|
||||
Lawrie Schlemmer Deur Lawrie Schlemmer* * Politieke sosioloog en direkteur van die Helen Suzman-stigting Hoe sal die regering op meer intensiewe druk en vertoë vanuit Afrikanergeledere reageer? Alhoewel die regering baie dikwels aandui dat hy graag positief op goedgemotiveerde vertoë van belangegroepe sal reageer, kan hierdie vraag ongelukkig nie met enige sekerheid beantwoord word nie. Die finale antwoord sal slegs uit volgehoue wisselwerking tussen Afrikaners en die regering met die verloop van tyd uitkristalliseer. Die redes waarom my antwoord so ontoereikend moet wees, sluit die volgende oorwegings in: Redes vir onsekerheid: · Die ANC is al baie dikwels as ’n ‘breë kerk’ beskryf, of anders gestel ’n sinkretiese beweging waarbinne allerlei teenstrydige beginsels versoen kan word. Die ekonomiese beleid van die regering poog byvoorbeeld om ’n strenge markdissipline op makro-ekonomiese vlak met grootskaalse inmenging in die mark op ander ekonomiese terreine te versoen, en daar is baie ander voorbeelde. Met ander woorde, waar baie harde belange soos mag of materiële voordeel nie op die spel is nie, is die politieke bewind baie onvoorspelbaar. · Alhoewel die regering al tien jaar in die saal sit, het hy nog nie oor sy bestuursbeginsels besin nie. Die rede is eenvoudig dat sodanige beginsels uit gewone landsbestuur voortspruit, terwyl die ANC-regering nog nie hierdie ‘normale’ taak met volle erns opgeneem het nie. Die ANC is nog steeds besig met die selfopgelegde taak van maatskappy-omvorming of, soos hy dit noem, transformasie. Allesomvattende projekte van dié aard stel alle normale bestuurkeuses ondergeskik aan die groot doelwitte van herstrukturering. Dit wil nie sê dat die regering sy bestuurstaak ignoreer nie, maar dit word nie as sentraal tot sy roeping gesien nie en daarom is hy op hierdie terrein uiters wisselvallig. · Die Grondwet is miskien die fermste anker in ons openbare bestuur en behoort ’n bron van gerusstelling oor taal- en kultuurregte te wees. Die regering het egter al bewys dat waar die Grondwet nie die eise van die oomblik pas nie, daar verskeie maniere gevind kan word om die bepalings te neutraliseer of te vervaag. Die versekerings oor taalregte wat die Grondwet behoort te bied, het in die geval van die amptelike gebruik van ons elf amptelike tale eenvoudig weggesmelt, hoofsaaklik omdat die regering altyd agter die verskoning van ’n hulpbrontekort kan skuil. Daarom het dr. Van Zyl Slabbert en ander al na die ‘politieke koöptering van die Grondwet’ verwys. · Ideologie is dikwels ook ’n vaste basis vir die voorspelling van reaksies. Die huidige spanning binne die regering is egter voldoende bewys dat die regering nie deur enigeen van die meer bekende ideologiese raamwerke gelei word nie. Terwyl sosialiste aanvanklik groot hoop en vertroue in die ANC as ’n moderne demokraties-rewolusionêre beweging gevestig het, is die deurlopende spanning tussen linkse vennote en die regering tans baie tasbaar. Terwyl sakeleiers ná die aanvaarding van die GEAR-beleid hulle hoop op ’n markgerigte beleid gevestig het, wyk die regering van hierdie beginsel af waar dit hom enigsins pas.
Onvoorspelbaarheid beteken egter nie dat die taak onbegonne is nie. Daar is redes vir sowel optimisme as pessimisme, en daarom behoort Afrikaanse belangegroepe nie noodwendig mismoedig te raak nie. Die volgende is my redes vir versigtige optimisme:
Positiewe aanduidings:
1. Suid-Afrika word dikwels lof toegeswaai vir sy grootse demokratiese eksperiment in ’n voorheen diep verdeelde samelewing. Hoewel die internasionale reaksies altyd baie oppervlakkig is, baat ons beeld in die buiteland daarby. Die regering baat ook deurdat sodanige bewondering na sy kant toe oorspoel. Die top besluitnemers besef dit terdeë. Daar is miskien ook ’n bietjie ekstra bewondering waar die regering gesien word om sy vorige onderdrukkers, die Afrikaners, met respek en eerbied te behandel. 2. Tot dusver het die regering baie min van die vertoë wat aan hom gerig is summier van die hand gewys of kras verwerp. Dis gewoon nie sy styl nie, en daarom bestaan daar altyd die kans dat ’n saak wel gestel kan word. Daar moet net nooit die naïewe verwagting van duidelike positiewe uitkomste wees nie. 3. Die kabinet is deesdae aan baie felle kritiek van binne sy eie alliansie onderworpe. Vergeleke met die opposisiemetodes wat binne ANC-kringe gebruik word, is die groeperinge wat die saak vir Afrikaanse belange stel baie gematig en verantwoordelik. Dus kan daar gehoop word dat die kontras vir die Afrikanersaak by die regering simpatie sal wen. 4. Onlangse uitlatings deur die President en ander regeringspreekbuise gee minstens die indruk dat sommige mense binne die regering Afrikaners as beide patrioties en inheems beskou - ook ’n bron van moontlike simpatie. 5. Ofskoon die ANC met een van die grootste verkiesingsmeerderhede ter wêreld regeer, is daar duidelike tekens dat die stempersentasies in die twee afgelope verkiesings beduidend afgeneem het. Daar sal miskien ’n tyd aanbreek wanneer die regering baie doelgerig sy visier na wit kiesers toe sal moet draai om sy dominante meerderheid te beskerm. Die grootte van die meerderheid is vir die ANC ’n geweldige bron van trots en sekereheid. Beduidende wit steun sal eweseer ’n pluimpie vir die ANC wees.
