële basis van mense se stryd (wat regstreeks in stryd met die belange van kapitalisme was) het die ANC, nadat onderhandelinge in die vroeë 1990’s begin het, sy posisie gebruik om die brood-en-botter-strewes te bestuur (wat die opskorting daarvan ingesluit het). Die uitwerking van hierdie proses was dat ’n eng postapartheidvisie van die ANC en ’n onderhandelingsentriese politie geïnstitusionaliseer is. Organisatories het die politieke hegemonie van die ANC ook wel destruktiewe gevolge gehad vir politieke en ideologiese diversiteit, en baie van die ruimte vir onafhanklike organisering op grondvlak is feitlik uitgeskakel. Die konteks van die ekonomie het ook meegebring dat die ANC hom verbind het daartoe om af te sien van ’n antikapitalistiese front. Dit is gekodifiseer in die duidelik neoliberale makro-ekonomiese Strategie vir Groei, Werkverskaffing en Herverdeling (GEAR) in 1996, wat klasse-ongelykhede en maatskaplike ongelykheid versterk het. Die ANC het grootskaalse teenstand teen die beleid uit eie geledere voorsien, en daarom is die beleid “ononderhandelbaar” genoem.

Hierdie kontekste gee die agtergrond van hedendaagse en ontluikende konflikte tussen die staat en die verarmde gemeenskappe wat om basiese sosio-ekonomiese behoeftes en dienste wentel.


Deel Een: Neoliberalisme en die burgery

Die proses van globalisering, wat sy wortels in die krisis van kapitalisme in die laat 1960’s het, word aangedryf deur ’n behoefte om steeds nuwe markte en investeringsterreine te vind. Daar word dus dikwels aangevoer dat die hervormings wat onder die term “neoliberalisme” saamgegroepeer word, die primêre middel is waardeur kapitaal die uitdagings van verdere akkumulasie die hoof bied. Teoretici het ook daarop gewys dat neoliberalisme die totstandbrenging van “nuwe ingeslote ruimtes” behels vir sover die eindresultaat van dié strategieë ten doel het om mense hardhandig af te skei van watter toegang hulle ook al tot maatskaplike rykdom het wat nie deur die mark bemiddel word of koöpteerbaar is nie. Nasiestate is dus deur neoliberale herstrukturering gedwing om beleide aan te neem wat daarop gemik is om die nodige hulpbronne – soos water, behuising, elektrisiteit, gesondheidsorg, onderwys en so meer – onder die heerskappy van die mark te bring.

Die spesifieke uitdagings waarvoor die apartheid-akkumulasiestrategieë te staan gekom het, het meegebring dat die apartheidsregime ’n reeks hervormingspogings aangewend het wat uiteindelik daartoe sou lei dat ’n terrein van onderhandeling met die ANC oopgegaan het. En juis binne hierdie raamwerk van oorgangsonderhandelinge het ’n sekere akkommodering tussen die ANC en die grootsakesektor aan die lig gekom, wat ’n “verdelingskoalisie” van wit sake en ontluikende swart sake ingesluit het wat berus het op beleide wat globalisering en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) sou bevorder. In hierdie sin is die sleuteluitkomste van die onderhandelde skikking ontwerp om die spesifieke krisis van die Suid-Afrikaanse akkumulasiestrategie die hoof te bied.

Gevolglik word dit wat beskou is as grondliggend aan die herstel van apartheidsongelykhede deur die vryheidsbeweging (van basiese dienste tot die aard en vorm van landsbestuur wat ’n nuwe regering sou volg), stadig aangetas deur die mark. Simbolies het hierdie verskuiwing hom gemanifesteer deur GEAR. GEAR het die rol van plaaslike regering laat verskuif van ’n herverdelingsrol na ’n “in staat stellende” of “fasiliterende” rol waarvolgens ware toegang bepaal word deur markkragte, met die staat as die fasiliteerder van hierdie logika.

