|
|||
Mike Davis * Skrywer van, onder meer, The Monster at Our Door. The Global Threat of Avian Flu, New York: The New Press, 2005. ** Uit Frans vertaal deur Christel Cattin
Vanweë kritiek op sy rampspoedige hantering van die ramp wat deur die storm Katrina veroorsaak is, vermenigvuldig president George W. Bush verskonings en beloftes. “Dit is onmoontlik om Amerika sonder New Orleans voor te stel, het hy op 15 September verklaar. Ons gaan nie net herbou nie, ons gaan groter en beter herbou”. Die eerste begunstigdes van hierdie herbouingsprogram ten bedrae van 200 miljard dollar is die president se geliefde maatskappye wat, reeds versadig aan die dividende van Irak, hulleself gespesialiseer het in die kapitalisering van ’n ramp. Hulle gaan bevoordeel word deur die stad van sy swart en arm bevolking, wat na die moerasgebied weggeskuif word, te “reinig”, en ’n soort Disneyland van jazz te bou. Die storm wat New Orleans verwoes het, is die produk van ’n sterk atmosferiese steuring wat op 23 Augustus 200 km van die Bahamas af gebore is. Maar toe dit vier dae aanmekaar oor die Golf van Meksiko gewaai het, het die “tropiese storm Katrina” in ’n ware monster verander. Deur ’n groot hoeveelheid energie te absorbeer wat deur die abnormale warm water van die Golf opgegaar is – drie grade Celsius bokant die normale vlak vir Augustusmaand – het dit in ’n groot kategorie 5-orkaan verander met winde van 290 kilometer/uur, wat ’n reusagtige stormgolf met ’n hoogte van 10 meter ontketen het. Die hoeveelheid hitte wat deur Katrina geabsorbeer is, was so groot dat “die watertemperatuur in sekere areas van die Golf drasties verlaag het na haar verbytog, en van 30 na 26 grade gedaal het (1)”. Weerkundiges erken met afgryse dat hulle baie selde so ’n kragopbou by ’n Karibbiese orkaan gesien het, en die vraag of die plofbare groei van Katrina ’n aanduiding is van die uitwerking van planetêre klimaatverhitting op die intensiteit van siklone ontlok ’n groot debat onder navorsers. Op dieselfde oomblik toe die kuslyn op die oggend van Maandag 29 Augustus by Plaquemines in Louisiana, in die Mississippi-delta getref is, het Katrina na ’n kategorie 4 gedaal (winde van 210 tot 249 km/h). Dit was maar ’n skrale troos vir die inwoners van oliehawens, van dorpe en Cajun-vissersdorpies wat hulleself ongelukkig op haar pad bevind het. By Plaquemines en al langs Mississippi en Alabama se kuslyn het Katrina se meedoënlose woede hom op die moerasse uitgewoed en ’n spoor van verwoesting agtergelaat wat aan Hiroshima herinner het. Aanvanklik was New Orleans en sy 1,3 miljoen inwoners veronderstel om gespaar te bly, maar die orkaan se baan het na regs geswenk en die middelpunt het na 55 kilometer oos van die stad verskuif. Alhoewel Louisiana se hoofstad – wat onder seevlak geleë is en deur twee soutwatermere, Pontchartrain in die noorde en Borgne in die ooste omring word – van die sterkste winde gespaar gebly het, het dit voor die water se toorn geswig. Dit is vanaf hierdie twee mere dat die stormgolf wat deur die orkaan aangeblaas is, die dyke gebreek het wat berug is vir hulle ondoeltreffendheid – en laerliggend is as dié van die ryk woonbuurte – en wat veronderstel was om die hoofsaaklik swart woonbuurte oos van die stad asook die wit werkersklasbuurt van Saint Bernard langsaan te beskerm. In die afwesigheid van enige amptelike waarskuwing het die stygende watervlak ’n dodelike val geword vir honderde inwoners wat in hulle beddens verras is. Omstreeks twaalfuur die middag het ’n baie sterker dyk in die omgewing van 17de Straat se kanaal ook meegegee. Die vloed het sowel die toeristegebiede soos die Ou Kwartier en die Garden District as sommige van die deftigste hoërliggende woonbuurte