blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Om weer van die vroegste Afrikaners te hoor: Nuwejaarsboodskap van die FAK-voorsitter 2006-01-16
Danie Goosen

* Filosoof en voorsitter van die FAK

 

         Tye van oorgang, soos die begin van ’n nuwe jaar, word dikwels in die mites, legendes en verhale van die mens ervaar as tye van belofte. Dan heers die verwagting dat die natuur herskep en ou kulturele patrone die verstolling van ou waarhede tot blote clichés en uitgediende slagspreuke deurbreek en afgeskud sal word. Die mite van die feniks wat uit die as verrys, is ’n nuwejaarswens.

         Afrikaners het hulleself tydens die apartheidsjare vasgedraai in ’n magdom verstikkende dinge waarmee die lewende psige (élan, drif, geesdrif) van ons as kultuurgemeenskap tot ’n benoude kleinheid ingeperk, en ons sin vir die oper ruimtes vermink is.

         Afrikaners het in die postapartheidsjare nie noodwendig uit die enger ruimtes van dié verlede getree nie. Talle van ons poog om op reaksionêre wyse lewe in die lewelose te blaas. Uitgediende fundamentalismes word in ’n nuwe gewaad as ewige waarheid opgedis.

         Ander Afrikaners, daarenteen, poog vandag om die heersende kodes te omhels en hulleself hierdeur met oorgawe te ontken. Die ironie is dat die selfontkenners, as die negatiewe spieëlbeeld van die fundamentaliste, binne die invloedsfeer van die ou en verbygegane wêreld vassteek. Om alles in jou vermoë te doen om tog net nie soos in die verlede te wees nie, beteken om dit op ’n vreemde wyse te herhaal.

         Vroeë Afrikaners was nie noodwendig altyd benoude fundamentaliste of verbete selfontkenners nie. Onder die vroegste Afrikaners was daar ook diegene wat die demokratiese gees kon omhels. Dit was dié Afrikaners wat met geedrif selfbevestigend kon wees en wat tegelyk die eie self binne ’n grootse wydte kon situeer. Die demokratiese Afrikaners was dié Afrikaners wat ja kon sê vir die eie wêreld en wat tegelyk ook die feit kon bevestig dat die eie self deur wyer wêrelde deurkruis en daarvan afhanklik is.

         In ouer taal geformuleer: dit was dié Afrikaners wat republikeinse selfbevestiging aan ’n federatiewe interafhanklikheid kon knoop. Alhoewel Jan Smuts nie bekend is vir sy gebruik van woorde soos ‘republikeins’ en ‘federatief’ nie (en sy eie dade hul samehang soms weerspreek het), het hy miskien met sy holistiese denke die naaste daaraan gekom om genoemde twee dinge (selfbevestiging en interafhanklikheid) tegelyk te sê en te dink.

         Om name aan die vroegste Afrikaners te knoop, is waarskynlik ’n onbillike ding om te doen. Maar hulle was dikwels gewone mense, boere-ooms en -tannies, maar hulle was ook onderwysers, dominees, intellektuele, huisvroue, hansworse en prokureurs, romansiers en digters, skilders en musici, selfs hier en daar ’n politikus.


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=429
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -