| |||
Breyten Breytenbach *Digter
Hiermee publiseer Die Vrye Afrikaan met spesiale toestemming vier briewe van Breyten Breytenbach – waarvoor ons ook ons dank aan hom uitspreek. Die eerste is ’n inleiding gerig aan ons redakteur, waarin Breytenbach sy tweede brief kontekstualiseer, laasgenoemde synde ’n brief van steun wat hy op 24 Oktober gestuur het aan die studenteorganiseerders van die Afrikaanse taalpetisie met die oog op hulle steunvergadering dieselfde aan. Die derde en vierde briewe is aan die rektor van die US, prof. Chris Brink, in antwoord op ’n brief van Brink aan Breytenbach. Brink het het verkies om nie ons versoek tot publikasie van sy brief aan Breytenbach te publiseer nie, omdat hy dit as persoonlike kommunikasie beskou.
Beste Johann,
Gebruik asseblief meegaande volledig (dis ’n voorwaarde!), as inleiding aanvullend tot die brief aan die studente wat ek hiermee weer vir jou stuur. Jy mag dit publiseer - alhoewel dit oorspronklik nie met so ’n doel geskryf is nie. Ek versoek ook dat jy die daaropvolgende twee briewe van my gerig aan Rektor Chris Brink afdruk. Dit was in antwoord op ’n brief wat ek van hom ontvang het nog voor my brief aan die studente bekend gemaak is! Jy mag egter nie sy brief aan my publiseer nie tensy hy sy toestemming verleen. Ten spyte van die gekonkel (dat hy my brief in die hand gehad het voordat hy sy opmerkings daardie aand gaan maak het - en ek verwag niks beter van die Boere as dat hulle sal konkel en kronkel nie), dink ek tog dat hy goeie bedoelings gehad het en ’n versoek wou rig tot my sin vir groter regverdigheid. Buitendien, indien hy dit as private korrespondensie beskou wil ek nie sy vertroue skend nie.
Ek is te ver en het te min kontak om te kan oordeel tot hoe ’n mate die weerstand teen arbitrêre besluite wat Afrikaans van die wal in die sloot wil help impak het. Wat egter opval, te midde van ’n stroom reaksies en van Kombuiserige clownagtige gepoep (en van dawerende stiltes: wat sê die ander Brink en Krog en Du Preez?), is die blatante rassistiese haatspraak van die Minister van Kultuur, Pallo Jordan, en die hardnekkige en aanhoudende verdagmakery van Fanie Cloete. Ek verwag in dié geval ook niks méér van Jordan nie - onder die glans van 'intellektualisme' is hy eintlik maar net ’n straatbakleier; en Cloete bewys tot hoe ’n mate hy ’n outydse Afrikaanse lapelvreter is - die beste manier om te argumenteer is immers om verskuilde bedoelings aan jou opponent toe te skryf (liefs met ’n onsubtiele knieval en oogknip na gewaande gevoelens van rasse-meerderwaardigheid en na die sogenaamde nostalgie vir verlore voordele), en om sommer op 'wetenskaplike' manier die feite ook 'aan te pas'. Foeitog.
Vergun my dan om my posisie wéér uit te spel. My deelname aan hierdie debat beteken nie dat ek my skaar by die FAK (praat van nuwe wyn in ou sakke!) of dat ek my vereenselwig met die 'Afrikaner' se saak nie. Dit beteken ook geensins dat ek Stellenbosch of die US se saak wil steun nie - ek wurg aan beide die plek én die universiteit, want is hulle ooit minder verwaand en vals as vantevore? En siende ons nou op hierdie terrein is waar allerlei sake moedswillig verwar word: ek sou ook téén die toekenning van ’n eregraad aan Bram Fischer gewees het want ek dink dis beledigend om hom gelyk te wil stel aan van die boewe wat tot onlangs op soortgelyke manier vereer is. Wie het hulle die reg gegee? Tsjekov skryf in sy Notaboek dat die dooies geen skaamte ken nie, maar dat hulle allervreesliks stink. (Terloops, ek verneem dat van die vorige uitgevrete gauleiters, dié met die varkharsings, nou 'vere voel' vir die taal wat hulle so ywerig besmet het met hulle manipulasies en witsmeerdery. Nou is hulle almal 'pragmatiste', laat Gods water maar oor Gods Akker loop - is die koeël dan nie deur die kerk en die konsistorie en die koster én die koster se kosblik nie? Solank hulle net nie uit dieselfde beker nagmaalwyn hoef te suie as die moffies nie.) Nee, vir my is die stryd om lewensnoodsaaklike ruimtes wat dit moontlik sal maak vir Afrikaans om te groei as bemagtigingstaal. Die huidige owerhede, net soos hulle voorgangers (en hulle dra soortgelyke hanggatbroeke soos koejaweldiewe), en soos byna enige politieke elite, weet fakaal weinig van waaroor taal eintlik gaan. Vir hulle is taal die kleinste gemene deler van kommunikasie, oftewel van orders aangee in die naam van orde; vir moedertaalsprekers is taal ’n navorsingsmiddel van ontginning, bewussynsverruiming en bevraagtekening. Veral die bevraagtekening van politiek soos dit deur blink vetgatte bedryf word ('oud-stryders' en strukkelaars en kortbroeke inkluis). Met ander woorde: om Afrikaans in stand te hou as skeppende bastertaal is om weerstand te bied teen die onnosel-maak deur taalpolitiek van die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap.