soos Audubon Park gespaar. Maar oral elders het die vloedwaters dakhoogte bereik en hierdeur 150 000 wooneenhede beskadig of vernietig. Die stad het so die bynaam “Lake George” gekry, as ironiese eerbetoon aan die president wat gewys het dat hy ewemin in staat is om inwoners te hulp te snel as wat hy die bou van nuwe dyke kon verseker. Nadat hy voorgegee het dat “die storm nie gediskrimineer het nie”, het selfs mnr. George W. Bush oplaas erken: daar is geen aspek van die ramp wat nie deur klas- en rasse-ongelykhede gekenmerk is nie. Die orkaan het nie alleen die vals beloftes van die Minister van Binnelandse Veiligheid blootgelê, wat veronderstel was om alle Amerikaners te beskerm nie, maar ook die vernietigende gevolge aan die lig gebring van die wyse waarop die federale regering die groot metropole met ’n swart of Spaans-Amerikaanse meerderheid, en hulle onmisbare infrastrukture, in die steek gelaat het. Wat die ongelooflike onbevoegdheid van die federale Agenskap vir die Hantering van Noodsituasies (FEMA) betref, bring dit die absurditeit aan die lig van die gebruik om verantwoordelike poste ter openbare stabiliteit aan onbevoegde en politieke tussengangers toe te ken, wat verblind is deur hulle ideologiese vyandigheid jeens staatsingryping. Wanneer ’n mens dink aan die verstommende burokratiese traagheid wat deur die FEMA ontplooi is, kan ’n mens net die vlugheid bewonder waarmee Washington opgetree het om huidige salarisnorme op te hef, danksy die Davis-Bacon Act (2), en hiermee New Orleans se deure vir herkonstruksie en “veiligheid” oopgemaak het vir witboordjierowers van maatskappye soos Halliburton, die Shaw-groep en Blackwater Security, pas versadig aan die maklike winste aan die oewers van die Tigrus. Al is New Orleans se lyding grootliks aan die nalatigheid van die federale owerhede te wyte, moet die Staatsgoewerneur en die stad se munisipaliteit ook ’n deel van die verantwoordelikheid dra. Dit is die burgemeester (Demokraat) C. Ray Nagin – ’n ryk Afro-Amerikaanse ondernemer, bestuurder van ’n kabeltelevisiemaatskappy en wat in 2002 met 87% wit stemme verkies is (3) – wat in die laaste instansie verantwoordelik is vir die veiligheid van sy inwoners, waaronder ongeveer ’n kwart te arm of gestrem is om ’n voertuig te besit. Sy ongelooflike onbevoegdheid om die nodige hulpmiddels te mobiliseer wat nodig is vir die ontruiming van inwoners en hospitaalpasiënte – in weerwil van die gevaartekens wat aan die lig gebring is ten opsigte van die munisipaliteit se onvoorbereidheid tydens die bedreiging van orkaan Ivan in September 2004 – weerspieël meer as ’n eenvoudige persoonlike onbevoegdheid: dit verpersoonlik die egoïsme van die stad se elite-klasse – of hulle wit of swart is, is hulle heeltemal ongevoelig vir die lot van hulle arm medeburgers in vervalle woonbuurte en randstreke. Is dit ’n geval van ’n ramp wat voorspel kon word? Inderdaad, geen ander ramp in die geskiedenis van die Verenigde State is met so ’n graad van akkuraatheid verwag nie, in teenstelling met die misleidende verklarings van die Minister van Binnelandse Veiligheid, mnr. Michael Chertoff. Al is dit waar dat spesialiste verras is deur Katrina se uiters vinnige kragtoename, het hulle geen illusies gehad oor die gevolge van ’n groot orkaan nie. Sedert die skadelike ondervinding van orkaan Betsy – ’n kategorie 2-storm wat reeds in September 1965 groot dele van die stad se oostelike woonbuurte wat deur Katrina verwoes is, oorstroom het – is New Orleans se kwesbaarheid ten diepste bestudeer en die resultate van hierdie studies wyd gepubliseer. In 1998, na die gelukkig matige verbygang van orkaan George, is navorsingspogings verskerp, en ’n gevorderde rekenaarsimulering wat deur die Universiteit van Louisiana uitgevoer is, noem die “feitlik algehele vernietiging” van die stad deur ’n kategorie 4-sikloon afkomstig uit ’n suidwestelike rigting (4). New Orleans se dyke en skeidsmure is voorsien om weerstand te kan bied teen ’n orkaan met ’n maksimum sterkte van kategorie 3. Maar volgens hernieude simulerings wat in 2004 deur die Weermag se Ingenieurskorps uitgevoer is, is vasgestel dat selfs hierdie vlak van beskerming ’n illusie is. Die permanente erosie van die eilande langs die kus en die moerasgebiede van Louisiana se kuslyn (wat jaarliks tussen 60 en 100 vierkante kilometer kuslyn laat verdwyn) het tot gevolg dat die krag van stormgolwe verhoog word wanneer hulle New Orleans tref, terwyl die stad self, en die dyke daarmee saam, stadigaan sak. Selfs ’n kategorie 3-orkaan, as sy roete stadig genoeg is, kan die stad byna geheel en al oorstroom (5). Om die implikasie van hierdie voorspellings beter by politieke ampsdraers tuis te bring, het ander studies ’n noukeurige beraming van voorafgeskatte skade verskaf, vir geval ’n sikloon die stad direk sou tref. Al die rekenaarsimulasies het met dieselfde skrikwekkende syfers vorendag gekom: minstens 160 vierkante kilometer van die stad se oppervlak sou algeheel oorstroom wees, met tussen 80 000 en 100 000 sterfgevalle. In 2001, aan die hand van hierdie studies, het die FEMA aangekondig dat New Orleans se oorstroming een van die drie mees waarskynlike megarampe is wat binne die afsienbare toekoms op Amerikaanse bodem kan afspeel (die ander twee was ’n aardbewing in Kalifornië en ’n terroriste-aanval in Manhattan). In 2004, nadat weerkundiges ’n groot toename in sikloniese aktiwiteit aangekondig het, het die federale owerhede ’n gesofistikeerde simuleringstudie georganiseer, genaamd operasie “Orkaan Pam”, wat weereens bevestig het dat daar waarskynlik tienduisende slagoffers sou wees. In antwoord hierop het die Bush-administrasie die staat van Louisiana se dringende vereistes vir vloedvoorkomingsmaatreëls weggeskuif. Dit het ’n belangrike hernuwingsplan vir die moerasgebiede langs die kus, Project Coast 2050 – die afloop van navorsing en onderhandelinge wat ’n dekade lank geduur het – van die tafel gevee en het herhaaldelik die begroting vir die onderhoud en konstruksie van dyke besnoei en daardeur die indammingsinfrastrukture rondom die Pontchartrainmeer onvoltooid gelaat. Die Weermag se Ingenieurskorps was op sy beurt ook die slagoffers van begrotingsbesnoeiings wat in ’n groot mate ’n aanduiding van Washington se nuwe prioriteite is: belangrike belastingkortings vir rykes, finansiering van die oorlog in Irak en – ironies genoeg – verhoogde besteding rondom “binnelandse veiligheid”. Sonder om die onderliggende politieke regverdigings in ag te neem: New Orleans is hoofsaaklik ’n swart stad waarvan die kiesers gereeld die skaal na die Demokrate se kant swaai tydens verkiesings in Louisiana. Hoekom sal ’n administrasie wat so skaamteloos partydig is ’n geskenk aan sy teenstanders gee deur die toekenning van die 2,5 miljard dollar wat nodig is om ’n beskermingstelsel van kategorie 5 rondom New Orleans te bou (6)? Trouens, toe die hoof van die Ingenieurskorps, ’n voormalige Republikeinse kongreslid, in 2002 teen die onderdrukking van vloedbeskermingsprogramme in die begroting geprotesteer het, het mnr. Bush hom verplig om te bedank. Laat ons nietemin nie onregverdig wees nie : Washington het beduidende somme in Louisiana gespandeer ... Maar hoofsaaklik aan die konstruksie van infrastrukture wat hawemaatskappye se belange bevoordeel, en in verkiesingsdistrikte wat binne Republikeinse leierskap val (7). Selfvoldaan met sy begrotingsprestasies, het die Wit Huis ook onverantwoordelik teenoor die FEMA opgetree. Onder die direksie van mnr. James Lee Witt (wat op daardie stadium die rang van minister gehad het), was hierdie organisme een van die juwele van die Clinton-administrasie. Tydens die Mississippi-vloed in 1993 en die aardbewing in Los Angeles in 1994, is die doeltreffendheid van die organisasie van reddingspogings eenparig lof toegeswaai. Maar toe die Republikeine die FEMA se bestuur in 2001 oorneem, het hulle dit op aanmatigende wyse gedoen. Die nuwe hoof, mnr. Joe M. Allbaugh, mnr. Bush se voormalige veldtogdirekteur, het sorgvuldig verskeie van die belangrikste voorkomingsprogramme teen oorstromings en storms gesny. Nadat hy sy pos in 2003 verlaat het, het hy homself in ’n goed betaalde konsultant omskep in diens van firmas op soek na kontrakte in Irak (omdat sy idees ’n sekere doelgerigtheid openbaar, het hy pas opnuut sy verskyning in Louisiana gemaak waar hy sy talente as ingewyde ontplooi, tot voordeel van maatskappye wat ’n deel aan die sappige winste van herkonstruksie begeer). Sedert dit in 2003 as deel van die Departement van Binnelandse Veiligheid geïntegreer is (en sy ministeriële status verloor het), is volledige afdelings van die FEMA afgetakel en verlam. In 2004 het amptenare van die organisasie aan die Kongres geskryf om die “vervanging van bekwame bestuurders vir die voorkoming van rampe deur konkelaars wat politieke gunste geniet en beginners sonder ondervinding of diepgaande kennis (8)” te veroordeel. Mnr. Allbaugh se opvolger, mnr. Michael Brown, is ’n perfekte voorbeeld hiervan. Een week nadat die president hom geloof het, is hierdie Republikeinse prokureur wat ’n algehele leek in die voorkoming van rampe is en boonop sy curriculum vitae bekonkel het, afgedank. Onder sy bestuur is daar voortgegaan om die FEMA van sy polivalente bevoegdhede en begroting te stroop deur toe te gee aan die monomaniese doelwitte van die stryd teen terrorisme, en aan die oprigting van ’n Maginot-lyn teenoor die bedreiging van Al-Kaida. Op Sondag 28 Augustus, by wyse van ’n videokonferensie, het die Direkteur van die Nasionale Observatorium vir orkane in Miami, mnr. Max Mayfield, president Bush (met vakansie in Texas) en die amptenare van die Departement van Binnelandse Veiligheid gewaarsku dat Katrina op die punt staan om New Orleans te verwoes. Mnr. Brown was gereed: “Ons is heeltemal gereed om hierdie uitdaging die hoof te bied. Ons verwag hierdie tipe natuurlike ramp jare lank reeds.” In die voorafgaande maande het die Direkteur van die FEMA en die Minister van Binnelandse Veiligheid die meriete van die nuwe Nasionale Noodplan verkondig wat veronderstel was om ’n ongeëwenaarde koördinasie tussen die verskillende regeringsorganismes te waarborg in die geval van ’n ernstige ramp. Desnieteenstaande, toe die water New Orleans en sy woonbuurte begin oorstroom, het dit aan die lig gekom dat dit bykans onmoontlik was om enige verantwoordelike persoon per telefoon te bereik. Die noodspanne en munisipale amptenare het hulleself sonder enige funksionele kommunikasiestelsel bevind, sonder om die gebrek aan lewensbenodigdhede op te noem: proviand, drinkwater, sandsakke, brandstof, mobiele toilette, busse, bote en helikopters – wat die FEMA ter plaatse as voorkomingsmaatreëls moes mobiliseer. Mnr. Chertoff het nie minder nie as as 24 uur na die oorstroming gewag om dit as ’n “ramp van nasionale belang” te klassifiseer – ’n regtelike status wat noodsaaklik is om die algemene mobilisasie van federale hulpmiddels te verorden. Die oneindige traagheid waarmee die dinosourusbrein van die Departement van Binnelandse Veiligheid die omvang van die ramp geregistreer het, was fataal vir honderde inwoners van New Orleans wat bo-op hulle dakke of in ’n