blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Uit Le Monde diplomatique: Ekofascisme of ekodemokrasie: Op weg na negatiewe groei 2005-11-16
Serge Latouche

* Emeritus professor in ekonomie aan die Universiteit van Orsay, groei-beswaarde.

** Uit Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois [email protected]

 

Op 14 September het die Amerikaanse Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Sentrum aangekondig dat September die warmste maand op die planeet was sedert wetenskaplik rekord gehou word van temperature (1880). Vyf dae later het die Internasionale Wetenskapsraad gewaarsku dat die wêreld meer dodelike natuurrampe as gevolg van toenemende aardverwarming gaan beleef. Die emissie van koolstofgasse, die besoedeling van die lug, die verbruik van niehernubare bronne en van water… Hoe kan deugsame siklusse van negatiewe groei wat maatskaplike geregtigheid waarborg en waarsonder die mensdom tot wanorde verdoem is, begin word?

 

Die bouprojek vir ’n outonome en “ekonome” samelewing geniet groot aanhang, selfs al marsjeer sy voorstanders onder verskillende baniere: negatiewe groei, teenproduktiwisme, herkwalifiseerde ontwikkeling, selfs volhoubare ontwikkeling. Die antiproduktiwistiese slagspreuk wat deur die Groenes uitgedink is, stem byvoorbeeld presies ooreen met wat die “groei-beswaardes” onder negatiewe groei verstaan (1).

’n Soortgelyke ooreenkoms is merkbaar in die stellinginname van Attac wat, in een van sy brosjures, pleit vir “ewolusie na ’n progressiewe, berekende afname in materiële groei, onder spesifieke maatskaplike voorwaardes, as eerste tree om negatiewe groei teweeg te bring in alle vorms van verwoestende plunderproduksie” (2).

Dit is duidelik nie net voorstanders van negatiewe groei wat so eensgesind is oor waardes wat tot ’n noodsaaklike “herevaluering”(3) moet bydra nie: ook sekere kampvegters vir volhoubare ontwikkeling of alternatiewe ontwikkeling maak soortgelyke uitsprake (4). Almal is dit eens dat die impak op die omgewing drasties verminder moet word, en die res sou hulle graag onbeskroomd skaar by wat John Stuart Mill in die middel van die 19de eeu geskryf het: “Alle menslike bedrywighede wat nie ’n onredelike verbruik van onvervangbare stowwe meebring, of wat nie die omgewing onomkeerbaar skaad nie, mag onbeperk ontwikkel. In besonder kan dié bedrywighede wat deur die meeste mense as die wenslikste en bevredigendste beskou word – opvoeding, kuns, religie, fundamentele navorsing, sport en menslike verhoudings – dus floreer.” (5)

’n Mens kan nog verder gaan. In wese, wie is gekant teen die bewaring van die planeet, die behoud van die omgewing, die beskerming van die fauna en flora? Wie is ten gunste van klimaatsontwrigting en die verwoesting van die osoonlaag? In ieder geval geen politieke leier nie. Daar is selfs maatskappydirekteurs, lede van topbestuur en ekonomiese besluitnemers wat ten gunste van ’n drastiese koersverandering is ten einde ons spesie van ’n ekologiese en maatskaplike krisis te red.

’n Mens sal dus noukeuriger moet vasstel wie die teenstanders van ’n politieke program vir negatiewe groei is, watter struikelblokke daar vir sy implementering is, en laastens, die politieke vorm wat ’n eko-versoenbare samelewing sal aanneem.

I Wie is die “vyande van die volk”?

Om ’n gesig aan die teenstander te gee, is netelig, aangesien ekonomiese liggame soos transnasionale maatskappye wat oor die beginsel van mag beskik, van wese uit nie in staat is om dit direk uit te oefen nie. Soos Susan Strange opmerk: “Sommige van die Staat se belangrikste verantwoordelikhede in ’n markekonomie (...) word vandag deur niemand behartig nie.”(6) Aan die een kant is “Big Brother” anoniem, aan die ander kant is die onderdane se diensbaarheid meer vrywillig as ooit tevore, die advertensies se manipulasie is oneindig verraderliker as dié van propaganda... Hoe, gesien die omstandighede, kan die megamasjien dan “polities” die stryd aangesê word?

