blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Afrika-intellektuele 2004-10-22

Die 1ste Konferensie van Intellektuele van Afrika en die Diaspora het vanaf 6 tot 9 Oktober in Dakar, Senegal plaasgevind onder die vaandel van die Afrika-unie. Nagenoeg 500 intellektuele het die geleentheid bygewoon, waaronder 35 uit die VSA en 15 uit die Karibbiese streek. Die doel van die geleentheid was om die tradisionele gaping tussen intellektuele en politieke leiers in post-koloniale Afrika te vernou en te kyk hoe hierdie twee groepe kan saamwerk.

Volgens City Press van 17 Oktober 2004 het die konferensie afgesluit met 'n aantal aanbevelings rondom wetenskap en tegnologie; die versterking van Afrika se integrasie; Afrika se plek in die wêreld; die verhoudings tussen Afrika en haar diaspora; en Afrika-identiteit in 'n multikulturele konteks.

Wat wetenskap en tegnologie betref, val die klem van die aanbevelings veral op die toeëiening daarvan op so 'n manier dat dit gemeenskappe versterk. Wat integrasie betref, is voorgestel dat die koloniale grense hersien moet word. Wat Afrika se plek in die wêreld betref, is voorgestel dat 'n permanente sekretariaat ter bevordering van die dialoog tussen Afrika-intellektuele en –beleidmakers binne die Afrika-Unie gestig word. Wat die diaspora betref, is onder meer voorgestel dat gepoog word om lede van die diaspora gunstig vir werk en besigheid op die vasteland te oorweeg. Wat Afrika-identiteit betref, is voorgestel dat 'n vastelandsradiostasie ondersoek moet word, asook 'n webwerf om Afrika se kultuur en geskiedenis te bevorder.

Hierdie konferensie en voorstelle kom teen die agtergrond van die al hoe groter momentum wat besig is om rondom die Afrika-Unie op te bou. Waar die Afrika-Unie tot dusver veral rondom meer gevoelige politieke brandpunte soos Soedan en Zimbabwe nog in gebreke gebly het om daadwerklik en ten gunste van die verdieping van demokrasie op te tree, is daar egter baie ruimte vir betekenisvolle handeling wanneer dit by die burgerlike gemeenskap kom. Die mobilisering van Afrika se intellektuele krag is een vorm wat sodanige handeling kan aanneem, veral omdat dit kan help om die Afrika-Unie nader aan Afrika se gemeenskappe te neem. Soos sake nou staan is die meeste van die lidlande van die Afrika-Unie se politieke leiers nie almal ewe demokraties verkies nie, om dit sagkens te stel, en nog minder verantwoordbaar teenoor hul gemeenskappe. As die Afrika-Unie wil slaag, sal hierdie verantwoordbaarheid verhoog moet word, en dit sal by uitstek van onder-af, dit wil sê vanuit die burgerlike gemeenskap moet gebeur.

Die twee ooglopende gebreke onder die voorstelle wat die konferensie gemaak het, het te make met taal en die ekonomie. Ekonomiese selfstandigheid en moedertaalontwikkeling as keerkante van dieselfde demokratiese gemeenskapsmunt bly die heel belangrikste voorwaarde vir die verbreking van Afrika se koloniale kettings.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=41
Artikel nagegaan:
    -