Vandaar en aldus - en slegs daarom - my bydrae.
Groete,
Breyten
***
Beste Piet Le Roux,
Ek vra verskoning vir my vertraagde antwoord: ek was nogmaals op pad om op allerlei plekke te gaan praat onder meer oor die skeppende noodsaaklikheid vir diversiteit, en die onomstootlike feit dat die kleinmaak of inkrimping van ’n moedertaal (énige moedertaal) gewoon ’n misdaad teen die ervarings- en kenniserfenis van die mensdom is. Volgende week is ek in Beiroet om deel te neem aan gesprekke oor die kanse vir demokrasie in Afrika - en glo my, dit sal wéér eens te berde gebring word.
Ek hoop hierdie brief bereik jou betyds. Maak gerus daarvan gebruik na goeddunke. Dis egter nié bedoel vir publikasie nie.
Stellenbosch was nog al die jare uitnemend dom, selfvernaam en arrogant - gedienstig teenoor wie ook al aan bewind is, gatkruiperig by die baas of hy nou wit of swart is, en dit alles natuurlik aangebied onder die rein akademiese dekmantel van neutrale 'bestuur' en pragmatisme. Ook onder die vorige régime, soos by meeste totalitêre gemeenskappe, is tegnokratiese vaardigheid en bestuursvernuf voorgehou as 'modernisme' om die aandag af te lei van ’n gebrek aan politieke en etiese ruggraat. Of sommer net bloot gesonde verstand. Oor die jare het Stellenbosch sinoniem geword met Skelmbos: die vermoë om alkant toe te praat, die burgerlike deftigheid om jou opponent met geveinsde akademiese argumente om die bos te lei waar hy beter in die rug gesteek kan word, die skynheilige selftevredenheid om 'verlig' eerder as revolusionêr te wees. Mettertyd het dit die gesig van die geleerde Afrikaner geword. Watter effektiewe teenstand het die helderdenkendes van Helderberg teen Apartheid gebied? En nou lei dié wat aan die stuur van sake staan, en hulle agterhoede van diep gepynigde en mensvervreemde selfveragters, julle wéér met slap knieë die woestyn van lugspieëlings in.
Dit hoef nie vir altyd so te wees nie. Julle is van ’n generasie waar daar grondwetlik ruimte bestaan vir vry en waagmoedige denke én die optrede wat daaruit mag vloei.
Ek het slegs enkele opmerkings wat ek wil bydra.
1. Die uitdaging is om inhoud te gee aan die opwindende konstruk wat 'Suid-Afrika' genoem word. Met ander woorde om die wérklikheid te aanvaar dat vooruitgang en voortbestaan afhanklik is van die skeppende spanning tussen gedeelde waardes en gesamentlike skeppinge en oorkoepelende aanhorigheid enersyds (waarvoor so hard en so lank geveg is) - één nasiestaat gebou om begrippe van gelykheid en regverdigheid en wedersydse agting, en daarmee saam die rykdom aan diversiteit soos geskoei en uitgedruk in die land se tale en kulture en gelowe en streekseienskappe. Sonder daardie dialektiek is daar geen tekstuur meer nie, word julle almal verarm, is julle uiteindelik niks anders as afhanklikes van die eenpartystaat nie. En om dan met daardie werklikheid te loop!
