blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: 27 Maande van Amerikaanse Besetting: Wat doen ons in Irak? 2005-08-17
Howard Zinn

Deur Howard Zinn*

Irak is nie ʼn vrygemaakte land nie, maar ʼn besette land. Dit is ooglopend. Die term “besette land” het tydens die Tweede Wêreldoorlog vir ons ʼn algemene begrip geword. Ons het gepraat van “Frankryk wat deur Duitsland beset is”, van “Europa wat onder Duitse besetting gebuk gaan”. Na die oorlog het ons gepraat van Hongarye, van Tsjeggo-Slowakye en van Oos-Europa wat deur die Sowjet-Unie beset is. Die Nazi's en die Sowjet-Unie het baie lande beset. Ons het hulle van hierdie besetting bevry.

Deesdae is ons die besetters. Ons het wel vir Irak van Saddam Hoessein bevry, maar nie van onsself nie. Op soortgelyke wyse het ons Kuba in 1898 van die Spaanse juk bevry, maar nie van ons eie nie. Die Spaanse tirannie is oorwin, maar die Verenigde State het die land in ʼn militêre basis omskep, op soortgelyke wyse as waarop ons dit in Irak doen. Groot Amerikaanse firmas het hulleself in Kuba gevestig, net soos wat Bechtel, Halliburton en oliemaatskappye hulle in Irak vestig. Die Verenigde State het die Grondwet wat Kuba moes regeer, geskryf en met behulp van plaaslike medepligtiges afgedwing, net soos wat ons regering ʼn Grondwet vir Irak met behulp van plaaslike politieke groepe tot stand gebring het. Nee, hierdie het niks met bevryding te doen nie. Dit is inderwaarheid ʼn besetting.

En dit is ʼn smerige besetting. Reeds vanaf 7 Augustus 2003 het die New York Times berig dat die Amerikaanse generaal Ricardo Sanchez in Bagdad, “bekommerd” is oor Irakese reaksie teenoor die besetting. Die pro-Amerikaanse Irakese regeringsbeamptes het ʼn boodskap aan hom gestuur wat hy aan ons aangestuur het: "Wanneer julle ʼn vader in die teenwoordigheid van sy familie arresteer, sy kop met ʼn sak bedek en hom laat kniel, is dit vir sy familie ʼn ernstige knou vir sy waardigheid en respek" (ʼn besonder skerpsinnige opmerking).

Die CBS-nuuskanaal het reeds vanaf 19 Julie 2003, lank voor die ontdekking van erkende gevalle van mishandeling in die Abou Ghraib-tronk in Bagdad, as volg berig: "Amnesty International is besig om ʼn sekere aantal vermeende gevalle van mishandeling wat deur die Amerikaanse owerheid in Irak gepleeg sou wees, te ondersoek. Een hiervan is die Khraisan-Al-Aballi-geval. Mnr. Al-Aballi se huis is deur Amerikaanse soldate wat daar opgedaag het en in alle rigtings begin skiet het, verwoes; hulle het hom en sy bejaarde vader van 80 jaar gearresteer. Hulle het sy broer raakgeskiet en gewond ... die drie mans is weggeneem ... Mnr. Al-Aballi sê dat sy ondervaers hom kaal uitgetrek en hom ʼn week lank wakker gehou het, in verskillende posisies, staande of knielend, met hande en voete aan mekaar vasgebind, sy kop met ʼn sak bedek. Mnr. Al-Aballi sê dat hy die volgende aan sy ontvoerders uitgeroep het: "Ek weet nie wat julle wil hê nie. Ek het niks nie." "Ek het hulle gevra om my dood te maak", vertel Mnr. Al-Abali. Agt dae later het hulle hom en sy vader laat gaan ... Die Amerikaanse ampsbekleders het skaars geantwoord op die groot aantal versoeke wat aan hulle gerig is om verdere lig op hierdie saak te werp ...".

Honderde inwoners sterf

Dit is bekend dat driekwart van die stad van Falloedja (360 000 inwoners) verwoes is en dat honderde van sy inwoners gesterf het tydens die Amerikaanse aanval in November 2004, wat sogenaamd daarop gerig was om die stad skoon te maak van terroristebendes wat skynbaar aktief sou wees binne die raamwerk vaan ʼn “baasistiese sameswering”. Maar daar word vergeet om te noem dat, so vroeg as 16 Junie 2003, skaars een-en-ʼn-half maand na die “oorwinning” in Irak en die “volvoerde missie” wat deur president Bush verklaar is, twee joernaliste van die Knight-Rider-kanaal die volgende oor die Falloedja-gebied geskryf het: "Gedurende die afgelope vyf dae het die meerderheid inwoners van hierdie streek bevestig dat daar nouliks enige baasistiese of soennitiese sameswering teen die Amerikaanse weermag is, maar dat verskeie mans gereed is om te veg omdat hulle ouers beseer of gedood is, of omdat hulle self verneder is tydens klopjagte of by straatversperrings ... Een vrou het na die arrestasie van haar eggenoot na aanleiding van die leë kratte wat hulle gekoop het as vuurmaakhout vir verhitting, verklaar dat die Verenigde State skuldig is aan terrorisme".

