|
|||
Jacques Richard * Professor aan die Universiteit van Parys-Dauphine, skrywer van Système comptable français et normes IFRS, Parys: Dunod, 2005. ** Uit Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois Anders as wat dit lyk, is rekeningkunde by uitstek ’n politieke aangeleentheid, omdat dit die beeld wat ons van ’n onderneming en die breë samelewing het, weerspieël. Maar die Europese Unie het sy nuwe rekeningkundige norme, wat op alle genoteerde ondernemings betrekking het, in feite gesubkontrakteer aan ’n private internasionale organisasie onder Amerikaanse invloed. Die doel hiervan is om meer speelruimte aan aandeelhouers te gee.
Die afgelope tyd lok die rekenwese die belangstelling van ’n groeiende kring kenners van buite hierdie vakgebied. Hoewel Werner Sombart in 1916 reeds die belangrikheid daarvan onderstreep het (“Dit is ’n voorwaarde sine qua non vir die kapitalisme”(1)), het rekeningkunde, wat dikwels as bloot ’n stowwerige, oninteressante tegniek afgemaak is, die geslote terrein van beskeie, stywe boekhouers in hul afgesonderde hoekies gebly. Die Enron-skandaal het alles verander. Eensklaps besef die wêreld van ekonome die omvang van die kwaadaardige invloed wat hierdie dissipline op die fondamente van die kapitalistiese stelsel kan hê (2); dagblaaie stel intens belang in die aanneem van nuwe rekeningkundige norme; ons sien selfs ’n staatshoof die pen opneem om die gevaar uit te wys wat die Europese Unie hulle laat haas om sekere van hierdie norme te aanvaar (3)! Vreemd genoeg relegeer die skielike aura rondom die rekeningkunde die hoofspelers in hierdie “tragedie” tot feitlike stilswye: die rekenmeesters laat die verhoog aan die ekonome en die joernaliste oor. In breë trekke kan die oorheersende slagkreet, soos dié van amptelike instellings van die rekenwese, as volg opgesom word: die rekenmeesters het “gefouteer” met Enron, maar die nuwe rekeningkundige norme van die International Accounting Standard Board (IASB (4)) is daar om die probleme wat deur dié skandaal geskep is, op te los. Die tempel van die nuwe rekeningkundige wysheid wat die IASB daarstel, word des te aanskouliker en aantrekliker gemaak deur die welsprekende preke van sy hoëpriesters: wie kan in beginsel die noodsaaklikheid ontken van “goeie” beginsels, ’n skatting na “billike waarde” en “beter ekonomiese inligting”, in pas met die werklikhede van die moderne wêreld? Hierdie mooi woorde is egter ’n rookskerm. Deur te praat van ’n nuwe era in rekenwese danksy die inbring van boekhoubeginsels grens reeds aan manipulasie: ’n mens kan byvoorbeeld beswaarlik beweer dat die Amerikaanse rekenwese vóór Enron sonder beginsels was; die VSA was ’n dryfkrag en voorloper in die ontwikkeling van konseptuele raamwerke wat ’n belangrike plek gegee het aan basiese beginsels soos “historiese koste” (potensiële waardevermeerdering word nie opgeteken nie; verkope moet afgehandel wees voordat hulle aangedui mag word), en “omsigtigheid” (die potensiële waardevermindering van ’n bate word opgeteken sodra dit bekend is). Die probleem in die VSA is nie die afwesigheid van sulke beginsels nie, maar die feit dat hulle nie toegepas word nie, of “aangepas” word deur toegeeflike regulasies wat maatskappye se belange bevoordeel. Bowendien is die stelling dat ’n lys van beginsels voldoende is om “billike” boekhouding te verseker, ’n manier om stof in die oë te gooi. Soos die geskiedenis ons gewys het, het daar in Groot-Brittanje, die land wat hom beroem het op ’n rekeningkunde wat op die befaamde