blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vrye Weekblad en die alternatiewe media: toe en nou 2005-06-02
Hans Pienaar

Deur Hans Pienaar, joernalis en voormalige werknemer van Vrye Weekblad
 

Dis in die mode hier en oorsee om in die media op die jare tagtig te fokus. Maar veral hier te lande was dit 'n unieke dekade, wat met betrekking tot mediadekking in baie opsigte eitlik nie bestaan het nie, vanweë al die sensuur en waninligting van alle kante af. ‘n Mens kan die middelpunt van hierdie dekade maar ewe goed stel op die jaar 1984, die jaar van George Orwell se roman. Die roman waarin die geskiedenis daagliks herskryf word deur ‘n groot burokrasie.

 In 1984 het ek by die Sunday Times gewerk. My joernalistieke loopbaan het eintlik by Beeld begin. Ek het werk daar gekry as student nadat ek by Tukkies geskors is, saam met die redaksielede van die literêre tydskrif Vlieg: mense soos Koos Prinsloo, Johann de Lange en Johann Marais. Vlieg is deur die nasionale sensors verban omdat Koos die woord “poes” gebruik het in ‘n storie, en Johann geskryf het oor gay seks.  Omdat ek die redakteur was, is ek verbied om aan enige studentepolitiek deel te neem.

             Beeld het oor die storie berig, en op allerlei maniere hul simpatie met my betuig. Hulle het my selfs ‘n beurs gegee, én werk as student. Baie mense by Beeld het hulself as liberaal gesien, en sulke gebare teen sensuur is as die bewys daarvan vertolk.

Ek sal Beeld ewig dankbaar bly vir ‘n baie goeie opleiding. Ek het uiteindelik sensuur my portefeulje  gemaak en het selfs ‘n klein naampie onder lesers verwerf vir die humor wat ek in my stories oor die Appèlraad op Publikasies gesit het.

Maar terwyl ek my beurs afgewerk het, het dit duidelik geword dat dit ‘n skyngeveg was. Kulturele sensuur, ja, dit was Beeld se vyand, maar op politieke gebied was dit ‘n ander saak. Die regering se rassebeleid is klakkeloos verdedig, en ek is oor die kole gehaal as ek te lank bly skryf het oor dinge soos die verhoor van Azapo-lede.  En my kopie is gereeld herskryf.

Meer openheid in die Engelse pers?

             Ek het uit protes bedank en my na die Sunday Times begewe, in die naïewe geloof dat die Engelse pers teen die regering gekant was. Een van my eerste opdragte was om CNN se reeks internasionale debatte oor Suid-Afrika te dek. Dit was ‘n groot oomblik. Ek sou vir niemand minder nie as die beroemde Ted Koppel tee aandra!

             CNN was nog maar ‘n paar jaar oud en was die heel eerste reeks van sy soort. ‘n Mens kan dit selfs sien as die begin van die huidige fase van globalisering - as jy wil, die eerste ingryping deur ‘n internasionale korporasie in die politiek van ‘n land.

CNN het ‘n ateljee by die SAUK gehuur, en ons persmense is oorgenooi om die eerste debat te gaan beleef tussen twee joernaliste, Otto Krause en Percy Qoboza. Maar ons moes eers in die voorportaal wag, en daar was hierdie lekker lang bank, en ek het daarop gaan lê en aan die slaap geraak.

             Ek is wakker gemaak deur twee driftige stemme. Die een was Otto s’n, en die ander het behoort aan Christo Kritzinger, ek dink hy was die hoof van nuus. Hulle het my nie gesien nie, want ek was agter die rugleuning. Ek het maar bly lê uit respek vir my meerderes. Dus kon ek regtigwaar nie verhelp om hulle te hoor koukus oor die manier om die debat aan te pak nie.

             Otto was erg omgekrap. Hy het gevoel alles was teen hom gelaai, en Christo het gesê hulle sal iets moet doen. Ek het natuurlik my ore gespits. Wat gaan hulle doen? Die kragprop uittrek? Ted Koppel het vroeër in ‘n oomblik van senuwees aan my beken dat CNN bang was die regering gaan die satelliettoevoer afsny.