2. Die uitbou van diversiteit gepaardgaande met die beoefening van bindende gedeelde waardes wat gevestig is op ’n strewe na vryheid en verantwoordelikheid: dit is die progressiewe neiging in die ingewikkelde en gemengde wêreld van vandag. Kyk maar waar julle wil en julle sal die voorbeelde sien. Gesentraliseerde magstrukture, eenvormigheid in die naam van meerderheidsregering of politieke korrektheid of selfs met vorige groepsmisdade as verskoning - dis muwwe en gevaarlik verouderde Stalinisme.
3. Afrikaans is geregtig daarop om voort te bestaan as tersiêre onderrigtaal en navorsingskanaal. Daarvoor is daar ten minste één universiteit nodig waar Afrikaans as voertaal gebruik word, en dié wat van daardie inrigting gebruik wil maak sal Afrikaans aanleer net soos julle nie kan verwag om julle studies in Afrikaans voort te sit aan Engelstalige universiteite nie.
4. Taal is nie net ’n kommunikasiemiddel soos die magsmanipuleerders dink nie; dis die skeppende vermoë om die wêreld te kan verstaan en omvorm, om vry weerstand te bied teen die tirannie van politiek. Sonder die moontlikheid van ’n gevorderde voortsetting van Afrikaans gaan die taal uitvrek - en daarmee saam kom dan nie net die verlies van julle leefwêreld nie, maar ook die verrykende bydrae tot ’n groter geheel.
5. Die sogenaamde T-opsie is ’n klug, dis Skelmbospraat vir "vet om die oë," dis ’n Tos-opsie. Dis, by wyse van spreke, die skaap wat opskuif in die bed om in die naam van gelykberegtiging lêplek te maak vir die olifant. En dan word daar nogal vir julle gesê dis sodat die olifant skaap kan leer praat en waardeer!
5. Hierdie noodsaaklike stryd het niks te doen met die omskrywing van ’n eng etniese of historiese identiteit, of die verskansing van vorige voordele nie. En dit het niks te doen met verstarring en die waansinnige wanbegrippe van 'suiwerheid' nie. Dit gaan eenvoudig oor die meervoudige reg van enige individu om so ver moontlik in sy eie taal te leef en te droom en te presteer, tot voordeel van almal.
6. Natuurlik bestaan julle nie in ’n lugleegte nie. Onder die vorige bedeling is julle voorgangers bevoordeel - hulle wat lekker geld gemaak het en nou nêrens te sien is nie, dankie. Kennis en vaardighede is verwerf en gesistematiseer. Dis Afrikaans se voorreg om, waar verlang, daardie vaardighede te deel met die ander inheemse tale. Vrygewigheid en ondernemingsgees behoort deel te wees van julle identiteit. Hoekom neem julle nie die voortou nie? Vryheid en bevraagtekening is mos in ieder geval aansteeklik. Dis wat ’n universiteit tog veronderstel is om te leer, of hoe? Afrikaans kan ’n vergestalting van weerstand teen die arbitrêre dom-maak van alles wees, ’n uitkringende skeppingsmedium, die manier waarop julle déél kan word van die groter nasionale gemeenskap.
7. Julle het die volste reg om te agiteer en te betoog vir die ordentlike, praktiese, pedagogies gefundeerde en internasionaal ondersteunde uitbou van Afrikaans as één van Afrika se inheemse tale, as beliggaming van ’n geskiedenis van vermenging en skepping, as manier om die wêreld te ervaar en te vertaal. Julle het niks om voor skaam te wees nie. Hulle wat voor julle tyd die taal gekaap het om in die naam daarvan ander te onderdruk en uit te buit, is misdadigers. Laat hulle aan die pen van die geskiedenis ry. Moenie dat enigiemand vir julle daarmee belydenisore van oorerflike skuld probeer aansit nie. Niks kan julle mondstil maak behalwe julle eie papbroekigheid nie.
Groete en sterkte!
Breyten Breytenbach
***
Beste Chris (natuurlik mag jy maar - en ek neem ook die vryheid)
’n Haastige en eerste reaksie. Ek weet nie hoe my brief by Die Burger beland het nie - en dis nogal ontstellend omdat ek spesifiek gevra het dat dit nié bedoel is vir publikasie nie.