beginsel van ’n “getroue beeld” en elementêre reëls gegrond is, inteendeel ’n rekeningkundige praktyk hoogty gevier wat niks te make had met rekeningkundige “wetenskap” nie en wat uit en uit gemik was op die manipulering van resultate, onder die vaandel van die einste “getroue beeld”. So is sekere bates wat normaalweg afskryfbaar is, van aandelekapitaal afgetrek om die boekstawing van waardevermindering te vermy. In werklikheid, soos met enige regshandeling, moet goeie beginsels saamhang met presiese, toereikende regulasies. Om meer en meer beweegruimte aan aandeelhouers en bestuurders te gee, met boekhouding wat sogenaamd op “beginsels” gebaseer is, soos wat die IASB doen, voorspel niks goeds nie. Soos die gewilde gesegde lui, as jy ’n hond wil slaan, kry jy maklik ’n stok. Die aanklagte teen die “ou” rekeningkundige beginsels wat dan nie in staat sou wees om die risiko’s van moderne finansiële instrumente die hoof te bied nie, is ’n uitstekende voorbeeld hiervan. In die vorige eeu is die beginsel van historiese koste geassosieer met dié van omsigtigheid, waarvolgens ’n maatskappy rekening moes hou met alle moontlike waardeverminderings (waar bates se markwaarde laer is as hulle koste), en alle waarskynlike risiko’s. Vandag (maar vir hoe lank nog?) bepaal die Duitse en Franse handelsreg steeds dat tradisionele reëls in hooftrekke nagekom moet word. Hierdie historiese terugblik wys dat die eertydse rekeningkunde van historiese koste met alle risiko’s, in beginsel, rekening hou. Enige bewerings oor die tradisionele stelsel se “onvermoë” om nuwe finansiële risiko’s te weerspieël, is totaal ongegrond: die omsigtigheidsbeginsel, indien dit gerespekteer word, maak dit nie alleen moontlik om risiko’s in berekening te bring nie, maar maak dit as 't ware verpligtend deur die boekstawing van moontlike skulde wat verband hou met laste! Maar, sou ’n mens kon sê, waarom in die praktyk dan is die verliesrisiko’s in sekere spekulatiewe operasies in die meeste lande nie geboekstaaf nie? Bloot omdat maatskappye en hulle ouditeure (5) druk op die skeppers van rekeningkundige norme uitgeoefen het om ’n toenemende aantal elemente te laat deurglip in die toepassing van die tradisionele streng omsigtigheidsbeginsel; dit is waarom risiko’s geassosieer met termynaankope, wat spekulatief is, nie in berekening gebring is nie, onder die valse voorwendsel dat geen bedrag tydens die ondertekening van termynkontrakte bestee is nie! Wat in werklikheid die mooipraters van die nuwe “billike waarde”-beginsel dwars in die krop steek, is dat daar in die huidige rekeningkundige praktyk slegs moontlike verliese geboekstaaf word – en nie moontlike winste nie. Die fout met die historiesekostebeginsel is nie dat dit die doeltreffende weergawe van risiko’s in die wiele ry nie, maar dat dit te veel omsigtigheid verg: hierdie “goeie” beginsel, wat op so ’n pragmatiese wyse gepoog het om ondernemers se inherente optimisme te beteuel, is deels geneutraliseer, voordat sy finale lot beklink is, deur ’n uitkalwing wat dekades gelede begin het: nou moet dit ten alle koste die nek ingeslaan word om plek te maak vir “moderniteit”; baie is op die spel. Neem byvoorbeeld ’n aandeelhouermaatskappy: met aandele A wat met 100 op die beurs gedaal het en aandele B wat weer met 150 gestyg het; volgens die ou omsigtigheidsbeginsel, moet ’n verlies van 100 bereken word (potensiële winste word nie opgeteken nie) terwyl die nuwe beginsel van “billike waarde” ’n wins van 50 kan aandui. Dus meer wat uitgekeer kan