In die huidige konflik tussen die staat en nuwe maatskaplike bewegings is juis die visie van die stryd teen apartheid in die spel. Vir die staat was die reproduktiewe eise van gemeenskappe wat hulle teen apartheid verset het (veral die betalingsboikotte van die 1980’s), bloot ’n manier om die krag van die vryheidsbeweging met betrekking tot die apartheidstaat te vergroot. Vir die nuwe maatskaplike bewegings was strategieë soos die betalingsboikotte die deurslaggewende herverdelingsuitdaging van die nuwe staat en moes dit geïnstitusionaliseer word. Die botsing van hierdie narratiewe verteenwoordig die konseptuele basis van die hedendaagse konflik tussen die staat en gemeenskappe met betrekking tot basiese sosio-ekonomiese dienste en die lewering daarvan.


Deel Twee: Die ontstaan en evolusie van maatskaplike bewegings in drie stedelike gemeenskappe

Namate die praktiese gevolge van GEAR op die lewens van werkers en arm gemeenskappe begin druk het, het groepe mense op gemeenskapsvlak begin organiseer om hulle te verset teen die uitwerking van die beleide van kosteverhaling en privatisering, die fleksibilisering en kasualisering van arbeid, besnoeiing van maatskaplike besteding, en die algemene uitbreiding van die heerskappy van die mark tot in alle aspekte van mense se lewens.

In hierdie studie word drie arm stedelike gemeenskappe wat konflik met die staat oor basiese sosio-ekonomiese strewes beleef het en steeds beleef, as gevallestudies aangebied. Dié gemeenskappe is Mandela Park (Khayelitsha), Bayview (Chatsworth) en Orange Farm (Johannesburg). Die geskiedenis van die ontstaan van spesifieke gemeenskapsorganisasies in elk van hierdie gebiede word in besonderhede verstrek, naamlik dié van die Mandela Park Anti-Eviction Campaign, die Bayview Flats Residents Association, en die Orange Farm Water Crisis Committee. Deur onderhoude, gemeenskapsorganisasie-materiaal en kwalitatiewe navorsingsontleding word die verskillende aktiwiteite, organisasiebane en ontluikende verhoudinge met die staat, die private sektor en ander rolspelers in die burgerlike samelewing (plaaslik, nasionaal en internasionaal) aangebied en ontleed.

Deel Drie: Om meningsverskil te stuit

In al drie gemeenskappe het die toemaak van betekenisvolle institusionele ruimte waarin griewe gelug kon word, tesame met die algemene nie-onderhandelbaarheid van die raamwerk van die staat se ekonomiese strategie, meegebring dat pogings om staatsingryping in die hantering van plaaslike eise te bewerkstellig, misluk het. Enersyds het dit plaaslike gemeenskappe gedwing om meer antagonistiese strategieë te volg, soos opmarse en heraansluitings. Andersyds het die onvermoë van die staat om betekenisvolle toegewings aan hierdie gemeenskappe te bied meegebring dat die enigste weg wat die staat kon volg, dié was van onderdrukking en die ontplooiing van die verskillende takke van die strafregstelsel ten einde “die orde te handhaaf”. In hierdie opsig het ons navorsing ’n aantal tendense en uitwerkings opgemerk wat uit die konflik voortspruit.

Die plaaslike polisie, die raad en die staat se diensverskaffers het vir hierdie gemeenskappe die primêre fokus van die antagonisme van die maatskaplike bewegings geword. In die meeste gevalle het botsings tussen die gemeenskappe en die staat die karakter van konflik aangeneem waarin die strafregstelsel die bemiddelingsrol speel. Die private sektor, gewoonlik in die vorm van private sekuriteitsmaatskappye, het ook ’n belangrike rol gespeel in die vorming van persepsies oor die staat se reaksie op gemeenskapsweerstand. Die behoefte daaraan om die optrede van maatskaplike bewegings strategies te bestuur het ook gelei tot die totstandbrenging van strategiese vennootskappe tussen die betrokke takke van die nasionale en die plaaslike staat.

Die howe het ’n uiters belangrike rol in die konflik gespeel. Hoewel die tussenkoms van die regbank in sekere gevalle positiewe uitkomste vir maatskaplike bewegings tot gevolg gehad het, is die howe merendeels gebruik om die aandag van plaaslike regerings af te lei of om strafmaatreëls toe te pas en aktiviste te dissiplineer. Plaaslike strukture van die Alliansie het ook ’n belangrike rol gespeel op grond van ’n strategie van die ANC om teenmobilisasie te fasiliteer in gebiede waar gemeenskapsorganisasies hulle plaaslike hegemonie begin betwis het.

Die konflik tussen maatskaplike bewegings en die staat het dikwels dramatiese en verreikende gevolge gehad vir sowel die bewegings as die gemeenskappe waarin hulle bedrywig is. Die grootste gevaar wat deur die konflik meegebring word, is die wyse waarop die huidige terme daarvan ’n selfreproduserende diskoers van marginalisering en onderdrukking struktureer. Aan die een kant struktureer die uitbreiding van die logika van die nie-onderhandelbaarheid van GEAR die staat se weiering om hom met maatskaplike bewegings te bemoei. Aan die ander kant het maatskaplike bewegings geen ander keuse as om hulle toevlug tot toenemend antagonistiese aktiwiteite te neem nie.

Deel Vier: Maatskaplike bewegings en demokrasie in Suid-Afrika se oorgang

In die eerste fase van Suid-Afrika se “oorgang” het die ANC se politieke en ideologiese aanvaarding van die breë raamwerk van ’n wêreldwyd dominante, neoliberale politieke en ekonomiese ortodoksie plaasgevind. Dit het weer gelei tot die geïnstitusionaliseerde (en valse) skeiding tussen politieke en sosio-ekonomiese verandering, en wel só dat demokrasie nou gesien word as sinoniem met die kapitalistiese mark. Die gevolg is ’n voortdurende “demokrasiekrisis” waarin geïnstitusionaliseerde praktyke van verteenwoordigende demokrasie, soos verkiesings, min verskil maak aangesien die deurslaggewende samelewingsbesluite deur die “mark” geneem word. In hierdie konteks betwis die opkoms van nuwe maatskaplike bewegings hierdie eng beskouing van demokrasie.

Aangesien die retoriese kern van landsbestuur sedert 1994 wentel om die priorisering van die lewering van basiese behoeftes en dienste aan Suid-Afrika se arm meerderheid, is die opkoms van nuwe maatskaplike bewegings op hierdie terrein ’n praktiese manifestering van die beslis voelbare uitwerking of gevolg van die ANC-staat se prestasie wat landsbestuur betref. Die bestaan en bedrywighede van die nuwe maatskaplike bewegings is nie net ’n regstreekse gevolg van die sosio-ekonomiese realiteite wat in die hedendaagse Suid-Afrika heers nie, maar verteenwoordig ook ’n meer algemene en positiewe bydrae tot die verbreding en verdieping van demokrasie.

Die feit dat die meeste maatskaplike bewegings tans buite die hoofstroom van Suid-Afrika se institusionele politieke raamwerk staan, dui daarop dat ’n toenemende aantal arm Suid-Afrikaners nie meer aktiewe deelname aan die huidige institusionele opset van verteenwoordigende demokrasie beskou as in hulle eie politieke en/of sosio-ekonomiese belang nie. Die bestaande staat, en die geïnstitusionaliseerde politiek en sosio-ekonomiese beleide daarvan, word toenemend beskou as ’n sentrale teiken van ’n klassestryd wat uit arm gemeenskappe voortkom. Die staat het in gebreke gebly om in te sien dat die “demokratiese” aard en inhoud van so ’n stryd nie bestuur, geskep en/of afgedwing kan word nie. Diegene wat hard probeer om nuwe kanale vir politieke uitdrukking, landsbestuur en verantwoordelikheid te skep en hulle te bevry van die kettings van die kapitalisme se demokrasie, sal dit regkry – en dit is presies wat nuwe maatskaplike bewegings besig is om te doen.

Aanbevelings

Die heropbloei van populêre grondvlakorganisasies gedurende die afgelope vyf jaar het die politieke landskap van Suid-Afrika ingrypend verander. As gevolg van die antagonisme tussen hierdie organisasies en die staat het Suid-Afrika verhoogde vlakke van konflik beleef met betrekking tot die lewering van basiese dienste. Ter wille van die minimering van die gevolge van hierdie konflik is dit nodig dat alle sektore en rolspelers daadwerklik strategieë nastreef wat demokrasie en sinvolle dialoog bevorder. Die onderskeie aanbevelings aan die einde van hierdie verslag wei oor enkele moontlikhede uit.


Aanbevelings


Die heropbloei van populêre grondvlakorganisasies – in die vorm van nuwe maatskaplike bewegings – sedert 1994 het die politieke landskap van Suid-Afrika en verhoudinge in die burgerlike samelewing ingrypend verander. Hoewel dit hoogs onwaarskynlik is dat die huidige konflik tussen die staat en die nuwe maatskaplike bewegings binnekort sal verdwyn, bestaan daar moontlikhede dat die terrein waarop die konflik voorkom, verander kan word ten einde groter ruimte te gee vir dialoog en konstruktiewe vorme van betrokkenheid tussen die antagoniste. In hierdie gees word die volgende aanbevelings gedoen:


Vir gemeenskapsorganisasies/maatskaplike bewegings:


 Ontwikkel programme vir die verspreiding van inligting met betrekking tot bestaande dialoogstrukture in gemeenskappe (bv. wykskomitees, gemeenskapsontwikkelingsforums en gemeenskapspolisiëringsforums). Dit behoort hand aan hand te gaan met die ontwikkeling van strategieë vir regstreekse deelname aan sulke strukture met die uitdruklike doel om hulle te demokratiseer en te bemagtig.


 Ontwikkel die vermoë van lede om kanale te skep vir deelname aan beleidsformulering op plaaslike, provinsiale en nasionale regeringsvlak. Tot op hede het gemeenskapsorganisasies eenvoudig nie probeer om op ’n gekoördineerde wyse ’n invloed op beleidsformulerings uit te oefen nie; hulle het eerder verkies om op wetgewing te reageer wanneer dit hulle daaglikse lewens begin raak.


 Brei bestaande (maar beperkte) inisiatiewe uit wat gemik is op die verbreding van die kennisbasis van aktiviste van die maatskaplike bewegings met betrekking tot binnelandse makro-ekonomiese beleid en internasionale politieke ekonomie (bv. werkwinkels in politieke opvoeding).


 Ten einde gewone lede van maatskaplike bewegingings te bemagtig moet daar begin word met leerervarings wat die vlakke van geletterdheid en basiese lewensvaardighede kan verhoog (bv. aandskole). Behalwe dat dit die vlakke van algemene opvoedkundige bevoegdheid sal verhoog, sal sulke programme ook spesifiek vroue bemagtig, wat die grootste deel van die ledetal van nuwe maatskaplike bewegings uitmaak en wat histories die meeste geraak word deur die erfenis van die apartheid-onderwysstelsel, patriargie en armoede.


 Inkomstegenererende projekte moet ontwikkel en/of uitgebrei word. Waar daar reeds sulke projekte is (bv. die vrouekonsortium se tuinbouprojek in Orange Farm), het hulle klaarblyklik gemeenskapsolidariteit bevorder en alternatiewe vorme van kollektiewe lewensonderhoud geartikuleer. Hoewel sulke projekte beperk word deur die mate waarin hulle alternatiewe bied vir staatshulp in die geval van sosio-ekonomiese behoeftigheid, kan die projekte by afwesigheid van sulke staatshulp ’n belangrike rol speel om te voorsien in basiese oorlewingsbehoeftes.


