|
||||
Louis Esterhuizen Laat daar dan dinge wees wat die mens nie begryp nie, dinge waaraan hy hom sal wil meet maar geen berekening vind nie. Laat daar spieëls wees. En raaisels, laat hom bevraagd staan voor die wydgevlerkte geduld van ’n voël in die voue van die wind, want wat ontbreek kan nie getel word nie. Laat daarom die weg van ’n man by ’n vrou sonder rede wees, want wat baat dit hom – ’n ete van droë brood is immers beter as maaltye in ’n huis van twis. Ja, wat baat dit wanneer daar dinge is wat hy nie begryp nie, dinge wat afgemete lê in skale van afskeid en berou: ook dit kan nie getel word nie, want teen skemertyd loop hy wys dog droef. Laat daarom dinge bestaan wat die mens nie begryp nie, dinge soos die skramse spel van hande, die fluisterstem van liefde, want ja, ook dít vergaan sonder rede – En vergifnis, los maar vir hom tussen die flenters van sy refleksie hierdie oomblik so sonder vraag of verwyt en noem dit vreugde vir tyd en wyl |