blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Unesco: ’n Verinneweerde laboratorium 2005-10-19
Jean-Michel Djian

*Joernalis en skrywer van La Politique culturelle, la fin d’un mythe, Parys: Gallimard, 2005.

 

            “Om vrede in die mense se geeste te bou”: dít is die stigtingswoorde van die Organisasie van die Verenigde Nasies vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur (UNESCO). Sy stigtingsakte is uitgebrei en aanvaar op 16 November 1945 tydens die Londen-konferensie, wat 44 lande betrek het wat “oorlog in sy wortel wou doodmaak”. Maar dit kom eers werklik tot stand op 4 November 1946 nadat 20 stigtingslande dit aanvaar het.

            Op 60 tel hierdie gespesialiseerde agentskap van die Verenigde Nasies (VN) 191 lidlande, maar die planeet is steeds ewe moorddadig. “Hierdie oorloë en hul sinistere prosessie van afgryslikhede kom neer op ’n mislukking vir UNESCO en die ganse mensdom” (1) kon sy direkteur-generaal van 1987 tot 1999, mnr. Federico Mayor verklaar. Sy opvolger, die Japannese diplomaat, Koïchiro Matsuura, skyn hierdie stelling van onmag te deel in der mate hy blyke van diskresie gee in wêreldarenas van onderwys en kultuur. Volgens sy kritici sou die organisasie oor die jare sodoende kom tot ’n blote burokratiese masjien wat daartoe gereduseer is om die heeldag lank tekste en verslae te meul in ’n konstante soeke na eenstemmigheid.

            UNESCO beskik oor beperkte middele. Vir die jaar 2005/2006 is sy begroting slegs 610 miljoen dollar. Bykomstig hiertoe is daar ’n buitebegrotingsfonds van 400 miljoen dollar verskaf deur state, ander organisasies van die VN en skenkers wat aan hom spesifieke projekte toevertrou. “Dit is twee keer minder as dié van die Universiteit van Toronto,” beklemtoon mnr. Pierre Sané, Adjunk-Direkteur-Generaal vir Maatskaplike en Geesteswetenskappe. In vergelyking hiermee beskik die VN-Kinderfonds (UNICEF) oor ’n begroting wat vier keer so groot is.

            Waarvoor word hierdie geld gebruik? Om die Paryse hoofkantoor van die organisasie en sy 53 kantore wêreldwyd aan die gang te hou, en om sy 2 000 werknemers afkomstig uit sowat 160 lande te besoldig asook die talle kundiges betrokke by die sowat 330 nieregeringsorganisasies erken deur UNESCO. In die meeste lande is daar nasionale kommissies soos voorsien deur die Stigtingsakte en saamgestel uit gekwalifiseerde persone. Hulle vervul ’n beslissende rol by die Algemene Konferensie, die liggaam bestaande uit al die lidlande.

            UNESCO bly ’n gerespekteerde liggaam. Dit is waarom die lande wat hom finansier poog om die maksimum voordeel daaruit te trek. Die onttrekking van die VSA in 1984 ná ’n groot politieke verskil oor die nuwe inligtings- en kommunikasiewêreldorde (kyk die artikel van Armand Mattelart op p.24) en toe in 1985 van die Verenigde Koninkryk en Singapoer het die status van die organisasie verminder. Londen se terugkeer in 1997, gevolg deur Washington in 2003, het nietemin nie die verwagte effek gehad nie: “UNESCO is nou bloot ’n politieke en juridiese laboratorium vir die evaluering van planetêre verhoudings op die terrein van die gees. Behalwe dat die denke weggebêre is; hy’s nie meer ’n voorwaarde vir optrede nie,” sê ’n voormalige hoë amptenaar van die organisasie. Die intellektuele droogloping van die instelling is des te ontmoedigender, sodat hy in sy talle publikasies altyd sorg dra om aan te dui dat “die opinies van die skrywers nie noodwendig dié van UNESCO is nie”.

            Die jare toe Edouard Glissant die Le Courrier de l’Unesco (2) geredigeer het, is nou iets van die verlede. “In 1982,” sê die Martiniquese skrywer, “het ek ’n maandblad geërf wat in weerwil van sy institusionele aard in alle vryheid ’n kritiese blik op die wêreld kon werp. Dít is wat hom gesaghebbend gemaak het.” Maar sedert die einde van die 1980’s het die intellektuele afstand geneem. Dit is asof die Val van die Berlynse Muur die doodsklok was van ’n era wat militante wetenskaplikes, kunstenaars en akademici ’n instelling na die beeld van die Koue Oorlog “gefabriseer” het: aggressief, oorredend, ideologies. Die verandering was opsigtelik toe Mnr. Lorca in 1988 en met grootskaalse kommunikasie die “wêrelddekade vir kulturele ontwikkeling” geloods het. Sonder die nodige middele, sonder werklike perspektiewe en sonder nuwe breinkrag het die dinamika gou verlore gegaan.