             Otto en Christo is daar weg voor ek hulle plan kon hoor, en ons is op na die galery. Otto en Percy Qoboza het op die verhoog gaan sit. Net voor hulle sou begin, is hulle gevra om ‘n laaste toets te doen deur mekaar te groet.

             Otto het gesê: “Percy, jou kaffer.” Ek het onmiddellik besef: dìt was Otto en Christo se plan. In die heel eerste debat tussen opponerende kante op internasionale TV was dit die eerste woorde wat oor die lug gekom het. Almal was natuurlik geskok, en vir ‘n oomblik het dit gelyk of Percy gaan opstaan en uitstap.

             Ek vertel hierdie staaltjie in die lig van die huidige twis oor haatspraak en rassisme. Dit was hoe dinge toe was. Ek dink ons het almal al vergeet hoe fel die rassisme van daardie tyd was. En die k-woord was die hoofwapen. Gebruik hom net teen enige swart teenstander, en die stryd was halfpad gewonne.

             Dié soort ding het geweldige skade aangerig, waarvan die meeste swartmense van daardie geslagte nog lank nie herstel het nie. Ek werk met mense van alle soorte op ‘n intieme, daaglikse basis. Soms is hul reaksie teen rassisme oordadig en oordrewe, maar ‘n mens kan eenvoudig nie onaangeraak staan deur die wonde wat elke keer weer oopgaan nie. Ek is nogal gevoelig vir die argument dat apartheid neergekom het op ‘n soort psigologiese volksmoord.

Roodt: "Gooi die man uit"

             As iemand soos Dan Roodt dus dinge kwytraak oor sekere rasse wat minderwaardig is en oor die tuislande wat so goed vir mense was, is ‘n mens se eerste reaksie nogal: maar gooi die man uit, dryf hom uit in die koue. Hy weet nie wat aangaan nie.

             Maar ek het nie my staaltjie oor CNN klaar vertel nie. Percy Qoboza het nie opgestaan en uitgestap nie. Hy het Otto so aangekyk en toe uitgebars van die lag. Die hele galery het saamgelag. Ek onthou ek het nog ‘n nota gemaak dat Anton Harber, redakteur van die Weekly Mail, ook gelag het. Die debat het onmiddellik daarna begin, en as jy vandag na die opnames gaan kyk, sal jy sien Otto en Percy was verskriklik ernstig.

             Moet ons vir Percy navolg en liewers vir Dan Roodt lag? Dis een moontlikheid. Soos dit vir my lyk, het baie mense dit juis voorgestel, en ek moet erken ek het nie die hele twis gevolg nie.
             Is dit die antwoord? Miskien moet ek my storie verder vertel.

             Ek het ‘n artikel geskryf vir die Sunday Times oor die gewraakte woorde, maar tot my verbasing is dit "gespike", soos ons in die subkantore sê. Ek het die artikel toe vir Denis Beckett se alternatiewe tydskrif, Frontline, aangebied en toe dit verskyn het, is ek deur Fleur de Villiers, assistant-redakteur, ingeroep en aangesê om Otto Krause te bel. Otto het my van ‘n kant af ingevlieg en van onetiese optrede beskuldig.

             Dit en ander dinge het dit duidelik laat word dat die Sunday Times eintlik maar ook ‘n ondersteuner van die regering is. Ek onthou ons het een naweek ‘n helikopter gehuur en ‘n hele span mense gehad om Naas Botha se troue af te neem. Terselfdertyd het ‘n bron in die Mineworkers Union, ene Cyril Ramaphosa, my laat weet die polisie het ‘n myn binnegeval met Casspirs en was gereed om mynwerkers te begin skiet.

             Ek is na die redakteur, Tertius Myburgh, maar hy het besluit daar was nie genoeg tyd om na die myn te ry en te gaan kyk of daar regtig Casspirs is nie. Ek stel toe voor dat ons nòg ‘n helikopter huur. Tertius het verkies om dit as ‘n grap te beskou, en niks het gebeur nie.

