blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Versindaba, 'n naweekfees met digters, Stellenbosch, 9 en 10 September 2005 2005-07-07
Louis Esterhuizen


Geborg deur Jannie Mouton Stigting & Protea Boekhuis

in samewerking met Woordfees


Protea Boekwinkel 657 Bergzicht Plaza Andringastraat Stellenbosch 7599

(021) 882-9100 Bestuurder: (021) 882-9103 Selfoon 083-287-4231

Faks: (021) 882-9110 [email protected]




n Indaba om die Verskuns opnuut vonk te gee!


Die Afrikaanse poësie word wyd beskou as die genre wat waarskynlik oor die afgelope 100 jaar die meeste tot die status van die Afrikaanse letterkunde bygedra het. Dit is opvallend dat twee digters (N.P. van Wyk Louw en Breyten Breytenbach) vroeër vanjaar deur ’n paneel letterkundiges uitgesonder is as die skrywers wat die meeste tot die Afrikaanse kulturele bewussyn/erfenis bygedra het.


En wat het ons behou van ons letterkundeklasse op skool? Flertse verse, poëtiese beelde, dalk selfs 'n hele gememoriseerde gedig, die toonsetting van 'n Ingrid Jonker- of Boerneefvers. Sonder dat ons daarvan bewus is, is die Afrikaanse poësie deel van die meeste Afrikaanssprekendes se woordeskat en gedagtewêreld.


Tog wil dit voorkom of die Afrikaanse poësie oor die afgelope dekade aan status ingeboet het. Bewyse hiervoor lê onder meer daarin dat gevestigde uitgewerye tans gemiddeld twee tot vier digbundels per jaar uitgee. Voorts is die ruimte wat in die gedrukte media aan boekbesprekings afgestaan word, ernstig ingekort.


Desnieteenstaande geniet Afrikaanse digters heelwat aansien in die internasionale arena en heelwat van ons digters word gereeld genooi om aan internasionale poësiefeeste deel te neem.


n Omvattende bloemlesing oor die Afrikaanse digkuns het ook enkele jare gelede in Nederland verskyn. Etlike Afrikaanse digters se verse word gereeld in ander tale vertaal en oorsee versprei.


In ’n poging om die marginalisering van ons digkuns teen te werk, is daar besluit om ’n Afrikaanse poësiefees te reël waartydens sowel ons voorste digters as jonger, ontluikende digters saam kan deelneem. Die oogmerk van hierdie fees is om as waarmerk te dien vir die stand van poësie in Afrikaans soos dit tans daaruit sien.


Daarom heers daar groot opgewondenheid by die organiseerders om die eerste poësiefees vanjaar gedurende die naweek van 9 en 10 September 2005 in die HB Thomteater, Victoriastraat, Stellenbosch aan te bied. Die verrigtinge sal Vrydag om 18:00 begin. Die program bestaan uit drie sessies: Vrydag van 18:00 tot 22:30, Saterdag van 10:00 tot 17:15 en van 19:00 tot 23:30.


Tydens die gala-geleentheid Saterdagaand in die HB Thomteater sal ’n nuwe prys vir die beste digbundel van die voorafgaan jaar oorhandig word. Die toekenning word deur Protea Boekhuis en die Jannie Mouton-Stigting geborg. Hulde sal voorts aan enkele senior digters gebring word.


Die program tydens die fees bestaan uit voorlesings deur digters, voordragte deur professionele woordkunstenaars, onderhoude, lesings, musiekitems, ’n vasvra-kompetisie, ’n bekgeveg en ook die dramatisering van gedigte. Dit beloof om ’n gevarieerde en hoogs vermaaklike program te wees!


Twintig gevestigde en 8 opkomende digters word genooi. Verskeie vermaaklikheids-kunstenaars sal saam met hulle optree.


Die lys digters wat gaan optree, sluit in:


Hennie Aucamp, Martjie Bosman, Marius Crous, Jan de Bruyn, Philip de Vos, Julian de Wette, Melanie Grobler, Daniel Hugo, Marlise Joubert, Trienke Laurie, Lucas Malan, Johann Lodewyk Marais, Petra Muller, Charl-Pierre Naudé, Henning Pieterse, Peter Snyders, Lina Spies, Marlene van Niekerk, Ilse van Staden en George Weideman.


Die opkomende digters wat deel van die program is, is Thérèse Bartman, Toast Coetzer, Erns Grundling, Ronel Kamfer, Tertius Kapp, Loftus Marais, Adolph van Coller en Johannes van Jerusalem.


n Bloemlesing bestaande uit enkele verse van die deelnemende digters sal spesiaal deur Protea Boekhuis gepubliseer word en by die fees te koop wees.


Van die musiekkunstenaars wat gaan optree, is Philip de Vos, Peter Snyders, Toast Coetzer en die Buckfever Underground, Marica Otto, Helena Conradie, Laurinda Hofmeyr, Ancient Men en André Howard wat ’n liedsiklus “en skielik is dit aand”, bestaande uit toonsettings Wilhelm Knobel-gedigte deur Hendrik Hofmeyr sal sing.


n Breedvoeriger program asook ’n naamlys sal mettertyd beskikbaar wees.


Kaartjies is te koop by Protea Boekwinkel (Stellenbosch) en kan telefonies by (021) 882 9100, of per e-pos by [email protected]., aangekoop word. Besoek gerus die webblad www.proteaboekhuis.co.za. vir meer besonderhede.




Louis Esterhuizen

Koördineerder

Tel. 021-8829100

[email protected]











 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=280
Artikel nagegaan:
    -