|
||||
Ntombikanina Malinga Deur Ntombikanina Malinga. Malinga se agtergrond is in regte en politiek en sy werk tans in die strategiese afdeling van `n groot semi-staatsinstelling Inleiding Patrick Reinsborough beweer daar is `n Boeddhistiese uitspraak wat waarsku dat as “die taak voor ons baie dringend is, ons ons spoed moet verminder”. Dit is `n hoogs verligte verklaring, aangesien ontleding die belangrikste werktuig in enige gereedskapskis van maatskaplike verandering is (1). Gevolglik kan `n poging om die groeiende gaping tussen die swart elite en die swart massa uiteen te sit, te omskryf en selfs te kommentarieer slegs begin met `n kritiese ontleding begin van die terminologie en die ideologiese oriëntasie wat in hierdie einste aanspraak ingebed is. Voor `n mens nog kommentaar lewer op die gaping tussen Afrikane wat “besitters” en “niebesitters” is, word `n mens se aandag reeds getrek deur die aanmatigende wyse waarop die onderwerp geformuleer is. Uit daardie gesigspunt is dit ooglopend dat die gaping nie net bestaan nie, maar ook – hoogs interessant – besig is om te groei. Die groei-element verkry verder `n eietydse toon, in teenstelling met die gaping synde `n verskynsel wat waarskynlik lank voor 1994 bestaan het. Dit is dus belangrik dat daar eers eenstemmigheid oor `n paar grondliggende sake bereik word voordat `n tese gemaak word. Eerstens is die element van groei `n baie subjektiewe vertrekpunt. In allevroutaal kan `n mens maar net vra: watter navorsing vorm die basis vir hierdie aanspraak oor groei? Dit wil sê, indien die gaping as groeiend voorgestel word, na watter punt in die geskiedenis verwys ons terug? En meer grondliggend, hoe omskryf ons groei? Wat maak groei uit, in objektief onweerlegbare terme, en op `n wyse wat maklik verstaanbaar kan wees vir enige gemiddelde Suid-Afrikaner? Tweedens moet daar klaarheid oor die begrip van `n gaping wees. Verwys ons hier na `n werklike of `n vermeende gaping? Watter graad van ongelykheid vorm `n gaping, en wie omskryf dit? Voorts, en van die grootste belang: na watter soort verskil verwys ons hier? Is hierdie ongelykheid onderskeibaar in terme van klas, geslag, sosiopolitieke aspekte, religie, kultuur, akademiese/politieke oriëntasie of selfs lokaliteit? Na watter kategorie verwys ons? Is dit een van bogenoemde, al die bogenoemde, of `n soort kombinasie? Derdens, wie is `n ‘swart’ Suid-Afrikaner? Hierdie naïewe vraag het `n nimmereindigende tog in Suid-Afrika geword wanneer gepoog word om te onderskei tussen die verskillende bestaande skakerings van grys (of in hierdie opsig swart). Daar is sosiopolitieke ontleders wat in onweerlegbare terme sal aanvaar dat ‘swart’ verwys na groepe mense wat voorheen in Apartheid Suid-Afrika bekend was as Bantoe, Kleurling of Indiër. Hierdie is `n meer heersende siening, aangesien verskillende stukke wetgewing (2) ‘swart’ algemeen omskryf as enige persoon wat sigself beskou as Afrikaan, Indiër of Kleurling – en wat bowenal gedurende Apartheid Suid-Afrika (1948 – 1994) benadeel was. Die Wet op Omvattende Swart Ekonomiese Bemagtiging van 2003 omskryf “swartmense” as `n generiese term wat “Afrikane, Kleurlinge en Indiërs” insluit (3). In dieselfde asem is daar egter ‘regses’ in elk van die drie genoemde groepe wat dikwels betoog vir `n meer puristiese benadering tot die omskrywing van verskillende rasse in Suid-Afrika. Hulle sal betoog teen `n ‘een-grootte-vir-almal’ omskrywing en sal selfs religieuse en ooglopende kulturele verskille as geldige differensiasie noem. `n Goeie voorbeeld is hoe `n meerderheid van die sogenaamde Kleurlingbevolking steeds weier om ‘swart’ genoem te word, asook sommige uit die Indiërgemeenskap (wat dieselfde sentimente sterk deel). Met dit alles in gedagte, watter skakering van ‘swart’ gaan hiervandaan die onderwerp van ons ontleding wees? En hoe omskryf `n mens laastens vanuit ons gereedskapskis van ontleding die swart elite? Sou `n mens dieselfde beginsels toepas as jy die ‘wit’ elite omskryf? Is melanien hier