Die tradisionele antwoord van ’n bepaalde verlinkse groepering lui so: een entiteit, by name “kapitalisme”, is die bron van alle struikelblokke en al ons onmag. Is negatiewe groei moontlik sonder om daaruit weg te breek? (7) In die antwoord moet alle dogmatisme vermy word, ten einde die gevaar te vermy om die struikelblokke mis te vat.

Die Wuppertal Instituut het hom daarvoor beywer om ’n aantal “wen-wen”-spelsituasies tussen natuur en kapitaal voor te stel, soos die Negawatt-scenario, wat daarop gemik is om energieverbruik met driekwart te verminder terwyl steeds in dieselfde behoeftes voorsien word. Belastings, standaarde, bonusse, aansporings, oordeelkundige subsidies, kan as aansporing dien vir prysenswaardige gedrag en sodoende grootskaalse vermorsing voorkom. Vergoedingstelsels vir geboue wat nie soseer op die koste van die bouwerk as op die energiedoeltreffendheid van die konstruksie berus nie, is met sukses in Duitsland beproef. Wat ’n hele verskeidenheid privaat besittings betref (fotostaatmasjiene, yskaste, motors, ens.), kan eiendom deur huur vervang word ten einde die koorsagtige gejaag na nuwe produksie te stuit en voortdurende herwinning in die hand te werk. Maar sal dit help om die “terugkaatseffek”, dit wil sê die groei wat die uiteinde van materiële verbruik is, teen te werk? Dit is glad nie ’n uitgemaakte saak nie.

´n Eko-versoenbare kapitalisme is teoreties denkbaar, maar onrealisties in die praktyk. Dit sou in der waarheid streng regulering verg, sy dit dan net om ’n vermindering van die omgewingsimpak af te dwing. Oorheers deur reuse transnasionale firmas wend die alomteenwoordige markekonomie hom nie sonder meer tot die “deugsame” weg van die eko-kapitalisme nie. Soos masjiene wat dividende uitpomp, gesigloos en funksioneel, skroom hulle nie voor rooftegnieke in die afwesigheid van beperkings nie. Selfs as voorstanders van selfregulering, kort die leiers die middele om dit af te dwing op free riders, dit wil sê die groot meerderheid, geobsedeer met korttermyn maksimisering van waarde vir die aandeelhouer. Indien ’n instansie oor hierdie reguleringsmag sou beskik (staat, volk, sindikaat, nieregeringsorganisasie, Verenigde Nasies, ens.), sou dit hom onomwonde mag gee en sou hy die maatskaplike spelreëls kon herskryf. Hy sou, anders gesê, die samelewing kon “herinstitueer”.

Gewis sou ’n mens kon voorstel en wens dat mag in ’n mate deur mag beperk word, soos in die era van Keynes-Fordisme en sosiaal-demokratiese regulering. Die klassestryd blyk (vir tyd en wyl?) buite werking te wees. Die probleem is dat kapitaal as oorwinnaar daaruit getree het, bykans met al die louere weggeloop het, en dat ons magteloos, selfs onbelangstellend, toegekyk het op die laaste dae van die Westerse arbeidersklas. Ons beleef nou die triomf van die “omni-kommodifisering” van die wêreld. Alomteenwoordige kapitalisme kan nie anders nie as om die planeet te vernietig, net soos wat dit die samelewing vernietig, aangesien die verbeeldingsgrondslag van die marksamelewing berus op oormaat en oorheersing sonder perke.

’n Samelewing van negatiewe groei kan dus nie voorgestel word sonder om uit kapitalisme weg te breek nie. Maar hierdie gerieflike stelling dui op ’n historiese evolusie wat allesbehalwe eenvoudig is ... Die eliminering van kapitaliste, verbod op die privaat besit van produksiegoedere, die afskaffing van die salarisverhouding of van geldeenhede, sal die samelewing in ’n chaos dompel met ’n gepaardgaande, grootskaalse terrorisme wat nogtans nie voldoende sal wees om die markbehepte verbeeldingsidioom te vernietig nie. Om te ontsnap uit ontwikkeling, die ekonomie en groei beteken dus nie om al die maatskaplike instellings wat deur die ekonomie geannekseer is (geldeenheid, markte, selfs die salariaat), prys te gee nie, maar om hulle te “her-plaas” binne ’n ander logika.

II Wat staan ons te doen? Hervorming of rewolusie?