Redes vir pessimisme
1. Ons het reeds gesien dat waar die ANC onder druk uit eie geledere kom, daar wal gegooi word met grype na populistiese simboliek. In hierdie dinamika word Afrikanerbelange maklik geïgnoreer. Afrikaners kan hulself moeilik as verdienstelike minderbevoordeeldes voorhou. 2. Hoewel ruim 50%-60% van die ANC se steun matig simpatiek teenoor die Afrikanertaal en kultuurstrewe is, bly daar ’n meer verpolitiseerde minderheid van aktiviste wat die meeste raas en volgens wie die lewenspeil en geleenthede van Afrikaners daadwerklik afgeskaal behoort te word. Die regering kan dit net nie bekostig om hierdie drukgroepe te ignoreer nie. 3. Amptenare verkeer ook onder geweldige druk om met beperkte hulpbronne dienste van alle soorte te lewer en te verbeter. Hulle word dus deurlopend in die versoeking gestel om fasiliteite van die wit middelklas hiervoor te buit, veral skole wat nie vol is nie, behuisingsgrond, plase natuurlik en ook ander openbare fasiliteite en dienste soos bv. mediese skemas. Dit is feitlik onmoontlik om hierdie rustelose soeke te keer. 4. Die bemagtigingsveldtogte in die sakewêreld is ’n besondere suksesmodel in transformasie. Die beginsel is eenvoudig: vind ’n suksesvolle aktiwiteit of instelling wat deur wittes gedryf word en kaap dit ter voordeel van minderbevoorregtes. Suksesmodelle word nie maklik as gevolg van enige gesprek laat vaar nie. 5. Die belangegroepe wat die meeste publisiteit kry vir liefdadigheid onder die swart armes is die groot en toenemend Engelstalige sakeondernemings en hoër middelklas Engelssprekendes. Hoewel baie reeds onder Afrikaners in dié verband gebeur, word Afrikaners nie genoeg gesien as mense wat hulle oor die omstandighede van die armer klasse ontferm nie. 6. Maghebbers in jong demokrasieë is baie dikwels geneig om na minderhede en etniese belange te vry met die belofte van spesiale beskerming, terwyl die motiewe eintlik daarop gemik is om die groepe te koöpteer en om hulle teen die gevaarlikste opposisiepartye te draai. Klink dit nie effens soos die ANC/NNP-verhaal nie? Indien daar gekoöpteer word, moet die prys hoog en duursaam wees.
Breed gesien, sal politieke minderhede in SA egter nooit seker van hul sekuriteit en aanspraak op regte kan wees voordat ons demokrasie ‘ryper’ geword het nie. In die wêreld is daar basies drie soorte demokrasieë: ‘verteenwoordigende’ demokrasie wat baie maklik tot ’n meerderheidsbestel omvorm kan word; federaal-konsosiatiewe demokrasieë waarin mag verdeel en versprei word; en derdens pluralistiese stelsels waarbinne daar soveel formele en informele remmings op mag is (‘checks and balances’) dat minderhede altyd alleen of saam met ander belangegroepe beskerm word. Die grootste verskille tussen model 1 en model 3 lê nie in die formele Grondwet nie, maar in die politieke kultuur en die krag van die onafhanklike burgerlike drukgroepe wat politici makmaak. Ons moes eintlik met groter ywer ’n federale model nagestreef het, maar daardie moontlikheid was al voor 1994 neusie verby. Daarom moet ons deur die verstewiging van onafhanklike burgerlike aksies die grondslag vir ’n pluralistiese bestel begin uitbou. Dit het elders in die verlede eeue geneem, maar hopelik kan dit hier by ons binne drie, vier of vyf dekades bereik word. Intussen sal die regte en lewensruimte van minderhede in die gedrang bly. Daarom behoort enige belangegroep wat homself nie by die regering wil of kan skaar nie sy demokratiese spiere te begin ontwikkel in die burgerlike samelewing. Dit is veral belangrik dat enige vertoë aan die regering soveel moontlik versterk moet word deur die sameflansing van sinergieë - steun van ander taalbelange, buitelandse ondersteuning, beduidende sakeondersteuning en ook ondersteuning deur die media en vanuit die kerk waar moontlik. Wat egter miskien die meeste tel is grondvlak-ondersteuning vanuit die gemeenskap. Daar wag dus ’n baie omvattende taak van netwerk bou en mobilisering - iets wat Afrikaners tot dusver feitlik nie aangeraak het nie. Terwyl dit uitgebou word, sal daar wel suksesse in die gesprek met die regering wees, maar ook terugslae - die wet van vra is vry en weier daarby. |