hospitaalbed aan die worstel was. Selfs op 2 September het mnr. Chertoff aan ’n verslae verslaggewer van die nasionale radiodiens verduidelik dat die beelde van chaos en wanhoop binne die Superdome wat wêreldwyd op televisie versprei is, slegs “anekdotiese gerugte” is ... Wat mnr. Brown betref, het hy hom hoofsaaklik tot die slagoffers gewend wat, volgens hom, daaraan skuldig was dat hulle “nie na ontruimingsinstruksies geluister het nie”, asof dit niks te make het met die afwesigheid van ’n voertuig of die moeisaamheid om Baton Rouge in ’n rolstoel te bereik nie. Simulasies het aangetoon dat minstens een-vyfde van die bevolking nie in staat sou wees om die stad op hulle eie te verlaat nie (9). Volgens die Minister van Verdediging, Donald Rumsfeld, het die Katrina-tragedie niks gemeen met Irak nie. Desnieteenstaande, sedert die begin van die ramp, het die afwesigheid van meer as ’n derde van die lede van die Nasionale Wag in Louisiana, asook ’n beduidende deel van hulle swaar toerusting, reddingsoperasies ernstig belemmer. Die munisipaliteit se nooddienste sou ook baie nuttig kon gewees het: die noodhoofkwartier was van die begin af buite werking, omdat daar geen diesel was om die noodkragopwekker te voed nie. Aangesien geen telefoon gewerk het nie, was die burgemeester en sy medewerkers twee dae lank van die buitewêreld afgesny. Hierdie ineenstorting van die munisipale bestuursmeganisme is des te verbysterender aangesien die munisipaliteit sedert 2002 18 miljoen dollar se federale subsidies bestee het aan opleiding om sy personeellede te bemagtig om hierdie tipe situasie te kan hanteer. In September 2004 is mnr. Nagin reeds ernstig gekritiseer vir sy passiwiteit teenoor die kategorie 3-orkaan Ivan (waarvan die roete die stad ter elfder ure eers vermy het): reeds op daardie tydstip was daar geen voorsiening gemaak vir die ontruiming van armes nie. Aan die hand van kritiek het die munisipaliteit 30 000 videokassette aan die arm woonbuurte verskaf (nooit versprei nie) waarvan die boodskap die volgende was: “Moenie wag vir die munisipaliteit se ingryping nie, moenie wag vir die staat se ingryping nie, moenie wag vir die Rooi Kruis se ingryping nie, (...) vertrek.” Die owerhede het egter nie busse of treine hiervoor verskaf nie, en die armes was dus veronderstel om die stad te voet te ontruim. Toe die higiëniese en sekuriteitsomstandighede binne die Superdome onhoudbaar geraak het, het honderde mense die stad te voet probeer verlaat deur die brug van die middestad na die wit woonbuurt van Gretna oor te steek, maar hulle is teruggedryf deur die paniekbevange munisipale polisie wat hul wapens bo-oor hulle koppe afgevuur het. ’n Deel van die inwoners wat aan die genade van die water oorgelaat is, het die ongelooflike nalatigheid van hulle munisipaliteit vertolk aan die hand van die diepliggende maatskaplike en rassefraktuur wat New Orleans kenmerk. Niemand het enige illusies oor die feit dat die plaaslike ekonomiese elite en hulle bondgenote by die munisipaliteit een droom het, en dit is om die armste inwoners uit te dryf nie, aangesien die hoë misdaadsyfers aan hulle toegeskryf word. Hier is sommige werkersklaswonings wat geruime tyd reeds deel is van die landskap, gesloop om plek te maak vir luukse geboue en ’n supermark. Elders kan inwoners van die werkersklasbuurte uitgesit word as hulle kinders die aandklokreël oortree. Die doel skyn te wees om New Orleans in ’n groot toeristepark te omskep en om die armes uit die toeriste se gesigsveld te verwyder deur hulle na die buitewyke uit te dryf, langs die moerasgebiede, na karavaanparke en strafgevangenisse. Sedertdien, vir sekere voorstanders van ’n witter en veiliger New Orleans, is Katrina ’n geskenk van