Eenvoudige maatreëls, wat op die oog af onbeduidend mag lyk, kan ’n positiewe kringloop van negatiewe groei op tou sit (8). ’n Hervormingsgerigte oorgangsprogram wat in ’n paar punte saamgevat kan word, sou daaruit bestaan om “verstandige” gevolgtrekkings uit die voorafgaande diagnose te maak. Byvoorbeeld:

- deur ’n omgewingsimpak terug te vind wat gelykstaande aan of kleiner as ’n planeet is, met ander woorde ’n materiële produksie gelyk aan dié in die jare 1960-1970;

- deur vervoerkoste te internaliseer;

- deur bedrywighede te hervestig;

- deur kleinboerdery in ere te herstel;

- deur die “produksie” van verhoudingsgoedere te stimuleer;

- deur energievermorsing te kwarteer;

- deur advertensieuitgawes streng te penaliseer;

- deur ’n moratorium op tegnologiese innovering uit te roep, ’n ernstige bestekopname te doen en wetenskaplike en tegniese navorsing in tred met nuwe verwagtinge te heroriënteer.

Aan die kern van dié program lê die internalisering van “eksterne, teenekonomiese” verkwisting (skade veroorsaak deur die bedrywighede van ’n agent wat die koste daarvan op die gemeenskap afwentel), iets wat in beginsel in pas met ortodokse ekonomiese teorie is, en wat die geleidelike daarstelling van ’n samelewing van negatiewe groei moontlik sal maak. Die koste van enige ekologiese en maatskaplike disfunksie behoort deur die maatskappye wat dit veroorsaak het, gedra te word. Dink maar aan die impak wat die internalisering van vervoerkoste, onderwys, sekuriteit, werkloosheid, ens. op die werking van ons samelewings sou kon hê! Sulke “hervormingsgerigte” maatreëls – waarvan die liberale ekonoom Arthur Cecil Bigou reeds aan die begin van die 20ste eeu die beginsel geformuleer het! – sou ’n ware rewolusie kon ontketen.

Want maatskappye wat aan die kapitalistiese logika beantwoord, sal grootliks ontmoedig word. Ons weet reeds dat geen versekeringsmaatskappy bereid is om kern-, klimaats- en genetiese manipuleringsrisiko’s te dek nie. ’n Mens kan jou die verlammende uitwerking voorstel as hulle verplig sou word om gesondheidsrisiko, arbeidsrisiko (werkloosheid), of estetiese risiko te dra. Aanvanklik, met die aantal bedrywighede wat nie meer “winsgewend” sal wees nie, sal die stelsel tot stilstand kom. Maar is dit nie juis ’n bykomende bewys van die noodsaaklikheid om daaruit weg te breek, en terselfdertyd ’n moontlike brug na ’n alternatiewe samelewing nie?

’n Beleidsprogram vir negatiewe groei is dus in wese teenstrydig, want die kanse is maar skraal dat realistiese, redelike voorstelle geredelik in werking gestel of enduit gevoer sal kan word sonder ’n totale ontwrigting, gepaardgaande met die oprigting van ’n utopie: die totstandbrenging van ’n alternatiewe samelewing. Laasgenoemde behels op sy beurt weer eindeloos gedetailleerde maatreëls, juis dit wat Marx verseg het om te doen: ’n gebak-en-brouery in die kombuise van die toekoms. Neem byvoorbeeld die noodsaaklike afbreek van reuse maatskappye. Onmiddellik kom ’n mens voor ’n magdom vrae te staan: tot en met watter grootte? Gemeet aan omset, aan die aantal werknemers? Hoe moet tegniese makrostelsels behartig word met klein eenhede? Moet sekere soorte bedrywighede, sekere metodes van meet af aan uitgeskakel word? (9)

In alle gevalle sal tallose netelige oorgangsprobleme opduik. ’n Reusagtige her-omskeppingsprogram sou byvoorbeeld motorfabrieke kon omvorm in vervaardigers van mede-kragopwekkingstoerusting (10). Danksy sulke toerusting is talle Duitse huise reeds skoon vervaardigers van elektrisiteit in plaas van verbruikers. Dus, wat kortkom is nie oplossings nie, maar die omstandighede om hulle te kan aanwend.

III Wêrelddiktatuur of plaaslike demokrasie?

