blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Die vreesbedryf: Terroriste en burgers almal op oog 2005-08-17
Deur Denis Duclos

Deur Denis Duclos*

Die moorddadige aanvalle op 7 Julie in Londen is deel van ’n reeks handelinge wat veral gemik is op lande wat in die militêre besetting in die Midde-Ooste betrokke is. Dit is die voortvloeisel van ’n asimmetriese oorlog (1) wat min keuses laat aan diegene – godsdienstig of nie – wat glo dat hulle veg teen ’n “kruistog” wat daarop uit is om beheer oor hulpbronne te verkry, eerder as om demokrasie te versprei.

Maar of dit nou weerstand of blindelingse terrorisme is, die land wat daardeur getref word, moet sy burgers beskerm. En soos die leiers van die G8 uiteindelik erken het, lê die diepgaande oplossing vir geweld in die uitwis van onderdrukking en armoede (2). Oor die korter termyn het Spanje ’n doeltreffende verdediging gekies ná die verskriklike aanval wat 186 lewens op 11 Maart 2004 in Madrid geëis het: die onttrekking van hul besettingstroepe uit Irak, gekoppel aan ’n sorgvuldige polisie-ondersoek.

Dit is nie die koers wat ander betrokke lande ingeslaan het nie: prioriteit is eerder gegee aan ’n “tegnosentriese” respons, gemik op ’n groot aantal buitelanders wat – om redes wat niks met terrorisme te make het nie – as “ongewens” beskou word, maar ook op die bevolking in geheel (3).

Te midde van totale wanorde binne die Amerikaanse inligtingsdiens, het die duiselingwekkende aanvalle op 11 September 2001 direk gelei tot ’n eskalasie van middele om presiese inligting oor miljoene mense te bekom, om sodoende inligting oor die boosdoen-potensiaal van enkele individue af te lei. Vier jaar later loop die tegno-sekuriteitsmasjinerie in topversnelling. Veral in sogenaamde vrye lande. Reisigers en hul bagasie word met X-strale gefynkam, biometriese inligting word geberg, selfone word dopgehou, miljuisende telefoonnommers word geliasseer, vingerafdrukke word gedigitaliseer, kruisverbande word gelê tussen die reuse liasseerstelsels van staatsdepartemente of maatskappye.

Hierdie rep en roer kan nie meer geregverdig word deur die soeke na die (bose) naald in die (goeie) hooimied nie: terwyl die FBI nog in die duister bly oor die identiteit van die helfte van die Twin Tower-aanvallers, het ontleders van die Matrix-liasseerstelsel hulle voorsien van 120 000 name van gewone Amerikaanse burgers wat geag word “´n hoë terrorismekwosiënt” te hê. Tienduisende valse “positiewe” resultate – en dus eweveel amper-reg-foute – is opgelewer deur biometriese opnames op die grense van die ryk: gevalle van swanger vroue wat deur liggaamshittesensors uitgewys is (wat veronderstel is om ’n gespanne terroris uit te ken), is ’n tekenende voorbeeld ...

Sedert 2001 het talle stadsrade, maatskappye en lughawens met volharding die rampspoedige Tampa-eksperiment herhaal: die firmas Graphco, Raytheon en Viisage het dié stad van toerusting voorsien om 24 000 foto’s van misdadigers met die gesigte van die 100 000 toeskouers by sy beroemde Amerikaanse voetbalkampioenskap te vergelyk. Die enigste resultaat was die ondervraging van enkele arme drommels ...

´n Ongepaste wyse om kamikaze op te spoor – wat immers die rede daarvoor was – is die dophou van groot getalle mense ook nie die beste oplossing om die instroming van onwettige immigrante te beheer nie. Dit is iets wat van nature nie deur kontrole stopgesit kan word nie, maar wat net opgelos kan word deur ekonomiese ewewig tussen verskillende wêreldstreke te bewerkstellig.

