blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Grondhervorming: Daar’s g’n keuse nie 2004-11-05
Chris Louw

Deur Chris Louw, vroeër uitvoerende regisseur van Monitor en Spektrum op RSG, en die afgelope 18 maande spesialisjoernalis in landbou.

Die georganiseerde landbou in Suid-Afrika is onverhoeds betrap toe 'n totaal ander dokument oor swart bemagtiging in Junie vanjaar bekend gestel is as dié een wat hulle met die Minister van Landbou en Grondsake, Thoko Didiza, onderhandel het. Teikens waarop ooreengekom is, is na willekeur verander en kwessies waaroor kwalik gepraat is, het skielik die fokuspunt geword – onder meer die grootskeepse transformasie van agri-besighede om swartmense bykans in beheer van die landbouketting te plaas. Die landbou-onderhandelaars was ook verras, om dit sagkens te stel, met die “teiken” dat boere 10% van hul grond aan hul arbeiders moet oordra vir hulle eie boerderye, iets wat hoegenaamd nie in maande van gesprekvoering ter sprake gekom het nie.

Didiza het intussen die versekering gegee dat die oorspronklike dokument waarop ooreengekom is, weer die basis sal vorm van verdere onderhandelinge met alle belanghebbendes, waarvan die georganiseerde landbou – wat die kos op die nasie se tafels plaas – maar een is. Die spertyd van November vir 'n finale Agri Black Economic Empowerment Framework (AgriBEE) het ook op die agtergrond verdwyn.

Maar kort nadat Didiza die oorwegend blanke (en Afrikaner-) landbouleiers verseker het dat hulle bydrae in die formulering van 'n “sektorbeleid” baie belangrik is en dat sy begrip vir hulle bekommernisse het, het sy in Oktober vanjaar by 'n vergadering van die Food and Allied Workers’ Union in Port Elizabeth haar teleurstelling uitgespreek dat daar nie meer “grondaktivisme” onder swartmense is nie. Sulke aktivisme, het sy gesê, sal help om grondpryse af te dwing en sal grondhervorming bekostigbaarder maak. “Die eienaarskap van landbou-instellings moet die demografie van die land weerspieël,” het die Minister gesê, en die vakbondlede aangemoedig om die huidige situasie te verander (reverse), “anders gaan julle kinders eendag vir julle vra waar julle was en wat julle gedoen het”.

Dit is duidelik dat die ANC-regering 'n heel ander agenda met grondhervorming het as wat kommersiële boere soms verkies om te glo. Nagenoeg alle wit boere in die land aanvaar die onafwendbaarheid van grondhervorming, en dit sluit die konserwatiewe TLU SA met sy 6 000 lede in, al is dit nie-amptelik. Die beweegrede is meestal pragmaties: “As daar genoeg swart boere is wat dieselfde belange as ons het, sal die regering versigtiger wees met belastingheffings en die vasstel van onbekostigbare minimumlone.”

Maar terwyl die land se boere deurentyd die klem laat val op volhoubaarheid (sustainability) en hulle argumente skoei op hulle bydrae tot die landsekonomie, het die regering 'n heel ander vertrekpunt met grondhervorming. In 'n onlangse artikel in ThisDay (11 Oktober 2004) skryf die hoofgrondeisekommissaris, Tozi Gwanya: “Die Wet op Naturellegrond, die Bantoetrust-wet, die Groepsgebiedewet, die Bosbouwet en ander wetgewing het sowat 87 persent van die 88 miljoen hektaar van hierdie land se landbougrond in die besit van bevoorregte wit boere geplaas. Die meeste produktiewe swart boere is ontmoedig om te boer deur die vermindering van grondeienaarskap en die afdwing van beperkings op die besit van lewendehawe.”