 Verdiep en verbreed bestaande strategieë om maatskaplike bewegings saam te bring en die ruimte te skep vir dialoog tussen maatskaplike bewegings op nasionale vlak (bv. die Social Movements Indaba-inisiatief). Dit sal nie net die ontwikkeling van beleidsalternatiewe vir die huidige makro-ekonomiese baan bevorder nie, maar sal ook solidariteit bevorder tussen gemeenskappe wat die negatiewe uitwerking van neoliberale herstrukturering ondervind.


 ’n Heroriëntering ten opsigte van die identifisering van en toegang tot staatsprogramme en –hulpbronne wat oënskynlik op die bevordering van gemeenskapsontwikkeling gemik is (bv. inisiatiewe/projekte van die Nasionale Ontwikkelingsagentskap), moet plaasvind. Tans is die meeste maatskaplike bewegings heeltemal afhanklik van finansiële hulp deur hulle lede en/of buitelandse befondsingsagentskappe, en hulle moet nog maniere ontwikkel om toegang tot hulpbronne van hulle eie regering te verkry.


Vir progressiewe organe van die burgerlike samelewing (bv. NRO’s):

 Oriënteer bestaande en nuwe projekte/programme van die burgerlike samelewing om te skakel met die werk en strewes van nuwe maatskaplike bewegings. Soos sake tans staan, bestaan die maatskaplike bewegings op die periferie van die NRO-sektor.

 Skep leerervarings waarby NRO’s en/of aktiviste van die burgerlike samelewing betrokke is, wat gemik is op die aanvulling van die bestaande kennis van die werk wat maatskaplike bewegings in arm gemeenskappe doen en die gepaardgaande sosio-ekonomiese stryd wat aangeknoop is (bv. werkwinkels, seminare, populêre boekies).

 Help maatskaplike bewegings met die ontwikkeling van vermoëbouprogramme met betrekking tot —

a) die kennis en toepassing van basiese grondwetlike regte en bestaande wetgewing wat ’n uitwerking het op die daaglikse lewe van gemeenskapslede en hulle sosio-ekonomiese strewes;

b) beskikbare strukture vir dialoog met die staat;

c) beleidsformulering op alle regeringsvlakke (maar spesifiek soos toegepas op die plaaslike/munisipale sfeer);

d) binnelandse makro-ekonomiese beleid en internasionale politieke ekonomie (bv. ekonomiese geletterdheid);

e) die instel en instandhouding van inkomstegenererende projekte/gemeenskapskoöperasies;

f) toegang tot staatshulpbronne wat vir ontwikkelingsprogramme bestem is;

g) prosesse en prosedures wat gevolg moet word wanneer klagtes ingedien word in omstandighede waarin die staat onregmatig opgetree het.


 Doen ’n oudit van die vordering wat die staat gemaak het om uitdrukking te gee aan burger- en politieke regte. ’n Voorbeeld hiervan sou wees om die doeltreffendheid van wetgewing soos die Wet op Reëling van Byeenkomste te toets wat die realisering van die grondwetlike reg op maatskaplike meningsverskil en politieke protes betref. As deel van so ’n oudit sal die doeltreffendste meganismes bepaal moet word om die bevindings aan die maatskaplike bewegings en ander belanghebbers bekend te maak.


 Stel ’n vennootskap van burgerlike samelewingsorganisasies in wat ’n waghondfunksie kan vervul met betrekking tot burger- en politieke regte. Dit sal die monitering van protes en konflik behels ten einde te verseker dat die regte van alle betrokkenes gerespekteer en gehandhaaf word. Prakties gesproke sal oorweging geskenk moet word aan die opleiding en ontplooiing van “waarnemers” in konflikgebiede en vir bepaalde gebeurtenisse. Daarbenewens moet die vennootskap ook strategieë ontwikkel vir die verspreiding van inligting oor sosio-ekonomiese konflik en burger-/politieke regte.

 Praktiese hulp moet aan maatskaplike bewegings en, oor die algemeen, die burgerlike samelewing verleen word om netwerke te skep. So byvoorbeeld kan hulp verleen word met die instel van IKT-sentrums vir die gemeenskap, in samewerking met maatskaplike bewegings, om voorsiening te maak vir toegang tot vorme van goedkoop kommunikasie en inligtingsverspreiding.

