|
||||
Hans Pienaar *Joernalis
Wanneer vandag se "war junkies" die stryd aanknoop teen die kannibale, is die verwagting dat eersgenoemde altyd sal wen. In hul videospeletjies, of wanneer hulle scenarios ontwikkel in militêre kolleges, is die kannibale gewoonlik primitiewe, trol-agtige kreature aan die ander kant van die kasteel se muur. Hulle dien vir die oefening van hand-oog-koördinasie, eerder as breinfunksies. Oorlog, en dus oorlogspeletjies, is nie meer wat dit was nie. Deesdae praat die geleerdes van "postmodernistiese" oorlogvoering, waarin oorlogspel per se natuurlik ’n paradigmatiese meganisme is. Die probleem ontstaan wanneer die pomo-soldate juis as gevolg van pomo-oorloë gekonfronteer word met die onverwagse: Werklike kannibale! En dat dit dan geensins ’n uitgemaakte saak is dat die pomo-soldate die oorhand sal kry nie. Postmodernistiese oorlogvoering was een van die konsepte gelug by ’n onlangse seminaar oor vredesmagte en die Afrika- en Europese bydraes daartoe. Dit was by die pas ingewyde Nederlandse ambassade in die gepaste Koningin Wilhelmina-rylaan in Pretoria. Fondsjagters in pakke klere soos Mister Smith in die pomo-rolprent, The Matrix, het geluister hoe die Europese Kommissie se ambassadeur, Lodewijk Biët, toevallig ook ’n Nederlander, ’n elementêr-Hollandse inleiding verskaf het. Dit was natuurlik in Engels, wat ’n hele falanks meestal negatiewe idiome met Hollandse verwysings het, soos "Dutch widows", "Dutch uncles" en "Dutch courage". Ander sprekers kon ook nie die versoeking weerstaan nie. ’n Mens kon nie help om te dink dat al die grappigheid ’n soort voorkomende aanslag was teen moontlike verwysing na vredesendings in Europa, en veral die Nederlandse bydrae daartoe te Srebrenica tydens die Bosniese oorlog in 1995 nie. Die Nederlandse kontingent is beskuldig van lafhartigheid deurdat hulle passief toegekyk het hoe Bosniese Serwiërs burgerlikes opruim vir een van die ergste gevalle van etniese suiwering kort daarna. Om moderne oorlogvoering van sy postmodernistiese eweknie te onderskei, kan ’n oefening in "double Dutch" word, veral omdat die twee naasmekaar bly bestaan. Trouens, pomo kan dalk net geïdentifiseer word deur Powerpoint-organogramme wat so kompleks raak en so inmekaar groei dat hulle lyk soos reuselelies in ’n Kongolese moeras. Dit raak effens makliker wanneer oubekende begrippe opduik: relativisme, virtualiteit, simulering, netwerk. En beeld is koning, en die koning is ’n strokiesfiguur op ’n anti-virus-pamflet (teen Vigs en in die kuberruimte). Professor Rob de Wijk van die vernaamklinkende Koninklike Nederlandse Oorlogsakademie het hierdie tema opgeneem: "Ons leef in ’n zero-ongevalle-kultuur en ’n postheroïese tyd. Die bevolking aanvaar nie meer die wreedhede van oorlog nie. Een verklaring is die impak van televisie. Die bestuur van televisiebeelde is nou deel van oorlogsbestuur. Gemeenskappe in geïndustrialiseerde liberale demokrasieë stel menslikheid voorop en beskou dit as die uitwerking van beskawing. As oorloë dan nou geveg moet word, moet dit betreklik bloedloos geskied." In Afganistan, het De Wijk verduidelik, is die Amerikaanse invallers se sukses gemeet – afgesien van hul vernietiging van die Taliban – aan ’n ongevallesyfer van 30. Net spesiale-operasie-magte het slaags geraak met die vyand, en ’n skrale 500 van hulle was stewels-op-die-grond ("boots-on-the-ground"). Selfs hierdie vegters se hoofwapen was ’n grondteikenlaserverklikker, gekoppel aan ’n skootrekenaar, om lugaanvalle mee te rig. Afrika speel tans ’n prominente rol in Europese oorlogscenarios omdat vredesmagsendings ’n kunsbeen geword het vir nuwe strategieë om op te staan. Omdat Afrika deel is van ’n Boog van Onstabiliteit soos in die VSA se Oorlog teen Terreur geïdentifiseer, word heelwat voorkomende, nievegtende oorlogvoering beoog vir die vasteland. En ipso facto, heelwat bestuur van televisiebeelde. ’n Mens sou dink dat enige Europese mag aangewese op beeldbestuur ’n oorweldigende voorsprong sou hê, eenvoudig omdat Europese TV, of dan gesimuleerde Yank-TV, soveel