word. Rekeningkundige praktyk staan dus op die vooraand van ’n rewolusie, indien die billikewaardebeginsel algemeen aanvaar en toegepas word. Dit sal nie die eerste keer wees nie. Sedert die middel van die 19de eeu was daar reeds twee rewolusies waarna ’n mens moet kyk om die aard en omvang van die jongste paradigmaskuif na waarde te kan skat. Rondom 1860 kry regsgeleerdes en bankiers wat na skuldeisers se belange omsien, dit reg om ’n rekeningkundige begrip af te dwing wat die beginsel van laagste koste of markwaarde streng op alle bates van toepassing maak: ’n mens kan dit beskou as die eerste fase van rekeningkundige kapitalisme. Maar hierdie konsep wek aandeelhouers se beskermers tot toorn, omdat dit onder meer “dramatiese” gevolge inhou vir bates wat geen (of ’n geringe) waardevermeerdering op enige mark het, en verhinder dat dividende by die aanvang van beleggings uitgekeer word: dit is hierdie beginsel wat bepaal dat navorsings- of ontwikkelingskoste (wat natuurlik geen aktiewe mark het nie), vinnig afgeskryf moet word. Na jare van hewige stryd en onder die druk van aandeelhouers sien ’n mens deur die loop van die 20ste eeu ’n nuwe konsep ontwikkel wat probeer keer dat die “reël van laagste koste of markwaarde” toegepas word op bates wat oor die langtermyn belê word: dié sal eerder gewaardeer word volgens hulle “afskrywingskoste”, met ander woorde, hul waardevermindering sal na gelang van hul bruikbare lewensduur bereken word, sonder om hulle markskommelinge in berekening te bring waar laasgenoemde laer is; danksy hierdie vernuwing kan gereelder dividende uitgekeer word, en boonop vanaf die begin van ’n beleggingsiklus: dit is rekeningkundige kapitalisme se tweede fase. In die voorafgaande voorbeeld sal die koste van navorsing en gespesialiseerde toerusting dus oor die hele duur van die beleggingsiklus versprei word, in plaas daarvan dat dit plotseling aan die begin van so ’n siklus afgeskryf word. Maar vandag, op ’n tydstip dat reuse samesmeltings aan die plaasvind is, met gevolglik enorme massas kapitaal wat vergoed moet word, waar bestuurspanne en aandeelhouers met toenemende haas en eise die toneel oorheers, is hierdie tweede fase uitgedien. Vandaar ’n drievoudige blink plan: daar moet gesorg word dat ’n toenemende hoeveelheid bates, hoofsaaklik ontasbaar en finansieel, glad nie geamortiseer word nie; daar moet toegelaat word dat potensiële winste geboekstaaf word; waardevermeerderings moet volgens hul “billike waarde” bereken word, met ander woorde volgens toekomstige waardevermeerdering wat deur eksterne waardeerders bereken word, gebaseer op hulle beraming van toekomstige verkope, sonder enige direkte verwysing na markwaarde. Dit is die derde fase van rekeningkundige kapitalisme, die fase van huidige skatting of die “aktuariële fase” (6). Die meeste tekste wat oor internasionale norme handel, wil hierdie vernuwings voorhou as verbeterings op die vorige stelsel se tekortkominge – “tekortkominge” wat geensins spruit uit ’n onvermoë om die risiko’s van kapitalistiese bestuur in ag te neem en met sy vertonings tred te hou nie, maar eerder uit ’n ongeskiktheid om bestuurslede en aandeelhouers se groeiende aptyt te bevredig. Om in sy doelwitte te slaag, moet die nuwe rekeningkundige kapitalisme korte mette maak met die oorblyfsels van die twee “voorvaderlike” boekhoubeginsels: dié van afgeskryfde koste en dié van omsigtigheid. Die beginsel van die stelselmatige afskrywing (of vermindering) van koste is reeds die nek ingeslaan in die geval van sekere