 

Ondoeltreffende verbetenheid

 

Hoe verklaar ’n mens dus hierdie verbetenheid, wat deur die meeste praktisyns – polisie of militêr – van die anti-terroristestryd gekritiseer word? Waarom, ten spyte van sy bewese ondoeltreffendheid en disproporsie met betrekking tot die oogmerk, word daar volhard met ’n onversadigbare honger na die optekening en rekenarisering van persoonlike gegewens en liggaamlike elemente, na die taktiele, visuele, temperatuur-, reuk- en radiofrekwensiële naspeuring van mense, waar hulle ook al gaan? Waarom word Londenaars 300 keer per dag gefotografeer, en onophoudelik verfilm deur 2,5 miljoen videokameras in alle uithoeke, as ons weet dat dit nie die terroriste verhoed het om hul bomme op 7 Julie te laat ontplof nie? Waarom terugkeer na verpligte identiteitsdokumente en die beginsels prysgee van “privaatheid” (4) en elke persoon se anonimiteit teenoor openbare en private outoriteite?

Benewens die handhawing van orde, is daar net een toepaslike antwoord: instansies en maatskappye ontdek in “vrees-bestuur” ’n onuitputlike bron van mag, beheer en winsmaking.

Sedert 11 September 2001 bied mnr. George W. Bush se beleid ’n aantreklike oplossing: die hermobilisering van die ganse planeet rondom die oogmerk van sekuriteit. ’n Ware vonds. Anders as olieafsettings, is die kanse dat angs, gevoed deur die ekonomiese krisis, aardverwarming en die demografiese ontploffing, sal opdroog, gering. Provokasie, wat nasies in ’n toestand van verontwaardigde vrees vasvang, blyk te eniger tyd moontlik te wees. Dringendheid legitimiseer optrede sonder enige waarborg van demokrasie, en maatskappye en instansies wat “beveiliging” verkoop, kan ten nouste betrokke raak in “vrees-besigheid” (5), in die sekerheid dat hulle steun van regerings sal ontvang, alhoewel ’n klimaat van kommer normaalweg skadelik vir besigheid is.

So word daar, onder die voorwendsel van ’n veelvormige gevaar, ’n wêreldwye armada van veiligheid opgebou, waarvan die vinnige, doeltreffende koördinasie ’n mens laat vermoed dat dit in werklikheid die kern is van ’n nuwe kapitalisme in wording: ’n kapitalisme van vrees.

 

Vier verwikkelde bewegings struktureer hierdie mutasie:

 

-´n versnelling van konneksies tussen uitvindsels in die verskeie segmente van die vreesmark: identifikasie, dophou, beskerming, arrestasie, aanhouding;

-´n vermenging van enersyds oorlogsbedrywe en militêre organisasies wat hulle wend tot die oplei en toerus van die magte van wet en orde, en andersyds die gepaardgaande militarisering van burgerlike veiligheidsmagte;

-´n groeiende band tussen openbare en private maghebbers, beide in identiteitsbeheer en die vermoë om beperkings en verbiedings op te lê;

-ideologiese druk, wat gelyktydig op regs-, politieke, administratiewe, ekonomiese en mediaterrein uitgeoefen word, en wat daarop gemik is om “beveiligbare” angs voort te plant en om voorkomende beheer alledaags te maak, sodat ons dit aanvaar as ’n nuwe normaliteit van die menslike bestaan.

 

“Veiligheids”dienste

 

Die meeste groot nywerheids- en tegnologiese groepe bied nou op byna militante wyse “veiligheids”dienste en -produkte aan wat op hul gebruiklike sektore gebaseer is. Agter elke professionele akroniem staan ’n groeiende mark: hetsy AFIS (Automatic Finger Imaging System – die vergelyking van vingerafdrukke met dié wat in gerekenariseerde databanke geberg is), of die klassieke CCTV (Closed Circuit Television – videotoesig), EM (Elektronic Monitoring – die afstandskontrolering van individue) of EMHA (Electronic Monitoring of People under House Arrest – elektroniese polsverklikkers), RFID (Radio Frequency Identification – ’n elektroniese etiket wat inligting berg en per radiofrekwensie na ’n lees-apparaat toe deurstuur), of allerlei “X-straal-sisteme” om passasiers te deursoek, sonder om te praat van die verskeidenheid sagteware om die inligting te verwerk. Oral beleef die tegnologiese aanbod ’n bloeitydperk.

