|
||||
Henk Gous Die webwerf dui Johann Rossouw aan as filosoof en joernalis. Hy skryf ongelukkig nie op die vlak van of filosoof-akademikus of joernalis nie: ’n Akademikus sou nie ’n leier wat akkommoderend is afmaak en skynbaar verlang na die sterk leiding van ’n Groot Krokodil nie. ’n Joernalis sou met leiers persoonlik gepraat het, nie net ander joernaliste se oplaaggedrewe berigte oor “ongelukkiges” geglo het nie. Dit klink wel of hy die Predikantekonferensie persoonlik bygewoon het want hy beskryf dit dramaties, en negatief. Die “kontrak” met die predikantekonferensie is in gees en letter deur die organiseerders gehou: dit kon nooit ’n beleids- en besluitnemende vergadering gewees het nie. Daarom is die Getuienis ’n uiters getroue kondensaat van wat werklik in die groepe gebeur het. Ek was deel daarvan. Daar is nie geselekteer om slegs die kondenseerders se standpunt te handhaaf nie. Predikante is woordkunstenaars en sou natuurlik sekere formulerings wou verander om presies hul eie nuanse te verwoord, en daarom is daar mense wat dit nie as eenparig sal beskou nie. Moet die meerderheid dan deur stemming hierdie lede tot stilte dwing? Dis hoe ander organisasies eenheid afdwing. Die skrywer dink skynbaar dat die NNP en NG kerk volgens dieselfde reëls werk (en dieselfde toekoms het). Die kerk is ’n familie, nie magsbasis van ’n NG hiërargie nie, wat niemand kan of wil “uitwerk” nie. Lourens Erasmus bly deel van ons span op die Moderatuur, al verskil ek persoonlik van hom. Hierdie berig is nie op die akademiese of joernalistieke standaard wat ek van ’n nismarkblad soos Die Vrye Afrikaan verwag nie. Johan Rossouw dans saam met elke uiteenlopende standpunt met ’n blinde simpatie (dis allemansvriendskap by uitnemendheid), solank dit net die huidige leiding as huidige establishment teenstaan. Hier hang Johan Rossouw se onderrok uit. |