ontasbare bates, soos goodwill of klandisiewaarde (die somtotaal van potensiële winste wat die maatskappy se verkoper van die koper verhaal) en handelsmerke, wat nou geag word ’n “onbepaalde” lewensduur te hê wat slegs by geleentheid van waarde verminder. Op makro-ekonomiese vlak verkry die kapitalisme só ’n hoër (fiktiewe) winsgewendheid, selfs al sou ’n mens die waardevermindering van enkele sukkelende groepe kon uitlig. Sover dit die omsigtigheidsbeginsel aangaan, figureer dit wel binne die nuwe Amerikaanse beginselraamwerke sowel as dié van die IASB, maar in ’n gedokterde vorm. Dit dui nie meer op die verpligting om potensiële verliese op te skryf en potensiële winste weg te laat nie, maar bloot op die reël dat “die oordeel van waardasies met ’n sekere mate van voorsorg gepaard moet gaan”; die weg is dus berei vir ’n onomsigtigheidsbeginsel! Die redes vir die verskyning van “billike waarde” blyk dus heelwat komplekser as wat die amptelike weergawe ons wil laat glo. Beteken dit noodwendig groter beheer oor bestuur en beter inligting aan aandeelhouers? Dit is gladnie so seker nie. In talle gevalle is die gedagte van billike waarde in werklikheid ’n “ekspertwaarde”, gebaseer op beramings van toekomstige verkope. Selfs waar objektiewe markwaardes gebruik mag word, gee dit aan besture groter vryheid in die uitkeer van dividende, aangesien hulle ruimskoots meevallers kan uitdeel bloot op die basis van winsverwagtinge! Dit is moeilik om te glo dat die kontrole oor bestuur hierdeur verskerp sal word. Wat aandeelhouers betref, kan ’n mens jou afvra wat beter rekeningkundige inligting mag beteken. Dit sal duidelik naïef wees om te dink dat verbetering teweeggebring sal word bloot deur die aandelepryse weer te gee: hoe kan die rekeningkundige herhaling van gegewens wat reeds op die Beurs bekend is, tot beter inligting lei? In werklikheid is die eintlike rede agter die paradigmaskuif ’n kwessie van dividende. Ligsinnig gestel, is huidige aandeelhouers en hul bestuurders nie geïnteresseerd in meer inligting nie, maar in meer geld oor die kort termyn, en dit is by hierdie eis dat die rekenwese ’n sleutelrol speel. Die inlywing in die rekeningkunde van die “billike huidige waarde” – ’n waarde wat vir twee eeue lank die onderwerp van debat was en deurgaans verwerp is – hou vir hulle drie fundamentele voordele in: dit regverdig potensiële waardevermeerderings wat op blote skatting berus; dit maak dit moontlik, deur die metode van huidige waardebepaling, om uitkeerbare winste oor die hele duur van die beleggingsiklus te versprei, terwyl hulle onder die vorige beginsels teruggehou is tot die einde van die siklus of van werklike verkope afhanklik was; dit skep die moontlikheid om totaal fiktiewe winste te toon indien die vereiste waardeverminderings “vergeet” word. Klandisiewaarde van 1000 euro wat vir ’n tydperk van 20 jaar verkry is, is dus aan die begin van die vorige eeu as 1000 euro se verliese tydens die eerste jare van die beleggingsiklus geboekstaaf, en aan die einde van dieselfde eeu as 50 euro se bestendige verliese; vandag sal dit tot die opskryf van verliese lei slegs indien die bestuur en ouditeure dit nodig ag in die lig van die (swak) toekomstige vertonings van die betrokke maatskappy. Dit kan selfs beteken dat dié belegging nooit in terme van verliese bereken word voordat daar ’n finale ineenstorting plaasvind nie! Verseker word “billikewaarde”-skattings in twyfel getrek, is dit op hierdie tydstip slegs op ’n beperkte aantal bates gemik, en kan dit soms betrekking hê op ’n sekere soort rekeningkunde wat nie direk vir die uitkering van winste dien nie; maar die saak duur voort, en as hierdie soort waardasie algemene praktyk word, sou ’n mens kon sê dat rekeningkundige kapitalisme sy finale fase bereik het! Sodanige evolusie is nie blote toeval nie en gebeur nie, soos wat die IASB te kenne wil gee, binne ’n eteriese wêreld wat beheer word deur ’n groepie neutrale beroepslui, gedrewe deur hul pligsgevoel om goed te doen ter wille van die algemene heil nie. Soos Bernard Collase beklemtoon (7), skuil daar agter die retoriek oor onafhanklikheid, bevoegdheid en neutraliteit ’n gans ander werklikheid. Die mooi ewewig van magte op trusteevlak is totaal misleidend; in der waarheid is dit die bestuurstyl van die aandelemark wat voorrang geniet. Tien uit die veertien direksielede van die IASB kom uit die Engelstalige wêreld; die lede uit ander lande is gewoonlik sorgvuldig gekies uit beroepslui wat by groot Engelstalige ouditeursfirmas gewerk het en op dieselfde golflengte is as die eerste tien. Hierdie soort organisasie neem gewoonlik nie kampvegters van die Duitse medebestuursmodel of vakbondverteenwoordigers in sy geledere op nie! Die IASB beroem hom daarop dat hy die algemene internasionale rekeningkundige stelsel wil bou deur ’n “samevoeging” van bestaande stelsels. In werklikheid wil hy dit feitlik geheel en al in lyn bring met die Amerikaanse model. Sy konsepsuele raamwerk is ’n replika van sy Amerikaanse eweknie: huidige waarde geniet voorrang. Toe die VSA besluit het om die beginsel van stelselmatige amortisering van klandisiewaarde te laat vaar, het die IASB inderhaas sy “ouboet” se voorbeeld gevolg. Hy het ook na Washington se pype gedans toe laasgenoemde “billike waarde” tot die nuwe wondermiddel verklaar het. Die IASB is ’n duur organisasie wat nie van veel nut is nie: dit sou ekonomies gesproke meer sin maak om sy norme met Amerikaanse norme te vervang. Maar dié liggaam speel ’n sielkundige “fasiliterings”-rol omdat dit sommiges help om die Amerikaanse pil te sluk deur hulleself te oortuig dat dit ’n internasionale pil is. Anders as wat mag voorkom, is die organisasie nie baie demokraties nie. Met sy outoritêre besluite het hy dit reggekry om hom Europese banke en versekeringsmaatskappye se gramskap op die hals te haal: totaal ongeesdriftig oor die Angel-Saksiese bestuurstyl, is hulle uiters besorgd oor die onbestendigheid van resultate wat hierdie “billike waarde” meebring. Dit is nog te vroeg om te weet of die Europese weerstand enige impak sal hê. In die geheel wek die prysgee van die waardes van omsigtigheid, tegeldemaking en stelselmatige amortisering van bates nie die verontwaardiging van industriële maatskappye en wetsinstansies van die Europese rekenwese, insluitend rekenmeesters nie. Die Europese Unie het sonder meer sy eie rekeningkundige beleid prysgegee en kant gekies met die IASB, ’n private organisme wat trou sweer (prakties, indien dan nie regtens nie) aan die Amerikaners. Hy kon ’n gemoderniseerde “kontinentale” weergawe voorgestel het van die tradisionele rekeningkunde, wat die “betrokke partye” se langtermynbelange op die hart sou dra as basis vir ’n toekomstige internasionale rekeningkunde. Maar hy het nie eens probeer nie. Sommige banke en versekeraars se stryd teen sekere aspekte van die IASB se norme is prysenswaardig, maar kom te laat om die fiasko te stuit, en die deur na ’n Texas-bestuurstyl staan nou wyd oop. Die nuwe rekeningkundige model is maar een uit ’n reeks beginsels