die enigste onderskeider (4), of lê daar meer in hierdie term? En bowenal, op watter punt van die maatskaplike gelaagdheid (organisasiestrata) gradueer `n ‘swart’ van ‘massa’ na ‘elite’? Hierdie artikel sal poog om in die lig hiervan die gestelde vrae te beantwoord. History of Inequality in South Africa In sy boek maak Sampie Terreblanche (5) `n baie interessante waarneming in die laaste hoofstuk getiteld The apparent dysfunctionality of South Africa’s version of neo-liberal democratic capitalism. Hy verklaar dat “apartheid had a worse legacy than was realised… the social distortions and destructive dynamics introduced by apartheid have reproduced an augmented poverty and perpetual inequality”. Waarby `n mens kan voeg ongelykheid in en oor alle kategorieë van maatskaplike organisasie. In Suid-Afrika is ongelykheid so gewortel in die sosiopolitieke en ekonomiese fondamente van die samelewing dat enigiemand wat wonder oor bestaande klowe oor klasse, geslagte of rasse heen, bloot besig is om die ooglopende te bevraagteken. Niks demonstreer hierdie uitspraak beter as die ekonomiese samestelling van die Suid-Afrikaanse samelewing nie. Apartheid het nie net binne `n kapitalistiese formasie gedy nie, maar die feit van die saak is dat dit in die aard van die kapitalistiese stelsel is om op chaos en verskille te gedy. Gevolglik kan `n mens nie sê dat dit bloot ras, klas, geslag, religieuse, akademiese of selfs lokaliteitverskille is wat die grondslag van die vermeende groeiende gaping tussen die swart besitters en niebesitters vorm nie; die feit van die saak is dat die ganse kapitalistiese stelsel (6) vir ‘die’ verskil verantwoordelik is. Inderwaarheid kan `n mens so ver gaan as om te sê dat, afhangende van die bril waardeur jy kyk, die Suid-Afrikaanse ekonomie (7) teenswoordig maklik nog dieselfde as in Suid-Afrika voor 1994 kan wees. Swart kapitaliste? Swart elite? Om bogenoemde aanspraak te verstaan, hoef `n mens bloot die term ‘swart elite’ te probeer omskryf. Daar is oënskynlik geen noodsaak om die swart massa te omskryf nie, aangesien dit `n klas mense is van wie geen ontleder kan sê dat hy probleme met die omskrywing van sy samestelling ervaar nie. Maar die omskrywing van wie die swart elite is, lei daarenteen altyd tot `n hoogs intense debat. Vir die doeleindes van hierdie artikel sal swart omskryf word soos die Wet op Omvattende Swart Ekonomiese Bemagting dit doen. Dit sal ons gevolglik in staat stel om te fokus op die meer substantiewe argument van die ‘elites-heid’ van swartes as die voorafgaande, wat ons uitmekaar gehaal het, en is verstaanbaarder. In enige staat word die elite dikwels as die hoër klas verstaan. Dit is `n groep mense wat op verskillende maniere `n verhewe maatskaplike status verwerf: byvoorbeeld deur leiers in hul eie velde te wees (bv. priester of wetenskaplike), deur in `n spesifieke familie gebore te word (aristokrasie) of deur die buitensporige vergaring van rykdom (bv. ondernemers). Dit is laasgenoemde kenmerk wat aan enige houer van die elite-trofee meer as slegs status verleen – by name veral eksklusiewe bevoorregting en die vermoë om aktuele en opperste mag uit te oefen! In ons kapitalistiese wêreld word die draer van hierdie ekonomiese mag `n kapitalis genoem. `n Kapitalis is niks meer nie as enigiemand wat die middele van produksie (grond), die verspreiding van rykdom en die instellings wat sodanige mag oor andere in `n spesifieke stelsel help handhaaf, beheer. Nou was dit dikwels in terme van hoe die kapitalistiese stelsel en kapitalistiese beginsels werk, soos dit in Europa en later dwarsoor die wêreld ontwikkel het (en in Afrika veral deur imperialisme en kolonialisme aangehelp) is, maklik om van `n wit persoon as `n kapitalis te praat. Verwysing na die apartheidsperiode in Suid-Afrika maak dit nog makliker om hierdie punt te illustreer, naamlik dat apartheid as stelsel die opvatting dat ekonomiese mag in Suid-Afrika slegs vir die bevoorregte wit minderheid beskore is, onapologeties gevestig het. Dit is waarom `n mens veral in die Suid-Afrikaanse konteks voor 1994 geen onsekerheid kon hê oor wie die kapitaliste is nie. Bogenoemde aanspraak is nie bedoel om `n aanname in stand te hou dat kapitalisme veral in Suid-Afrika nà 1994 steeds ‘n ‘slegs blankes’-terrein is nie… Wat die stelling eintlik doen, is die teenoorgestelde. Dit open die debat oor of daar werklik `n swart kapitalis in die huidige Suid-Afrika is. As `n mens die voorgestelde definisie noukeurig toepas, wonder jy of ons wel vandag in Suid-Afrika swart persone het wat die middele van produksie, verspreiding en die instellings besit wat dit vir hulle moontlik maak om daardie vlak van ekonomiese beheer te handhaaf. Hierdie vraag is belangrik, omdat dit die valsheid of waarheid van die opvatting van `n bestaande gaping tussen die massas en die elite ondersoek. Dit is nie te betwis dat daar wel swartmense met substantiewe rykdom is wat maklik as elite benoem kan word en wat inderwaarheid deur die samelewing as behorende tot die hoër klas beskou word nie. Die debat ontstaan waar `n mens `n streng definisie van die ‘elite’ toepas en met kapitalisme verbind om die kritieke aspek van die eienaarskap van produksie te betrek. En deur bogenoemde benadering te verkies, word jy gelaat met die verpligting om klasse te omskryf. Kortom, is daar `n verskil tussen die bourgeoisie en die werklike kapitalistiese klas? SEB (8) In sy artikel in die Mail & Guardian se elektroniese uitgawe (9) noteer John Pilger “…certainly the income gap between whites and blacks has narrowed slightly [by the inclusion of a small group of black (males) in SA’s white corporate masonry, which is overseen by the power of five big companies dominating the Johannesburg Stock Exchange]. However, inequality among blacks has increased sharply as the new black elite gets richer and the majority gets poorer. [Surely] the new apartheid is one of class not race.” Daar is twee antwoorde wat `n mens kan gee op Pilger se bogenoemde aanspraak en in verband met ons breër ondersoek: eerstens dat daar waarskynlik `n groep swartmense is waarna `n mens as swart kapitaliste of ons sogenoemde swart elite kan verwys. Hier sou ons impliseer dat daar swartmense is wat die middele van produksie, verspreiding van welvaart en die instellings wat dit vir hulle moontlik maak om hierdie ekonomiese mag te handhaaf, beheer. Of, tweedens, dat daar geen swart kapitaliste in Suid-Afrika is nie. Dat wat ons as die swart elite beskou niks meer nie as `n gesofistikeerde bevordering van bourgeoïsme is, of wat ons normaalweg as die middelklas benoem. Bourgeoïsme word vir die doeleindes van hierdie artikel beskou as `n vordering na rykdom langs professionele weë (deur byvoorbeeld `n dokter, prokureur, korporatiewe bestuurder, ens.) te wees. Dit is verder belangrik om kennis daarvan te neem dat hierdie die mees algemene wyse is waarop swartmense voor en nà 1994 daarin geslaag het om deel te wees van die middel-, of is dit die hoër middelklas? Die oorblywende minderheid swartmense wat die ware betekenis van die hoër klas beliggaam het, het dit deur die ware gees van ondernemerskap gedoen. Hierdie is `n paar wat in die mees objektiewe terme daarop kan aanspraak maak om die swart kapitaliste en die swart elite te wees. Vir die doeleindes van hierdie artikel omvat elite egter sowel die middel- as die hoër klas. In Suid-Afrika het die SEB-program daarin geslaag om `n paar swartmense vinnig tot die kapitalistiese klas te voer (bv. onder andere Cyril Ramaphosa, Mzi Khumalo, Patrice Motsepe en Tokyo Sexwale). Soos Zolisa Soji dit in Business Report se elektroniese afdeling van opinie en ontleding gestel het: “…for the black masses, the BEE programme is a fantasy that is lived out by those with the right political connections” (10). Hier bevestig Soji die onnatuurlikheid van hierdie versnelling tot ekonomiese mag. In sy oë verskil dit aansienlik van die ware ondernemers wat baie van die sogenaamde swart massa reeds is – maar ongelukkig slegs informeel