In gesprekke met regeringsamptenare in die Departement van Landbou en Grondsake is dit 'n deurlopende tema: Minstens ses miljoen swartmense is deur rassistiese wetgewing onregmatig van hul grond ontneem. Die regering se klem is dus op die restitusie van die grondregte van verontregte swartmense, nie soseer op lewensvatbare boerdery nie. Dit is ook die hoofrede vir die klaaglike mislukkings van soveel Land Redistribution for Agricultural Development (LRAD) projekte, die stelsel wat die ewe mislukte Settlement and Land Acquisition Grants (SLAG) in 1999 vervang het.

Toegang tot grondbesit was 'n sentrale motief in die struggle teen wit politieke oorheersing. Kommersiële boere staan vandag dikwels verstom oor die stommiteite wat aangevang word in die naam van grondhervorming. Maar dié “stommiteite” is net stompsinnig as grondhervorming vanuit 'n ekonomiese oogpunt benader word. Daar is feitlik geen begrip daarvoor dat blanke boere – volgens die ANC se redenasie – hulle grond onregmatig en ten koste van swartmense bekom het en jare lank knus met subsidies deur die Nasionale Party-regering gekoester is nie. By die regering is daar 'n onwrikbare geloof dat swart boere ook die mas sal opkom as hulle dieselfde voorkeurbehandeling ontvang as Afrikanerboere onder 'n blanke regering. (Min aandag word gegee aan die feit dat meer as die helfte van blanke boere in staatsprojekte dit nie kon maak nie; ook nie aan die streng voorwaardes waaraan dié aspirantboere moes voldoen om besitreg op hul plase te bekom nie.)

Onlangs nog het die president van die swart landbouvakbond, die National African Farmers’ Union (Nafu), Motsepe Matlala, gekla: “In die afgelope 60 jaar het derduisende blanke boere klaaglik misluk. Daar was baie redes hiervoor, en nie alles het verband gehou met die klimaat of die mark nie. Die [on]vermoë om te boer of om by veranderende omstandighede aan te pas is van die belangrikste redes. Blanke boere word nie hierop beoordeel nie. Hulle word tereg op grond van hulle suksesse beoordeel. Swart boere, aan die anderkant, word net op grond van hulle mislukkings beoordeel. Die vermoë van elke swart boer word bepaal deur die mislukkings van die verlede en die vermoë van 'n blanke boer deur die suksesse van die verlede.” (Toespraak by die AMT-landbouvooruitskouingskonferensie in Pretoria, September vanjaar.)

Ongelukkig bevind Suid-Afrika se swart boere hulle vandag in die ongenaakbare konteks van globalisering, waar vraag en aanbod allesbepalend is, en die ontwikkelde lande steeds – ondanks die hervatting van onderhandeling op Wêreldhandelsorganisasievlak sedert 31 Julie vanjaar – hulle boere op allerlei maniere kruissubsidieer. (Die ryk lande het onder meer bepaal dat regerings in ontwikkelende lande hulle ondersteuning vir hul landbousektore moet verminder sodat hulle nie 'n “onregverdige voorsprong” het nie. Lees dit teen die agtergrond daarvan dat drie miljard boere in die armste dele van die wêreld elkeen minder verdien as die subsidie vir 'n enkele koei in die Europese Unie en in die VSA [sowat R20 per dag]!)

Sedert die demokratiese verkiesing van 1994 en die oopstelling van die mark het nagenoeg 20 000 blanke boere reeds die onderspit gedelf. Vir beginnerboere – swart en wit – is dit 'n vyandige omgewing om hulle voete in te vind.

Dit is 'n groot rede waarom so baie swart boere misluk. Maar dis nie die enigste rede nie. Die grootste rede was tot dusver die naïewe geloof by die regering dat jy mense op 'n plaas kan sit en dat hulle met die middele tot hulle beskikking suksesvol sal kan boer. By 'n vergadering in Louis Trichardt (Makado) van eisers van Levubu-gronde, moes ek by herhaling hoor: “Die wit boere kan maar padgee. Ons sal ons leerders na die landboukolleges stuur en hulle sal self die plase kan bestuur.” Dit was in Augustus verlede jaar. Gelukkig lyk dit asof die ANC – minstens retories – begin besef dat boerdery vandag 'n baie meer gesofistikeerde saak is as wat hulle aanvanklik geglo het. Beter beplanning word ook nou gedoen om mislukkings te verminder.