Net om enkele voorbeelde te noem: in Frankryk gebruik ’n filiaal van TF1, Visiowave, sy televisievaardighede om verdagte gedrag in openbare plekke op te spoor (danksy sagteware wat gebare ontleed), en om promosie-uitsendings op skerms in moltreine en busse te skep. Thalès (voorheen Thomson CSF) vervaardig volledige videokontroletoerusting, en skroom nie om dit aan outoritêre state te verkoop nie. Die reuse in die rekenaar- en elektronikabedryf bly ook nie agter nie, soos Microsoft en sy bekende Palladium-mikroskyfie wat persoonlike rekenaars se lêerstelselbeheer (gestion des fichiers) van buite af kan monitor, of wat dink aan die wêreldwye verspreiding, teen ’n geraamde omset van 3 miljard dollar in 2009, van sy “kontaklose” etiket wat deur radiofrekwensie opgespoor kan word (RFID), en wat ’n gemerkte produk kan naspoor tot in die huis van die persoon wat dit gekoop... of gesteel het!

Verskeie groepe maak reeds van soortgelyk metodes gebruik, soos die Britse winkelketting Tesco (2 000 winkels regoor die wêreld) wat besig is om ’n radiofrekwensie-volgsisteem op sy verpakkings uit te toets.

Enige spesifieke gebied kan die basis wees vir ’n “patriotiese” bydrae: ’n groot vervaardiger van elektroniese verbindings bemark ’n sticky shocker (´n elektriese “kalmerings”-wapen [6]). Die klein Amerikaanse firma Applied Digital, wat vroeër in die vervaardiging van onskuldige toestelle vir vogtigheidsbeheer en motor- of motorhuissleutels gespesialiseer het, ontwerp die “Verichip” mikroskyfie – wat onder die vel geplaas word! – wat dit moontlik maak om mense op te spoor...

 

Afstandkontrole van mense

 

Dan is daar die groot farmaseutiese trust Lilly, ontdekker van onder meer Prozac, wat navorsing doen oor die afstandkontrole van mense in huisarres, en wat byvoorbeeld ’n sensorarmband ontwikkel wat alkohol- en dagga-inname kan bespeur, gekoppel aan ’n afskeier van inhiberende middels of elektriese skokke...

Talle state se ywer om buitelanders, misdadigers, asmede hul eie burgers elektronies te identifiseer, speel ’n groot rol. Die bestellings van die “Veiligheidstaat” is net so kolossaal soos dié van die eertydse “Voorsieningstaat”. Openbare begrotings ondersteun die biometriemark, wat na verwagting tienmiljarde dollars in 2007 sal behels. So het die Amerikaanse staatsdiens 1 000 leestoestelle van Anteon bestel vir sy “US Visit” (7) wat 13 miljoen buitelanders, permanente inwoners of grensinwoners kontroleer.

Die inwin van voorinligting oor passasiers, die merk van persoonlike aanwysers deur doeanes, die stoor van gedigitaliseerde vingerafdrukke – soos die Kanadese koninklike polisiediens se geoutomatiseerde vingerafdruk-identifikasiestelsel (SAID), of dié wat beoog word vir nie-inwoners van Schengengebied-lande (SIS) – verteenwoordig ’n uiters winsgewende mark vir maatskappye wat die kans wil aangryp.

Die staat het ook ’n deurslaggewende rol om die basis te lê vir ’n nuwe maatskaplik-tegnologiese samelewingsbestel. Van die Verenigde Koninkryk tot Estland, Italië tot België, mobiliseer Europese lande om te besin oor die inhoud van ’n nuwe universele identifikasiemedium: siviele status, maar ook gedigitaliseerde identiteitsfoto’s, vingerafdrukke en samestelling van die iris. Ook rekenaarhandtekeninge wat in private transaksies gebruik kan word, en sodoende van die Staat ’n outomatiese sertifiseerder van kontrakte maak.

In Frankryk het die nasionale kommissie vir rekenaars en vryhede (CNIL) beswaar gemaak teen die planne vir ’n verpligte, betaalbare nasionale elektroniese identiteitskaart (CNIE), en die Menseregteliga het dit prontuit as “krimineel” afgemaak. Dit maak nie bloot deel uit van die alledaagse strewe na “altyd meer identifikasie”, wat die afgelope twee eeue deur alle polisiemagte in die meeste ontwikkelde lande nagestreef is onder die ewige voorwendsels van bedrog, kontrolering van buitelanders en modernisering van die Staat nie. Dit verenig vier normaalweg afsonderlike elemente: die liggaam van die draer, die spoor wat deur hierdie liggaam gelaat word, die kaart wat spore en persoonlike inligting kombineer, en die omvattende sentrale liasseerstelsel wat die uitreiking en rekords van geldige kaarte beheer.

 

Gesentraliseerde lêers

 

Deur biometriese gegewens (nuwe naam vir Alphonse Bertillon se antropometrie) en maatskaplike gegewens te verbind, vergemaklik die projek die skep en onderlinge verbinding van groot gesentraliseerde lêers (waarvan die bestaan in 1943 dit vir mense onmoontlik sou gemaak het om aan klopjagte te ontsnap). Aan die ander kant, deur die ingeboude elektroniese skyf te kombineer met die verpligting – soos onder die Vichy-bewind – om die kaart met jou saam te dra, is die volgende logiese stap die onderhuidse mikroskyfie, in werklikheid ’n siviele ekwivalent van die gebruik om vrygelate misdadigers met ’n brandyster ter merk, soos tot in 1832 in Frankryk gedoen is, of met onuitwisbare ink, soos in Groot Brittanje in die 19de eeu.

Natuurlik is ons nog nie by verpligte inplanting nie, en die vel-grens sal waarskynlik nooit só deurgedring word nie. Maar ons is dalk so verlig om te sien dat dié verskrikking deur massa-verwerping afgeweer is, dat ons gevaar loop om nie te sien dat die CNIE sal funksioneer “asof” die liggaam reeds aangetas is nie. Dit kan dit byvoorbeeld moontlik maak om ons bewegings te volg – baie doeltreffender as met die werkersboekie of die binnelandse paspoort wat die Napoleontiese of Sowjet polisiestate in staat gestel het om ’n burger op nasionale grondgebied dop te hou. Des te meer sal so ’n kontaklose kaart die owerhede van ander lande toelaat om hul wet af te dwing (soos die geval is met die VSA van mnr. Bush) en te eniger tyd te weet waar ’n buitelandse besoeker hom bevind. Dit is wat besig is om te gebeur: Amerikaanse regeringsagentskappe het miljoene identifikasiekaarte vir hul personeel laat maak, wat “rekord” hou van hul bewegings, hul rekenaargebruik, en persoonlike inligting soos hul salarisvlak, ens.

 

Nuwe maatskaplike bestel

 

Uiteindelik, wanneer dit gekoppel word aan ander gerekenariseerde stelsels (gesondheidskaarte of kredietkaarte wat met of sonder “kontak” werk, elektroniese handtekenings op Internet, ens.), skep die gerekenariseerde vermenging van gegewens, fisieke tekens en die liggaam ’n nuwe maatskaplike bestel waarin Staat en maatskappye ineengestrengel raak in die verkrygng van absolute mag oor die persoon. Die string nuwe veiligheidsuitvindsels teken vir ons die buitelyne – met stippels wat al nader aan mekaar staan – van ’n maatskaplike projek wat beheer word deur die onverhinderde samewerking tussen private magshebbers en openbare instansies.

Ná die tegnologie-ontplooiing wat die weg berei na ’n “kontrolesamelewing”, lê die tweede treffende eienskap van hierdie nuwe kapitalisme in die geleidelike ineenvloei tussen vrees vir die vyand en wantroue jeens die burger, tussen die militêre en die polisie... Dié verskynsel raak die meeste Westerse lande, wat deels hul bewapeningswedloop wend tot die opskerping van burgerlike veiligheid. Soos so goed geïllustreer word deur die handelskoue van die veiligheidsbedryf (onder meer een met die raak benaming Milipol [8]), is daar ’n snel toenemende kombinasie van weermagte wat “verburgerlik” en polisiemagte wat gemilitariseer raak – beide openbaar en privaat. Militêre joernale laat die gedagte van “infanterie in skarebeheer” na iets alledaags klink.

Die meeste firmas wat in veiligheid spesialiseer, wend deesdae byna willekeurig hul personeel aan as perseelopsigters, tronkbewaarders, lyfwagte en “sekuriteitsbeamptes” wat hulle aan die amptelike weermagte voorsien. Hiervan getuig die alliansie van multinasionale groepe soos Wackenhut, Serco, Group 4-Talk (met Amerikaans-Brits-Kanadees-Sweedse fondamente), wat ’n jaarlikse omset van 5 miljard dollar het, 360 000 mense in diens neem en 100 lande dek. Hul dienste wissel van die bestuur van privaat tronke (63 tronke en 67 000 gevangenes in die VSA), tot diverse privaat polisiemagte, en die opleiding van ganse kompanjies van militêre veiligheid... om nie te praat van navorsing-en-ontwikkeling op die gebied van afstandbeheer van veroordeeldes en die ontwikkeling van identifikasie- en opspoorstelsels nie.

Hierdie professionaliteit verhoed nie barbaarsheid nie: Wackenhut se behandeling van Amerikaanse aangehoudenes is geregtelik ondersoek, en ons weet byvoorbeeld ook dat CACI International of Titan Corporation, wat nou gemoeid was met “Homeland Security” (9), genoem is in verband met skandale oor marteling deur burgerlike kontraktante in diens van die CIA in aanhoudingsentrums wat deur die Amerikaanse weermag bestuur word in Irak (Abu Ghraib) of in die baai van Guantanamo (10). Is dit blote toeval dat Titan ook navorsing doen oor biometriese afdrukke? Op tegnologiese vlak is die wetenskaplike, militêre en polisiëringstoepassings net so nou ineengestrengel.

 

“Regeringsoplossings”

 

In Frankryk vervaardig Sagem byvoorbeeld helikopters, afstandbeheerde vliegtuie, visiere, simulasies, en beveiligde rekenaarspeletjie- of kredietkaartlesers. Maar die firma is nou ook die wêreld se voorloper in die neem van vingerafdrukke, en bied uiteindelik “regeringsoplossings” vir moeilike kwessies soos krisisbestuur.

Nog ’n voorbeeld: American Science and Engineering (AS&E), wat radiografietoestelle in missiele ingebou het en wat werk aan die opspoor van dwelmmiddels by doeaneposte. Die maatskappy is ook trots op sy “Mobile Search”-stelsel wat dit moontlik gemaak het om honderde onwettige Mexikaanse immigrante te arresteer.

Die Sandia-laboratoriums – ’n jarelange vennoot in die Amerikaanse militêr-industriële sisteem – werk aan die kontrolering van gevangenes met behulp van lokaliseringstelsels deur satelliet (GPS)... en vervaardig plofstof-“snuffelhonde”. Die eklektiese Amerikaanse firma Foster-Miller bou masjiene vir die verpakking van toffies en Pepsi... en maak ook ’n net om ’n vyand te vang sonder om hom dood te maak. Hulle neem ook deel aan die vervaardiging van die “TALON”-robot wat aanvalswapens kan hanteer in stedelike guerrillavoering. Só help die nuwe begrip van “niedodelike wapens” (11) om wyd uiteenlopende nywerheidsektore by mekaar uit te bring.

Nog ’n uitvindsel in hierdie skemerdomein tussen gevangeneem en doodmaak: die 7 hertz golf-opwekker wat sedert 1972 in Frankryk verwaardig word en wat mense vir ure lank siek maak. Heelwat vordering is intussen gemaak: byvoorbeeld die “klank van ontsag”, die stem in die kop (voice to skull of v2K), oorspronklik gebruik om voëls van lughawens af weg te hou, maar wat ook gerig kan word... na menslike koppe. Temperatuur-skokke wat deur radiofrekwensies toegedien word, meng in met die aktiwiteit van die sinapse, wat ’n halsstarrige teenstander van ’n afstand af onbeweeglik maak en koorsig laat raak, voordat hy uiteindelik letterlik gekook of gebraai word. Die ultraviolet laserstraal tas die beenweefsel aan en veroorsaak na gelang van keuse ’n hartaanval of blindheid...

Bowendien deel industriële drukgroepe, polisie-administrasies en die gemediatiseerde sy van volgehoue vrees die ideologiese taak tussen hulle op ’n al meer sistematiese wyse. Daarsonder sou dit onmoontlik wees om ons samelewings rondom hierdie “beheer-oor-elkeen”-beginsel te organiseer.

Natuurlik was die “Total Information Awareness” program wat net na 11 September voorgegee het om alle beskikbare inligting oor die wêreld se 6,5 miljard inwoners vir die Amerikaanse departement van verdediging se gebruik byeen te bring, ’n volslae klug (12). Maar wat dit ontketen het, was veel standhoudender en gevaarliker: ’n sekuriteitsbehepte bekeringskoors op planetêre skaal wat wat daarop uit is om weg te breek van die demokratiese en liberale beginsels waarop ons samelewing gebou is.

 

Alomteenwoordige toesig

 

Hierdie paradigmaskuif word bevestig deur FBI-agente wat alomteenwoordige toesig tot sentrale waarde van ’n onsekere wêreld verhef. En Hollywood bly nie agter nie: ’n fliek soos The interpreter (13), lomp en vergesog (wie sal nou probeer om in die VN-hoofkwartier ’n ou Afrika-diktator om die lewe te bring?), pryk met ’n katalogus van foefies waarmee die brawe manne van die “Homeland”-departement die bose Mataboles uitoorlê.

In die aangesig van die gevaar stel die elektroniese konsortium Gixel in sy “blou boek” voor dat elektroniese identifikasie reeds in die kleuterskool gebruik word om jong gemoedere ontvanklik te maak vir die voordele van biometrie... Op hul beurt laat videospeletjies van die meeste groot Amerikaanse, Asiatiese of Europese vervaardigers tieners ’n wêreld aanvaar waarin deure net oopgaan wanneer die regte wagwoord gebruik word, terwyl al meer inisiatiewe soos “Carte à pouce” (“duimkaart”) by die Akwarium in Lyon, kinders gewoond maak aan die gedagte dat vingerafdrukke ’n normale identifikasiemiddel is.

Hierdie klimaat moedig die toenemend skaamtelose aanslae op die vertroulikheidsbeginsels wat deur die VN se Menseregtekommissie vasgelê is, aan. Die Franse federasie van versekeraars beweer nou dat hulle toegang het tot persoonlike inligting op elektroniese mediese vorms, en lui só ewe luiters die doodsklok vir mediese geheimhouding. Die Australiese parlement het wette aanvaar wat die polisie toelaat om op e-posse te spioeneer. Die Switserse staat luister selfone af, en Duitse politici is al meer vatbaar vir die gesegde “Datenschutz ist täterschutz” (beskerm die inligting, beskerm die misdadiger).

Die Dene laat nie demokratiese waardes in hul pad staan om ’n anti-terroriste-wet wat vryhede inperk, te aanvaar nie. In Die VSA stel die Foreign Intelligence Surveillance Act (FISA) die regering in staat om dop te hou wat in biblioteke gelees word. Erger nog, ’n federale regter het beslis dat die aanbring van ’n GPS opspoorder op ’n verdagte se motor “nie ’n skending van privaatheid” (14) is nie.

