blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


’n Dieretuin van die onbewuste: Etienne van Heerden se In stede van die liefde 2006-01-16
Desmond Painter

*Lektor in maatskaplike sielkunde

 

            Etienne van Heerden verwys op ’n keer in hierdie boek na ’n gebeurtenis, wat later dorpslegende sal word, as “’n storie wat in die jare wat voorlê vlerke sou kry; ’n storie wat al verder gaan draai, maar alyd huis toe kom; ’n swerm stories eintlik later, ’n hele bontspul klapperverhale wat op winde bons” (p. 152).

            Hy kon net so goed na sy eie jongste roman verwys het.  In stede van die liefde is inderdaad soos die swerms duiwe wat hy in die boek beskryf, en wat so ’n belangrike rol daarin speel: die narratief swiep, op pad huis toe, na daardie laaste sin wat eintlik ook ’n eerste is, verraderlik tussen temas, karakters, identiteite en plekke – hoeveel boeke lees ’n mens immers waarin een persoon opeenvolgend verskyn as Raspoetin, Kipling en uiteindelik Al Capone, en waarin jy as leser kan saamreis van Matjiesfontein tot Berlyn en verder?

            Maar tussen die versplinteringe en transformasies, die opheffing van ruimte en die frenetiese mobiliteit deur is daar die dwingende tema van tuiskoms.  In ’n boek waarin kollektiewe en persoonlike trauma en geheue verken word; waarin daar besin word oor liefde, die huwelik, ouers en kinders; en waarin die gebeure afspeel in en tussen soveel verskillende intieme en openbare ruimtes, in woonhuise, woonstelle en hotelle, in ’n warboel van dorpe en stede, word die droom van tuiskoms op allerlei maniere geaktiveer.  “Ons herinneringe is soos duiwe. Altyd maar terug na die hok van ons kinderjare” (p. 261).  Maar ons herinneringe is ook onvolledig en angswekkend; psigiese littekens dikwels, wat anderkant bewussyn in die liggaam opgedam word; fisieke letsels, soos die verbrande gesig van Jeremy Sizwe, die ANC-vegter wat die spieël vermy – en nie die enigste karakter in die roman is wat ’n komplekse verhouding met spieëls het nie.

            Die verlede, die kinderjare, die tuisdorp en die kerngesin word dus nie geteken as veilige hawens nie, en nie noodwendig as salwend nie.  Dikwels ruimtes van inperking en geweld is die kinderjare, die verlede, die tuiste, die ek vir vele karakters in die roman, mense wat fisiek of sielkundig ontvoer, verplaas of sommer net verlore is, om verskeie redes ’n onmoontlike of ten minste baie moeilike ruimte om te betree.  Daar word nie verniet, in die aanhaling hierbo, na die kinderjare verwys as ’n hok nie. 

            Sommige lesers sal die boek dalk lees as ’n soort bevestiging van die idee van ’n primêre identiteit, sowel individueel as kollektief, waarvan ons ontsnap of waarvan ons vervreem word, altyd verskeur tussen verskillende begeertes – soos die duiwe wat vir spioenasiedoeleindes afgerig word deur hulle plekke van voeding en paring te skei, “tussen die twee groot hongers verskeur” (p. 158).  Dit is sekerlik moontlik om in die teenoormekaarstel van Christian Lemmer se pendelbestaan, sy nimmereindigende beweeg tussen plekke en lewens en die amper tydlose wêreld van Matjiesfontein ’n soort bevestiging van die gemeenskaplike of die tradisionele teenoor ’n wêreld van individuele en maatskaplike verval te sien – die soort losgetorringde wêreld waarin betekenis en orde slegs in stand gehou word deur plaasvervangende rituele soos dwelmmisbruik of bendeaktiwiteite – iets wat moet weerstand bied teen die wegvreting van identiteit en geborgenheid.  Iets in die plek van die liefde.  Soos Freddie, die lekeprediker, dit aan die einde van die roman aan sy gemeente wil sê:

“Maar daar is vir die mens geen ontsnapping aan sy vandaan nie. Sy vandaan is sy hok. Sy verstaan sit soos radar in sy kop. Hy kan sy vlerke sprei en hy kan homself vernoem. Hy kan sy siel uitverkoop of hom vergryp aan drank of soetgoed. Maar in sy vandaan is hy ʼn kind.

 

En sal hy na sy kindwees bly terugkeer soos ʼn duif na sy hok.

