blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die (NG) Kerk en sy tyd: Die kerke, die neoliberale orde en die gemeenskap 2005-08-17
Danie Goosen

Deur Danie Goosen*

 

Dat die tradisionele Afrikaanse kerke ʼn krisis ervaar, is iets waarmee talle mense sal saamstem. Alhoewel kerkbywoning en die getal lidmate nie die enigste maatstaf vir die krisis is nie, moet dit nogtans as ʼn belangrike wegwyser ervaar word. Soos in ander Westerse lande is daar ook onder die tradisionele Afrikaanse kerke ʼn stelselmatige uitkalwing van dié steun.

Oor die veelheid oorsake wat tot hierdie krisis aanleiding gegee het, hoef gelukkig nie hier breedvoerig uitgewei te word nie. Slegs een manifestasie daarvan is hieronder ter sprake, naamlik die ‘kultuur-politieke’ spanningslyn dwarsoor die Westerse wêreld tussen die tradisionele kerke enersyds en die neoliberale verbruikerskultuur andersyds.

Vanuit ʼn historiese perspektief het die tradisionele kerke vanaf die 1960’s en plaaslik ietwat later nie ʼn kultuur-politieke antwoord op die onbetwisbare hegemonie van die neo-liberale verbruikerskultuur nie. As kerke in die toekoms ʼn betekenisvolle kultuur-politieke rol wil speel, sal hulle dit waarskynlik slegs verwerf deur middel van ʼn grondige kritiek op die neoliberale wêreld.

Dit sal ʼn fout wees om die agteruitgang van die kerke aan ʼn soort noodwendige proses toe te skryf wat homself op ʼn onverbiddelike wyse voltrek. Laasgenoemde oordeel is tipies van die neoliberale perspektief op die geskiedenis. Daarvolgens sal die kerk vanweë die proses van modernisering noodwendig van die toneel verdwyn. Dit is egter ʼn hoogs betwisbare punt. Alhoewel die Britse kerke byvoorbeeld die afgelope dekades ʼn skerp daling in lidmate ervaar het, het hulle nog tot so onlangs as die laat 1950’s juis ʼn buitengewone toevloei van lidmate gehad. Die sogenaamde moderne wêreld het nie per definisie verhinder dat groot getalle mense by die kerke aansluit nie.

Die agteruitgang van die kerke moet eerder gesoek word in die veranderde magsverhouding tussen hulleself en die neoliberale orde. Niks dui daarop dat hierdie verhouding binnekort gaan verander nie. Inteendeel, talle kerke skep eerder die indruk dat hulle uit ʼn verbete poging tot ‘relevansie’ in die liberale orde opgeneem wil wees. Indien hulle volgens hul eie oordeel dit nie doen nie, sal hulle met die een of ander ‘fundamentalisme’ geïdentifiseer word. En dit moet ten ene male vermy word. Maar so val die ganse gesprek oor die posisie van die kerke uiteen in die onvrugbare keuse tussen óf die neoliberale orde, óf die fundamentalisme. Niks pas die neoliberale hegemonie beter as juis dié opposisie nie, ook omdat hy sy eie fundamentalisme so agter ʼn skerm van oënskynlike verdraagsaamheid verberg.

 

Gemeenskap in die hart

 

In die hart van die spanning tussen die tradisionele kerke en die neoliberale orde staan die begrip ‘gemeenskap’, (of dit waarna Ad Verbrugge in sy uitsonderlike Tijd van Onbehagen [Amsterdam: SUN, 2004] verwys as die horison van besieling waaruit kulture hul krag put). As die neoliberale orde ten diepste die feit van gemeenskap as ʼn struikelblok in die vestiging van sy hegemonie ervaar, het die Christelike tradisie daarenteen nog altyd in sy grootse oomblikke die woord gemeenskap in die hart van sy selfverstaan geplaas. As die kerke dan ook hoegenaamd ʼn geloofwaardige antwoord aan die neoliberale orde sal gee, sal dit waarskynlik vanuit ʼn (her)toe-eiening van die woord gemeenskap geloods moet word. Maar daarvoor sal die kerke hul eie historiese bronne (die Patristiek, die hoë Middeleeue, ensovoorts) moet herontdek. Soos die Franse sê, ʼn egte resourcement is nodig. Dit beteken nie dat die kerke bo-oor die moderne wêreld na die verlede sal kan terugkeer nie. Maar geen toekoms sal ook moontlik wees sonder ʼn dwingende gesprek met die verlede nie.

Waarom die neoliberale vyandskap jeens ‘gemeenskap’? Daardie oer-voorganger van die neoliberale wêreld, naamlik die moderne liberale tradisie self, het mense nog altyd vanuit hul deelname aan die groter geheel van dinge en, na analogie daarvan, uit hul deelname aan die veelheid van partikuliere gemeenskappe geabstraheer. Nie die positiewe ‘deelname’ daaraan nie, maar eerder die negatiewe ‘bevryding’ daaruit was sy grootste appèl.

