blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die neoliberale groeimite in Suid-Afrika: Die mite van deursyfering 2006-03-15
Sampie Terreblanche

* Professor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch en skrywer van onder meer A History of Inequality in South Africa: 1652 – 2002, Pietermaritzburg: University of Natal Press, 2002

 

Dit is nodig dat ons die verskynsel van Neoliberale Kapitalisme (NLK) in ’n breë tyds- en ruimtelike perspektief plaas. Die stelsel van Laissez-faire-kapitalisme (LFK) was vanaf ± 1870 tot 1914 in swang in die nywerheidslande van Wes-Europa en tot 1929 in die VSA.

                Hierdie stelsel het ’n onderdeel gevorm van ’n stelsel van globale kapitalisme wat destyds in stand gehou is deur die Pax Britannica. Die politieke been van LFK was gebaseer op die ideologie van Lockeaanse liberalisme waarvolgens die bourgeoisiebeheerde staat slegs die taak van waghond moes vervul.

                Die ekonomiese been van LFK was gebaseer op die ideologie van mark-fundamentalisme soos dit teoreties verantwoord is deur die neoklassieke skool van ekonome. Volgens hierdie teorie word die werking van die markmeganisme georden deur ’n Onsigbare Hand in die vorm van die natuurlike (of godgegewe) ekonomiese wetmatigheid wat die maatskaplike welvaart van die gemeenskap spontaan sal maksimaliseer (1).

                Die “modelwêreld” wat deur die neoklassieke ekonomie voorgehou is, het weinig ooreenstemming vertoon met die werklikheid van LFK. Die ongelyke verdeling van mag, eiendom en geleenthede, die ongelyke toegang tot inligting en die veelheid van markmislukkings is nie in hierdie model verreken nie. Dit was niks anders as ideologiese propaganda waarmee die mag en bevoorregting van die kapitalistiese burgerstand vergoeilik is nie.

                In die tydvak van LFK het daar inderwaarheid geen deursyfering van welvaart via die markmeganisme plaasgevind nie. Die destydse burgerstandbeheerde regerings het ook nie (met die uitsondering van Duitsland) ’n maatskaplike beleid gehad om die prekêre lewenslot van die laer stand te verbeter nie. ’n Groeikoers van tussen 2% en 3% is gedurende hierdie tydvak gehandhaaf, maar inkome was uiters ongelyk verdeel tussen die hoër stande en die laer stand.

                Die gang van die ekonomie is in LFK helaas nie deur neutrale markkragte (van vraag en aanbod) bepaal nie, maar deur die geïnstitusionaliseerde politieke, ekonomiese en ideologiese (of propaganda-) mag waaroor die industriële burgerstand beskik het, en wat hulle op skaamtelose wyse vir die bevordering van hulle seksionele belange misbruik het. Die burgerstand het die nasionalistiese gevoelens wat in die mededingende lande vaardig was, kunsmatig aangeblaas en dit so gemanipuleer dat sy eie aspirasies daardeur gedien kon word. Die stelsel van LFK was dus geensins so gebalanseerd, ewewigtig en heilsaam soos wat die neoklassieke ortodoksie beweer het nie, maar op meedoënlose ekonomiese wedywering tussen die groot nywerheidslande, op magswanbalanse en op onversoenbare ideologiese strominge gebaseer wat die totale stelsel onvermydelik op selfvernietiging laat afstuur het.

 

                Toe die magskonstellasie onderliggend aan LFK ineengestort het met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog (WOI), is die Westerse wêreld vir 35 jaar in ongekende onstabiliteit en stagnasie gedompel wat gelei het tot – en ook vererger is deur – die Groot Depressie en die Tweede Wêreldoorlog (WOII). Ná WOII moes die binnelandse ekonomieë en die internasionale handels- en betalingsverkeer as’t ware van meet af opgebou word.