kan wees. Om sy aanspraak te ondersteun, is dit nodig om kennis te neem van die vermoede wat bestaan dat minder as 1% van die Suid-Afrikaanse ekonomie vandag werklik deur swartmense besit word. Wat hierdie aanspraak suggereer, is dat dit lyk asof daar `n staats- en korporatief geleide klassekloof bestaan tussen enkele swart besitters en die meerderheid van niebesitters. Die skepping van hierdie kunsmatige gaping lei sommige ontleders daartoe om selfs tot die gevolgtrekking te kom dat dit gevolglik nie verrassend is nie dat die behoeftes van die swart elite besig is om te ontwikkel tot dieselfde vlak as die behoeftes van die wit elite. Dat klas `n hoofrol in die bepaling van die belange van verskillende groepe in Suid-Afrika speel en dat dit bowendien slegs klas is (en nie ander vorme van onderskeiders nie) wat vir die ontwikkeling van `n gaping in die samelewing verantwoordelik is. In wese ken kapitalisme geen kleur nie! Vir sommige ontleders gaan hierdie aanspraak mank aan een kritieke element wat slegs met die volgende vraag uitgelig kan word: as kapitalisme geen kleur ken nie, sê ons hiermee dat die behoeftes van die wit en swart elite heeltemal identies is? En as ons vasgestel het dat daar `n paar swart kapitaliste is (wat die minder as 1% vorm), `n substansiële middelklas is met `n werklike vooruitsig om sigself langs die professionele weg tot welvaart en ekonomiese mag te versnel, waarom omskryf ons dan nog steeds groepe in terme van ras? Vanwaar die behoefte om die groeiende gaping tussen die swart elite en massa te omskryf, en nie bloot `n groeiende gaping tussen die elite en die massa in Suid-Afrika nie – sonder verwysing na ras? Die antwoord op hierdie vraag is die kern van hierdie artikel se tese, naamlik dat daar in wese geen reële en groeiende gaping tussen die swart massa en die elite bestaan nie (as mens in suiwer politieke terme praat). In sosio-ekonomiese terme kan `n mens aanvoer dat daar `n werklike verband bestaan tussen politieke gevolge en hoe hulle in sosio-ekonomiese terme uitspeel. Die gaping soos dit bestaan, is dus `n gevolg van die stelsel self. As `n mens in gebreke bly om die resultate van rassevooroordeel en wit geskiedenis in Suid-Afrika te erken, dan weier jy ook om `n oorsaaklike verband tussen vroeëre politieke besluite en teenswoordige en toekomstige ontwikkelings te sien. Hierdie werklikheid kan nie oorgesien word as `n fase wat bestaan het en wat nou oorgewaai het nie. Die uitdagings wat die swart massa ervaar, is onteenseglik dieselfde as dié van die sogenaamde swart elite, omdat dit alles te make het met die regstelling van die onregte en ongelykhede van voor 1994. Hulle vereis almal meer toegang vir swart teenwoordigheid of verteenwoordiging in Suid-Afrika se hoofstroomekonomie. Of dit nou `n swart kleinsakepersoon is wat sy/haar aktiwiteit van die informele na die formele arena wil verhef, `n swart professioneel wat vra om diensbillikheid in die korporatiewe wêreld, of `n SEB-kandidaat wat `n tender of `n groter deel van die koek in die Suid-Afrikaanse ekonomie nastreef, jaag al hierdie mense een ding na, naamlik om deel te wees van die motor wat die pols van hierdie land se ekonomie aanjaag, en wat vir eeue en by ontwerp vir blankes in Suid-Afrika gereserveer was. Wat wel anders is, is die skaal en vlak van hul ekonomiese spel – maar uiteindelik is die grondliggende oogmerk dieselfde. Hierdie universele oproep om swart deelname in die Suid-Afrikaanse ekonomie moet nie verwar word met hoe hierdie werklikheid sig in maatskaplike terme uitspeel nie. Swartmense is soos witmense in Suid-Afrika (en enige plek ter wêreld) `n samestelling van komplekse persoonlikhede met verskillende individuele aspirasies en vermoëns. Soveel grondliggende verskillende as wat daar tussen witmense bestaan, soveel is daar tussen swartmense. Dit klink asof `n mens die ooglopende uitspel, maar in die Suid-Afrikaanse konteks is dit belangrik om te onderskei tussen staatsgeskepte ongelykheid en die ongelykhede wat in alle samelewings voorkom. Daar is `n historiese rede vir ongelykhede in Suid-Afrika en waarom dit in rassegrondslae ingebed is. Ofskoon dit belangrik is om die verskillende klasse in Suid-Afrika te erken, is dit dus ewe belangrik om die redes te verstaan wat daartoe gelei het dat `n meerderheid van die swartmense deel van die niebesitters/ massa uitmaak, en waarom daar feitlik geen verwysing na die wit massa/niebesitters is nie. Enige eerlike Suid-Afrikaner weet dat dit weens opsetlike ontwerp was, deur die manipulering van staatstelsels, en dat dit ongelukkig jare gaan neem om reg te stel. Wanneer `n mens gevolglik `n groeiende gaping tussen die swart elite en massa oorweeg, is jy waarskynlik op gerieflike wyse besig om die ooglopende feit dat daar verskille in swart verbruikerspatrone bestaan, te bevestig. Dit is geen geheim nie dat swart deelname aan die Suid-Afrikaanse ekonomie nog altyd grootliks verbruikend was, en afhangende natuurlik van waar jy jouself in die maatskaplike strata bevind, sou die vermoë om hierdie ekonomiese mag uit te oefen van persoon tot persoon wissel. Dit sal verklaar waarom sommige swartmense op sekere plekke woon, in sekere plekke werk, eet of selfs vakansie hou waar hulle voorheen nie kon nie. Wat hier in die spel is, is om nie hierdie verskille in verbruikersgedrag verkeerdelik as legitimering vir die aanspraak dat daar `n groeiende gaping is, te beskou nie. Die groter aspirasies en oogmerke vir ekonomiese gelykheid wat alle swartmense in Suid-Afrika by historiese verstek deel, demonstreer dat daar geen paradigmaverskuiwing of -gaping is nie. `n Groeiende gaping in verbruikerisme en vergaringsterme omskryf, kleineer dit waarvoor swartmense as `n nasie vóór 1994 geveg het. `n Mens sê nie dat wat mense in hul lewens vergaar van geen betekenis is nie. In Suid-Afrika vandag word die huis waarin jy woon, die motor waarmee jy ry en die lewenstandaard wat jy geniet dikwels as die maatstaf van ware sukses geag. Maar in reële terme beteken dit alles niks as `n mens steeds `n ongelykes randdeelnemer in Suid-Afrika se ekonomiese aktiwiteite bly. Swartmense kan nie voortgaan om die groei van die middelklas as `n ware weerspieëling van ekonomiese insluiting in Suid-Afrika te beskou nie. Miskien is dit op een vlak waar, maar soos Moeletsi Mbeki dit in sy artikel oor Suid-Korea en lesse vir Suid-Afrika gestel het, het Suid-Korea deur die aanwending van regeringsmag om ware ondernemerskap te bevorder, daarin geslaag om sy mense te bemagtig om groot spelers in sy ekonomie asook in die buiteland te wees (11). Op `n ligter noot is dit ook belangrik om daarvan kennis te neem dat kapitalisme nie net `n ekonomiese stelsel is nie, maar ook `n omvattende maatskaplike stelsel. Gevolglik sal die verbruikerspatrone van die meeste klasse as `n kollektief maatskaplik en met die invloed van globalisme ooglopend binnelands asook oor landsgrense en vastelande heen dieselfde wees. Hier is die verskil weer nie van grondliggende ekonomiese aard nie, maar dat in suiwer ekonomiese terme enige individu ongeag sy kultuur, religie, geslag of ras op `n voorspelbare manier sal reageer teenoor globaal omskrewe en gepopulariseerde verbruikerspatrone en -voorkeure. Gevolgtrekking Ons het begin deur te verklaar dat “die taak voor ons baie dringend is, en ons spoed moet verminder.” Hierdie waarskuwing was relevant om die verskillende aspekte van `n veranderende samelewing soos Suid-Afrika te verstaan. Dit is `n waarskuwing waarop ag geslaan is in die uiteensetting van die groei in die gaping tussen die swart elite en die arm swart massa. Dit was gevolglik raadsaam om die “vermindering van spoed” aan te wend vir ‘n kritiese evaluering van die aard van die aanspraak dat daar inderdaad `n groeiende gaping is. Wat hierdie artikel probeer doen het, is om die aanname van `n groeiende gaping tussen die swart elite en die swart massa uitmekaar te haal. Dit het probeer om sleutelterme te omskryf wat dikwels, indien nie omskryf nie, tot lang en onnodige debatte lei. Of bogenoemde bereik is of nie, is `n onderwerp vir `n ander artikel. Wat die leser uit hierdie artikel kan neem, is `n erkenning dat, afhangende van hoe `n mens verkies om die gaping te sien, jy eers moet begin om sekere grondliggende sleutelaspekte te erken, byvoorbeeld dat jy by die evaluering van die gaping duidelikheid moet kry oor die aard van die gaping wat jy ondersoek. Dit wil sê, kan dit `n ideologiese kerngaping wees in mense se siening van hul wêreld, of praat ons van `n oppervlakkige gaping wat in enige gegewe groep mense of in enige samelewing kan voorkom? Van die betekenisvolste is dat `n mens ook die karakter van daardie gaping wat dit `n interessante gevallestudie vir ontleding maak, identifiseer. In hierdie geval sal `n mens dan verstaan waarom iemand daarin belang sal stel om `n groeiende gaping tussen die swart elite en die swart massa te ontleed. Die ondersoek is uiteraard baie kontekstueel en deur `n sekere paradigma ingegee. Die konteks is naamlik dat Suid-Afrika `n hoogs dinamiese samelewing is wat deur `n majeure metamorfose is en steeds gaan, sedert sy oorgang van apartheid tot demokrasie na 1994. Om hierdie rede is dit nie ongebruiklik vir mense om hierdie konstante verandering te ondersoek nie. Die paradigma is, soos voorheen gestel, dat die aanname van `n groeiende gaping uit twee groot aannames vloei: inherent hieraan is eerstens dat inderdaad vasgestel is dat daar `n gaping tussen die swart elite en massa bestaan; tweedens dat hierdie gaping groei. Bowendien aanvaar die aanspraak dat die veronderstelde groeiende gaping `n nuwe verskynsel is, oftewel `n produk van die bedeling nà 1994. Om dit blatant te stel, kan `n mens tot die gevolgtrekking kom dat, afgesien van `n paar swartmense wat 1% van Suid-Afrika se ekonomie besit (óf op hul eie, óf in die vorm van gesofistikeerde vennootskappe), die meerderheid swartmense (as verbruikers, beroepslui of ondernemers) hulself steeds in verskillende lae (stadia) van Suid-Afrika se ekonomiese rand vind. Om aanspraak daarop te maak dat daar `n groeiende gaping tussen die swart elite en die swart massa is, is om die grondliggende feit dat `n mens steeds verwys na `n groep mense wat dieselfde uitdaging in die gesig staar - `n beweging vanaf die rand na die ware kern van ekonomiese aktiwiteit in Suid-Afrika – oor te sien. __________ (1) Oorspronklik gepubliseer in David Solnit (samesteller), Globalize Liberation, San Francisco: City Lights Book, 2004: pp. 161 – 211. (2) Byvoorbeeld die Wet op Diensbillikheid, wetgewing oor omvattende swart ekonomiese bemagtiging, ens. (3) Wet op Omvattende Swart Ekonomiese Bemagtiging, Wet 53 van 2003. (4) “Melanin is a dark biological pigment (biochrome) found in skin, hair, feathers, scales, eyes, and some internal membranes; it is also found in the peritoneum of many animals (e.g., frogs), but its role there is not understood. Formed as an end product during metabolism of the amino acid tyrosine, melanins are conspicuous in dark skin moles of humans; in the black dermal melanocytes” http://www.britannica.com/eb/article?tocId=9051870 (5) Sampie Terreblance, A History of Inequality in South Africa 1652-2002, Pietermaritzburg: University of Natal Press & KMM Review Publishing, 2002, p. 419. (6) `n Erkenning dat die kapitalistiese stelsel meer as bloot `n ekonomiese stelsel is – maar ook `n maatskaplike, kulturele en politieke stelsel - is baie belangrik op hierdie punt. (7) Die ekonomiese aard van Suid-Afrika word verhef bo die sosiopolitieke aspekte – omdat dit op grondvlak is waar die werklike mag lê. (8) Volgens die Wet verwys “omvattende swart ekonomiese bemagtiging” – met die klem op ‘omvattende’ – na die ekonomiese bemagtiging van alle swartmense insluitende vroue, werkers, die jeug, gestremdes en mense woonagtig in landelike gebiede. (9) 17 April 1998. (10) http://www.busrep.co.za/inex.php?fSectionId=553&fArticle Id=2335831 (11) Moeletsi Mbeki, South Korea’s Economic Miracle, The Star, Vrydag 8 April 2005. |