doeltreffender is as jou gewone propagandagedrewe Afrikaland s'n (kyk maar net na SABC TV). Die Nederlanders het Uganda byvoorbeeld per ongeluk ingeneem deur die toevalligheid van wat ’n mens "Dutch contracting" kan noem – die resultaat van programaankope elders in die wêreld gepaard met globalistiese oornames van maatskappye. Die bevolking kyk nou gretig na Hollandse sokker en Mister Bean-rolprente met Hollandse subtitels. Maar die Weste het nog altyd ’n Achilles-hiel, naamlik dat sy baanbrekende tegnologieë so maklik ingespan kan word deur gebruikers met anti-Westerse bedoelinge. Dis reeds die geval in die "nievegtende" oorlog in die Demokratiese Republiek van Kongo, waar die wêreld se grootste vredesmag ontplooi is onder sy Franse akroniem, Monuc. Op ’n onlangse besoek het ek in ’n Monuc-menasie beland, besig om tande te tel terwyl ek wag vir ’n afspraak. By die internetkafee in die grasdakboma waaronder soldate kan skuil teen die tropiese son is ek weggejaag deur ’n Indiese offisier. Ek het onwetend ’n sekuriteitsone betree. Maar toe begin ’n groepie Uruguayaanse soldate met die Indiër stry, met heelwat blikke na my. Ten spyte van ’n ooglopende taalprobleem en vele vertalings kon hulle hom oorreed om ’n monitor bedoel vir algemene gebruik, ook deur die Kongolese personeel, tot my beskikking te stel. Om die Uruguayers nie te beledig nie, het ek maar plaasgeneem en ’n e-pos of twee weggestuur. Een van hulle het agter die monitor langs myne gaan sit en aangemeld by wat soos sy persoonlike webwerf gelyk het. As gesoute joernalis het ek natuurlik skeeloog geloer, eers na foto’s van ’n strand met lieflike palms en ’n gloeiende sonsondergang oor die Tanganjikameer. Dinge het ’n bietjie ernstiger geraak met ’n reeks van sy makkers in verskillende stadia van dronkenskap en ontkleding en met etlike plaaslike vroue betrokke. Toe, sonder enige waarskuwing, het die gruwelikste foto’s begin opdoem, die een na die ander, dosyne en dosyne van hulle. Die soldate het hard probeer om my te ignoreer, maar kon hulleself nie keer om onderlangs na my te loer nie. Die foto’s was van Kongolese wat doodgemaak is en wie se liggame daarna opgesny is om elders verorber te word. Dit was baie duidelik nie net lukrake lykskendings met pangas nie. Ledemate is netjies en sekuur afgesny, en waar repe vlees uitgesny is, het die wonde die metodiese werkwyse van ’n slagter in 'n voorstedelike winkel vertoon. Ek kon nie anders as om die beendere wat uit die geslagte lyke gesteek het, te vergelyk met outydse spotprente van kannibale wat sendelinge gaarmaak nie. Dit het gaandeweg duidelik geword dat die foto’s verbode moes gewees het, en dat hulle dit skelm aan my, die joernalis, wou wys. Die Indiese diensoffisier het heel taktvol besluit om ’n draai te gaan loop. ’n Mens kan aanneem dat die digitale fotos wyd gesirkuleer is onder die Monuc-personeel. Elke tiende soldaat het ’n gesofistikeerde rekenaar in sy lugversorgde tent, dikwels om videospeletjies op te speel. Verhale van kannibalisme is volop. Elders het ek ’n dowwe foto gesien van ’n plaaslike leier getrou aan die vermoorde eerste DRK-president, Laurent-Desiré Kabila. Laasgenoemde se opdrag om die vyand op te eet, in hierdie geval rebellesoldate gesteun deur die naburige Rwanda, is op ’n nie-pomo wyse vertolk, dit wil sê letterlik. Op die foto was die leier besig om die vlees van ’n gebraaide gevangene te eet voor dié se broer. Daar was berigte oor ’n milisieleier wat rondloop met die gedroogde penisse van sy vyande in die sakke van sy militêre jas. Gevangenes word glo aangesê om op te tree as draers van pakke mensvleis, afkomstig van hul gesneuwelde makkers. Die meeste mense sal wil uitroep: "Barbarisme!" Maar, soos die skrywer Stephen Smith in sy boek Negrologie (Johannesburg: PRAAG, 2005) uitwys, was kannibalisme ’n goed gedokumenteerde verskynsel in Europese oorloë soos die Dertigjarige Oorlog. Eers toe oorlogvoering gemoderniseer is – en dit was maar redelik onlangs – is kannibalisme strafbaar gemaak met ’n verskyning voor die vuurpeloton. Wat kannibalisme