                Die magskonstellasie wat na WOII – en in die skadu van die Koue Oorlog – in nywerheidslande opgebou is, was opvallend anders as die magskonstellasie wat gedurende die 50 jaar voor WOI bestaan het. Gedurende die onstabiele tussenoorlogse periode het ’n belangrike magsverskuiwing van kapitaal na arbeid plaasgevind. Danksy die opkoms van verteenwoordigende demokrasie ná WOI het regerings in die eerste 30 jaar na WOII tewens ’n konstruktiewe rol gespeel om die vergrype van markfundamentalisme teen te werk sodat groter gelykheid en stabiliteit bevorder kon word in ooreenstemming met die sosiaal-demokratiese paradigma van veral J.M. Keynes. In die Goue Era van Kapitalisme (± 1950-1973) is ’n hoë groeikoers behaal, prys- en wisselkoersstabiliteit bereik en volle indiensneming gehandhaaf, terwyl inkome ook aansienlik gelyker verdeel is.

                Die Goue Era was uit verskeie oogpunte ’n veel goedaardiger stelsel as die LFK. Die magsverhoudings waarop dit gebaseer was, was meer demokraties en pro-arbeid gerig. Dit kon daarom omstandighede bevorder vir volle indiensneming en vir die deursyfering van welvaart via die markmeganisme. Boonop het die sosiaal-demokratiese regerings in die meeste ryk lande die welvaartstaat stelselmatig uitgebou, wat eweneens ’n herverdelingseffek ten gunste van die armes gehad het.

                Ongelukkig het die Goue Era ook ’n skadukant gehad. Die hoë groeikoers was op verspot goedkoop olie gebou, en ’n hoë besoedelingseffek was die gevolg. Boonop het allerhande vorme van burokratiese rompslomp gedurende die lang groeiperiode (1950-1973) die owerheidsektor (veral in die welvaartstaat) binnegesluip en sy doeltreffendheid verminder.

                Teen 1970 was ‘n “regse” korreksie nodig om te kompenseer vir die sterk swaai na “links” wat na WOII - en vanweë die Sowjetbedreiging - plaasgevind het. Toe hierdie korreksie uiteindelik in die 1970’s plaasgevind het, ná die Olieskok van 1973, het die ideologiese pendulum egter weer ver na “regs” geswaai vanweë die dramatiese “magsverlies” wat die VSA in die 1970’s ondervind het en die desperate pogings wat die VSA aangewend het om sy verlore mag en prestige te herwin.

                Terwyl die VSA ná WOI die “splendid isolation” van die Monroe-leer verkies het, het hy egter ná WOII die onbetwiste leier van die Vrye Weste geword. In die maneuwers van die Koue Oorlog, die ontwikkelinge rondom die ruimtewedloop en die verloop van die Koreaanse en Vietnamese oorloë het die VSA se magsposisie aanmerklik gegroei en het die sogenaamde Pax Americana sy beslag gekry.

                Die 1970’s was egter vir die VSA ’n rampspoedige dekade waarin sy mag en prestige ernstig geskaad is. Die onderspit wat die VSA in die Vietnamese oorlog gedelf het, die ekonomiese terugslag as gevolg van die Egipties-Israeliese oorlog (1973) en die stigting van die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (OPUL) (1973), die Watergate-skandaal en die mate waarin dit die VSA se morele beeld geskaad het, die feit dat die Portugese kolonies in Afrika onder die invloed van die Sowjet-Unie gekom het en die toetrede van Sjina tot die Veiligheidsraad – dit was almal faktore wat die magsbalans in die Koue Oorlog versteur het. Daarbenewens het die Groep van 77 (Derdewêreldlande) groot sukses behaal toe die VN in 1975 die oktrooi van die Nuwe Internasionale Ekonomiese Orde bekragtig het.

                Die Iranese revolusie van 1979 was vir ’n tweede olieskok verantwoordelik wat weereens tot werkloosheid, inflasie en wisselkoersprobleme gelei het, terwyl die Sowjet-inval van Afganistan (1980) andermaal die VSA se “containment”-beleid onder druk geplaas het. Boonop het die VSA gedurende die 1970’s ondervind dat kapitaal van die Ryk Noorde na die Arm Suide gevloei het en dat industriële aktiwiteite vanaf die Ryk Noorde na lande in die Arm Suide gereallokeer is teen voorwaardes wat vir die Ryk Noorde ongunstig was.

                Om die agteruitgang van die Amerikaanse mag en prestige in die 1970’s te stuit, het die VSA vanaf ±1980 ’n neoliberale “teenrevolusie” georkestreer. Hierdie teenrevolusie – wat deur die slagspreuk van TINA (there is no alternative) gedryf is – het op ’n vierledige aanslag berus. Eerstens is die vloei van kapitaal bevry van die regulasie wat (op aandrang van Keynes) deur die Bretton Woods-ooreenkoms (1944) ingestel is en is ’n “finansialisering” van internasionale verhoudings met behulp van vrye wisselkoersmarkte bewerkstellig. Dit het tot intense spekulasie op internasionale geldmarkte gelei, wat buitengewone mag in die hande van Internasionale Monetêre Instellings (IMI) (insluitend die Bretton Woods-instellings) geplaas het. In die nuwe wisselkoersstelsel word die ekonomiese soewereiniteit van alle lande – behalwe die VSA – ernstig aan bande gelê.

                Tweedens is die ekonomie van die VSA in ooreenstemming met die ideologie van neoliberalisme gedereguleer om “ruimte”, vryheid en ongekende mag vir die sowat 40 000 Amerikaanse transnasionale korporasies te skep. Dit het hierdie korporasies in staat gestel om met ’n nuwe vorm van neo-imperialistiese uitbuiting reusagtige winste buite die VSA te akkumuleer – veral omdat hierdie korporasies buite die VSA nie na wense tot (demokratiese) verantwoording geroep kon en kan word nie.

                Derdens is die mite van die Onsigbare Hand en die “ideologie” van die neo-klassieke skool as’t ware opnuut ontdek en nie net op die VSA en ander lande in die Ryk Noorde van toepassing gemaak nie, maar óók wêreldwyd op die “global village”. Hiervolgens word beweer dat die heilsame voordele van ’n vryemarkbenadering mettertyd tot elke uithoek van die wêreld sal deurdring en dat alle markspelers daardeur bevoordeel sal word!

                Vierdens is die ideologie van die Koue Oorlog en die militêre aanslag teen die “evil empire” verskerp om die magsbalans weer in die guns van die VSA te laat swaai. Hierdeur is ’n magspatroon geïnstitusionaliseer wat die Amerikaanse hegemonie wêreldwyd gevestig het soos nooit tevore nie. Die stappe wat gedoen is ter wille van die derde en vierde aanslag verg verdere toeligting.

                Die “wedergeboorte” van die mite van die Onsigbare Hand en die idee omtrent die ewewig- en groeiskeppende vermoë van die vrye mark was die werk van Milton Friedman en die Chicago-skool van ekonome. Hulle het ook ’n aanslag teen owerheidsinmenging en die welvaartstaat van stapel laat loop en hulle vir die “terugrol” van owerheidsbeheer beywer.

                Die hoofstroomekonome is so dogmaties verbind tot die mite van markfundamentalisme dat hulle volhard met die idee dat die vrye mark alle magspatrone neutraliseer en ’n resultaat bereik wat eweredig heilsaam vir alle markspelers is. Gevolglik is die vryemarkiers nie bereid om toe te gee dat die groot korporasies in al die ryk lande deur ’n “silent takeover” – soos Noreena Hertz dit stel – daarin geslaag het om die mag van die demokraties verkose regerings te usurpeer nie (2). Net so misken die vryemarkiers die uiters “skewe” magsverhouding tussen die magtige Ryk Noorde en die pateties magtelose Arm Suide wat ’n bespotting maak van die idee dat ’n wêreldwye kapitalistiese ekonomie sy voordele mettertyd na elke uithoek van die wêreld sal versprei. Deur die “skewe” magskonstellasies in alle lande – én tussen alle lande – te ontken, volhard die vryemarkiers met die mite dat in alle kapitalistiese lande daar spontaan ’n deursyfering van die rykes na die armes plaasvind en dat daar ook in die konteks van globale kapitalisme ’n eweneens spontane deursyfering van die Ryk Noorde na die Arm Suide aan die geskied is of nog in die toekoms sal geskied.