Wat nie beteken dat daar hoegenaamd 'n klemverskuiwing in regeringsdenke oor die transformasie van grondbesit is nie. Die vertrekpunt is bloot pragmaties, soos Gwanya verduidelik: “In Suid-Afrika het ons 'n versigtige en minimalistiese benadering [tot grondhervorming] aanvaar om beleggingsvertroue en stabiele ekonomiese groei te behou.” (ThisDay, 11 Oktober)

Blanke boere ervaar die grondeiseproses dikwels as onbillik. Alle inligting word deur die streeksgrondeisekommissarisse van boere weerhou tot die dag dat dit in die Staatskoerant gepubliseer word. Dit beteken dat boere geen geleentheid het om enige insette te lewer om eise te probeer weerlê nie. Eers nadat die grondeisekommissaris reeds besluit het dat die eisers 'n prima facie aanspraak op 'n stuk grond het, word die betrokke boere daaroor ingelig. Natuurlik is dit nie 'n gebalanseerde proses nie; die arbiters – die grondeisekommissarisse – is in werklikheid grondaktiviste wie se primêre taak dit is om die rassistiese verdeling van grond van die verlede reg te stel. Hulle ontvang nie staatsdienssalarisse om blanke boere goedgesind te wees nie.

Die gevolge is voorspelbaar. Omdat die wet bepaal dat daar billike vergoeding vir grond moet wees in restitusiegevalle – met ander woorde, dat die prys markverwant moet wees – swig die swakker boere gou voor die versoeking om hulle geld te vat en pad te gee. Daar word dan van hulle verwag – met 'n spreekwoordelike rewolwer teen die kop, soos die Pietersburgse grondeiseprokureur, wyle Piet Steytler, dit gestel het – om 'n erkenning te teken dat die eisers 'n wetlike aanspraak op die grond het. Dit het 'n domino-effek. Die middelslagboere raak ook verlei om te verkoop; laaste om te vou, is die goeie boere wat hulle skielik as eilande in 'n see van swart onbekwaamheid bevind.

Dit beteken nie dat swart boere per definisie onbekwaam is nie. Dit beteken gewoon dat die regering – en al sy instrumente, van die Department Landbou tot die Landbank – nie die vermoë of die kundigheid het om die idealistiese planne om swart boere op die been te help, te implementeer nie.

Dit was die patroon tot dusver. Die enigste werklik suksesvolle swart boere wat ek in 18 maande as landboujoernalis teëgekom het, is mense wat ondanks 'n onvriendelike omgewing in die apartheidsjare meestal in die ou tuislande begin boer en 'n sukses daarvan gemaak het, en in sommige gevalle boonop 'n reusesukses, soos die miljoenêr-boer Stephen Matsididi van Thaba Nchu, met een hand en 'n standerd vier-sertifikaat. In alle gevalle getuig dié boere dat hulle iewers 'n blanke vertroueling het wat hulle van raad bedien.

Nuwe boere wat 'n sukses maak, is daar wel, en dikwels is dit gemeenskappe wat gesamentlik 'n plaas of plase opeis en ontvang. Dié suksesverhale – meestal in Limpopo en Mpumulanga – is voor die voet beperk tot gevalle waar ooreenkomste aangegaan word met maatskappye met 'n bewese bestuursagtergrond in die landbou, soos South African Farm Management (SAFM) in Pietersburg (Polokwane). Die ooreenkomste berus gewoonlik op 'n 15 tot 20 jaar-kontrak, met die bestuursmaatskappy aanvanklik as hoofaandeelhouer en die eisersgemeenskap as junior vennoot wat stap vir stap beheer oorneem, en met die werkers as 10%-aandeelhouers in die ondernemings. Die lang termyn van die kontrak beteken dat die bestuursmaatskappy geld, toerusting en kennis in die onderneming kan ploeg, 'n stewige wins kan maak, en terselfdertyd genoeg tyd het om leiers uit die gemeenskap as bestuurders op te lei wat die dinamika van boerdery en die mark met deurleefde ervaring leer verstaan, en hopelik eendag 'n sukses van die onderneming gaan maak.

Maar mense wat graag produktiewe, suksesvolle kommersiële swart boere gevestig wil sien, moet nie te gou opgewonde raak nie. Didiza en Gwanya se uitsprake toon maar te duidelik dat hulle transformasie van grondbesit steeds belangriker ag as ekonomiese suksesverhale. (Gwanya het by geleentheid grondbesit gelyk gestel aan “nasietrots”.) Die regering se amptelike mikpunt is om 30% van alle landbougrond teen 2015 in swart hande te hê. (Dit is bo en behalwe die grondgebied van die ou tuislande.) Die omstrede (gewysigde) AgriBEE-dokument gaan veel verder, en stel dit onder meer as mikpunt dat groothandelaars teen 2008 nie minder nie as 50% van hul landbouprodukte moet aankoop deur swartbemagtigde maatskappye. En as Didiza sê die eienaarskap van landbou-instellings moet die demografie van die land weerspieël, is dit duidelik hoe wensdenkery beleid verwek. Swartmense vorm 79,02% van die bevolking, blankes 9,58%, bruinmense 8,91% en Indiërs 2,49%. Demografiese verteenwoordiging gaan 'n reusepoging verg, veral teen die agtergrond daarvan dat in die eerste tien jaar van demokrasie slegs 3% van landbougrond aan swartmense oorgedra is. (Hiervoor word baie verskoning gesoek. In sy artikel in ThisDay skryf Gwanya die stadige afhandeling van grondeise onder meer toe aan die hoë pryse wat boere vra. Grondpryse wissel volgens hom tussen R450/hektaar en R50 000/hektaar, met die gemiddeld R2 944/hektaar. “Dit maak grondhervorming onbekostigbaar,” sê Gwanya.) Terwyl die versekering voortdurend gegee word dat grondhervorming binne die raamwerk van die wet sal geskied (anders as die geval in Zimbabwe), is dit geen wonder nie dat daar al meer daarvan gepraat word dat die onteieningsklousule van 'n onlangse wet in werking gestel moet word. (Aanduidings is dat dit al kon gebeur het teen die tyd dat dié artikel verskyn; dit sal boonop steeds binne die raamwerk van die wet wees.)

Geen mens by sy of haar volle positiewe kan glo dat die huidige bestel van grondbesit regverdigbaar of volhoubaar is nie. Ry maar deur die land en kyk na die magdom Afrikaanse plaasname… 'n Bepaalde hiëragiese maatskaplike orde word hierdeur veronderstel – met boere as “base” en swartmense as arbeiders. In die konteks van die demokratiese rewolusie is dit klaarblyklik nie aanvaarbaar nie. Boonop is 'n regverdiger verdeling van grond moreel en ekonomies noodsaaklik. Hiervoor is 'n proses by die Kemptonparkse staatkundige onderhandelinge bepaal. Die afsnydatum vir grondrestitusie is op 19 Junie 1913 gestel. Baie swartmense meen dit is 'n groot opoffering wat hulle gemaak het om nie grond terug te eis waarvan hulle voorgeslagte voor dié datum ontneem is nie. Eise kon tussen 1996 en 31 Desember 1998 ingedien word. Dit beteken dat die grondhervormingsprogram 'n begin en 'n einde het. (In die praktyk is daar heelwat omstandigheidsbewyse dat dié regulasie nie streng toegepas word nie; die grondeisekommissie weier volstrek om 'n lys van alle eise te publiseer, en daar kom steeds eise aan die lig waarvan niemand bewus was nie.)