Dieselfde verslaggewers het verklaar: "Inwoners van At Agilia – ʼn dorp noord van Bagdad – het beweer dat twee van hul boere en vyf ander van ʼn naburige dorp deur Amerikaanse geweervuur gedood is terwyl hulle rustig besig was om hul sonneblom-, tamatie- en komkommerplantasies te besproei".

Die soldate wat na hierdie land gestuur is – in die vooruitsig dat hulle as bevryders ontvang sou word – en wat deur ʼn vyandiggesinde bevolking omring word, het skrikkerig geword, hulle is depressief, en hulle is skietlustig, soos ʼn mens kon sien tydens die bevryding van die Italiaanse joernalis, Giuliana Sgrena, in Bagdad op 4 Maart 2005 toe ʼn Italiaanse inligtingsoffisier, Nicola Calipari, by ʼn padversperring doodgeskiet is deur gespanne en bevreesde Amerikaanse soldate.

Ons het die verslae gelees van GI’s wat woedend is oor hulle in Irak gehou word. ʼn Verslaggewer van die ABC-nuuskanaal in Irak het onlangs verklaar dat ʼn sersant hom eenkant geneem het om vir hom te sê: "Ek het my eie lys van mees gesoekte mense ("Most Wanted List")". Hy het gesinspeel op die bekende kaartspel wat deur die Amerikaanse regering uitgegee is, en wat Saddam Hoessein, sy seuns en ander lede van die voormalige Irakese baasistiese regime uitgebeeld het: "Die ase van my kaartspel – het hy gesê – is George Bush, Dick Cheney, Donald Rumsfeld en Paul Wolfowitz".

Drosters weier die hel

Sulke gevoelens, net soos die aantal drosters wat weier om na die Irakese hel terug te keer na ʼn verlofpas tuis, is deesdae algemene kennis vir die Amerikaanse publiek. In Mei 2003 het ʼn meningsopname aangetoon dat slegs 13% van Amerikaners dink dat die oorlog ʼn verkeerde wending neem. In die bestek van twee jaar het dinge radikaal verander. Volgens ʼn peiling wat op Vrydag 17 Junie 2005 deur die new York Times en die CBS-nuuskanaal gepubliseer is, is 51% van Amerikaners van mening dat die Verenigde State Irak nooit moes binnegeval het nie en nooit in hierdie oorlog moes slaags geraak het nie. Tans keur 59% president Bush se hantering van die Irakese situasie af. En dit is vir my interessant om op te merk dat die peilings wat onder die Afro-Amerikaanse bevolking gedoen is, deurentyd ʼn teenkanting van 60% teen die oorlog in Irak getoon het.

Maar daar bestaan ʼn besetting wat nog meer onheilspellend as dié van Irak is, en dit is die besetting van die Verenigde State. Ek het vanoggend wakker geword; ek het die koerant gelees en die gevoel gehad dat ons onsself in ʼn besette land bevind, dat ʼn buitelandse moondheid ons binnegeval het. Die Meksikaanse werkers wat probeer om die grens oor te steek – wat hulle lewens op die spel plaas om aan immigrasiebeamptes te ontsnap (in die hoop om ʼn land te bereik wat, ironies genoeg, aan hulle behoort het voordat die Verenigde State in 1848 daarop beslag gelê het) – ek beskou nie hierdie werkers as vreemdelinge nie. Hierdie 20 miljoen mense wat in die Verenigde State woon, wat nie burgerstatus geniet nie en dus, volgens die Patriot Act aan moontlike uitsmyting uit hul huise onderhewig is en dus vir ʼn onbepaalde tydperk deur die FBI aangehou kan word, sonder enige grondwetlike reg – hierdie mense is volgens my nie vreemdelinge nie. Daarenteen het ʼn klein groepie individue die mag in Washington oorgeneem (George W. Bush, Richard Cheney, Donald Rumsfeld en die res van die konkelaars), dus ja, hulle is die vreemdelinge.

ʼn Geknoei in Florida

Ek het wakker geword en vir myself gesê dat hierdie land in die greep is van ʼn president wat in November 2000 vir ʼn eerste termyn verkies is onder die omstandighede wat aan ons bekend is, danksy ʼn geknoei in Florida en na ʼn besluit van die Appèlhof. ʼn President wat na sy tweede verkiesing in November 2004 steeds deur “valke” in snyerspakke omring word wat geen snars omgee oor menselewens hier of elders nie; wie se allerlaaste besorgdheid dié oor vryheid is, hier of elders; en wat geensins omgee wat gaan word van die aardbol, of die water, of die lug wat ons vir ons kinders of kleinkinders gaan nalaat nie.

Baie Amerikaners begin dink, net soos ons soldate in Irak, dat iets nie pluis is nie, dat hierdie land nie ooreenstem met die beeld wat in ons gedagtes is nie. Elke dag bring sy kwota openbare leuens. Die mees afgryslike van hierdie leuens is dat elke aksie wat deur die Verenigde State uitgevoer word, vergewe moet word, want ons is gewikkel in ʼn “oorlog teen terrorisme”. Bo en behalwe die feit dat hierdie oorlog in sigself terrorisme is; dat om by mense se huise in te bars, familielede weg te neem en hulle te martel, terrorisme is; dat om ander lande binne te val en te bombardeer, nie groter sekuriteit aan ons bied nie – inteendeel.

ʼn Mens kan ʼn vae idee vorm van wat hierdie regering verstaan onder "oorlog teen terrorisme" wanneer ʼn mens terugdink aan mnr. Donald Rumsfeld, Amerikaanse Minister van Verdediging (een van die "mees gesoekte mense" op die sersant se lys), se bekende verklaring toe hy die NAVO-ministers kort voor die inval in Irak in Brussel toegespreek het. Hy het verduidelik watter bedreigings oor die Weste hang (dink net – ons praat steeds van “Weste” asof dit ʼn heilige entiteit is, terwyl die Verenigde State, wat daarin gefaal het om verskeie Westerse lande (waaronder Franryk en Duitsland) te werf vir hulle projek om Irak binne te val, agterna ten alle koste probeer het om Oos-Europese lande daartoe om te haal, deur hulle te oortuig dat ons enigste doelstelling is om die Irakiërs te bevry op dieselfde wyse as wat ons hulle bevry het van die Sowjet-houvas). Mnr. Rumsfeld, in sy verduideliking van watter bedreigings heers en hoekom hulle “onsigbaar en onidentifiseerbaar” is, het sy onverganklike drogrede geuiter: "Daar is die dinge wat ons ken. En dan is daar ander dinge waarvan ons nie kennis dra nie. Dit wil sê, daar is dinge wat ons weet, maar op die oomblik dra ons nie kennis daarvan nie. Maar daar is ook onbekende dinge waarvan ons nie kennis dra nie. Daar is dinge wat ons nie weet dat ons nie kennis daarvan dra nie. Om op te som, die afwesigheid van bewyse is nie die bewys van afwesigheid nie ... Om nie die bewys te hê dat iets bestaan nie, beteken nie dat ons die bewys het dat dit nie bestaan nie."

Onbekwame Bush-administrasie

Gelukkig is mnr. Rumsfeld daar om vir ons duidelikheid te gee. Dit verduidelik waarom die Bush-administrasie, in sy onbekwaamheid om die verantwoordelikes vir die terreuraanvalle van 11 September aan te keer, met rasse skrede voortgegaan het, Afghanistan binnegeval en gebombardeer het vanaf Desember 2001, duisende mense laat sterf en honderde duisende ander laat vlug het, en steeds nie weet waar die boosdoeners skuil nie. Dit verduidelik ook waarom die regering, sonder vaste kennis van die tipe wapens wat mnr. Saddam Hoessein wegsteek, besluit het om Irak in Mei 2003 te bombardeer en binne te val, tot die misnoeë van die VN, en so duisende burgerlikes en soldate laat sterf, en onder die burgery skrik aangeja het. Dit verduidelik waarom die regering, wat nie weet wie terroriste is en wie nie, besluit het om honderde mense gevange te hou in die Guantanamo-strafkolonie onder omstandighede wat agtien van hulle tot selfmoord gedryf het.

In sy verslag vir 2005 aangaande die skending van menseregte regoor die wêreld en wat op 25 Mei 2005 openbaar gemaak is, het die Amnesty International-organisasie nie gehuiwer om te bevestig dat "die Guantanamo-aanhoudingsentrum die gulag van ons tyd geword het" nie. Die Sekretaris-Generaal van die organisasie, mev. Irene Khan, het bygevoeg: "Waneer die magtigste land op die planeet die voorrang van die wet en van menseregte vertrap, laat hy al die ander toe om die reëls skaamteloos te verbreek, in die oortuiging van ook ongestraf daarvan af te kom".