            Ofskoon die onderwys die sentrale afdeling van die organisasie is, het dieselfde hier gebeur. In 1948 het die stigterslede eenparig besluit om “die voorsiening van primêre onderwys wêreldwyd en universeel verpligtend te maak” as enigste uitdaging te aanvaar. Twee en veertig jaar later, in 1990, met die erkenning van die mislukking van hierdie onderneming, organiseer UNESCO in Jomtiem, Thailand, ’n wêreldkonferensie oor onderwys vir almal in ’n stadium toe die versnellende agteruitgang van die nasionale onderwysstelsels van die Suide al hoe duideliker geword het. Ten spyte van die gebrek aan dringendheid by die betrokke state om op hierdie alarm te reageer, gee UNESCO nie boedel oor nie. Hy reël in 2000 in Dakar, Senegal die Wêreldonderwysforum en pleit by die betrokke ministers om hulle programme van primêre onderwys vir almal deur te voer teen… 2015.

            Die mobilisering van soveel regeringswil staan in kontras met die wisselvalligheid van konkrete resultate: daar is nog steeds 104 miljoen ongeskoolde kinders ter wêreld, asook 861 miljoen ongeletterde volwassenes (3). “Wat dramaties is,” sê ’n voormalige Afrika minister van onderwys, “is dat die omvang van die probleme selfs die ondernemendstes inhibeer. UNESCO weeg nie polities en finansieel swaar genoeg om regerings hul strategieë te laat verander nie.” “En dan,” voeg mnr. Henri Lopes, voormalige adjunk-direkteur-generaal by, “beskik organisasies wat so operasioneel soos UNICEF of die Verenigde Nasies Ontwikkelingsprogram is oor hul eie middele en maak hulle nie meer van UNESCO gebruik om hulle onderwysprogramme in werking te stel nie. Hulle doen dit regstreeks en dit verswak UNESCO se gesag.”

            UNESCO is statutêr bemoei met “samelewingsvraagstukke”. In 1978 het hy ’n verklaring oor “ras en rassevooroordele” gepubliseer wat gewis bygedra het daartoe om die pseudo-wetenskaplike basis van rassisme te diskrediteer en te weerlê. Hy aanvaar eweneens in 1998 ’n “universele verklaring oor die menslike genoom en menseregte”. Ongelukkig bly hierdie tekste sonder enige juridiese afdwingbaarheid, aangesien die organisasie nie beskik oor die mag om hulle af te dwing nie. Sedert sy ontstaan het dit ook etlike “dekades” en “internasionale jare” (4) vermenigvuldig, wat veronderstel is om state en volkere die wêreldoor rondom onbetwisbare sake te mobiliseer. Maar die herhaling hiervan het tot hul banalisering en die vermindering van hul doeltreffendheid gelei.

            UNESCO het egter ’n onbetwisbare sukses behaal: die aanvaarding, in 1972, van die Konvensie vir die Beskerming van Wêreld-, Kulturele en Natuurlike Erfenis (5). Selfs al het die nodige begrotings nie altyd gevolg nie, het hierdie konvensie nasionale regerings – in die besonder Griekeland, Kambodja en Egipte – in staat gestel om vernietigende toeristiese uitbuiting van hul erfenisterreine onder bedwang te bring.

            UNESCO mag moontlik politieke gesag herwin as die Konvensie oor die Beskerming en Bevordering van die Verskeidenheid van Kulturele Uitinge vandeesmaand aanvaar word. So sal hy homself in die besonder handhaaf teenoor die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) in soverre die teks van die Konvensie die beginsel van nie-onderwerping aan ander verdrae onderteken deur die partye, instel. Die aanspraak op die uitsluiting van “kulturele uitings” van die bevoegdheid van die (WHO) sal reeds ’n betekenisvolle stap vorentoe wees.

            Die Direkteur van Kulturele Beleid, mev. Katerina Sténou, sê: “Die woord kultuur maak mense bang. Na dit maandelank opgekerf is, vergeet ons nou die betekenis van kuns en skepping. Maar ons moet polities veg om hierdie verskeidenheid saam te beskerm.” Hoe kan ’n mens nie saamstem nie? Selfs al moet “kulturele uitings” dan ook gedeeltelik as ’n nuwe juridiese gegewe verstaan word ten einde sigself in die aangesig van die vergrype van veralgemeende handelsware te verdedig. Wat in sigself nuut is.

 

_________

(1) Lees Ramón-Luis Acunã, “Pour une culture de paix”, Le Monde diplomatique, November 1999.

(2) Tot in 1988 is die Courrier in 36 tale vertaal. Hy is opgevolg deur Le Nouveau Courrier.

(3) Le Pari de l’égalité, Wêreldverslag oor die opvolging van onderwys vir almal (2003 – 2004), Parys: UNESCO, 2003.

(4) 2005 – 2015: Waterdekade; 2005 – 2014: Dekade vir onderwys volgens volhoubare ontwikkeling; 2003 -  2012: Dekade van geletterdheid; 2000 – 2010: Dekade vir ’n kultuur van niegeweld en vrede, ens. In 2005 geniet fisika die eer van ’n Internasionale Jaar.

(5) UNESCO hou die lys van wêrelderfenis sedert 1972. Dit berus op die Konvensie vir die Beskerming van Wêreld-, Kulturele en Natuurerfenis, soos bekragtig deur 160 lande. Terreine wat uitsonderlik is danksy hulle kulturele waarde, hulle natuurskoon of hulle ekologiese belang word daarop geplaas. Finansiële ondersteuning en bestuurshulp word verskaf aan die betrokke lande om hulle te help om die integriteit daarvan te handhaaf.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=388
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -