blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Na aanleiding van ons kommentaar oor “Die staat, die party en korrupsie” (Die Vrye Afrikaan, 2005/2/9) skryf Hendrik Martin van Johannesburg 2005-10-19
Dit is goed dat iemand uitpraat teen hierdie dinge, en ek haal my hoed af vir die VF+ en Mail&Guardian wat hierdie saak onder die openbare aandag bring. Hopelik sal daar genoeg druk op die regering wees om uiteindelik iets positief daaraan te doen. Hulle is soos Don Quijote wat moedig sy lans teen die windmeulens opneem. ’n Mens moet egter nie naïef hieroor wees nie. Ek weet van geen regering wat onpartydig, regverdig, eerlik, in openbare belang en deursigtig optree nie. Korrupsie, soos dans en seks, kan net tussen twee partye plaasvind. In die Zuma-geval was daar ’n Franse maatskappy betrokke, en ons wag nog vir die Franse regering om op te tree. Om dus te verwag dat die Mbeki-administrasie so eerbaar en vroom moet optree teen een van hulle eie (Zuma is ’n vreemde uisondering), is vergesog. Uiteindelik moet ’n mens jou die vraag afvra: is daar meer demokrasie in Frankryk, die VSA, Brittanje of Saudi-Arabië? Myns insiens sou ek verkies om hier te bly, ten minste is ons nog besig om die stryd om demokrasie te veg, en het ons dit nie reeds verloor nie. ’n Mens moet ook kennis neem van die dinge wat Mbeki wél teen korrupsie doen, in die Oos-Kaap en ander provinsiale regerings: ek weet nie van ’n ander land waar daar so sterk teen korrupte amptenare opgetree word nie. Ons kan net hoop dat dit ook op ’n hoër vlak deurgevoer sal word.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=359
Artikel nagegaan:
    -