|
||||
Charl-Pierre Naudé Deur Charl-Pierre Naudé Op ’n reus van ’n rots wat tot by sy wit boordjiefrille in die bruisende groen geplant staan kan die hengelaars gesien word. Hulle sit daar wydsbeen en klou met dy en skeen aan die randjie op ’n ry vooroor gebuig; skreefoë op ’n lyn wat in die verte uit stippel; oliejasse voos geklop deur die wind agter visstokke se fladderende stuurstange; mantels en jakke wat bult en weer afblaas, al leunende na een kant, dan weer na die ander. ’n Grondseil wiebel – seilsakke tol soos wiele; pype suig en sputter en meters flap in die wind; katrolle gare trek los in omwentelinge-per-minuut soos klein fluisterende enjins; sit hulle daar die ou gebreide skille, elk met sy geweefde afstandteller met die kilo’s op gestik; spoedkonings van materiaal, uitgeknip op lapmotorfietse wat vou om klip wapperend, verbete mededingend in ’n Grand Prix van die snyers. |