Groei is noodsaaklik vir ’n verbruikersdemokrasie, want sonder die vooruitsig van massaverbruik sou die ongelykhede ondraaglik word (soos wat reeds aan die gebeur is as gevolg van die ekonomiese groeikrisis). Die neiging tot gelykmaking van omstandighede vorm die verbeeldingsgrondslag van moderne samelewings. Ongelykhede word slegs tydelik aanvaar, want toegang tot die besittings van gister se bevoorregtes word vandag en môre iets alledaags, en dit wat nog as luukse beskou word, sal vir almal toeganklik gemaak word.

Dit is waarom baie twyfel aan die vermoë van sogenaamde “demokratiese” samelewings om die nodige maatreëls te tref, en meen dat die hindernisse slegs oorbrug sal kan word onder ’n soort outoritêre ekokrasie: ekofascisme of ekototalitarisme. Sommige denkers uit die hoogste kringe van die Ryk dink ernstig daaraan ten einde die stelsel te red (11). In die aangesig van die bedreiging van hulle lewenstandaard, sou die Noordelike massas gereed wees om hulle oor te gee aan demagoë wat beloof om dit te beskerm in ruil vir hul vryheid, al is die prys wat betaal moet word, dan ook ’n verskerping van planetêre ongelykhede en, op die lange duur natuurlik, die uitwissing van ’n beduidende persentasie van die spesie (12).

Die heroplewing van die plaaslike bied in werklikheid ’n veel rustiger weg na negatiewe groei as wat ’n problematiese universele demokrasie kan doen. Die droom van ’n verenigde mensdom as voorwaarde vir die planeet se harmonieuse werking is dus maar een van die versameling skynbaar “goeie idees” wat deur die gebruiklike Westerse etnosentrisme opgedis word. Kultuurverskeidenheid is sonder twyfel die enigste weg na ’n vreedsame, maatskaplike handel (13).

Demokrasie kan waarskynlik net werk indien die polis (in die Griekse sin van “stad-staat”) klein is en vasgeanker staan in sy eie waardes (14). Alomteenwoordige demokrasie, volgens Takis Fotopoulos, veronderstel ’n “konfederasie van demoi”, met ander woorde klein homogene eenhede van om en by 30 000 inwoners. Met so ’n getal, meen hy, kan daar plaaslik in die meeste behoeftes voorsien word. “As ’n mens in ag neem hoe kolossaal hulle is, sal heelwat moderne stede waarskynlik in verskeie demoi opgedeel moet word.” (16)

So sal ons klein “buurtrepubliekies” by wyse van spreke hê, in afwagting op die streeksherbeplanning wat Alberto Magnaghi graag sou wou sien. Laasgenoemde veronderstel “’n komplekse, langdurige fase (vyftig na honderd jaar) van ‘opruiming’, waartydens geen nuwe beboubare gebiede meer geskep sal word nie en geen nuwe kommunikasieweë deur ongerepte gebiede en moeraslande geploeg sal word nie, maar waar daar eerder opgeruim en heropgebou sal word aan omgewing- en landelike stelsels wat deur menslike teenwoordigheid verwoes en besoedel is, ten einde ’n nuwe geografie te skep.” (17)

’n Utopie dus? Vir seker. Maar ’n plaaslike utopie is dalk realistieser as wat ’n mens sou dink, want dit is uit die konkrete lewenservaring van sy burgers wat sy verwagtinge en moontlikhede ontstaan. “Om jou in ’n plaaslike verkiesing beskikbaar te stel,” aldus Takis Fotopoulos, “skep die moontlikheid om die samelewing van onder af te begin verander, wat die enigste demokratiese strategie is – anders as staatsbemoeiingsmetodes (wat die samelewing van bo af wil verander deur staatsbeheer oor te neem) en sogenaamde “burgerlikesamelewing”-benaderings (wat glad nie beoog om die stelsel te verander nie).” (18)

Volgens ’n “pluriversalistiese” siening sou die verhoudings tussen die verskillende politieë binne die wêrelddorp gereguleer kon word deur ’n “demokrasie van kulture”. Ver verwyderd van ’n wêreldregering, sou dit ’n minimale arbitrasiemag skep tussen soewereine politieë met wyd uiteenlopende status. “Die alternatief wat ek graag sou wou voorstel [vir ’n wêreldregering],” verduidelik Raimon Panikkar, “is die biostreek, met ander woorde natuurlike streke waar troppe, plante, diere, water en mense ’n enkele, harmonieuse geheel vorm. [...] Ons moet ’n mite daarstel wat ’n universele republiek sal moontlik maak, sonder enige wêreldregering, -beheer of -polisie. Dit verg ’n ander soort verhouding tussen biostreke.” (19)