Die oogmerk ten grondslag van die liberale abstrahering van die mens tot suiwer vryswewende individu was groter administratiewe en staatlike beheer. Die liberale argument is kil en berekend: wanneer mense uit hulle gemeenskappe verenkel word, kan hulle tegelyk op ʼn nuwe grondslag verenig word, naamlik op grondslag van die soewereine nasiestaat. In die geskiedenis van die nasiestaat het dit ook so gebeur: Mense is vanaf die vroeë nasiestate vanuit hul gemeenskappe losgemaak en onder die absolute soewereiniteit van die staat geplaas. Robert Nisbet het reg as hy sê dat die grootste spanningslyn van die moderne era nie tussen die staat en die individu lê nie, maar tussen die staat en die gemeenskappe. In die liberale wêreld is staat en individu nie vyande nie, maar bondgenote téén die gemeenskappe.

 

Neoliberale hegemonie

 

Die neoliberale hegemonie van vandag is ʼn radikalisering van dié anti-gemeenskapsmotiewe. Anders as in die liberale wêreld is dit egter nie net nasiestate wat tans instrumente van beheer is nie, maar magte wat magtiger as hulle geword het, naamlik die multinasionale korporasies en die netwerk van globale finansiële instellings. Die effek wat hulle het, is egter dieselfde (ofskoon op ʼn groter skaal) as die nasiestaat, naamlik om mense nogmaals uit hulle gemeenskappe te abstraheer. Anders as in die liberale era lei dit egter nie net tot ʼn herdefiniëring van die mens as hiperindividu (en hiperprodusent) nie, maar ook tot ʼn herdefiniëring van die mens as hiperverbruiker.

Tekenend hiervan is die belangrikheid van kontraktuele verbintenisse en die juridifisering van gemeenskappe. So word die gesin as maatskaplike eenheid nie meer as ʼn heilige gemeenskap ervaar wat kulturele kontinuïteit en oordrag waarborg nie, maar eerder as ʼn kontraktuele eenheid wat na willekeur deur vryswewende individue opgehef kan word. Die belangrikheid van die kontraktuele blyk ook uit die vervanging van die geskenk, wat eens maatskaplike bande onderhou het, met die ekonomiese transaksie.

Die Christelike tradisie het nog altyd die werklikheid self ervaar as ʼn saak wat deur gemeenskap (communio) gekenmerk was. Waarom? Omdat dié tradisie nog altyd mense verstaan het vanuit hul deelname aan wat ervaar is as die goeie skepping, en in die besonder vanuit hul deelname aan die beginsels ten grondslag van die goeie skepping, naamlik die ware, die goeie en die skone. (Bykans alle sektariese uitdagings aan die kerk was op die een of ander wyse ʼn uitdaging van die idee dat die werklikheid die trekke van ʼn deelnemende gemeenskap vertoon. Die liberale tradisie is een van die magtigste hedendaagse vertolkers van dié uitdaging).

Die tradisie se idee van gemeenskap het tydens die hoogtepunte van die historiese Christendom in sy talle liturgiese praktyke gestalte gekry. In en deur die rituele van die familie, die dorp, die stad, die regionale regering, die gilde, die universiteit, die ryk, die kerk ensovoorts, is aan die ware, die goeie en die skone deelgeneem en is die werklikheid self as ʼn gemeenskap gevier. Daarom is dit ook nie vreemd nie dat die Christelike tradisie dikwels na homself en die kerk as ʼn “liturgiese kosmos” verwys het.

 

Christelike communio

 

Die wese van die liberale wêreld lê vervat in die breuk wat dit met die Christelike communio aangekondig het. Die belangrikste strategiese wapen wat dit teen die ou gemeenskap ingespan het, was om ʼn wig in te dryf tussen dinge wat oor eeue en veral tydens die hoë Middeleeue in ʼn delikate gemeenskap met mekaar gehou is. Dit sluit onder meer die gemeenskap in tussen teologie en filosofie, tussen kultuur en natuur, kerk en ryk, die innerlike en die uiterlike, egoïsme en altruïsme, die sublieme en die skone, die geskenk en die ekonomiese transaksie, ensovoorts. In die liberale wêreld kom dié dinge in ʼn uitsluitende verhouding teenoor mekaar en ten koste van hulself te staan.

So kom die innerlike subjek nou te staan teenoor ʼn dooie objektiewe wêreld, die gevoel teenoor die nou blote formalistiese wêreld van instellings, liefde vir die ander teenoor liefde vir die self, die afgrondelike sublieme teenoor die gesimuleerde skone, die radikale geskenk teenoor die ekonomiese transaksie, ʼn ontvlugting van die wêreld teenoor ʼn mistiese versinking in die wêreld, ensovoorts. Van ʼn gemeenskap tussen dié dinge kon daar nie meer sprake wees nie.