Saam illustreer hierdie tekens die uitkalwing van die “ou” model van burgerlike vryhede. Natuurlik is daar weerstand: van die Madrid spitsberaad teen terrorisme (15), waar deelnemers die “absurditeit” daarvan bevestig het om terreur te beveg deur vryhede in te perk, tot die Europese parlement wat ’n teenvoeter gestel het teen die VSA en die Europese Unie se ooreenkoms aangaande inligting oor vliegtuigpassassiers, of die Spaanse en Britse bevolking se uitmuntende vertoon van burgerlike kalmte in die aangesig van provokasie. Maar daarbenewens, ook in Frankryk, bied elke tragiese gebeurtenis ’n verdere voorwendsel om op nog biometriese middele en openlike onderdrukking aan te dring.

Gaan die vreespolitiek as oorwinnaar uit die stryd tree? In daardie geval sal die befaamde terroriste hul doel bereik het: in vier jaar het hulle dit reggekry om grootse demokrasieë te omskep in paranoïese forte wat hul eie burgers versmoor.

 

* Sosioloog, navorsingshoof aan die CNRS (Franse wetenskaplike navorsingsraad), skrywer van onder meer Le Complexe du loup-garou. La Fascination de la violence dans la culture américaine, Parys: La Découverte, heruitgawe 2005.

Vertaal deur Sonya Barrois-Van Schalkwyk, [email protected]

_________

(1) Barthélémy Courmont en Darko Ribnikar, Les guerres asymétriques, Parys: PUF, 2002.

(2) G8 spitsberaad, Gleaneagles, Verenigde Koninkryk, Julie 2005.

(3) “Ongewens”: ’n kategorie in die sentrale liasseerstelsel van die Schengen Inligtingsisteem (SIS II) wat in Straatsburg behartig word; lees Jelle Van Buure, “Les tentacules du système Schengen”, Le Monde diplomatique, Maart 2003.

(4) Volgens die politoloog Didier Bigo (in ’n oudisie by die Franse kommissie vir rekenaars en vryheid, is “privaatheid” ’n “sfeer wat ontoeganklik is vir die Staat”, ’n positiewe reg op anonimiteit.

(5) Ons het die gedagte van “vreesbestuur” aan die filmmaker André Weinfeld te danke.

(6) Die Sticky Shocker is ’n projektiel wat elektriese skokke oor ’n afstand van tien meter stuur. Dit bevat ’n klein battery en die nodige elektronika om skokgolwe van 50 kilowatt toe te dien wat die slagoffer van alle spierbeheer ontneem.

(7) Visitor and Immigration Status Indication Technology: ’n opskerping van toelatingsformaliteite in 115 lughawens en 14 seehawens, wat onder andere vereis dat vingerafdrukke en elektroniese foto’s geneem word van buitelanders wat oor ’n visum beskik, met hul aankoms op Amerikaanse grondgebied.

(8) Die volgende skou word van 20 tot 25 November 2005 in Bourget gehou.

(9) Benaming van Amerika se nuwe ministerie van binnelandse sake.

(10) Lees Ignacio Ramonet, Irak. Histoire d’un désastre, Parys: Galilée, 2005.

(11) Bernard Lavarini: Vaincre sans tuer : du silex aux armes non létales, Parys: Stock, 1997.

(12) Ignacio Ramonet, “Surveillance totale”, Le Monde diplomatique, Augustus 2003.

(13) Amerikaanse film deur Sydney Pollack met Nicole Kidman en Sean Penn (2005).

(14) Verklaring deur die federale regter, David Hurd, op 8 Januarie 2005 tydens  ’n hofsaak in New York; opgeneem deur die hele Amerikaanse media.

(15) “Demokrasie, terrorisme en veiligheid”, 17-18 Mei 2002. Spitsberaad tussen die EU, Latyns-Amerika en die Karibiese streek, waarvan die finale verklaring bepaal dat “die stryd teen terrorisme gevoer moet word met respek vir menseregte, fundamentele vryhede en die regstaat”.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=315
Artikel nagegaan:
    -