blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die Dameskring op 40 2007-06-14


Die Vrye Afrikaan: Wat is kortliks die geskiedenis van Die Dameskring?

Karen Hauman: Die Dameskring is op 18 Oktober 1967 te Nelspruit gestig. Die één tak van destyds het oor die veertig bestaansjare van Die Dameskring gegroei tot 155 takke, versprei oor die hele land.

 

DVA: Waarvoor staan Die Dameskring en watter aksies of projekte onderneem julle om jul visie te verwesenlik?

KH: Die Dameskring streef daarna om Afrikaanse Christen-vroue te inspireer en bemagtig om as verskilmakers te help bou aan Suid-Afrika.

As nasionale projek word geld ingesamel vir die Rapport Onderwysfonds (R174 000 oor 3 jaar!), terwyl daar in elke gemeenskap waar daar ’n tak van Die Dameskring is, gemeenskapsprojekte geloods word. Afrikaans word ook op allerlei wyses bevorder en gevier. In Maart 2007 was ons landwye betrokkenheid by die Wêreldbiddag vir Vroue ’n besondere hoogtepunt. Op Vrouedag (9 Augustus) word ’n splinternuwe inisiatief, ’n Blik op die toekoms, geloods.

In vennootskap met Solidariteit is Die Dameskring betrokke by ’n ondersoek na die moontlike daarstelling van tuisverpleegopleiding vir jong dames. Ons netwerk sal aangewend word vir die identifisering van moontlike kandidate wat in die spesifieke vaardighede opgelei kan word. Daarna sal bystand verleen word tydens die vestiging van die opgeleide tuisversorgers in hulle gemeenskappe.

In 2007 en 2008 val die fokus binne Die Dameskring op leierskap en word verskeie werkwinkels en studiestukke aangebied ten einde lede op te skerp en aan te moedig om as leiers in hul gemeenskappe te dien.

 

DVA: Watter aanpassings moes Die Dameskring sedert 1994 maak?

KH: Die Dameskring het in die verlede stilweg en ongemerk soos suurdeeg in die gemeenskap gewerk. Onder die besef dat dit noodsaaklik is dat die Afrikaanssprekende vrou haar stem moet laat hoor en haar invloed duidelik moet laat geld, het die organisasie begin standpunt inneem in die openbare media en haar plek ingeneem as mede-verantwoordelike en meningsvormer in die Afrikaanse kultuurgemeenskap.

Waar baie van ons lede vroeër tuisteskeppers was, moet ons nou voorsiening maak vir ’n groot persentasie wat voltyds werk. Om die maandelikse vergadering by te woon, vra dus enersyds opoffering en fyn skedulering van elke lid, en andersyds deeglike beplanning en navorsing vanuit Hoofbestuursgeledere om te sorg dat die inhoud van elke vergadering stimulerend en sinvol saamgestel word.

 

DVA: Hoe sien Die Dameskring Afrikaners se posisie vandag?

KH: Ons is opgewonde oor die nuwe besef in Afrikaner-geledere dat ons inderdaad ’n rol het om te speel in hierdie land. Ons is van mening dat Afrikaners lank genoeg gekoes het agter die persepsie dat ons voortdurend moet verskoning vra vir wie ons is.

Die Dameskring het oor die veertig jaar van haar bestaan nog altyd beklemtoon dat ons nie wil Afrikaners wees ten koste van enige ander kultuurgroep in ons land nie. Daarom verklaar ons onomwonde in een van ons doelstellings, “ons strewe na die bevordering van goeie menseverhoudings en die sinvolle naasbestaan van alle inwoners van die Republiek van Suid-Afrika”. Ons wil dus maar net onbeskaamd Afrikaans, Christen en trots Suid-Afrikaans wees.

 

DVA: Wat is volgens Die Dameskring die rol van gemeenskappe vandag in Suid-Afrika?

KH: Elke gemeenskap bied eiesoortige uitdagings en moet daarom self inisiatief neem om geleenthede en/of krisisse te identifiseer en kreatief te probeer oplos. Daarom funksioneer elke DK-tak (binne die breë riglyne van Die Dameskring) op ’n unieke wyse binne haar gemeenskap. Baie gemeenskappe het reeds die wonder ontdek van sáámwerk oor kultuur- en ras-grense heen.

Ondervinding het geleer dat vroue op ’n unieke wyse op mekaar se behoeftes en harte kan instem en baie beslis kan en wil uitreik na mekaar. Hierin lê daar so ’n ongelooflike potensiaal opgesluit! Met ons huidige fokus op die “wakker-maak” van die leiersdinamika onder vroue poog ons juis om hierdie potensiaal in ons gemeenskappe te ontsluit en te ontgin.

 

DVA: Op die oog af is Afrikanervroue vandag minder betrokke in die openbare lewe as vroue van ander gemeenskappe. Veral Afrikanervroue tussen 25 en 50 verskyn bitter selde as woordvoerders, intellektuele en leiers in die openbaar. Hoekom is dit so? 

KH: Hierdie verskynsel spruit deels uit ’n kultuur waar die vrou by uitstek as stille steunpilaar van haar man en huis opgetree het. Binne Afrikaner-geledere was daar die onuitgesproke aanname dat die vrou bloot haar/die man moet ondersteun.

Daarna het ’n era gekom waar die vrou, buiten bogenoemde, ook die rol van medebroodwinner begin vervul het.

Ons beweeg egter nou ’n fase binne waar die moderne Afrikanervrou hierdie uiteenlopende rolle in so ’n mate versoen het, dat sy haar nou gereed voel om ook as “openbare verskilmaker” in die samelewing betrokke te wees.

Dit is ook so dat Afrikanervroue by uitstek doeners is. Lang en omslagtige vergaderings, kommissie op kommissie wat verslag op verslag produseer, raak dikwels die kortpad tussen sê en doen byster.

Daar is sekerlik baie vroue wat vandag‘n enorme bydrae sou kon lewer in die “openbare raadsale”. Tog sal die vrou binne Afrikanergeledere dit nooit wou doen ten koste van haar trotse roeping om in die eerste plek meningsvormer en vaslegger van ’n waardesisteem vir haar kind te wees nie. Baie vroue in die ouderdomsgroep 25 tot 50 verkies dus om optimaal betrokke te wees by die opvoeding van hul kinders.

Alhoewel vroue nie op die voorgrond pronk nie, is hulle beslis besig om ’n verskil te maak! Die rol van die vrou in die bou van verhoudinge, die uitvoer van inisiatiewe en die saambind van verskillende gemeenskappe getuig van uitmuntende en praktiese leierskap. Hierby kan die woordvoerders en intellektuele beslis baat! Die Dameskring het ’n verteenwoordiger op die Presidensiële Werkgroep oor Vroue en lewer daar waardevolle insette.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=880
Artikel nagegaan:
    -