        Ek het naderhand bedank en betrokke geraak by Taurus uitgewery. Ek het die boekie, Die Trojaanse Perd, saamgestel oor die Kaapse opstand van 1985. Dis deur die polisie gekonfiskeer, en die pers is by wyse van ’n spesiale kennisgewing verbied om daaroor te berig. Niemand het nie, en tot my ontsteltenis het dit die Weekly Mail ingesluit.

             Daar was ‘n hele paar van ons wat so na die Engelse pers gedryf het, en dieselfde ontnugtering ondergaan het. Ons het al hoe meer begin praat oor ‘n alternatiewe koerant, ons het ‘n komitee gestig, en aanvanklik was die plan om ‘n roterende redakteurskap te hê. Maar Max du Preez het ander planne gehad, en Vrye Weekblad is gestig met hom as redakteur. Ek was vir sowat agt maande lank die nuusredakteur.

             Ek het intussen gewerk aan ‘n boek oor die opstande in die tuisland Kwandebele. Ek kon daarin slaag om by die polisiekordonne verby te kom deur my te vermom as ‘n boer met ‘n baard wat tot op my bors gehang het. Ek het elke dag gesorg dat ek Beeld op my voorste sitplek gehad het. Dit het goed gewerk: eers op my heel laaste besoek is ek deur die polisie gevang, en ‘n dag lank aangehou.

Verstaanbare woede uit moeilike dae

             Ek kan dus Marlene van Niekerk en Max se woede goed verstaan. Vrye Weekblad en al die dinge waarby Marlene betrokke was, was nie maklik nie. Dit was gevaarlike dae daardie. Toe die eerste klopjag op die Burgerlike Samewerkingsburo gedoen is, was my naam saam met ‘n paar ander op ‘n lys. Ek kan nie onthou nie, dalk Marlene s’n ook. Daar was baie pret en plesier, maar ‘n paar van ons kon ses voet onder die grond gewees het.

             Vandag klink dit of ‘n mens daardie tyd romantiseer as jy sulke stories vertel. Kyk jy na vandag se vredige Afrikaners, wat hou van partytjies en kunsfeeste, moet dit seker moeilik wees om te verstaan hoe al hierdie dinge kon bestaan het. En dit was natuurlik dubbel so erg vir nie-Afrikaanse joernaliste, om van swart joernaliste nie te praat nie.

             As Max en Marlene dus die drastiese stap doen om die Woordfees te boikot, voel ek my in die gees aan hulle kant, soos wat ek myself dikwels aan hulle kant bevind. Maar ek kan nie daarmee saamgaan nie, juis omdat ons sulke harde bene gekou het, en juis omdat die stigting van Vrye Weekblad die enigste uitweg was.

 Daar is seker groot fout met die Woordfees. Dis nie baie links nie.

 Maar die beginsels van vryheid van spraak en gee almal ‘n kans wat onder meer deur Vrye Weekblad gevestig is, is te kosbaar om op te offer net om ‘n punt aan te teken teen iemand wat besig is om in die woestyn rond te dwaal.

 Die waardes van ‘n openbare demokrasie, van die “open society” raak self verdrukkend, het self totalitêre neigings as ons hulle nie die hele tyd hernieu, toets en opnuut verduidelik nie.

Afgesien hiervan is daar ‘n ander, belangriker rede om hierdie waardes te herbevestig en weer in te oefen, en dit is dat hulle weer eens in gevaar is. En nie van Dan Roodt se kant nie, want hy sal nooit aan die bewind kom nie.

Operasioneel en in terme van die wet het ons ‘n vrye pers. Joernaliste bly joernaliste, en daar is genoeg kritiese geeste onder alle rasse om te verseker dat dit so sal bly. Maar ‘n mens kan met die beste wil in die wêreld nie sê dat ons ‘n effektiewe pers het nie. Vrye Weekblad se eerste taak was om die grense van apartheid te oortree en te berig oor wat in die wêreld van ons medeburgers aangaan.

Met die verdwyning van Vrye Weekblad en die Weekly Mail is daardie ideaal ook daarmee heen. Ons is nou weer terug in die wegspringblokke. Ons weet nie wat in die townships aangaan nie. Ons weet nog minder wat in die diep plattelandse gebiede gebeur. Van die nuwe hongerte en lyding. Afrika bly ‘n duister vasteland met konkelwerk oral, waarvan selfs Ronnie Kasrils nie weet nie.

