blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Antjie Krog se Van Wyk Louw-gedenklesing: 'n Kritiese verslag deur Pieter Duvenage 2004-09-24
Pieter Duvenage

Daar is met groot verwagting uitgesien na Antjie Krog se N.P. Van Wyk Louw-gedenklesing op Donderdag 16 September. 'n Gehoor van meer as 200 het by die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) opgedaag, maar vir diegene wat gehoop het op 'n behoorlike verkenning van Louw se literêre nalatenskap in 'n tydsgewrig wat deur die institusionele wegkalwing van Afrikaans gekenmerk word, was daar min stof tot nadenke. Krog se strategie was eerder om enkele bondige opmerkings oor Louw se werk aan 'n sekere literêr-teoretiese voorskrif te bind, waarmee sy dan die volgende vrae vra: waar is Louw se jeugdige manlike en vroulike opvolgers? Dig hulle nog?

Volgens Krog het sy nie 'n koherente beskouing van Louw nie. Uiteindelik is dit net Louw se digwerk wat tot haar spreek en nie sy dramas of besinnende prosa nie. Sy het wel waardering vir Louw as polemikus - die persoon wat by literêre bewegings, pryse en polemieke betrokke was. In die 1980s toe baie mense vir Krog aangeraai het om as digter uit die politiek te bly, was hierdie betrokkenheid van Louw vir haar 'n rigsnoer. In dié opsig kan sy Louw se betrokkenheid verbind met figure soos Eugène Marais, Adam Small, Ingrid Jonker en Breyten Breytenbach – digters wat nie poësie ter wille van poësie beoefen nie, maar altyd in 'n maatskaplike en politieke konteks. Dit is dan die tradisie waarby Krog met haar aktivisme van die 1980s aangesluit het.

Hierdie opvatting van aktivistiese poësie het Krog toe verder gevoer in haar lesing. In die eerste plek het sy 'n vreemde splitsing tussen die digkuns en die prosa (en by implikasie kuns en filosofie) gemaak. Volgens haar staan die woord in die gedig kaal, terwyl die woord in die prosa altyd in 'n skare is. Die digter is in die prosa soos 'n Simson sonder hare. Omdat die digter probeer om so na as moontlik aan die onsêbare te kom (eerder as die sêbare), is die digter se woordgebruik in prosa altyd ongemaklik en eenvoudig. Met ander woorde jy verstaan Van Wyk Louw se prosa, maar nie Marthinus Versfeld s’n nie. In dié opsig is die digter weerloos buite die gedig. Hierdie onnodige splitsing tussen die digkuns en besinnende werk is natuurlik die ongelukkige en hardnekkige standpunt van Opperman dat 'n digter van die filosofie moet wegbly. 'n Ander verdoemende implikasie is dat Krog ons aanraai om van haar besinnende werk weg te bly.

Behalwe die digkuns/prosadualisme lê Krog die digter in die tweede plek 'n meer voorskriftelike literêr-teoretiese taak op. Deur die kuns het die digter 'n etiese en transformatiewe verantwoordelikheid. Op hierdie punt het sy haar tot 'n uitspraak van A.C. Jordan in die 1950s gewend. ( Jordan is natuurlik die pa van die huidige minister van kuns en kultuur, Pallo Jordan.) Hiervolgens word ubuntu teenoor apartheid gestel met ubuntu as gasvryheid teenoor die vreemdeling. In ubuntu is die digter dus 'n plekmaker en tuisteskepper. Volgens Krog is die probleem met Van Wyk Louw se digterskap dat hy nie hierdie plekmaker was nie omdat hy homself as 'n soort Nietzscheaanse aristokraat en profeet gesien het. Hoewel Krog toegegee het dat hierdie sketsing van die vroeëre Louw nie heeltemal tred hou met die latere Louw van Tristia nie, het sy nie verder op dié belangrike punt ingegaan nie.

Ná die literêr-teoretiese basislegging het Krog toe oorbeweeg na die vraag waar die jong digters in Afrikaans vandag is. In die 1970s was daar volgens haar ten minste twee debute per jaar en in die 1980s het dit ook goed gegaan. Sedert die 1990s, op Gert Vlok Nel na, is daar klaarblyklik min aan die gebeur. Vir Krog is poësie die barometer van 'n taal. Daarom vra sy: waar is die Jackie Nagtegaals van die poësie? (Op hierdie punt wonder 'n mens natuurlik hoekom iemand soos Charl-Pierre Naude en die digters in Nuwe Stemme I en II nie ter sprake kom nie. En: is daar nie vandag minder publikasiegeleenthede vir debutante nie? Krog laat haar egter nie deur sulke moontlike vrae [en die wegkalwing van Afrikaans in die openbare lewe] van stryk bring nie. Sy wil weet: wat gaan vandag aan in die wêreld van die jongmens? En hoe kan dit met haar normatiewe ideaal van die digkuns en die politiek verbind word?)

Volgens Krog sal ons die jongmens vandag vind in 'n band. Elke jongmens tussen 13 en 30 wil volgens haar in 'n band speel. Dit is die een plek waarna hulle kan vlug - weg van die benouende wêreld van hulle ouers se politiek, rugby en digkuns. In die band en met musiek soos rock en punk soek hulle 'n plek waarvan hulle ouers niks weet nie. Op hierdie punt betrek Krog weer vir Louw deur op 'n vreemde manier sy literêre nalatenskap met “manlike en vroulike nasate” soos Gert Vlok Nel, fokofpolisiekar, Karen Zoid en die strokiesprentkunstenaar Joe Dog (Anton Kannemeyer) te vergelyk. In dié opsig word Nel en fokofpolisiekar minder vleiend hanteer (omdat hulle lirieke in 'n sekere soort nihilisme vasdraai), terwyl Zoid en Kannemeyer meer kreatief by Krog se normatiewe voorskrif van die gedig of kunswerk as plekmaker (Ubuntu) aansluit.

Dit is egter 'n ope vraag of van vandag se popmusieklirieke deur hulle skeppers as digkuns gesien word. Teenoor Louw se gedig “Karoo-dorp: someraand” wat sy as 'n glinsterende seepbel beskryf, plaas Krog fokofpolisiekar se sinisme en haat teenoor die die platteland. Anders as by Louw is daar in die band se lirieke geen kontak, uitreik en gesprek met God nie. By fokofpolisiekar is daar geen uitverkorenheid nie, maar verstotenheid en apatie. By Zoid en Joe Dog is daar, volgens Krog, meer begrip vir die vreemdeling, die verhouding tussen ryk/arm en die belang om grense oor te steek. By laasgenoemde is daar vir Krog 'n nuwe ruimte wat vir Afrikaanse mense oopgaan. Dit is 'n ruimte waar wit kinders teen die gemaklike kollektief as minderheid rebelleer om sodoende saam met ander Suid-Afrikaners in die (ongedefinieerde) konsep van Suid-Afrika op te gaan.

As digterlike nasiebouer en morele hekwagter het Krog klaarblyklik 'n duidelike normatiewe ideaal waartoe die jeug bekeer moet word: 'n staatsentralistiese Suid-Afrika waar daar baie min begrip vir die ander is. 'n Mens wil onwillekeurig vra: waar pas die begrip demokrasie hierby in?


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=7
Artikel nagegaan:
    -