Hoe dit ook al sy, dit is “realistieser” om plaaslike “demokratiese” inisiatiewe te skep as ’n wêrelddemokrasie. As dit dan onmoontlik is om kapitaaloorheersing en ekonomiese magte met ’n frontaanval omver te werp, bly daar nog die moontlikheid om andersdenkend te word. Dit is dan ook die strategie van die Zapatiste en onderkommandant Marcos. Die herowering of herontdekking van die commons (kommunes, kommunale besit, kommunale ruimtes) en die selforganisering van die biostreek van die Chiapas sou, binne ’n ander konteks, ’n illustrasie kon wees van ’n alternatiewe plaaslikgerigte proses.

_________

 (1) Hiermee verwys ons na lede van die Netwerk van Groei-beswaardes vir Postontwikkeling: http://www.apres-developpement.org/accueil/index_en.php 

(2) Attac, Le Développement a-t-il un avenir ?, Parys: Mille et une nuits, 2004, pp. 205-206.

(3) Die eerste van die agt “herre”: herevaluering, herkonseptualisering, herstrukturering, hervestiging, herverspreiding, hervermindering, hergebruik, herwinning – onderling afhanklike doelwitte om ’n positiewe kringloop van rustige, gemeensame, volhoubare negatiewe groei aan die gang te sit (lees Le Monde diplomatique, “Pour une société de décroissance” en “Et la décroissance sauvera le sud”, November 2003 en November 2004 onderskeidelik.)

(4) Die selfbeperkende maatreëls wat die Dag Hammarskjöld-stigting reeds in 1975 voorgestaan het (onder die benaming “endogene en selfstandige ontwikkeling”), is dieselfde as dié wat deur kampvegters vir negatiewe groei voorgehou word: “Beperk vleisverbruik, hou brandstofverbruik laag, gebruik geboue op ’n meer ekonomiese wyse, vervaardig duursamer verbruikersgoedere, elimineer privaat voertuie, ens.” (aangehaal deur Camille Madelain, “ Brouillons pour l'avenir : contributions au débat sur les alternatives ”,  Les nouveaux Cahiers de l'IUED, n° 14, PUF, Parys-Genève 2003. p. 215).

(5) Principes d'économie politique, Dalloz, Parys, 1953, p. 297.

(6) Susan Strange, Chi governa l'économia mondiale ? Crisi dello stato e dispersione del potere, Bologna: Il Mulino, coll. “ Incontri ”, 1998.

(7) Dié debat is reeds gevoer in La Décroissance, Lyon, n°4, September 2004.

(8) En dít boonop sonder enige benadeling van ander maatreëls vir die openbare heil, soos belasting op finansiële transaksies of die daarstel van ’n maksimum salarisgrens.

(9) Illich was van mening dat sommige gereedskap “gemeensaam” of “vriendelik” is, terwyl ander dit nie is nie en ook nooit sou wees nie: lees Ivan Illich, La Convivialité, Parys: Seuil, 1973, p.51.

(10) Cf. Maurizio Pallante, Un futuro senza luce ?, Rome: Editori Riuniti, 2004.

(11) Hieroor word met die grootste erns ter wêreld gepraat in ’n semi-geheime vereniging van die planetêre elite, die Bilderberger-organisasie.

(12) Cf. William Stanton, The Rapid growth of Human Population 1750-2000, Histories, Consequences, Issues, Nation by Nation, Multi-Science Publishing, Brentwood, 2003.

(13) Kyk die laaste hoofstuk van Justice sans limites, Fayard, 2003.

(14) Takis Fotopoulos, Vers une démocratie générale. Une démocratie directe, économique, écologique et sociale, Seuil, 2001, p. 115.

(15) In antieke Griekeland is die natuurlike ruimte van die politiek die stad, wat op sy beurt uit buurte en dorpies bestaan.

(16) Ibid., p. 215.

(17) Alberto Magnaghi, Le projet local, Brussel: Mardaga, 2003, p.38.

(18) Op. cit., p.241.

(19) Raimon Pannikar, Politica e interculturalità, Città di Castello: L’Altrapagina, 1995, pp.22-23.

(20) Dit is in ieder geval hoe Gustavo Esteva dit ontleed in Celebration of Zapatismo, Multiversity and Citizens International, Penang, 2004.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=395
Artikel nagegaan:
    -