wat spruit uit die “Enron”-filosofie. Dit is eerstens daarop gemik om die ophoping van kapitaal in die hand te werk deur weg te doen met die verpligting om sekere bates wat tydens samesmelting na vore kom, te amortiseer. So skep dit ook die moontlikheid om rykdom en winsgewendheid kunsmatig te verhoog, op beide ’n mikro- en makro-ekonomiese skaal. Buiten die vroeër en vrygewiger uitkering van dividende, moedig dit ook korttermynbestuur aan, omdat die gebruik van waardasietegnieke wat op die huidigewaarde-metode gebaseer is, nie bestuurders aanspoor om hulle in projekte met langtermyndoelwitte te begewe nie. Dit laat ons taamlik ver van die lofwaardige verklarings oor “volhoubare ontwikkeling”. Dit maak kontrole ook moeiliker en duurder. Aandeelhouers, ouditeure, rekenmeesters en finansiële bestuurders, verenig – op enkele uitsonderings na – in ’n heilige alliansie om hulle fundamentele belange te beskerm, en juig ongetwyfeld oor hierdie ontwikkeling wat die beskerming van skuldeisers en werknemers op die altaar lê. Ons is ver van die tyd, in 1861, toe die staatsaanklaer Dupin, ’n vurige voorstander van die omsigtigheidsbeginsel, gesê het: “Ons keer nie verwagtings uit nie, maar ecus!” Ná afloop van drie rewolusies is die rekeningkundige kapitalisme op pad om die klimaks te smaak, tensy ’n paar “pretbederwers” hulle stem laat hoor. Maar laasgenoemdes se taak word des te moeiliker gemaak deur die uiters magtige “paar”, bestaande uit die VSA en die IASB. Nie alleen sy politieke en finansiële basis, maar ook sy propaganda is vlytig opgeskerp: die herhaalde gebruik van sterk begrippe soos “billike waarde” of “ekonomiese inligting”, die stelselmatige en eensydige swartsmeerdery van “regs”-rekeningkunde (die opperste belediging) en die “verouderde bestuurstyl” van die “ou Europa”, grens aan ’n ideologiese opvyseling wat moeilik weerstaan kan word. Maar vir dié wat regtig wil, is dit steeds moontlik om, soos iemand wat ’n palimpses skrap, onder die eufemismes van kastige “beter inligting”, die gierige werklikheid van dividendemaaiery raak te sien! __________ (1) Der moderne Kapitalismus deel II, Dunckler & Humblot, Berlyn: 1969, p.118,1916. (2) Lees Aglietta en Rebérioux, Dérives du capitalisme financier, Parys: Albin Michel, 2004. Dominique Plihon, “ Rentabilité et risque dans le nouveau régime de croissance ”, Parys: Commissariat Général du Plan, 2002. Joseph E. Stiglitz, “ Quand le capitalisme perd la tête ”, Parys: Fayard ,2003. (3) Brief van Jacques Chirac aan Romano Prodi, gedateer 4 Julie 2003. (4) ’n Private organisasie wat in Londen gesetel is, en wat in 1973 gestig is deur ’n venoot in ’n groot Engelstalige ouditeursfirma om boekhouding op wêreldskaal te harmoniseer deur middel van norme wat aan state voorgelê is. Die VSA het dit nie aanvaar nie, hoewel hulle die inspirasie daaragter was. (5) Persone belas met die oudit van maatskappyrekeninge. (6) Jacques Richard, “ Fair value, le troisième stade du capitalisme comptable ? Le cas de la France ”, in Analyses et documents économiques n° 95 (pp. 75-81) en n° 96 (pp. 43-47), Cahiers du Centre Confédéral d’Etudes économiques et sociales de la CGT, 2004 ; “ The concept of fair value in French and German accounting regulations from 1673 to 1914 and its consequences for the interpretation of the stages of development of capitalist accounting ”, Critical Perspectives on Accounting, word uitgegee in 2005. (7) “De la résistible ascension de l’IASC/IASB”, Gérer et comprendre, n°75, Maart 2004, Parys, pp. 30-40.
|