in die DRK uniek maak, is dat dit 'n oorlogswapen geword het – en ’n hoëteg-een ook nog. Dit kan selfs in dieselfde klas geplaas word as selfmoordbomplanters wat Westerse vervoertegnologie gebruik om jumbo-vliegtuie in wolkekrabbers vas te vlieg. Uit die oogpunt van die DRK se veglustiges (“belligerents”, soos hulle amptelik bekend staan), kan die drasties onderbemande Monuc-kontingente nooit enige bedreiging wees nie, al word Monuc hoe doeltreffend met die jongste toptegnologiese toerusting bestuur. Maar Monuc kan ’n demper plaas op die paranoïese omstandighede wat nodig is vir die veglustiges om te floreer, en wat die bron van hulle legitimiteit onder die bevolking is. Monuc se mees formidabele komponent is die MilObs, of militêre waarnemers – ’n outonome kopieer-en-plak-sektor – waarvan die lede individueel deur Monuc van oor die hele wêreld gewerf word op grond van hul meerdere vernuf en opleiding. Hulle taak is om konflikareas in minimalistiese operasies binne te dring om die konflikte te monitor en met die leiers of woordvoerders van strydende partye te praat. In baie gevalle het die eenvoudige uitruil van inligting gelei tot die opklaring van die soort misverstande en gerugte waaruit die meeste konflikte in die DRK met sy amper algehele gebrek aan paaie en kommunikasie ontstaan. So doeltreffend was hulle dat die veglustiges al meer ekstreme metodes moes gebruik om die kookpot aan die prut te hou en aggressie sodoende te legitimeer. Soms val milisies gehuggies lukraak binne en vermoor ’n paar inwoners, in die wete dat Monuc nie sal terugslaan nie. Hul reken selfs daarop dat Monuc hulle sal laat begaan, omdat hulle goed op hoogte is van Monuc se staande bevele om "nievegtend" op te tree en hulle eerder te probeer oorreed om te demobiliseer. Een ding wat erger is as om mense dood te maak, is om hulle te eet. Allerlei komplekse gelowe in toordery en die gebruik van toorkuns en muti speel die gewone rol. Maar die "veglustiges" weet ook dat die idee alleen, met gedokumenteerde beelde wat dien as magsvermenigvuldigers (force multipliers) – nog ’n pomo-oorlogskonsep – die vet uit Monuc-soldate sal laat skrik. Halfkaal stamlede word daarom gereeld gerapporteer waar hulle soldate koggel wanneer dié in hoëtegvoertuie verbydreun – deur te maak of hulle aan hulle vingers knibbel. Wat hierdie wapen of boodskap so kragtig maak, is dat die beelde van kannibalisme onbeheerbaar is, juis weens hul ekstremiteit. Dié wat ek gesien het, het my maag laat draai. Ek moes my wend na "Dutch courage" in die vorm van ’n stywe Kaapse brandewyn en ’n postmoderne Coke. Ek het nie eens probeer om afdrukke te kry nie – geen redakteur sal so iets publiseer nie. Spin, daardie pomo-wapen wat so goed aangewend is deur die Anglo-Amerikaanse fabriseerders van wapens van massavernietiging kan nie op kannibale toegepas word nie. Hul kan alleen maar gesensor word, beperk word tot die argiewe van perversie of vrees. Sensuur verhoog natuurlik die waarde van sulke beelde. Die eindresultaat is ’n drasties en soms fataal gereduseerde moraal onder die soldate. De Wijk het by die seminaar verklaar dat sekuriteit in Europa bewerkstellig word deur "konstante inmenging (van lande) in mekaar se sake". Deursigtigheid op alle vlakke en universele toegang tot inligting en infrastruktuur verseker dat konflik nie maklik kan ontstaan onder Europa se steeds modernistiese magte nie. ’n Mens kan byvoeg dat manlike adrenalien gesublimeer word in die skadu-oorloë buite die vasteland se sokkervelde. In skrille kontras kan die DRK se veglustiges met die hulp van kannibalisme reusagtige spergebiede afpen, beide in die virtuele pomo-wêreld en die stoflike moderne wêreld waarna almal in die DRK streef. Op sy beurt brei dit die geheime Afrika-wêreld uit waar heelwat van sy ekonomiese en politieke bedrywighede plaasvind, soos ook aangeraak deur ander sprekers by die vredesmagseminaar. Die kannibale en die goud- en koltansmokkelaars, wat soms ononderskeibaar van mekaar is, en hul buitelandse middelmanne, sal groot dele van Afrika bly regeer. |