 

Dis wat julle Matjiesfonteiners maak en hoekom die Karoo jul huis sal bly.

 

Maak nie saak wat met hierdie land van ons gebeur nie.”  (p. 535)

 

            Freddie se vertolking is egter oppervlakkig. Van Heerden werk met ’n veel komplekser (en dieper) idee van identiteit, plek, en gemeenskap.  Dit maak wel saak wat in die land en in die wêreld gebeur.  Daar is immers ’n toenemende vervlegting van die wêreld van Matjiesfontein en dié van die stad.  En wanneer Christian Lemmer aan die einde van die roman die uitdaging van identiteit en liefde opnuut aanvaar, is die narratief wat hy op die punt staan om te probeer vertel nie een wat met maklike teenstellings soos platteland en stad, tradisie en moderniteit of ons en hulle sal kan werk nie.  Sy lewe is net soveel Seepunt as Stellenbosch, net soveel Berlyn as Matjiesfontein. Freud en die psigoanalise speel ook nie verniet ’n rol in hierdie verhaal nie. Oorsprong is trauma; herinnering is verraderlik; tuiskoms bring nie noodwendig geborgenheid nie.  Ook die gemeenskap en die tradisie is, soos die self, verteken en dring aan op plaasvervangende offers.

            Daarom ook die belangrikheid van ’n woord wat soos ’n mantra herhaal word in hierdie teks: verglyding. ’n Mens sou ’n artikel of tesis kon skryf oor presies hoe Van Heerden die woord gebruik – dit het verskillende betekenisnuanses: verandering en veranderlikheid; persoonlike en maatskaplike aftakeling; die soort meedoënlose vloeibaarheid en ad hoc-aard van verhoudings en identiteite in hierdie tye waarna Zygmunt Bauman verwys as “liquid modernity” (1); die duiselingwekkende moontlikhede van nuwe tegnologieë en kulturele samevoegings en vele meer, sowel positief as negatief.

            Hoe dit ook al gelees word, verglyding beteken nie algehele vloeibaarheid nie; dit is hier nie ’n geval van “all that is solid melts into air” nie.  Van Heerden se roman skets nie ’n wêreld waarin identiteit finaal oorgelewer is aan willekeur, of waar die verskille tussen mense en ruimtes deur globalisering opgehef of bloot oppervlakkig gemaak word nie.  In dié opsig is hierdie hierdie roman veel meer psigoanalities as wat dit postmodernisties is.  Want juis nie algehele vloeibaarheid nie – hiervan is Christian se verstopte are en hartomleiding, die geweld en trauma van die operasie, ’n leidende metafoor.  In die teken daarvan staan ook sy dwelmgewoonte; sy vrou en vele ander (insluitende plekke) in die boek se stryd teen persoonlike en kollektiewe trauma; die gespanne gesinsituasie wat, anders as in ’n Hollywood-rolprent, nie netjies ontlont word aan die einde nie.  (In hierdie opsig het die laaste bladsye van die boek my herinner aan die slottonnele van Cronenberg se jongste rolprent, A history of violence.  Ook hier is tuiskoms ontredderend.)  Verglyding, dan, maar ook verstopping, gestolde beweging; die knoop in die siel, soos Lacan die simptoom genoem het.  Die vertekende begeerte wat elke karakter en elke stad in hierdie boek ’n eie lading menslikheid gee, ’n eie biografie van verval.

            Vir my was een van die boeiendste en mooiste aspekte van die boek die rol wat plek speel.  ’n Mens verlustig jou aan die intieme, soms siniese, soms teer beskrywings van plekke soos Stellenbosch, Johannesburg en Berlyn. Oor Newtown in Johannesburg:

 

“ʼn Verglyding. Daar is ’n Oos-Berlynse gestrooptheid. Die verrukking van vuil mure, vervalle geboue, roessinkplate in lang gras en vuurrook laat Christian dink aan reise wat hy nie helder onthou nie. Dit roep herinneringe by hom op wat nêrens inpas nie. Beelde van plekke wat dalk met ander plekke vervloei. Hy is nie seker nie. Dis stede, stede van die liefde. Dis pleine van verslingering.