                Net soos 100 jaar gelede hou die neoklassieke model steeds nie rekening met die ongelyke verdeling van mag, eiendom en geleenthede, die ongelyke toegang tot inligting en die veelheid van markmislukkings nie. Maar in teenstelling met 100 jaar gelede is mag, eiendom en geleentheid en die toegang tot inligting in ’n veel groter mate saamgetrek in die hande van hoofsaaklik die korporatiewe en finansiële elite in die Ryk Noorde, en veral in die VSA. En in teenstelling met 100 jaar gelede is die maghebbers se toegang tot die massamedia en hulle vermoë tot ideologiese propaganda – om hulle eie magsposisies te regverdig – veel groter. Gevolglik is die wêreldwye nadelige effek van die huidige stelsel van neoliberale globale kapitalisme en die Pax Americana veel omvangryker as dié van LFK en die destydse Pax Britannica (3).

                Om die grootskeepse magsverskuiwing vanaf die res van die wêreld na die VSA suksesvol deur te voer, het ’n reeks georkestreerde optredes in veral die 1980’s geverg. Pres. Reagan van die VSA het sy verskerpte militêre aanslag teen die Sowjet-Unie met massiewe buitelandse lenings gefinansier, wat ’n totale ommeswaai in die vloei van internasionale fondse bewerkstellig het. Terwyl die VSA in 1980 die grootste kredietland is wat die wêreld ooit geken het, het dit sedert ± 1990 die grootste debietland ooit geword. Hierdeur word ongekende finansiële mag aan die VSA verleen, want die miljoene geldskieters buite die VSA het ’n gevestigde belang in die welstand van die VSA verkry.

                In sy verskerpte militêre aanslag teen die Sowjet-Unie in die 1980’s het die VSA in verskeie wêrelddele volmagoorloë (“proxy wars”) teen kommunistiese groeperings geveg met spesiale terroristegroepe. Aangesien die Amerikaanse Kongres nie bereid was om hierdie Amerikaansgesteunde terroristegroepe te finansier nie, is hulle in die geheim aan die gang gehou met behulp van die winste wat gemaak is uit CIA-ondersteunde dwelmsmokkelary. Voorbeelde hiervan is die VSA se teenrevolusionêre offensiewe in Afganistan, Angola, Mosambiek, Kambodja, Ethiopië, Iran, Laos, Libië en Nicaragua. Op dié manier was die VSA in die eindfase van die Koue Oorlog – volgens Mahmoed Mamdani - verantwoordelik vir die skep van ideologiesgedrewe terroristiese groepe wat die taak gehad het om die Amerikaanse invloedsfeer in bykans alle wêrelddele verder uit te bou (4).

                Dit is ’n magtige ironie dat die VSA in die jongste tyd die teiken geword het van Moslemgeïnspireerde terrorisme, terwyl die VSA eintlik die “skepper” van terroristegroepe in die eindfase van die Koue Oorlog was. Die tergende vraag is of die Pax Americana en al die wanverhoudings wat daarin beliggaam word, standhoudend is en of dit ook soos die Pax Britannica in duie gaan stort. Dit is inderdaad waarskynlik dat dit op selfvernietiging afstuur. Indien dit sou gebeur, sal die wêreld in ’n nog groter krisis gedompel word as met die ineenstorting van die Pax Britannica.

                ’n Belangrike neweproduk van die Amerikaanse teenrevolusionêre optrede was die institusionalisering van “ideologiese” globalisering eerder as “strukturele” globalisering. Die institusionalisering van laasgenoemde sou ’n vrye vloei van handel, mense en kapitaal oor internasionale grense geverg het. ’n Sodanige vrye vloei bestaan hoegenaamd nie in die huidige weergawe van globale kapitalisme nie. Die vloei van handel, mense en kapitaal wat wel in die “ideologiese” globalisering plaasvind, word sorgvuldig deur die magskonstellasie en die ideologiese ingesteldheid in die Ryk Noorde (en veral die VSA) gemanipuleer sodat die materiële en hegemoniese belange van die Ryk Noorde (en veral die VSA) deurlopend voorrang geniet (5). Die globale stelsel van beloning en bestraffing wat ingebou is in die magskonstellasie onderliggend aan globale kapitalisme, opereer op so ’n wyse dat sê die boonste 30% van die bevolking in die ontwikkelingslande met hoë inkome – soos Brasilië, Argentinië, Meksiko, Chilie en Suid-Afrika – deur globale kapitalisme gekoöpteer en beloon word, terwyl die onderste 70% sistemies volkome of gedeeltelik uitgesluit en as’t ware gestraf word (6).

                Vanuit ’n deursyferingsoogpunt bekyk, vind daar in die ryk lande ’n redelike deursyfering plaas, maar die onderste 20% - 30% word nogtans sistemies uitgesluit, soos Katrina en die onluste in November 2005 in Parys blootgelê het. In die geval van globale kapitalisme vind deursyfering na die boonste 30% in die ontwikkelende lande met hoë inkome plaas, terwyl nog kleiner (en selfs geen) deursyfering na die elite-groepe in die ontwikkelende lande met laer inkome plaasvind. Wat die ontwikkelende lande self betref, vind daar weinig (indien enige) deursyfering van die kapitalistiese elites na die breë onderlaag plaas, vanweë die neoliberale ideologie en die magskonstellasie wat in hierdie lande geïnstitusionaliseer is.

                Die magskonstellasie wat tans in Suid-Afrika gevestig is, het sy beslag aan die begin van die 1990’s gekry. Uit die oogpunt van sê die onderste 50% van die bevolking was dit ’n ongelukkige sameloop van omstandighede dat die onderhandelde oorgang van apartheid na demokrasie gedurende die eerste helfte van die 1990’s plaasgevind het. Ná die val van die Berlynse Muur (1989) en die inploffing van die Sowjet-Unie (1991) het daar in die Westerse wêreld ’n gees van onkritiese triomfantisme geheers oor die vermeende verdienstes van neoliberale kapitalisme en Amerikaansbeheerde globale kapitalisme. Toe die onderhandeling ’n aanvang geneem het, het daar in Westerse kringe die vrees bestaan dat die ANC ten gunste van ’n soort sosialistiese of populistiese bestel in Suid-Afrika sou wees. Gevolglik het die Westerse wêreld – onder leiding van die VSA en die plaaslike en globale korporatiewe sektore – met ’n meedoënlose “totale aanslag” die ANC oortuig (of oorrompel) om ’n “elitekompromis” aan te gaan en hom daartoe te verbind om die ekonomiese “spel” te speel in ooreenstemming met die neoliberale “spelreëls” wat deur die VSA en die Washington-Konsensus en deur korporatisme – sowel lokaal as globaal – voorgeskryf word.

                Dit is jammer dat die ANC nie die golf van triomfantistiese neoliberale propaganda beter weerstaan het en op “ruimte” aanspraak gemaak het om die yslike maatskaplike probleem (van armoede en werkloosheid) wat deur apartheid nagelaat is, beter te kon beredder nie. Dit sou inderdaad ’n baie billike aanspraak gewees het. So ’n aanspraak kon egter net slaag as die plaaslike korporatiewe sektor bereid was om ’n bekentenis omtrent sy aandeel aan apartheid te maak. Maar die korporatiewe sektor was destyds (en is nog steeds) te kortsigtig en te materialisties om só ’n bekentenis te maak.

                Die oomblik toe die ANC onvoorwaardelik die paradigma van neoliberale kapitalisme aanvaar het en korporatiewe dominansie in Suid-Afrika geïnstitusionaliseer is, was die maneuvreerruimte van die ANC dermate beperk en sy politieke soewereiniteit oor ekonomiese aangeleenthede so erg aan bande gelê, dat alle moontlikhede om ’n humane oplossing vir die maatskaplike probleem te vind, uitgesluit was en dit nog steeds is. Ná die ANC die “elite-kompromis” (of die “sosiale kontrak”) met neoliberale kapitalisme en globale korporatisme gesluit het, was dit nie meer moontlik vir hom om sy dekadelange “maatskaplike kontrak” met die progressiewe burgerlike gemeenskap in stand te hou nie. Gevolglik het die ANC reeds vanaf die vroeë 1990’s begin om die burgerlike samelewing – wat so ’n sleutelrol in die bevrydingstryd gespeel het – te demobiliseer en afwaarts “top down” te omvorm tot ’n werktuig van dienslewering.

                Oor die afgelope 12 jaar is ’n staat-gemeenskap-verhouding op so ’n manier afwaarts deur die ANC gestruktureer dat die progressiewe burgerlike samelewing bykans volledig van sy bedingingsmag ontneem is. Hierdie herstrukturering van die staat-gemeenskap-verhouding en die degradering van die progressiewe burgerlike samelewing het die ANC se ideale van deelnemende en mensgedrewe demokrasie – soos verwoord in sy 1997-dokument oor ’n Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) – onhaalbaar gemaak. Nadat die ANC die “elitekompromis” aangegaan het, het hy geen ander keuse gehad nie as om slegs lippetaal aan sy NDR-ideale te bewys en om die maatskaplike probleem sistemies te verwaarloos.

                Die demokratiese bestel wat oor die afgelope 12 jaar gevestig geraak het, is geensins ’n bestel van deelnemende demokrasie nie, maar toenemend een van demokratiese sentralisering en voorhoedisme (vanguardism). Ons verkeer in die paradoksale situasie dat die burgerlike samelewing in die geledere van die wit en swart elites hoogs georganiseer is en oor bedingingsmag beskik om op ’n daaglikse grondslag toe te sien dat die politieke en ekonomiese stelsel steeds voorrang aan hulle uiters bevoorregte posisie gee, terwyl die burgerlike samelewing in die geledere van sê die onderste 50% van die bevolking byna volledig gedemobiliseer is en oor bykans geen bedingingsmag beskik nie.

                Die uitstaande kenmerk van die Suid-Afrikaanse ekonomie oor die afgelope 12 jaar is die diep en groeiende gaping in sosio-ekonomiese posisie tussen die bewoners van onderskeidelik die Eerste en die Tweede Ekonomie in ons twee-ekonomie-verdeling. Oor die afgelope 12 jaar het die lewensomstandighede van die bewoners van die Eerste Ekonomie (en veral die boonste 30% van die bevolking) dramaties verbeter, terwyl die lewensomstandighede van die bewoners van die Tweede Ekonomie (ongeveer 50% van die bevolking) opmerklik verswak het. Volgens die VN se ontwikkelingsverslag beklee Suid-Afrika op grond van sy per capita-inkomste die 52ste plek in die rangorde van 177 lande. Daarenteen het Suid-Afrika se Menslike Ontwikkelingsindeks van 85ste plek in 1990 na die 120ste plek in 2004 in die rangorde van 177 lande teruggesak!

