blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesmaand se hoofartikel: Vyf jaar na 11 September 2006-09-13


Vreemde gewaarwording: ofskoon die herhalende beelde van twee vliegtuie wat in New York se Twin Towers vasvlieg, vervaag het, is die wêreld steeds vasgevang in ’n klimaat van terreur, paniek en onsekerheid. Dit is asof ons almal stilswyend in die rommel van beton en glas staan en die reuk van dood en vrees ruik.

                By versigtige nabetragting was 11 September 2001 die afgryslike korrektief wat moes kom op die euforie van die ander “9/11”: die sloping van die Berlynse Muur wat op 9 November 1989 begin het. Dié gebeurtenis het destyds gelyk na die finale triomf van liberale demokrasie en globale kapitalisme, in so ’n mate dat Francis Fukuyama berug verklaar het dat ons die einde van die geskiedenis nader, aangesien al wat nou nog oorbly die vestiging van dié stelsels is daar waar dit nog nie inslag gevind het nie.

                Fukuyama se stelling is sedertdien deur sowel die geskiedenis as verskeie denkers weerlê, maar 11 September 2001 het die grootste gaping in Fukuyama se werk aangetoon, naamlik die fout om daardie wêrelddele waar die liberale demokrasie en globale kapitalisme nog nie gevestig is nie, as “die buitekant” te beskou. Dit het die genialiteit van ’n Jean Baudrillard geverg om in ’n beroemde opstel (1) kort na 11 September 2001 uit te wys dat die uitsluiting van daardie wêrelddele ’n effek van die liberale demokrasie en veral die globale kapitalisme self is. Kortom, daardie “agterlike” wêrelddele is nie uitgesluit uit die heersende model van ontwikkeling nie, maar is die voedings- en stortingsterreine daarvan!

                Geen grondstof is vandag so ’n belangrike voedingsmiddel vir die “ontwikkelde” wêreld as olie nie, en geen grondstof het meer materiële en simboliese afval gegenereer nie, soos ons vandag in die groeiende ekologiese krisis, asook die vernietiging van tale, gemeenskappe en kulture kan sien. Dit is dan ook geen wonder nie dat die religie – die duursaamste van alle simboliese voedingsbronne – vandag dié terrein van stryd is, waar dit wissel tussen die verskrikking van politieke misbruik (Bush/Ben-Laden) tot verheffing en hoop (Johannes Paulus II, die Dalai Lama), om maar enkele voorbeelde te noem.

                Vyf jaar na 11 September 2001 weet ons dat die interafhanklikheid van die wêreld in die era van globalisering ons lewens elke dag intiem raak: Selfs die VSA, die laaste supermoondheid, kan nie eens meer sy tradisionele volmagoorloë (gister Latyns-Amerika, vandag die Midde-Ooste) voer nie, want sy ekonomie is meer as enige ander blootgestel aan die gevoelige olieprys. Toe die olieprys wou raak-raak aan 80 dollar per vat was Israel se speelruimte in Libanon ook afgesluit …

                Tekenend van die heersende wêreldklimaat van vrees en terreur was die sukses van Peter Jackson se Lord of the Rings-trilogie. In een van die films probeer ’n bejaarde koning sy mense uit die komende oorlog hou deur aan Aragorn te sê: “You are asking me to take my people into open war.” Waarop die antwoord kom: “No, my lord, open war is already upon us.”

                Die gevaar van oorlog, veral sedert die vernietiging van die tragiese bewussyn wat erken dat almal ’n deel van die waarheid beet het, is dat dit ons lei na die verskrikking van ’n eensydige visie van goed en kwaad, soos tans vergestalt deur Bush se “demokratisering” van die Midde-Ooste en Ben-Laden se jag op die “heidene”.

                Maar daar is ’n ander soort oorlog wat vandag gevoer moet word: die oorlog vir ’n interafhanklikheid wat nie wedersyds vernietigend nie, maar wedersyds verligtend en bevrydend is. Waar magshebbers dwarsdeur die geskiedenis ’n monopolie gehad het op die middele om afstand te oorbrug en mense te mobiliseer, het die opkoms van nuwe tegnologieë van assosiasie (Bernard Stiegler) ons vandag gevoer na ’n era waarin hierdie moordmonopolie gebreek is.

                Om ’n voorbeeld te gee: hierdie hoofartikel word in Durbanville geskryf; hersien in Houtbaai, Stellenbosch, Orania, Pretoria en Johannesburg; geproeflees en uitgelê in Pretoria; gedruk in Johannesburg; en uiteindelik lands- en wêreldwyd versprei op papier sowel as elektronies. Minder as tien jaar gelede sou Die Vrye Afrikaan as gemeenskapsbinder ter wille van ’n ander wêreld in eie taal onmoontlik gewees het: vandag kan dit teen die oormag van brute kommersialiteit, vervlakking, valse inligting en illusies in bestaan.

                Dwarsoor die wêreld is demokrate van alle tale, gelowe en kleure daagliks besig om deel te neem aan die skepping van ’n ander wêreld. Hoe groter die krisis (en die valse glans) van globale kapitalisme word, hoe meer hoor ons van gemeenskapsbanke, tegnologies intelligente dorpies en landboukoöperatiewe. Hoe meer die politieke elites van die gevestigde liberale demokrasieë verkiesings in klugte verander, hoe meer herleef die politieke lewe in die vorm van die Maatskaplike Wêreldforum, die “nee” vir ’n korporatiewe Europa en die groter outonomie vir plaaslike gemeenskappe. Hoe erger die energiekrisis word, hoe vindingryker word daar gedink oor skoner energie, energiebesparing en die herstel van die omgewing. Hoe groter die neokonserwatiewe geweldpleging in die Midde-Ooste en elders in die naam van demokrasie word, hoe groter word die internasionale solidariteit met die gewone mense van die Midde-Ooste, vanaf Israel tot Palestina, vanaf Afghanistan tot Sirië.

                Die potensiaal vir globale selfvernietiging en politieke magsmisbruik is vandag groter as ooit. Maar so ook die potensiaal vir deelname, verbeelding en verandering. Want een ding is seker: daar is nie meer ’n buitekant waar ’n mens eenkant kan staan nie – om nie deel te neem nie, is om reeds toe te gee aan die nag wat nie hoef te wees nie.

 

_________

(1) In Engels as “The Spirit of Terrorism” te lese by http://www.egs.edu/faculty/baudrillard/baudrillard-the-spirit-of-terrorism.html 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=679
Artikel nagegaan:
    -