bo. Dit is wat ’n Republikeinse leier van Louisiana aan swendelaars in Washington erken het: “Die werkersklasbuurte van New Orleans is uiteindelik opgeruim. Dit wat ons nie kon regkry nie, het God onder hande geneem.” Op soortgelyke wyse is die verlate strate en geruïneerde woonbuurte vir die burgemeester Nagin ’n seën : “Vir die eerste keer het ons stad ontslae geraak van dwelms en geweld, en dit is ons voorneme om dit so hou.” In der waarheid, sonder enige massiewe poging van plaaslike en federale owerhede om goedkoop behuising te verskaf aan tienduisende arm huurders wat tans in tydelike skuilings regoor die land toevlug gevind het, loop New Orleans die risiko om ’n soort etniese reiniging te ondergaan. Daar word reeds oor gepraat om sommige van die armste buurte, soos Lower Ninth Ward, wat onder seevlak geleë is, in opvanggebiede te omskep om die ryk buurte te beskerm. “Dit is iets wat sommige van die stad se armste inwoners sal verhinder om hulle ooit weer in hulle buurte te vestig”, onderstreep die Wall Street Journal (11). Burgemeester Nagin het reeds daarvoor gesorg om ’n ogie te hou oor die belange van die voorstanders van “gentrification” deur die benoeming van ’n spesiale Kommissie vir Herkonstruksie bestaande uit sestien lede: agt blankes en agt swartmense, terwyl 75% van die bevolking Afro-Amerikaans is. Wat die wit woonbuurte betref – basis van die sorgwekkende verkiesingsukses aan die begin van die 1990’s van die neo-nazi, David Duke, het hulle wel die voorneme om hulle saak te verdedig, en beoog die Republikeinse establishment van naburige Mississippi geensins om toe te laat dat die Demokrate van Louisiana se metropool die kollig steel nie. Te midde van al hierdie botsende belange kan ’n mens begin twyfel of die tradisionele swart buurte van New Orleans – die ware bakermat van die feestelike ingesteldheid van die stad en sy jazz-erfenis – ’n kans staan om hervestig te word. Wat die Bush-administrasie betref, hoop hulle om ’n uitweg te vind met ’n mengsel van kripto-sleutelagtigheid vir die begroting en ultrakonserwatiewe maatskaplike ingenieurswese. Ons weet dat die onmiddellike impak van Katrina ’n brutale afname in die president se gewildheid veroorsaak het – en ook van die Amerikaanse teenwoordigheid in Irak. Die Republikeinse heerskappy het vir ’n oomblik lank bedreig gelyk. Vir die eerste keer sedert die opstande in Los Angeles in 1992 het ou Demokratiese temas soos armoede, rasseongelykheid en staatsingryping openbare debatvoering oorheers, dermate dat die Wall Street Journal die Republikeine vermaan het om “weereens die intellektuele en politieke offensief op te neem” voordat progressiste soos senator Edward Kennedy die giere van die New Deal laat herlewe – waaronder die projek van ’n groot federale agentskap vir die voorkoming van oorstromings en die ekologiese heropwekking van die Golf van Meksiko (12). In sy soeke na ’n strategie om mnr. Bush uit sy Louisiaanse kleitrappery te help, het die uiters konserwatiewe Heritage Foundation sy aantal seminare vermenigvuldig met reaksionêre ideoloë, Republikeinse kongreslede en enkele teruggekeerde spoke aan die woord, soos mnr. Edwin Meese, voormalige Minister van Justisie onder Ronald Reagan. Op 15 September het die president die verlate maar verligte toneel van Jackson Square, ’n tradisionele plein in New Orleans, gekies om sy toespraak oor herkonstruksie te hou. Hy het stralend aan die tweemiljoen slagoffers van Katrina belowe dat die Wit Huis, in weerwil van die begrotingstekort, die grootste deel van die ramp se rekening sal betaal, by name 200 miljard dollar (iets wat hom nie daarvan weerhou om nuwe, massiewe belastingkortings vir die grootste fortuine voor te stel nie)! Daarna het hy ’n reeks hervormings aangekondig wat ’n geruime tyd reeds deur sy ultrakonserwatiewe basis aangevra word: ’n koeponstelsel vir opvoeding en vir behuising, die versterking van kerke se rol, rojale belastingverlagings vir die privaatsektor, die skepping van ’n “streeksone vir ekonomiese geleenthede”, en die opheffing van ’n reeks federale regulasies wat veral te make het met omgewingskontroles vir olieboordery. Vir diegene wat bekend is met die presidensiële diskoers het die Jackson Square-toespraak ’n bekoorlike klankie van hier-gaan-ons-weer: het ons nie reeds soortgelyke beloftes aan die oewers van die Eufraat gehoor nie? Volgens die wrede kommentaar van die redaksionele skrywer Paul Krugman, nadat hulle gefaal het om Irak in “’n laboratorium van neoliberalisme” te omskep, gaan die Wit Huis voortaan getraumatiseerde inwoners van Biloxi en van Ninth Ward as proefkonyne gebruik (13). Volgens die kongreslid Mike Pence, een van die organiseerders van die magtige Republican Study Group wat meegehelp het om president Bush se herkonstruksieprogram uit te bou, gaan die Republikeine ’n ware kapitalistiese utopie uit die ramp se rommel laat verrys: “Ons gaan die Golf se kuslyn in ’n magnetiese aantrekkingsveld vir vrye onderneming omskep. Dit is buite die kwessie dat ’n herboude New Orleans deur die openbare sektor oorheers gaan word (14).” Dit is nogal veelseggend dat die Ingenieurskorps van New Orleans deesdae onder bevel staan van dieselfde offisier wat verantwoordelik was vir toesighouding oor Openbare Werke in Irak (15). Dit maak min saak dat Lower Ninth Ward onder die water verdwyn het, die eienaars van die Ou Kwartier se kabaretsale vryf reeds hulle hande: die dag is nie ver nie dat die werkers van Halliburton, die huurlinge van Blackwater en die ingenieurs van Bechtel hul federale dollars in Bourbon Street gaan kom spandeer. Soos hulle in Cajun sê, en sonder twyfel ook in die Wit Huis: “Let the good times roll! ” _________ (1) Quirin Schiermeier, “The power of Katrina”, Nature, no.437, Londen, 8 September 2005. (2) Nota: Wetgewing wat dagteken vanaf die New Deal wat openbare bouterreine verplig om die plaaslike minimumsalaris te respekteer. Dit is reeds vir ’n geruime tyd die teiken van konserwatiewe Republikeine. (3) Al het Louisiana grootliks vir mnr. Bush gestem in 2004 (56,7 %), is New Orleans tradisioneel pro-Demokraties. (4) Studie uitgevoer deur Joseph Suhayda en beskryf in Richard Campanella, Time and Place in New Orleans: Past Geographies in the Present Day, Los Angeles: Gretna , 2002, p. 58. (5) Travis, op cit., p. 1657. (6) Alfred C. Naomi, van die Weermag se Ingenieurskorps, aangehaal deur Andrew Revkin en Christopher Drew, “Intricate Flood Protection Long a Focus of Dispute”, The New York Times, 1 September 2005. (7) Redakteursbrief, “Katrina’s Message on the Corps”, The New York Times, 13 September 2005. (8) Ken Silverstein, “Top FEMA Jobs: No Experience Required”, Los Angeles Times, 9 September 2005. (9) Tony Reichhardt, Erika Check en Emma Morris, “After the flood”, Nature, no.437, 8 September 2005. (10) Woorde van die kongreslid Richard Baker (Baton Rouge), aangehaal deur die Wall Street Journal, New York, 9 September 2005. (11) Jackie Calmes, Ann Carrns en Jeff Opdyke, “As Gulf Prepares to Rebuild, Tensions Mount Over Control”, Wall Street Journal, 15 September 2005. (12) Editorial, “Hurricane Bush”, Wall Street Journal, 15 September 2005. (13) “Not the New Deal”, The New York Times, 16 September 2005. (14) John Wilke en Brody Mullins, “After Katrina, Republicans Back a Sea of Conservative Ideas”, Wall Street Journal, 15 September 2005. (15) Redakteursbrief, “Mr Bush in New Orleans”, The New York Times, 16 September 2005. |