Carte blanche vir die korporasies

Die redes vir ons onkunde is duidelik. Die gevolge van die carte blanche aan internasionale korporasies in die huidige wêreldekonomie is die duidelikste sigbaar in die Engelse pers wat so hard teen apartheid gestry het. ‘n Mens  kan dit net as neo-kolonialisme beskryf.

Dit is so dat dit dwarsdeur die wêreld dieselfde storie in die media is. Wat dit in Suid-Afrika anders maak, is dat ons weer eens te make het met ‘n regering wat nie veel erg het aan ‘n vrye pers nie.

Onlangs het ons eie demokraties verkose president, Thabo Mbeki, direk ingegryp in die politiek van ons buurland Zimbabwe. Hy het naamlik verklaar dat die komende verkiesing vry en regverdig sal wees, in die nodige diplomatiese taal.

Die sinisme van so ‘n uitspraak is verstommend. ‘n Mens hoef nie verder as die toestand van die pers in Zimbabwe te kyk nie.

 Net soos Vrye Weekblad is die Daily News in Harare deur ‘n bom getref, maar Vrye Weekblad kon bly voortbestaan. Die Daily News kon egter nie; die bom was te groot.  Joernaliste word links en regs uitgegooi. As jy daar enigiets op ’n vrye manier vir ‘n koerant skryf, kan jy vir twee jaar in die tronk beland.  Zimbabwe het slim en bedrewe joernaliste, maar soos in die meeste ander bedrywe sit hulle in die buiteland.

Die gevolg hiervan is dat die media nie behoorlik kan rapporteer oor die hoë vlakke van intimidasie in ons buurland nie. Ek was pas self in Zimbabwe, weer met my baard, en ek kon by terugskouing ewe goed weer my Beeld saamgevat het. Al wat ek kan sê, is dat die Suid-Afrikaanse regering deeglik bewus moet wees van wat aangaan en dat hulle besig is om vir ons te lieg.

Wat beteken dit? Hoe gebeur dit dat ons ‘n regering het wat beide liberaal is en ‘n diktator ondersteun? Wat is die langtermyngevolge hiervan? Hoe seker kan ons wees dat dieselfde ding nie in Suid-Afrika sal gebeur nie? Dis die soort vrae wat ons moet vra.

Van tragedie na klug

Daar is ‘n verband tussen die verlede en die hede wat besig is om hom af te speel in  Zimbabwe, soos deur verskeie analitici uitgewys is. Dit laat ‘n mens dink aan die gesegde oor die geskiedenis wat die eerste keer as tragedie plaasvind en agterna herhaal word as ’n klug.

 In die stilligheid is Suid-Afrika besig om Zimbabwe ekonomies en finansieel oor te neem. Net soos Namibië en ander lande is Zimbabwe al feitlik ‘n tuisland van Suid-Afrika. Afrikanerbelange, in ‘n nuwe koalisie met Engelse belange en dié van die swart elite, is deel van die dryfkrag agter hierdie oorname. En weer eens is die ideologiese grondbeginsel dié van rassisme. Dis hierdie keer net ‘n swart rassisme: Ou wit belange word stelselmatig in Zimbabwe uitgeroei sodat Suid-Afrikaanse belange hulle kan oorneem.

Terloops: Die opkomende swart rassisme is selfs op dieselfde manier in die perswese gevestig. Waar Nasionale Pers wit rassiste in diens gehad het, het sy opvolgers nou swart rassiste in diens.

 Daar word baie gesê oor Zimbabwe. Ons as joernaliste ly al lankal aan Zimbabwe-fatigue. Dis nou al verby die stadium van kritiek in koerante uitspreek. Daar is ‘n nuwe weerstand nodig.

 In hierdie omstandighede moet ons vir Dan lag, ja, want hy is maar ‘n nar, en hy net nie die antwoorde nie. Maar ons moet ook nie te veel tyd daarmee mors nie. Dan moet ons ophou lag en begin werk maak van hierdie sake. Wat ons ook al doen, ons het alternatiewe denkrigtings nodig - nie boikotte nie.
 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=234
Artikel nagegaan:
    -