                Terwyl die ANC tans R80 miljard op maatskaplike toelaes bestee, is dit by verre nie genoeg om die proses van verbedelaring – wat vryelik in die geledere van die inwoners van die Tweede Ekonomie voortwoeker – te stuit of om te draai nie. Die verslegtende sosio-ekonomiese posisie in die Tweede Ekonomie dui daarop dat daar inderdaad geen deursyfering van die kapitalistiese enklave na die Tweede Ekonomie plaasvind of kan plaasvind nie. Gegewe die groeiende kapitaalintensiwiteit van die produksieprosesse in die enklave en gegewe die groot en groeiende globalisering van ons ekonomiese en finansiële verhoudings, is dit hoogs onwaarskynlik dat ’n betekenisvolle werkskepping en deursyfering via die markmeganisme oor die volgende 10 jaar gaan plaasvind - selfs al sou ’n groeikoers van 6% behaal word.

                Suid-Afrika se neoliberale benadering en die binne- en buitelandse magsverhoudings waarop dit gebaseer is, sluit die onderste helfte van die bevolking sistemies uit – sowel ekonomies as polities. Vanweë die ANC se simbiotiese en kontraktuele verhouding met die ekonomiese magshebbers en vanweë die leierkorps se neoliberale mentaliteit, beskik die ANC-regering nie oor die politieke soewereiniteit (en waarskynlik ook nie oor die politieke wil) om ’n omvattende herverdelingsbeleid te implementeer wat die verbedelaringsproses kan omkeer nie. Boonop sal die ekonomiese maghebbers wat die Washington-Konsensus in stand hou (met behulp van die kredietgraderingsagentskappe) in elk geval nie die ANC toelaat om ’n omvattende herverdelingsbeleid te implementeer nie.

                Ons het geen ander keuse nie as om tot die neerdrukkende gevolgtrekking te kom dat die maatskaplike probleem wat ’n restant van apartheid is, nie uit die weg geruim sal kan word nie vanweë die dogmatiese aanvaarding van neoliberalisme en die “skewe” magspatrone wat in Suid-Afrika en in globale kapitalisme geïnstitusionaliseer is. Indien die maatskaplike probleem inderdaad onopgelos gelaat gaan word, is dit onwaarskynlik dat die politiek-ekonomiese stelsel en die nuwe magskonstellasie wat hulle beslag aan die begin van die 1990’s gekry het, standhoudend gaan blyk.

 

_________

(1) Die populêre opvatting dat Adam Smith van mening was dat individue hulle eiebelang in ’n markekonomie met gulsige eiebelang en sonder enige morele en/of maatskaplike oorwegings kan najaag en dat ’n misterieuse Onsigbare Hand vir ’n harmonieuse en 'n morele eindresultaat sal sorg, is nie net 'n valse een nie, maar eintlik ’n vulgêre interpretasie van Adam Smith se siening. Hierdie interpretasie hou nie rekening met die streng humane en institusionele voorwaardes wat Smith gestel het voordat die ekonomie georden kan word asof deur ’n Onsigbare Hand.

(2) Noreena Hertz, The silent takeover: global capitalism and the death of democracy, Londen: Arrow, 2001.

(3) Ferguson beweer dat die Britse imperialisme (1870-1914) ’n enigsins goedaardige karakter gehad het, terwyl die huidige Amerikaanse imperialisme (veral ná 1980) eerder kwaadaardige kenmerke het. Kyk Niall Ferguson, Empire, New York: Penguin Press, en Colossus, the price of America’s Empire, New York: Penguin Press, 2004.

(4) Kyk Mahmood Mamdani, Good Muslim, Bad Muslim: America, the Cold War and the Roots of Terror, New York: Pantheon Books, 2004, hoofstukke 2, 3 en 4.

(5) Kyk G. Arrighi, “Globalization and Uneven Development”. Referaat gelewer by die konferensie Overcoming Under-development in South Africa’s Second Economy, Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, Midrand, 28-29 Oktober 2004.

(6) Kyk P. Kirkbride (Red.), Globalization: the external pressures, New York: John Wiley, 2001, hoofstuk 1.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=513
Artikel nagegaan:
    -