Mev. Khan het ook die Verenigde State se pogings om martelingspraktyke te minimaliseer, veroordeel. Die Amerikaners, het sy beklemtoon, poog om die onvoorwaardelike karakter van die verbod op marteling te herroep deur dit te “herdefinieer” en “af te water”. Trouens, het sy gewaarsku, "martelingspraktyke wen veld sodra die amptelike veroordeling daarvan nie meer absoluut is nie". Ten spyte van die verontwaardiging wat ontlok is deur die mishandelings wat in die Abou Ghraib-tronk in Irak gepleeg is, het Amnesty dit betreur dat nóg die regering, nóg die Kongres van die Verenigde State ʼn onafhanklike diepteondersoek daaroor aangevra het.

Die sogenaamde "oorlog teen terrorisme" is nie net ʼn oorlog teen ʼn onskuldige nasie in ʼn vreemde land nie, maar ʼn oorlog teen die mense van die Verenigde State. ʼn Oorlog teen ons vryhede, ʼn oorlog teen ons lewenstyl. Die land se rykdom word van die mense weggeneem om dit aan die super-rykes uit te deel. Ook die lewens van ons jongmense word van hulle weggeneem.

Daar bestaan geen twyfel dat die oorlog wat reeds twee jaar en drie maande lank duur, nog baie slagoffers gaan oplewer nie, nie net in die buiteland nie, maar ook op Amerikaanse grondgebied. Die administrasie sê aan wie wil hoor dat ons suksesvol uit hierdie oorlog sal tree, want in teenstelling met Vietnam, is daar min slagoffers (1). Dit is waar, “slegs” enkele honderde gesneuweldes. Maar wanneer die oorlog tot ʼn einde kom, sal die slagoffers van die gevolge van hierdie oorlog – siektes, traumas – ononderbroke toeneem. Ná die oorlog in Vietnam het veterane aangebore misvormings in hulle families gerapporteer wat deur die oranje agens veroorsaak is, ʼn sterk, uiters giftige onkruiddoder wat oor die Vietnamese bevolking gesproei is.

Duisende dood

Tydens die eerste Golfoorlog in 1991 is slegs enkele honderde verliese aangeteken, maar die Vereniging van Veterane het onlangs die dood van 8 000 onder hulle geledere in die afgelope tien jaar veroordeel. Tweehonderdduisend veterane van die seshonderdduisend wat aan die eerste Golfoorlog deelgeneem het, kla van siektes of van patologieë te wyte aan die wapens en ammunisie wat tydens hierdie oorlog gebruik is. Laat ons wag om te sien wat die gevolge is van verarmde uraan op ons jong meisies en die jongmense wat na Irak gestuur is.

Wat is ons plig ? Om al hierdie dinge te veroordeel. Ons is oortuig daarvan dat die soldate wat na Irak gestuur is, die terreur en geweld nie verdra nie, omdat daar leuens aan hulle opgedis is. En wanneer hulle die waarheid gaan besef – soos dit tydens die oorlog in Vietnam gebeur het – gaan hulle teen hulle regering draai.

Die res van die wêreld ondersteun ons. Die Verenigde State se administrasie kan nie vir ʼn onbepaalde tydperk die tien miljoen mense regoor die wêreld wat op 15 Februarie 2003 geprotesteer het en wie se getalle daagliks aangroei, ignoreer nie. Die mag van ʼn regering – ongeag die wapens waaroor dit beskik of die geldeenheid tot sy beskikking – is broos. Wanneer hy sy geloofwaardigheid teenoor sy bevolking verloor, is sy dae getel.

Ons moet betrokke raak by alle aksies wat die doelstelling het om hierdie oorlog te laat eindig. ʼn Mens kan nooit te veel daaraan doen nie. Die geskiedenis van maatskaplike veranderings is gemaak deur miljoene aksies, klein of groot, wat op ʼn bepaalde oomblik in die geskiedenis bymekaarkom. Tot op die tydstip wanneer dit magtig genoeg word sodat geen regering dit kan onderdruk nie.

* Historikus en emeritus-professor aan die Universiteit van Boston (VSA). Skrywer van onder meer A People's History of the United States: 1492–Present en Voices of a People’s History of the United States, onderskeidelik gepubliseer in 1980 (hersien in 1995) en 2004.

Vertaal deur Christel Cattin

__________

(1) Op 20 Junie 2005 het die aantal Amerikaanse soldate wat in Irak gesterf het 1724 beloop en die aantal beseerdes 12896 (bron: http://www.antiwar.com/casualties/).


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=313
Artikel nagegaan:
    -