blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die Wêreld 2005-04-07
    Ná bykans twee jaar se voorbereiding verskyn ‘n nuwe, onafhanklike Afrikaanse Sondagkoerant, Die Wêreld, eerskomende Sondag vir die eerste keer onder die redakteurskap van Maryna Blomerus, welbekende stigter van die Ukkasiefees in Londen, en deesdae terug in die land.

    Soos Ignacio Ramonet, die redakteur van ons Franse vennoot Le Monde Diplomatique, enkele maande gelede in ons blaaie uitgewys het in ‘n briljante ontleding van die globale mediatoneel, is die onstuitbare korporatisering van die media vandag een van die grootste bedreigings vir mediadiversiteit. Ook in ‘n land soos Suid-Afrika waar die staat en die korporatiewe wêreld al vir meer as ‘n eeu selde oor wesenlike sake van mekaar verskil, geld Ramonet se insig. Menige manmoedige Afrikaanse koerantredakteur wat te krities vir die smaak van die magshebbers was, het al hiermee te doen gehad.

    Dit is teen hierdie agtergrond wat Die Vrye Afrikaan die verskyning van Die Wêreld hartlik verwelkom. In wêreldterme is Afrikaans ‘n betreklik klein taal, en dit is nie maklik om in so ‘n situasie ‘n volhoubare, onafhanklike publikasie uit te gee nie. Vanaf die GRA se Di Patriot tot Die Suid-Afrikaan en die Vrye Weekblad – ons meer onlangse voorgangers in die onafhanklike joernalistiek – se wel en wee beklemtoon dit. Op die koop toe breek Blomerus ook deur ‘n ander glasplafon van die Afrikaanse wêreld deur die eerste vroulike Sondagkoerantredakteur te word.

    Die Vrye Afrikaan wens Maryna Blomerus en haar span geluk met hulle verskyning, en alle sterkte vir die toekoms. Ons hoop is veral dat hulle sal bydra tot die voortgaande demokratisering van Afrikaans, Suid-Afrika en Afrika.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=183
Artikel nagegaan:
    -