 

Verglyding”. (p. 195)

 

            Van Heerden is nie maar besig om met sy beresenheid te spog nie. Sy dorpe en stede het karakter, is karakters in die roman. Die stad, en veral die aanhoudende beweging (en geraasmaak) tussen en binne stede:

 

“Berlyn sal haar nie weer los nie. Nes vele wêreldstede hom in hul erotiese greep gekry het. Stede met eeue se verliefdes, parendes, vryendes, skeiendes, verlangendes, soenendes, omhelsendes, huilendes. Waar hul skaduwees en gebare en die reuk van hul begeerte en hul ontbinding in die mure en plaveisel ingewerk het.”  (p. 373)

 

            Daar is ondanks die breë bestek van die roman ’n soort ragfyn simmetrie aan die hele opset.  In pas met die temas van plaasvervangers (die “in stede van” van die titel; Christian en Christine se name, wat nie verniet herinner aan Christus nie), smokkelary en dubbele bodems, is daar telkens ook verdubbelings in die teks. Temas en kenmerke word van karakter tot karakter, era tot era gesmokkel; daar is parallelle net waar jy kyk.  Dit is baie indrukwekkend; dalk selfs te indrukwekkend.  Ek het in ʼn stadium gevoel die simboliek en parallelle is op plekke te oordadig.  Of ten minste, dat ’n boek wat soveel maak van verglyding en blokkasies, self ’n bietjie meer sou kon vergly, verskuif, uitkalwe en verweer; of dat die verstoppings en knope ’n bietjie minder berekend sou wees, ’n iets meer stom en verskriklik soos Munch se gil, wat deur meer as een karakter geëggo word.  Ek het onwillekeurig gedink aan Haruki Murakami, seker by uitstek dié skrywer van verglyding, dubbele bodems, kopsmokkelary en teenstrydige identiteite – die manier waarop sy boeke dikwels nie heeltemal klop nie en iets van ’n vals bodem behou.

            Maar dit is mindere kritiek.  Van Heerden is een van ons voorste romansiers – en hiermee bedoel ek Suid-Afrikaanse, nie net Afrikaanse romansiers nie.  Met hierdie jongste toevoeging bevestig hy hierdie status.  In stede van die liefde is ’n sinvolle, uitstekende toevoeging tot ’n oeuvre wat met elke boek eintlik in sy geheel weer herskryf word.  Die boek is propvol belangrike temas wat die literatore en studente nog lank sal besig hou.  Maar dan moet ’n mens bysê dat Van Heerden dit ook uitstekend regkry om romans te skryf wat leesbaar is, dikwels selfs spannend, sonder om in te boet aan literêre verdienste.

            Is Van Heerden besig om te werk aan “’n dieretuin van die onbewuste” (p. 419), ’n soort persoonlike “bestarium”? Telkens registreer die diere die simptome, die onbewuste strewes en die filosofiese idees wat in die boeke onder die oppervlak huiwer.  In hierdie boek, die duiwe, die okapi en die oewerkonyn. En onthou maar die kantelbokke in Die Stoetmeester (1993).  “Of dalk het hy ’n ding gedoen wat hom in die spook in homself laat vasloop het, daardie donker, hinkende dier op die oop nagpad, wanneer die N1 deur die stil koppies loop en dis net jy en die nagwind” (p. 348).

            Heelwat is in resensies gemaak oor die feit dat hierdie by uitstek ’n stadsroman is – geskryf deur iemand wat bekendheid verwerf het vir sy omgang met die plaasroman en uitmunt in die beskrywing van die landelike omgewing – veral die Karoo; en binne ’n letterkunde waarin die landelike en die plaas meer sentraal staan as die stad – die stad in sigself in elk geval, nie as plaasvervanger vir die plaas nie.  Hierdie voorstelling is nie verkeerd nie, maar Van Heerden het darem ook elders, veral in Casspirs en Camparis, produktief met die stadsgegewe omgegaan.  Tog, sy verkenning hier van globale ruimtes, die stedelike na sy intrinsieke waarde, en van die wêreld van elektroniese media en beelde is ’n welkome toevoeging.  In hierdie boek oor die geheue en die verlede het Van Heerden dan tog ook ’n dwingende eietydse roman geskryf. 

            Ek weet nie of dit doelbewus is nie, maar wanneer Christian New York toe vertrek, groet die geeks (soos hy hulle noem) by africart.com hom met die woorde “Go, man, go!” (p. 227) – woorde wat na ons aankom oor amper ’n halwe eeu, uit een van die beste stadsromans in Afrikaans, Die Mugu van Etienne Leroux.

            ’n Mens wil dit beaam.

_________


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=452
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -