blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Deur Amanda du Preez
Goanikon, 2004

Die landskap as genre verteenwoordig ‘n indrukwekkende tradisie in die kunsgeskiedenis. So ook in die Suid-Afrikaanse konteks, alhoewel nie altyd onaangetas deur ideologie, imperialisme en magsvergrype nie. Moontlik is dit die pad van alle landskappe, naamlik om ingeskryf te staan in magsverhoudinge, want soos W.J.T. Mitchell dit stel in Landscape and Power (1994), gaan die uitbeelding van landskappe, en koloniale landskappe in besonder, altyd gepaard met ‘n imperialistiese drang tot uitbreiding en besit. Dit is daarom seker nie verregaande om die stelling te maak dat landskappe meestal ‘n poging is om beheer oor die ontwykende natuur uit te oefen nie. Inteendeel, dit spreek vanself.

In die spesifieke tradisie van die sogenaamde koloniale landskap, wat egter moeilik van ander landskap tradisies onderskei kan word, omdat alle landskapskildering onderspoel word deur ‘n imperiale drang van een of ander aard, kan daar tog bepaalde eienskappe geëien word. Daar is onder meer die neiging in die tradisie van die uitbeelding van koloniale landskappe om meestal die imperiale sentrum (hetsy Brittanje, Frankryk, Nederland, ens.) te weerspieël of voort te sit in die nuwe gekoloniseerde landskap. Hierdie poging om die imperiale sentrum te bevestig in die nuwe landskap lei tot bepaalde vorme van geweld en miskenning. Onder meer moet die geskiedenis en intimiteit wat die boorling met die landskap deel ten alle koste verdring word en uiteindelik vervang word deur die kolonis se eiesoortige inkleding van die landskap - dit terwyl die imperium terselfdertyd bevestig en verleng moet word in die uitbeelding van die nuwe landskap. Dit is nogal ‘n moeilike taak vir ‘n kunstenaar wat in sy ontmoeting met die nuwe en vreemde landskap dadelik ‘n stempel moet afdwing op die nuwe en vreemde terwyl hy nog steier onder die aanslag van ‘n ontologiese skok, soos David Bunn dit noem in sy uitstekende bespreking van Thomas Pringle se Afrika-landskappe.

Die “ontologiese skok” soos Bunn dit verduidelik behels dat die kolonis se vorige ervaringswêreld vanuit die imperium in ‘n krisis gedompel word vanweë sy onbekendheid met die nuwe en vreemde landskap. Die vreemdheid word verhewig deur sy gebrek aan ‘n gedeelde geskiedenis met die bepaalde landskap. Anders as die boorling aan wie die landskap in al haar toonaarde, nuanses en geheime moontlik bekend is, strek die nuwe landskap “wild” en dreigend voor die kolonis. Hoe kan die vreemdheid oorkom word, anders as om die nuwe landskap in te klee met die bekende en die veilige van die oorgeërfde en eie bekende landskap vanuit die verlore imperium? Die ontmoeting van die Westerse kunstenaar met die gekoloniseerde landskap lei dus tot unieke en eiesoortige uitbeeldings wat iewers tussen die bekende verlede en die skokkend nuwe sy pad probeer vind.

Grey House, 2004

Die Suid-Afrikaansgebore kunstenaar Pierre van der Westhuizen het homself onlangs op dieselfde wankelrige pad begewe toe hy begin het om Namibiese landskappe uit te beeld. Van der Westhuizen wat vroeër alombekend was vir sy komplekse linosneë het ook sommer in die proses sy medium verruil vir pastel. Streng gesproke kan Van der Westhuizen se nuwe werke nie as landskappe in die tradisionele sin van die woord geklassifiseer word nie en tog sluit die nuwe werk tematies so sterk aan by die tradisie van Namibiese landskappe (en ek dink hier in besonder aan Keith Alexander se werk) dat dit as sodanig geklassifiseer kan word.

Van der Westhuizen sluit nou aan by Keith Alexander wat ook vroeër die ontmoeting tussen twee wêrelde, naamlik die natuur (soos verteenwoordig deur die woestyn) en kultuur (soos veral verteenwoordig deur die Duitse argitektuur in Swakopmund) in gesprek gebring het. Van der Westhuizen beeld die argitektoniese nalatenskap van die Duitse nedersetting in Swakopmund in sy werk uit. Terwyl Alexander die ongerepte landskap met surrealistiese beelde inklee waarop die pad van verganklikheid geskryf staan, lyk Van der Westhuizen se huise en kastele veel eerder soos littekens op ‘n andersins ongeskonde en ongerepte landskap. Van der Westhuizen se huise en detail van huise word nie vervalle en verweer soos Alexander s’n uitgebeeld in die uitstalling From Ruin to Reconstruction (1994) nie, maar skyn eerder in hulle opgeknaptheid en goed versorgdheid. Die huise in Van der Westhuizen se landskappe kom byna tydloos voor. Dit is asof hulle konteksloos ronddryf soos skimme vanuit ‘n mislukte stuk imperialisme wat geen blywende houvas op die landskap kon maak nie. Haus Hohenzollern, Kolmanskop Haus en die Lutherse kerk dryf losstaande in ‘n see van sand rond. Die oormag van die onbekende was té oorweldigend en die imperiale sentrum kon nie ‘n blywende indruk op die landskap laat nie en staan daarom ongeborge uit in ‘n staat van ontologiese skok.

Kolmanskop Haus, 2004

Agter die fasades van eertydse Duitse presiesheid skuil vrees en angs. Die goedversorgde fasades is uitgehol en verberg en vermom die “onvanpastheid” en selfs moontlik die ongemak van hulle aanwesigheid. Alhoewel die voorkoms van die argitektuur dus goed behoue gebly het, het die inhoud skynbaar verlore gegaan.

Lutherse Kerk, 2004

Margit Straat, 2004

‘n Verdere interessante element wat Van der Westhuizen deurgaans gebruik, is verkeerstekens wat in en om die huise gesien kan word. Is dit wanhopige pogings tot ordening en regulering in ‘n andersins ongetemde landskap? Die verkeerstekens word veel eerder dekoratief en selfs onbelangrik ten opsigte van hulle aanvanklike doel. Die verkeerstekens verander en metamorfeer om iets anders te word. Dit kry ‘n nuwe sin in die nuwe konteks. Hierdie verkeerstekens en bakens dui nie meer die pad aan of orden nie meer die roete nie, maar dui veel eerder op die verganklikheid van dinge. Sommiges herhaal organiese motiewe en word patroonagtig soos dié van ystervarkpenne vervorm, gebuig en gekartel, ontwortel van hulle koloniale oorsprong.

Haus Hohenzollern, 2004

Die paaie en karterings van die imperiale era vervaag en ontvorm tot ‘n bewegende oppervlakte. Die eens statige huise staan op kolkende kruispaaie en dobber nou op dryfsand. En alhoewel die huise hulself steeds selfvoldaan vertoon, is hulle toekoms duister. Dit is nie meer die imperiale sentrum wat sy stempel wil afdruk nie, maar veel eerder die landskap self wat dreig om die sentrum te verswelg.

Pierre van der Westhuizen se werk was uitgestal by Die Muschel ([email protected]) in Swakopmund vanaf 27 November tot 11 Desember 2004.

Villa Wille, 2004

Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=122
Artikel nagegaan:
    -