Wat betref die twee persone: asseblief tog, dit gaan vir my nié om stellingname vir Piet téén Thando, of om die een bo die ander te verkies nie. Ek ken nie een van die twee nie, weet niks van hulle agtergronde nie. Ons moet ophou om verder te wil lees as wat daar staan en mense se denke sodoende verdag te maak. Dit gaan vir my geheel en al nie oor die eienaarskap van US nie! Trouens, ek sou uit my wit vel spring van vreugde as die plek 'oorgeneem' word deur swart mense wat Afrikaans praat. (Ai, dat Stellenbosch tog eendag mens en bruin kon word!) Wat sou wonderliker kon wees? US is ’n werktuig, en indien dit goed gebruik kan word deur mense wat vantevore die voorregte en uitdagings van hoër onderwys ontneem is, soveel te beter! Dit gaan vir my slegs en alleenlik oor die volgende simpele feite: Afrikaans is ’n lewendige en soepele onderdeel van die Suid-Afrikaanse taalgemeenskap, verrykend vir die land as ’n geheel; Afrikaans het baie bereik en bewys dat dit tot op die hoogste denktrappe ’n funksie kan hê (al is daardie ontwikkeling op skewe wyses bekom); ’n taal - énige taal - krimp en sterf uiteindelik indien daar nie ruimtes bestaan waarbinne dit hierdie funksies kan bly nastreef en ontwikkel nie; die T-opsie is die dood in die pot vir Afrikaans as onderrigtaal aan die universiteit (vir voor die hand liggende redes); dis nie te veel gevra dat één universiteit doelbewus Afrikaans se funksionaliteit in stand probeer hou en ontwikkel nie (vanselfsprekend nie eksklusief en in afsondering van die belange en die ontwikkeling van die groter landsgeheel nie); julle is besonder oneerlik in julle aanbieding van beleidsveranderinge wat taal betref - en, komende van Stellenbosch (ek sou selfs sê van die 'Afrikaner') verbaas dit my nie; daarom glo ek moet julle in die oopte gedryf word sodat al die implikasies blootgelê kan word, ook die langtermyn etiese implikasies, en julle nie toegelaat word om met burokratiese bokkesprongetjies en 'slim' prosedures die saak te bewimpel nie.
Ons ken mekaar nie. Verskoon my as ek hardhandig oorkom - die bedoeling is nié om ad hominem te kere te gaan nie.
Sterkte!
Breyten
***
Beste Chris,
Ek het nou weer jou brief gelees, en sien dat ek duidelik die eerste keer verkeerd gelees het. Dit maak egter nie wesentlik verskil aan wat ek wou sê nie. Thando, sê jy, wil doelbewus geen Afrikaans gebruik nie. Nouja, dan moet daar gewoon ’n ander uitkomste vir hom gevind word. Hy kan tog nie sy vooroordele, uit welke gronde ook, op die universiteit wil afdwing nie. Waarom sou ’n universiteit, of enige ander instelling, afgepers word deur dié wat die hardste geluide kan maak of oënskynlik die sterkste aanspraak het op historiese benadeling? (Ook Afrikaans moet eens en vir altyd ontkoppel word van dié wat dit as skietperd wil gebruik vir ander agendas.)
Ek het verder versuim om ver genoeg af te rol en te sien hoe my brief by Die Burger beland het. Mens behoort te weet dat as jy iets vir Hermann stuur, dan stel jy weer jou vertroue in ’n Stellenboscher... Tja.
En ek het vlugtig gekyk na die opmerkings wat jy sou gaan maak by die vergadering. Al die regte sentimente is daar - tot en by die opgaan as kleiner taalgroep binne die groter gemeenskap. Dis egter net nie haalbaar nie - vra maar vir die Kataloniërs of die Finne of die Hebreërs. Met alle respek: ek het jare se ondervinding van die ANC (of soortgelyke 'nasionale bewegings') se 'inklusiwiteit'. Gewoonlik beteken dit die omhelsing van 'andersheid' om dit beter te kan versmoor. Onderliggend hieraan is dat ons skerper en van naderby moet kyk na die kreatiewe spanning tussen meerderheid en minderhede. ’n Spanningsveld is ’n aansporing tot vooruitgang, tot ’n bewuswording van prosesse, tot fyner definisies en ’n meer bewuste (be)skawing van mekaar. Taal behoort ’n onoplosbare te wees, en dis gesond so. ’n Meerderheid het ook nie ipso facto gelyk nie. Ek verwys jou na die grafitto: "Eet stront - ’n duisend vlieë kan nie verkeerd wees nie." Dit is ongelukkig eenvoudig so dat mens daardie ekstra myl sal moet stap om Afrikaans se oorlewingsmoontlikhede te beskerm. Dit sal nie 'vanself' gebeur nie. En, ter wille van die groter gemeenskaplike bate, moet dit gebeur selfs al eis geen ander taalgroep soortgelyke oplossings vir hulself op nie.
Groete,
Breyten
|