blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die Navorsingsinstituutkonferensie (2/2/2005) 2005-02-03
Die Navorsingsinstituutkonferensie (2/2/2005)

Op Woensdag 2 Februarie het daar ‘n beraad plaasgevind oor ‘n beoogde navorsingsinstituut by die Voortrekkermonument. Hierdie beraad is deur Genl. Gert Opperman van die Erfenisstigting aangelê en deur ongeveer 50 belangstellendes bygewoon.

    Die FAK is verteenwoordig deur Mnr. Hennie de Wet, Dr. Dioné Prinsloo en  Prof. Pieter Duvenage.

    Die sprekers by die beraad het die volgende persone ingesluit: Me. Cecilia Kruger (oor die stand van navorsing in Suid-Afrika sedert 1994), Dr. K.J. de Beer (oor onder meer die Instituut vir Eietydse Geskiedenis in Bloemfontein), Prof. Johan Tempelhoff (oor die FAK se Geskiedenispaneel), Prof. Fransjohan Pretorius (oor die Akademie se Geskiedeniskommissie), Mnr. M. Zöllner (oor die Suid-Afrikaanse Genealogiese Vereniging), Genl. Opperman (oor die moontlikhede van so ‘n navorsingsinstituut) en Dr Willem Cruywagen.     

    Die oorheersende gevoel by die beraad was dat daar ‘n behoefte is aan ‘n navorsingsinstituut wat sal bestaan uit ‘n argief, leessaal en uitstalsentrum. Die sentrum sal ook gemoeid wees met navorsing wat met die Afrikaner en Afrikaanse wêreld verband hou.   

    Die FAK se standpunt by die beraad was die volgende:
1. Dat so ‘n inisatief verwelkom word, maar dat dit goed gedebatteer en met die nodige raadpleging geïnstitusionaliseer word.  

2. Dat die naam van die behoogde navorsingsinstituut so kort en bondig as moontlik moet wees.

3. Dat die beoogde navorsingsinstituut nie daarop neerkom dat die openbare lewe in Suid-Afrika geabdikeer word nie. Die instituut moet eerder binne ‘n netwerk van Afrikaanse museums en navorsingsinstansies optree wat onnodige sentralisasie sal teenwerk.

4. Dat die beoogde navorsingsinstituut nie die geskiedenis op ‘n postiwistiese wyse moet bedryf (die uitstal van objekte en blote empiriese argivale navorsing) nie, maar ook hermeneuties en interpreterend met die geskiedenis omgaan sodat die Afrikaanse wêreld ook ‘n antwoord op die huidige situasie kan ontwikkel.

Die beraad het besluit dat daar met die inisiatief voortgegaan word en dat Genl. Opperman en Dr. Cruywagen ‘n komitee sal aanstel wat met meer konkrete voorstelle by ‘n volgende beraad (in die tweede helfte van 2005) na vore sal kom.






    


 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=119
Artikel nagegaan:
    -