 Die mediamoniteringstrategieë van die burgerlike samelewing moet uitgebrei word sodat dit dekking van die maatskaplike bewegings se strewes insluit. In hierdie opsig sal spesiale aandag gegee moet word aan die manier waarop die reproduksie van die marginalisering van maatskaplike bewegings se stryd bewerkstellig word deur die hoofstroommedia.

Vir die staat:

 Stel ’n kommissie van ondersoek in om die rol van die private sektor in munisipale/gemeenskapspolisiëring, en veral hulle betrokkenheid by grootskaalse kosteverhalingsbedrywighede en uitsettings, te ondersoek. ’n Voorbeeld is die groot rol wat Wozani Security (die sogenaamde Rooimiere) in die Johannesburgse metropolitaanse gebied speel. So ’n kommissie moet ook munisipale riglyne met betrekking tot die uitbesteding van sekuriteitsfunksies aan die private sektor ondersoek.

 Stel spesifieke opleidingsprogramme in vir die polisie en ander beamptes in die strafregstelsel (bv. landdroste, staatsaanklaers en pro Deo-regspraktisyns) om hulle vertroud te maak met wetgewing wat burger- en politieke regte reël – byvoorbeeld die Wet op Reëling van Byeenkomste

 Ontwikkel spesifieke protokolle vir munisipale amptenare wat betrokke is by die uitvoer van kosteverhalingsbedrywighede wat verband hou met die dra en gebruik van wapens, konflikoplossingsmeganismes en prosedures vir niegewelddadige strafoptrede.

 Integreer strategieë wat ten doel het om konflik wat om sosio-ekonomiese kwessies wentel, in sowel gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) en gemeenskapsontwikkelingsforums (GOF’s) te minimeer. ’n Voorbeeld is dat GPF’s riglyne ontwikkel om die polisie te help om protesoptrede waarby groot getalle mense uit die gemeenskap betrokke is, te bestuur.

 Oriënteer wykskomitees en ander strukture van die plaaslike regering en die gemeenskap met die oog op die insluiting van maatskaplike bewegings/gemeenskapsorganisasies op ’n wyse wat bestaande antagonisme en eksklusivistiese tendense minimeer.

 Die Menseregtekommissie moet ’n tweede rondte getuienissessies oor armoede hou wat wentel om die vraagstukke wat na vore gekom het regstreeks as gevolg van sosio-ekonomiese konflik tussen gemeenskappe en die staat. Dit sal getuienis insluit van gemeenskapsinwoners en aktiviste van maatskaplike bewegings, asook ’n evaluering van die invloed van kosteverhalingsbedrywighede wat deur die staat uitgevoer word, om die gevolge van armoede te vererger en die konflik te verhewig.

 Die nasionale regering moet ’n spitsberaad hou wat fokus op die sosio-ekonomiese krisis wat arm gemeenskappe tans beleef. So ’n spitsberaad sal die verbreding meebring van die huidige dialoog oor vraagstukke van sosio-ekonomiese belang en die nodige ruimte skep dat dit verby die eng grense kan beweeg wat tans die staat-gemeenskap-verhouding kenmerk.

Algemeen

Daar moet ’n nasionale konferensie gehou word oor die reg om te verskil waarby verteenwoordigers van die staat (van alle regeringsvlakke), vakbonde, NRO’s, maatskaplike bewegings/gemeenskapsorganisasies en die private sektor (in die besonder private sekuriteitsmaatskappye en diegene betrokke by dienslewering) betrek word. So ’n konferensie moet ontwerp word om geleenthede te skep waarin verskillende perspektiewe op demokratiese uitdrukking en meningsverskil uitgeruil kan word. Dit sal ook aandag moet gee aan die implikasies van die beoogde teenterreurwetgewing vir die status van burger- en politieke regte in Suid-Afrika en die streek en op die vasteland as geheel.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=482
Artikel nagegaan:
    -