Om stabiliteit in die landboubedryf te verseker, het president Thabo Mbeki vroeër vanjaar Maart 2005 as die teikendatum gestel vir die afhandeling van restitusie-toekennings. Dit is die rede vir die skielike toename in grondeise-gevalle, soos in Limpopo en Mpumalanga.

As in ag geneem word dat 9 000 komplekse landelike eise met botsende aansprake deur swart groepe en stamme nog nie afgehandel is nie, lê Maart volgende jaar kommerwekkend naby om die draai. Boere is haastig dat die saak tot 'n punt gedryf moet word. Agri-SA glo stabiliteit in die landbou kan net gevestig word as die grondkwessie afgehandel en verby is, sodat almal presies weet waar hulle staan. Maar dit gaan nie so maklik wees nie. Tozi Gwanya het onlangs gesê hoewel alle grondeise teen die einde van aanstaande jaar afgehandel sal wees, sal betalings aan huidige grondeienaars sowel as subsidies aan grondontvangers oor drie tot vyf jaar herskeduleer word. Dit beteken dat die oordrag van kaart en transport met 'n verdere vyf jaar vertraag kan word.

Boere gaan ook nie skielik gerustheid oor hul toekoms hê na Maart aanstaande jaar nie. Dit is slegs die datum waarop die eise afgehandel moet wees. Daarna word 'n tydperk van 'n verdere tien jaar toegelaat vir die fisieke oordrag van grond, tien jaar waarin geteikende boere van seisoen tot seisoen geen sekerheid oor hulle toekoms gaan hê nie. Die praktyk het reeds getoon dat talle plase eenvoudig begin verval sodra evaluasies gedoen is en die boere wag op betaling. Daar is geen sin in om geld in 'n onderneming te steek wat binnekort nie meer joune gaan wees nie, veral nie as die prys klaar vasgestel is nie.

Intussen erken die Departement van Landbou en Grondsake openlik dat sy begroting nie naastenby genoeg is om die proses spoedig af te handel nie. Volgens die Grondeisekommissie se eie berekeninge gaan R12,7 miljard nodig wees om teen aanstaande jaar met dié eise af te reken – terwyl die jaarlikse begroting van die Departement maar R1,7 miljard is. Boonop het die Departement R5 miljard in die volgende vyf jaar nodig om 'n wet te implementeer wat grondeienaarskap in die tuislande reguleer, en 'n verdere R2,9 miljard om grond vir huurpagarbeiders aan te koop – en dit is nog sonder dat die miljarde bygereken is wat uiteindelik benodig gaan word om die regering se idealistiese teikens van 30% grond in swart hande te bereik. Dit word bereken dat Grondsake 'n jaarlikse bedrag van 10 keer meer as die huidige R1,7 miljard nodig het om die regering se teikens te bereik.

Volgens Agri SA sal net die aankoop van 30% van landbougrond teen 2015 vir swart boere nagenoeg R30 miljard beloop. Minder as 3% van dié bedrag is in die afgelope 10 jaar aan grondhervorming bestee, en volgens berigte is die Minister van Finansies, Trevor Manuel, onwillig om meer geld beskikbaar te stel. 'n Bedrag van 0,4% van die totale Begroting word op die oomblik aan Grondsake toegewys. Verdediging, daarteenoor, ontvang nie minder nie as 20% van die Begroting.

Die kommerwekkendste aspek is dat selfs as die nodige geld wel beskikbaar gestel word, dit geen versekering is dat Suid-Afrika se suksesvolle blanke kommersiële boere deur suksesvolle swart boere vervang sal word nie. Natuurlik is alles nie by voorbaat gedoem nie. Vir bestaande boere is die uitdaging om aktief deel van die proses te wees, hulle invloed sover moontlik te laat geld, om sensitief te wees vir swart boere se situasie, en om kundigheid oor te dra en hulp te verleen. Daar is nie eintlik 'n ander keuse nie.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=56
Artikel nagegaan:
    -