Die neoliberale wêreld is ʼn radikalisering van dié anti-gemeenskapslogika. Dit maak op ʼn globale skaal waar wat die liberale moderniteit in die vooruitsig gestel het. Uit ʼn groot aantal brandpunte noem ons net enkele sake:  

1. In sy kritiek op die communio tussen die mens en die goeie skepping lewer die neoliberale wêreld die moderne mens uit aan die ervaring van die werklikheid as ʼn akosmiese en tuistelose plek waarbinne mense hulself toevallig bevind. Met laasgenoemde kan geen gemeenskap moontlik wees nie. Inteendeel, die sentrale rol wat die liberale moderniteit aan “angs”, en die neoliberale wêreld aan “onverskilligheid” toeken, ondermyn juis enige sodanige gemeenskap en wakker eerder ʼn stemming aan van ontvlugting. Hierin stem dit wesenlik ooreen met die ou gnostici, want ook vir laasgenoemde was die werklikheid ʼn donker en bose plek waarop slegs by wyse van ʼn vlugreaksie geantwoord kon word.

Dit het ʼn ontwrigtende effek op die moderne mens se ervaring van dinge soos die ware, die goeie en die skone. In plaas daarvan dat mense hulself vanuit hul deelname aan dié beginsels verstaan, word hulle uitgelewer aan ʼn blote instrumentele opvatting van die waarheid (die multimiljarddollar-kennisbedryf); ʼn moralistiese opvatting van die goeie (politiek-korrekte instellings); en ʼn verskraling van die skone tot blote kitsch (die magtige vermaaklikheidswêreld). Die ware, die skone en die goeie word blote instrumente waarmee moderne mense hulself verskans teen die tuistelose werklikheid en die angs of onverskilligheid wat laasgenoemde aanwakker. Nie die dankbare deelname aan die skepping nie, maar eerder die paranoïes-instrumentele verskansing daarteen word sy hoogste imperatief.

 

Innerlike en uiterlike

 

2. In sy verbreking van die ou gemeenskap tussen die innerlike en die uiterlike het die liberale wêreld die “religieuse” tot die innerlike wêreld ingeperk. Religie word voortaan nie meer gesien as iets wat in openbare liturgiese praktyke gestalte kry nie, maar eerder as iets wat slegs in die private tot sy reg kan kom: in dinge soos die innerlike gevoel, die piëtistiese stemming, die morele bedoeling, die sprong van die geloof, die spirituele oefening, ensovoorts. Rituele self word in die proses van betekenis gestroop en tot blote instrumente van beheer verskraal.

Die effek van die inperking van die religie tot ʼn onwêreldse innerlikheid was om dit van sy ‘liturgiese’ mag te stroop. Terwyl die moderne staat met die wêreldse geïdentifiseer en absolute soewereiniteit daaroor verwerf het, kan die kerk vanuit die onwêreldse innerlikheid nie meer inspraak op die wêreld hê nie. Nog beter, vandaar kan dit self nie die ‘wêreld’ (die kosmiese liturgie) wees wat dit was nie.

Die neoliberale wêreld verdiep dié ontmagtiging. Meer as ooit word godsdiens tot die private verban. Hoe sterker die moderne kerke dan ook aansluiting soek by die neoliberale wêreld, des te meer word hulle deur historiese irrelevansie gekenmerk. Privatiserende innerlikheid word liturgiese selfopheffing en gnostiese wêreldontvlugting.

Tekenend van die onmag van die godsdiens is dat dit toenemend ingeskryf word in die mark en die wette van vraag en aanbod. As geprivatiseerde ervaring word die religieuse al hoe meer ‘spirituele handelsware’ waarmee handel gedryf kan word. Daarom ook nie vreemd nie dat die religieuse ervaring in die neoliberale era uitgegroei het tot ʼn multimiljarddollar-besigheid. Jeremy Carrette skryf breedvoerig daaroor in Selling Spirituality. The Silent Takeover of Religion (Routledge, 2004).

 

3. Die hedendaagse splitsing tussen ‘teologie’ en ‘historiese navorsing’ is ʼn gevolg van die liberale erfenis. Dit vind vandag uitdrukking in die spanning tussen die Afrikaanse kerke enersyds en die sogenaamde Nuwe Hervormers andersyds.

Laasgenoemde se beroep op die sogenaamde ‘historiese konteks’ as die enigste toetssteen vir die hedendaagse relevansie van die dogma kontinueer die dualistiese denke van die neoliberale moderniteit. Teenoor die eintlike historiese werklikheid, sê hulle, staan die latere uitgediende dogmatiese verdigsel. Tussen ‘toe’ en ʼnou’ kan geen brug geslaan word nie, en word die godsdiens tot ʼn blote moralisme verarm. Dat die nuwe hervormers daarmee juis nie ʼn grondige hervorming inlei nie, maar slegs ou modernistiese uitgangspunte herhaal, ontsnap hulle klaarblyklik.

In die toekomstige antwoord op die neoliberale wêreld kan daar nie eenvoudig teruggekeer word na die verlede nie. As daar van ʼn resourcement, ʼn terugkeer na die bronne, sprake sal wees, sal dit ʼn terugkeer moet wees wat ons tegelyk vir die toekoms oopstel - en vir die geboorte van dinge anderkant die nihilisme van ons tyd.

 

* Filosoof en voorsitter van die FAK


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=301
Artikel nagegaan:
    -